Nuuskommentaar: ’n Geseënde Christusfees

wyse_manne_kersfees.jpg

Foto: pixabay.com

Seker een van die vernaamste maatstawwe van hoe gesond die Christelike geloof in ’n land staan, is hoe die regering en die ander politieke partye op Kersfees reageer. Die versoeking sal immers altoos groot wees om die geleentheid te benut om politieke punte aan te teken.

Soms is die boodskap so sekulêr dis kwalik van ’n Nuwejaarsboodskap te onderskei, waartydens breed oor prestasie en beweerde prestasies gespog word, en word dan, so byna terloops, afgesluit met: “We wish you a Merry Christmas.”

Verskeie partye het die ou praktyk laat vaar om ’n Kers- en Nuwejaarsboodskap in een uit te reik. Dit sou heeltemal in die haak wees om sodoende nie politieke munt uit die Kersboodskap te probeer slaan nie, maar dit lyk asof sommige partye dit bloot skei om hulself twee keer te bemark.

Waaraan word ’n ware politieke Kersboodskap gemeet? Die kern is dat ons die instrumente van God moet wees, nie God ons instrument of propaganda-middel nie. Dit is soms ’n fyn balans, maar ’n mens sou verwag dat die persoon wat die boodskap lewer, inderdaad ’n Christen moet wees.

Dit is tradisie in die post-1994 Suid-Afrika dat die president die Nuwejaarsboodskap lewer, en die adjunkpresident die “Kersboodskap”. Vanjaar was dit adj.pres. David Mabuza se beurt om die “Kersboodskap” te lewer.

Die boodskap het soos gebruiklik onder die huidige bedeling, nie eens probeer voorgee om ’n Kersboodskap te wees nie. Die vernaamste fokus was dié keer die regering se planne vir grondgryp sonder vergoeding, en die boodskap was ook gesaai met kluitjies. “Prestasies” deur die regering, en beplande projekte, het ook aan die bod gekom. Hy het min of meer nootvas gehou by die regering se propaganda-boodskappe om die voorgenome grondgryp op te hemel.

Maar hoe lyk die ander partye se Kersboodskappe? Ons kyk na van die beskikbare boodskappe.

Ds. Theunis Botha, leier van die klein Christen- Demokratiese Party (CDP), sê hulle glo dat daar met die geboorte van Christus ’n wonderwerk gebeur het. Hulle bid dat net so ’n wonderwerk sal gebeur om Suid-Afrika reg te ruk, en dat die Here se hand ook daarin sigbaar sal wees. Die CDP glo dat die werklike Kersboodskap die enigste werklike hoop vir die land bied.

Die leser kan self oordeel of die fokus reg was dat God nie die party se instrument moet wees nie.

Die Vryheidsfront Plus se leier, dr. Pieter Groenewald, het getwiet dat God met een beweging alles anders kan maak, ook in Suid-Afrika. Die voorsitter van die party, adv. Anton Alberts, twiet dat Jesus mens geword het om ons almal lief te hê.

Weer eens kan die leser self oordeel: Was die boodskap suiwer?

Die leier van die DA, Mmusi Maimane, vaar heel goed in sy Kersboodskap soos dit op die DA se webblad geplaas is. Die laaste sin lui egter: “Let us choose hope over fear as we continue to build One South Africa for All into the New Year.”

Hoewel die boodskap as net ’n Kersboodskap aangebied word, klink die laaste sin as ’n tipiese Nuwejaarsboodskap en ’n DA-promosie.

Of oordeel die leser anders?

Die ACDP se jongste mediaverklaring op sy webwerf was die 25ste Julie vanjaar. Ook Google lewer nie resultate nie.

Ook ander partye lewer min of geen resultate.

Maar hoe behoort Kersfees werklik gevier te word, en hoe behoort iemand – nie net politieke partye nie – se Kersboodskappe te lyk?

Nuuskommentare, wat op die vertolking van harde en politieke nuus fokus, is kwalik die ideale forum om dié vraag te beantwoord, en wanneer die nuuskommentaar in ’n Christelike publikasie gepubliseer word, is die nuuskommentaarskrywer self ’n “kliënt” van rubrieke soos Maroela se Toekomsvenster en Gedagte vir die Dag.

Lees gerus die pas-verskene rubrieke “Die ware betekenis van Kersfees,” hier  en “Jesus praat Immanueltaal” hier.

Tog, in ’n kern saamgevat is liefde vir God en liefde vir die mens sentraal. Dit sluit in liefde vir die naaste, die vyand (Lukas 6: 27 en 35 en Matt 5 :43) en die vreemdeling in ons poorte wat behandel moet word soos ons self behandel wil word.

Ons behoort ’n oop hand te hê vir die minderbevoorregtes. Nie om met beloftes stemme te trek nie, maar om nie die behoeftige vrou wat iets vir haar kinders vra, met leë hande en ’n boodskap van “gaan in vrede” weg te stuur nie. God het immers die blymoedige gewer lief.

Natuurlik is dit nie eenvoudig nie – moet jy gee as jy weet die bedelaar gaan snuif of drank daarmee koop? Neem jy brood uit jou eie gesin se mond? Is dit nie dalk ’n verspieder vir huisrowers nie. Volgens die SAPD is ’n groot persentasie van diegene wat by huise bedel dieselfde mense as die huisrowers.

Dankbaarheid dat God sy Seun aan die kruis ’n wrede dood laat sterf het sodat ons sondes vergewe kan word. Maar dat ons veral sal onthou dat Jesus uit die dood opgestaan het. Die grootsheid van hierdie gebeurtenis beteken ook dat die Paasfees die belangrikste Christelike fees is, en nie Kersfees nie.

Dit het tradisioneel ’n familie- en gesinsaamtrek geword, en wat dikwels op Kersdag ingeryg in die kerk sit. Die uwe en sy gesin, wat self met Jan Tuisbly se karretjie ry, hoor elke aand hoe die inwoners van ’n nabygeleë huis saans pret saam met hul gaste het wat vir Kersfees by hulle kom kuier het.

Dis ’n gelukkige vrolikheid behalwe toe een een aand kortstondig ’n vloermoer uitgepak het. Dit is ongelukkig ook ’n tyd van padslagting, huisbrake, verdrinkings, en dan ook selfdood onder vereensaamdes. Laasgenoemde is in wese ’n aanklag teenoor dié wat kon uitreik, maar versuim het.

Geskenke uitdeel is deel van die aangename, en is pragtig solank dit nie word soos die Indiane van die Noordweskus van die VSA nie, wat spesiaal feeste gehou het waartydens die duursaamste geskenke uitgedeel is, en waardevolle besittings verbrand is, en selfs slawe vermoor is om sodoende te spog oor hoe welgesteld hulle was nie.

’n Geseënde Christusfees word u almal toegebid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.