Nuuskommentaar: ’n Geseënde Christusfees

Argieffoto

Argieffoto

Ons weet nie op watter dag Jesus gebore is nie, en ook nie vir seker in watter jaar nie. Daar is ook Christene wat geen Kersfees vier nie omdat hulle glo die Bybel gee geen aanduiding dat dit gevier moet word nie. Suiwer Bybels gesproke meen baie Christene dat Paasfees eintlik die belangrikste herdenking op die Christelike kalender moet wees.

Tog, al vier nie alle Christelike denominasies Kersfees op 25 Desember nie, het dié dag in die meeste denominasies so ’n belangrike inslag gekry dat dit vir alle praktiese oorwegings wêreldwyd as Kersdag bekend staan. Selfs in lande met min Christene het ’n klompie Kerstradisies soos spesiale maaltye posgevat. In die Filippyne, ’n oorwegend Rooms-Katolieke land, word Kersfees reeds van weke voor Kersdag self gevier, en op Kersdag is daar elke uur kerkdienste.

Jaarliks vier Christene Christus se geboorte soos die nederige herders aan wie die engeleskaar verskyn het, of die wyse manne uit die Ooste wat geskenke gebring het, en die ongebore Johannes die Doper in die teenwoordigheid van Maria wat Jesus se moeder sou word.

Ongelukkig is Kersdag, ook in oorwegend Christelike lande, grootliks ’n sekulêre gebeurtenis waar winkels hul jaarlikse omset gesond opskuif. Een van die bekendste liedjies waarvan die musiek wyd rondom Kersfees gespeel word maar eintlik geen Christelike inhoud het nie, Jingle Bells, is inderdaad oorspronklik vir Thanksgiving, ’n Amerikaanse vakansiedag ʼn paar weke vóór Kersfees, geskryf.

Ons weet uit verskeie bronne dat Jesus se geboorte meer as 2 015 jaar gelede moes plaasvind. Die belangrikste is dat koning Herodes, die koning tydens Jesus se geboorte en die man verantwoordelik vir die babamoorde, reeds in die jaar vier voor Christus oorlede is. Wetenskaplikes wat die verskynsel van die Bethlehemster probeer verklaar, vind in verskeie jare rondom 6 voor Christus sterreverskynsels, of dan planete wat só geleë sou wees dat hulle saam ’n indrukwekkende lig aan die hemeltrans sou veroorsaak.

Die meeste weergawes oor hoe 25 Desember as geboortedatum gevestig sou wees, hou verband met sendingwerk waar dié dag, wat in verskeie antieke godsdienste as midwinter gevier is, oorgeneem is om die heidene te bekeer. Een van dié verhale is van ’n priester wat as slaaf deur die heidense Vikings saamgeneem is huis toe, waar hy toe dié mense begin bekeer het. Hy was so suksesvol dat die Vikings gekersten is, maar eenkant steeds die dondergod, Thor bly aanbid het. Thor was ook die god van klimaat, en het ’n belangrike rol gespeel in die verdrywing van die winterreuse sodat dit somer kon word. Sy aanhanger het op 25 Desember ’n groot vuur by die “heilige eik” gemaak om die verdrywing van die winter te simboliseer. Deur 25 Desember as geboortedatum vir Christus te kies, is die geloof in Thor ’n nekslag toegedien.

Trouens, hierdie terughunkering na Thor het hom ook in die Vikings se kolonisasie van dele van Noord-Amerika in ongeveer 1 000 na Christus afgespeel. In een van die kolonies het dit een winter erbarmlik sleg gegaan met die koloniste, sodat ’n groep weer ’n offer aan Thor gebring het. Toe dit nog slegter gaan, is die Here om vergifnis gevra, waarop ’n walvis uitgespoel het. Daar was genoeg te ete, die visvangste het verbeter en inboorlinge met wie handel gedryf kon word, het hul opwagting gemaak.

Gewoonlik word aangevoer Christus se geboorte kon nie in Desember gewees het nie, omdat die wintermaande te koud in Israel sou wees vir herders om saam met die skape in die veld te slaap.

