Nuuskommentaar: ’n Geseënde Christusfees

Argieffoto

Argieffoto

Vanjaar val die viering van Kersfees op eerskomende Sondag.

Volgens talle koerantberigte is die “sukses” van vanjaar se Kersfeesviering te meet aan die impak wat die moeilike ekonomiese toestande op Kersinkopies gehad het. Die negatiewe impak is versag deurdat die rykes hulle met peperduur Kersgeskenke “te buite gegaan” het. Ander sit ná Kersfees met “Kersfeesskuld”.

Daar is nog ’n donker kant. Elke jaar is daar ’n padslagting in die aanloop tot Kersfees, en hierdie jaar is die syfer reeds 17% hoër as verlede jaar. Die tragiek is dat baie van die slagoffers juis volgens ’n ou tradisie op pad was om Kersfees saam met familie deur te bring.

En motoriste moet ook wakker slaap vir diegene wat vrolik en met ’n bottel vuurwater in die hand te voet die verkeer aandurf. Bacchus is nie teen die staalmonsters op die pad bestand nie.

In ’n stadium is berig dat selfmoord juis oor Kersfees toeneem. Dit is juis dan, te midde van die vrolikheid rondom hulle, wanneer mense depressie ervaar en besef hoe eensaam hulle is….

Vanjaar is verklaar as die jaar van die post-waarheid, met die implikasie dat die wêreld nou ’n era betree het waar kluitjiesbak onder veral die leiers die norm geword het. Nuus word gereeld versteur deur die stroom fopnuus (fake news) wat doelbewus, en teen milde advertensievergoeding, die wêreld ingestuur word. Dis nou katvoet loop om nie wolle oor die oë getrek te word nie.

Hier te lande het die regering se “Kersboodskap” niks anders as ’n politieke gespog afgegee nie, met geen betrekking op Kersfees nie. Die toespraak word bloot afgesluit, so asof terloops, met “Merry Christmas to you all”.

Boonop moet politieke leiers, die sogenaamde populiste, leer om ’n wag van diskresie voor die mond te hou. Ondeurdagte woorde kan bydra tot voorvalle soos waar ’n Moslem-ekstremis met ’n vragmotor tussen mense by ’n Duitse Kersmark inploeg en dood en verwoesting saai.

As nuuskommentaarskrywer kan die uwe hier ’n boek skryf oor hoe krom en skeef dinge nie net in ons land is nie, maar ook wêreldwyd. Gelukkig is daar ook beter en selfs goeie nuus tussenin, al is dit nie altyd so nuuswaardig soos die slegte nie.

Maar is dit waaroor Kersfees werklik gaan?

Die gees waarin Kersfees werklik gevier moet word blyk uit veral twee gedeeltes uit die boek Lukas. Die twee gedeeltes uit dié Evangelie gee moontlik die duidelikste aanduidings.

Die eerste is toe Maria, self swanger, die swanger moeder van Johannes die Doper opgesoek het:

Net toe Elisabet die groet van Maria hoor, het die kindjie in Elisabet se moederskoot beweeg, en sy is met die Heilige Gees vervul en het hard uitgeroep: “Geseënd is jy onder die vroue en geseënd is die vrug van jou moederskoot!

Waaraan het ek dit te danke dat die moeder van my Here na my toe kom?

Kyk, net toe die geluid van jou groet in my ore klink, het die kindjie in my van vreugde beweeg.

Gelukkig is sy wat glo dat in vervulling sal gaan wat die Here vir haar gesê het!”

En Maria het gesê: “Ek besing die grootheid van die Here, ek juig oor God, my Verlosser,

Kragtige dade het Hy met sy arm verrig: hoogmoediges in hulle eiewaan het Hy uitmekaargejaag, maghebbers het Hy van trone afgeruk en geringes verhoog, behoeftiges het Hy oorlaai met goeie gawes en rykes met leë hande weggestuur.”

Die tweede is toe skaapwagters in die veld besoek van ’n engel ontvang het wat die geboorte van Jesus aangekondig het.