Die tradisie van Kersvader word gewoonlik herlei na ’n Griekse biskop uit die vierde eeu wat in die teenswoordige Turkye gesetel was. Biskop Nicholas is na sy dood tot heilige verklaar, onder meer weens die oortuiging dat hy talle wonderwerke verrig het. Volgens tradisie het hy ook veral in die begin van Desember baie geskenke in die geheim uitgedeel, veral aan armes. In Nederlands is die naam vervorm tot Sinterklaas, en in Engels tot St. Nicholas. Dit is ook herkenbaar in die gebruik van die woord “Santa”.

Sommige Kerstradisies het eers betreklik onlangs ontstaan. Volgens oorlewering het die gebruik van die Kersboom as deel van Kersfees in die 16de eeu in Duitsland ontstaan. Lank daarvoor het Christene en heidene egter versierde bladhoudende takke in hul huise aangehou as deel van ’n tradisie om met die midwinter die somer nader te nooi.

Talle streektradisies het rondom Kersfees ontstaan. In Nederland en Vlaandere kom Sinterklaas nie met ’n slee van die Noordpool nie, maar per skip van Spanje en reis dan saam met sy kneg, Zwarte Piet, per koets deur die lae lande om geskenke uit te deel. In Duitsland bring Kersvader geskenke vir die soet kinders, maar ’n lat is byderhand om die stoutes mee streepsuiker te gee.

In Sirië wil oorlewering onder die Christen-minderheid dit hê dat die jongste en kleinste kameel van die wyse manne (wat met onsterflikheid beloon is) die Kersgeskenke bring. Hoewel Kersdag op 25 Desember gevier word, word die skoene waarin die geskenkies geplaas word, op Oukersaand uitgesit.

By baie gesinne, ook in Suid-Afrika, het die tradisie om die meer sekulêre fees van geskenke uit te deel en gesins- en familiebyeenkomste te hou, van die geestelike vieringe te skei tot die hou van Oukersaand gelei. Die aand van 24 Desember word dan vrolik gekuier en geskenke uitgedeel, en op Kersdag ’n gewyde dag met Kersdienste gevier. In heelwat lande geskied die geskenkuitdelery nog vroeër, soos rondom 6 Desember om in pas met die tradisie van St Nicholas te bly. Soms word geskenke weekliks uitgedeel tot Kersdag.

Die handhawing van Kersdag as Christusfees is nie aldag ewe maklik nie. In die VSA het dit in ’n stadium politiek inkorrek geword om ander ’n “Merry Christmas and happy New Year” toe te wens omdat dit nie-Christene aanstoot kon gee. Die term “Happy Holidays” is ontwerp om dit te “ondervang,” en is ook besig om na Suid-Afrika oor te waai terwyl al hoe meer Amerikaners weer volgens peilings ’n terugkeer na Christelike waardes rondom Kersfees nastreef. Volgens die jongste Rasmussenpeiling sal meer Amerikaners vanjaar as voorheen vandag kerkdienste of ander Christelike vieringe bywoon. Vroeër is in ’n ander Rasmussenpeiling bevind dat Amerikaners vanjaar veel meer geestelike inhoud aan Kersfees sou skenk as voorheen.

In ’n ander Rasmussenpeiling is bevind dat 93% Amerikaners vanjaar Kersfees binne gesins- en familieverband vier, heelwat meer as die vorige jaar se 87%. Nog ’n peiling toon dat 76% Amerikaners wil hê Kersfees moet weer in skole gevier word, as deel van ’n meer omvattende versugting dat meer godsdiens in skole aanvaar sal word.

In hierdie oorsig kon onmoontlik alle Kerstradisies, soos dat Kersfees in sommige lande eers in Januarie gevier word, behandel word.

Wat duidelik is, is dat ’n strydmoë wêreld ’n dag nodig het om te besin oor die engeleboodskap met Christus se geboorte: “Vrede op aarde en in die mens se welbehae.”

Vir baie bied Kersfees die beste geleentheid om van jongs af by kinders ’n positiewe gesindheid jeens die Christelike geloof te skep, sodat suiwer geloof makliker gevestig kan word.

Sentraal staan die boodskap dat Jesus na die aarde gekom het om ons self te leer, en uiteindelik ter wille van ons sondigheid en die vergifnis van sonde die wrede kruisdood sou sterf.

Phillip Langenhoven, redakteur van Brokkies, nuusbrief vir Afrikaanssprekendes wat in Nieu-Seeland woon, som dit mooi op: “Ons onthou dit deurentyd, maar wat ’n voorreg is dit nie om weer in hierdie tyd stil te staan en te fokus op die hoofrede vir die Kersseisoen! Dit laat my uiters nederig voel om te herdenk hoe die Almagtige God besluit het om homself in mensgedaante, deur ’n wonderbaarlike aard-geboorte, aan ons te kom bekend stel. So het Jesus ons kom leer wat dit beteken om te lewe op ’n manier wat aan God eer bring, en hoe om Hom na ons tyd op aarde te bereik. Johannes 14:6 sê mos: ‘Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur my nie’.”

Dit bied aan ons die geleentheid om met groter fokus aan die minderbevoorregtes te dink.

Dit dien ook as ’n geleentheid om die komende Wederkoms te vier.

Dit is ongelukkig ook die tyd waar eensames die eensaamheid te midde van ander se vrolike samesyn sterker aanvoel, en selfmoord toeneem. Net soos ons veronderstel is om na die minderbevoorregtes uit te reik, behoort ons ook seker te maak dat die eensames nie deur die eensaamheid verswelg word nie.

Wat Kersfees, en veral die Christusfees nié veronderstel is om te wees nie, is vir politici om ’n “Kersboodskap” in die vorm van blote verkiesingspropaganda te bring, en dan bloot af te sluit met “a Merry Christmas to all.”

’n Geseënde Christusfees word u almal toegebid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Berhalet Beukes ·

Uitstekende artikel Mnr Toerien… Geseënde Kersfees Maroela Media!

Anny Penny ·

Wou ook net sê baie dankie vir die pragtige boodskap wat ook weer perspektief gee. Dankie Maroela Media

Veels geluk ·

Saturnalia . Kom ons gaan kyk waarmee is ONS’ besig , maak nie saak of my ouers voor my tot in watter geslag toe ook die kwaad nagestreef het nie . Jeremia 10 vir n begin . Selfs die Ho Ho Ho laat jou hare rys , Kindertjies geoffer …. noem maar op “Jaa maar dis nie hoe ONS dit vier nie”.

Berhalet Beukes ·

Ai… En daar is die gedagte dat Jesus Christus vir ons gebore is (wat ook die presiese dag nou eintlik is is irrelevant) en deur God op aarde geplaas is om vir op die ou end vir ons te sterf alweer verlore in mense se opinie oor hoe duiwels Kersfees nou eintlik is. Dis net so duiwels om Jesus se gebore glad nie te vier nie. God ken die motief van die hart!

Dee ·

Baie dankie Herman, vir ‘n artikel wat vele vrae antwoord. Vrae wat ons somtyds bloot wegvee omdat die feit dat ons nie die antwoord daarop ken, na nuwe vra lei. Antwoorde op vrae soos mbt die datum. Lekker om te lees en te bêre vir later weer lees.

Omvattend ·

n Youtube , Vigilant Christian het n 101 oor chrismass , verduidelik dit goed .

Dee ·

Asook Geseënde Kersfees aan die Maroela Lesers en Personeel. Ons is besig om mekaar te leer ken en kommentare te waardeer. Beste Wense Oom Sopie, Suné en almal wat hier lees.

Piet ·

Die mens het nog altyd gedink hy kan ons Vader gelukkig hou deur eie menslike instelling terwyl daar net een manier is om Hom gelukkig en tevrede te hou nl om die volgende te doen.

Mattheus 7:21 Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.

Wat is die wil van die Vader?

1 Jn 3:22 And whatsoever we ask, we receive of him, because we keep his commandments, and do those things that are pleasing in his sight.

Gen 26:5 Because that Abraham obeyed my voice, and kept my charge, my commandments, my statutes, and my laws.

Nog voor Moses se tyd het Abraham dit al gedoen.

En indien ons nie die bogenoemde doen nie.

Amos 2:4 Thus saith the LORD; For three transgressions of Judah, and for four, I will not turn away the punishment thereof; because they have despised the law of the LORD, and have not kept his commandments, and their lies caused them to err, after the which their fathers have walked:

Mt 5:19 Whosoever therefore shall break one of these least commandments, and shall teach men so, he shall be called the least in the kingdom of heaven: but whosoever shall do and teach them, the same shall be called great in the kingdom of heaven.

Mt 15:9 But in vain they do worship me, teaching for doctrines the commandments of men.