Meteens staan daar ʼn engel van die Here by hulle, en die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn. Hulle het baie groot geskrik. Toe sê die engel vir hulle: “Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle ‘n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is.

Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here!”

Skielik was daar saam met die engel ʼn menigte engele uit die hemel wat God prys en sê: “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ‘n welbehae het!”

Met die beskrywing van Jesus as Verlosser word duidelik geïmpliseer dat die “voltrekking” van Jesus se geboorte met die Paasfees geskied – wanneer Jesus vir ons sondes gekruisig en gesterf het, maar op die derde dag weer opgestaan het. Vir baie Christene is Paasfees dus die belangrikste dae op die Christelike kalender, en nie Kersfees en die gepaardgaande Advent nie.

Die United Methodist Church beskryf Advent soos volg: “During Advent, we prepare for, and anticipate, the coming of Christ. We remember the longing of Jews for a Messiah and our own longing for, and need of, forgiveness, salvation and a new beginning. Even as we look back and celebrate the birth of Jesus in a humble stable in Bethlehem, we also look forward anticipating the second coming of Christ as the fulfilment of all that was promised by his first coming.”

Vir baie kerke is Kersfees die hoogtepunt van ’n gebeure wat ingrypende implikasies vir die mensdom sou hê. Dit lei tot die totstandkoming van die Nuwe Testament, met ’n belangrike boodskap van Christus self: “Gaan heen en maak dissipels van al die nasies.” So is ook ons voorouers tot die Christendom bekeer.

So weet ons nou daarvan om met die Heilige Gees vervul te wees, van die groot liefdesgebod en die soeke na vrede.

Dit is ironies dat dit dikwels nie maklik vir Christene is om Kersfees te vier nie. Die reuse-skaal van kommersialisering speel ’n groot rol, maar daar is ook “onderdrukking” soos dat dit politiek korrek ’n sekulêre fees van “happy holidays” moet wees om nie nie-Christene aanstoot te gee nie.

Daar is egter ook mooi verhale, soos die liggieshuis in Danville waar minderbevoorregtes iets kan beleef wat Maria gesê het dat God behoeftiges oorlaai het.

En ons is die werktuie van God.

Pragtige verhale speel af sonder dat dit aan die groot klok gehang word. Vanjaar het die Bloemfontein-gemeente van die Hervormde Kerk, wat nie oor kinderhuise in die Vrystaat beskik nie, ’n spesiale Kersgeleentheid vir die Gereformeerde Kerke se kinderhuis op Reddersburg gehou. En so is daar nog talle verhale van uitreik na minderbevoorregtes en eensames wat nie aan die groot klok gehang word nie, soos spesiale geleenthede vir kinders, dikwels terminaal, wat Kersfees in hospitale deurbring.

Die aarde sal inderdaad ’n beter plek wees as almal daarna streef om sy en haar bydrae, binne sy en haar vermoë en talente, te maak om van dié geleentheid ’n ware Christusfees te maak, en daardie strewe na elke dag van die jaar deur te trek.

’n Baie geseënde Christusfees word u toegewens.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

ada ·

Kersfees vir my is om Christus se geboorte te vier en om saam met familie deur te bring. Die gedrink en ge party van baie mense staan my nie aan nie. Vir hulle is dit net nog n geleentheid om te drink en daarom al die ongelukke op die paaie tesame met ongeduldige en roekelose bestuurders.

Arlene ·

Dankie Herman vir jou mooi skrywe. Geseënde Christusfees vir jou en jou familie ook.

KP ·

Dankie Herman vir jou skrywe. Geseende kersdees en n mooi en voorspoedige 2017 vir jou en gesin.

Jan ·

Alle lesers van Herman se skrywe, kan ook gerus by vandag se datum op hierdie blad gaan lees wat die woord Kersfees beteken en waar die woord vandaan kom.

julius ·

Jan maak ‘n plan, ons het klaar die boodskap van Herman gekry dankie.

Jan ·

Dis ‘n groot plesier julius, jy is welkom. Ek sien in effek die skrywe en foto oor die berig verskyn sommer hier regs op die blad, waarop mens kan klik. Daar is nogal heewat mense wat dit nie weet nie.