Elke week breek ons die Sabbats gebod.

Berhalet Beukes ·

Is die student hoër as sy Leermeester? Wie besluit wat aanvaarbaar is of nie? Sekulêre aanhangers way weier om erkenning aan Jesus Christus se Geboorte te gee en wat sê die Kruis is ‘n verteenwoordiging van die dood? “My volk gaan ten gronde agv ‘n gebrek van kennis”… En dit sluit selektiewe aanhalings in om mense te oortuig… Die MENS weet beter as GOD! Moenie oordeel nie… Tog oordeel mense en vertel ander way fout is met Kersfees… Kom nou… God is niemand se speelmaat nie! Oppas hoe julle met woorde speel om die Bybel by julle sienswyses in te pas! Respekteer God en kom oor jou mens gemaakte oortuigings!

Ludwig Visser ·

Oom Sopie stuur ook ‘n boodskap aan alle Maroela-lesers en -personeel: Geseënd! Geseënd! Maak nie saak wat die slim mense sê of probeer sê nie. Kersfees en die baba van Kersfees is groter as hulle almal, en groot genoeg om julle almal lief te hê! Totdat Hy ons eendag almal by Hom verwelkom!

Toffie ·

Bly om te sien dat ek nie die enigste siel is wat allergies vir kersfees is nie. “Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here, en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem, en Ek sal vir julle ‘n Vader wees, en julle sal vir my seuns en dogters wees, spreek die Here, die Almagtige.” 2 Kor.6:17

Johann Pretorius ·

Ek verskil met julle lees die skrifte en maak die regte keuse lees Jer 10. En vra jou die vraag af wie is reg die mense of die skrifte!

Heidi ·

jammer om nog ñ bubble te bars, maar daar is ook nie ñ donkie in die Bybel kersverhaal nie…

Berhalet Beukes ·

As jy jou bepaal by die Liefde wat GOD toon deur ons Jesus Christus te bied om op die ou end vir ONS sondes te sterf sal die donkie jou nie pla nie… As jy jou bepaal by Sy ongelooflike Barmhartigheid en Genade sal die “verwronge beeld van Kersfees” jou nie hinder nie en sal jy jubel en juig want ons is ‘n Verlosser is vir ons gestuur!

GES ·

Baie dankie Herman Toerien en Maroela vir die oorsig en perspektief. Ek wens die lesers en personeel ‘n baie geseënde Christusfees toe en vertrou dat ons sal fokus op die geboorte van ons Verlosser en die ontsaglike prys wat Hy vir ons verlossing betaal het. Dit is nou net vir ons om te besluit of ons die geskenk van lewe wil aanvaar of nie.

Piet Snot ·

Ek vra vandag iemand in Almaty hoe sê mens “Geseënde Kersfees” in Khazak.
Hy sê toe hulle het nie so ‘n uitdrukking nie (ten spyte daarvan dat hier heelwat Ortodokse Christene is).
Hoe tragies.

Henkst ·

In 221 het die katolieke geskiedskrywer Sextus Julius Africanus voorgestel om Jesus se geboorte op 25 Desember te vier. Hy was ‘n volgeling van Mithras wat tot die christendom bekeer is. Die geboortedatums van Mithras en Jesus sou dan saamval. Die biskoppe van destyds was meestal gekant teen die viering van Jesus se geboorte. Pous Julius I het in 330 ‘n edik uitgevaardig wat bepaal het dat 25 Desember moet dien as geboortedag van Jesus. Hiermee wou hy aan hierdie dag ‘n ander betekenis gee. Nie die son nie, maar Jesus as die ‘onoorwinlike son’ en die ‘son van geregtigheid’ en die lig van ‘die wereld” Op 25 Desember335 het die eerste kersviering in Rome plaasgevind ter herdenking van ‘Jesus se geboorte’.

Attie ·

Maak aseblief die taal regstelling: Thor is Engels in Afrikaans heed hy Donder seun van die allevader Wodan. Geseende Julfees aan ieder en elk.

Vra maar net ·

Glo mense werklik dat die Verlosser ge-eer word met ‘n oorvretery, dronkenskap en inkopie malhuis?

S Marnett ·

Nou ja , dis die “gees van kersfees” en van sy oorsprong af word dit so’ gevier . Prost , Cheers , Bon appetite ens . My ander antwoorde is afgehaal .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.