CHRISTA ·

Ons moet ons Christusfees ELKE DAG VAN DIE JAAR vier en nie net op Kersdag nie!!! Dit sal ‘n bewys wees van ons waardering vir wat ons Verlosser vir ons kom doen het!!!

frans ·

Ek wil ‘n beroep op julle doen om asb te gaan google wanneer was die eerste kersfees gevier.
Oorspronklik was dit ‘n heidense fees wat geduur het vanaf 17-25 Desember. Dit was ‘n wettelose fees waar al die howe in Rome toe was en niemand kon aan enigeiets skuldig bevind word nie(Die wettelose deel klink net soos vandag se tye). Verkragting en moord asook aanranding was aan die orde van die dag. Dit is ook die verjaarsdag viering van Ra-Songod of dan Horus wat buit die maagd Isis gebore is. Mense word wakker- Ons Bybel die woord van die enigste lewende GOD ons Skepper verbied ons in Jeremia 10 om Kersfees te vier.(Bome in huise versier) Nerens in die Bybel word melding gemaak van Kersvader- Santa(Satan) en dat ons Jesus se geboorte moet vier nie. My laaste bewys is dat Betlehem die afgelope 10 jaar op 25 Desember met koue van 4 tot -15 grade geseën was wat beteken geen regdekende skaapwagter sal by sy kudde in die veld oornag nie. Moet my asb nie stenig nie vier jou fees maar net nie op 25 Desember nie asb.

Skatymir ·

Kersfees is vir my ‘n herinnering aan die brutale onderdrukking van ons oer voorouers. Hoe Karel die Grote vir 30 jaar oorlog teen die Saxons gemaak het, hoe hy 4500 Saxons se koppe afgekap het omdat hulle nie Christene wou word nie. Dit is hoe ons mense Christene geword het, nie deur die kwaliteit van die doktrienes van die Christelike geloof nie maar deur die kwantiteit van die geweld. Ek dink ook aan die held Widukind en hoe die Christen kersfees maar net ‘n dun lagie is op ‘n ou natuurfees wat gelukkig vinnig verweer.

Gerrit ·

Herman, jy raak baie waarhede aan in jou artikel. Die geboorte van die Messias was inderdaad ‘n wonderbaarlike wonderwerk op sy eie en as Hy nooit(as mens) gebore was nie…sou Hy nooit(as Verlosser) kon sterwe nie. Is jammer dat die mensdom die aangeleentheid so verwring het en al sou die viering van dit uit verwronge oorsprong kom… ek dink is dit wel ‘n tyd waar ek my posisie in Christus tog wel kan oordink(vir die jaar wat verby is) en of ek werklik Jesus se karakter nastreef…nie net nou nie maar as ‘n leefstyl, elke dag. God die Vader koppel waarde aan “familie”, fisies en geestelik en as mens dan wel die “mensgemaakte” af-tyd gebruik om as gesin tyd saam en in Sy Woord deur te bring – dan het die “tyd” ewigheidswaarde voortgebring! Wanneer laas het ons ‘n nat 25 Desember gehad? Wonderlikbaarlik vir ons wat wel en ons SAL ‘n smeekgebed more(en baie ander dae) verwoord vir die wat steeds droog is en dalk met uiterste negatiewe emosies stoei – tot uitkoms vir hulle, hul families, hulle werknemers, hulle vee en gesaaides! Seën.

LB S ·

Die gedagte het gister by my opgekom. In Afrikaans is dit Kersvader, in Engels Christmas Father. Dan die paashasies. Daar behoort ‘n mooi Engelse naam vir Kersvader te wees want in my oë moet die twee geskei wees. Ons kan steeds Kersfees vier (met kerse!) en geskenke uitdeel, maar dan ook ‘n Christus-geboorte viering te hou, maar mense aanbid die Christmas Father gedoente en die Paastyd word net so misbruik met paaseiers en hasies. Jong kinders verloor hierin die ware boodskap.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.