Nuuskommentaar: ʼn Goeie week vir burgerlike teenstand – ʼn slegte week vir die regering

ANC-se-vlag-deur-ANA

(Argieffoto: ANA)

Die ANC ervaar om verskeie redes vandeesweek ʼn slegter week as gewoonlik. Tussen groot burgerlike teenstand, moeilike politieke hekkies en uitsonderlike negatiewe kommentaar deur het die regering homself dalk in vandeesweek se nuusweek oortref.

In ʼn redelike opspraakwekkende profielonderhoud van die afgelope naweek het Neeshan Balton, hoof van die Ahmed Kathrada-stigting, gesê dat die huidige regering se hantering van swart mense in sekere omstandighede slegter is as dié van die apartheidsregering. Hoewel hierdie opmerking uiteraard uitsonderlik omstrede is, is die blote feit dat ʼn voormalige ANC anti-apartheidsaktivis so iets sal sê ʼn ongelooflike aanklag teen die huidige regering – dit sal naïef wees om die opmerking voor die voet as volledig waar óf volledig onwaar te aanvaar.

In die lig van die jongste werkloosheidsyfers, vervallende infrastruktuur en ʼn toenemende en heersende gevoel van onveiligheid in die land, is dié opmerking dalk vir mense heeltemal onaanvaarbaar, maar beslis nie onverstaanbaar nie.

Die tweede groot gebeurtenis van die week is Solidariteit wat Dinsdag kriminele aanklagte teen nie minder nie as 19 beweerde staatkapers ingedien het – insluitende oudpres. Jacob Zuma. Solidariteit verduidelik in hierdie groot aksie dat hy nie hoef te sit en wag vir pres. Cyril Ramaphosa of enigiemand anders om na afloop van die Zondo-kommissie se bevindinge amptelike stappe teen staatkapers te doen nie – hy sal dit sommer self doen. Dit sal ook die grootste daadwerklike stappe wees wat uit die bevindinge van die Zondo-bevindinge volg.

Die punt van aksie soos hierdie is nie om nou skielik die heil van die land sommerso om te keer nie. Die Zondo-kommissie en -bevindinge gaan waarskynlik nie die huidige trajek van ons land omkeer nie. Indien daar egter ʼn kans is dat enige immoraliteit, kriminaliteit of korrupsie vervolg kan word in ʼn soeke na geregtigheid, is dit die moeite werd om na te jaag.

Die werklikheid is egter dat Suid-Afrika vir alle praktiese doeleindes (in regeringsopsigte) ʼn mislukkende staat is. Daar waar dit wel nog goed met die land gaan, is dit ten spyte van die regering en absoluut te danke aan die weerbarstigheid van die burgerlike samelewing en privaatsektor.

Mpiyakhe Dhlamini, voormalige navorser en data-analis aan die Vryemarkstigting, eggo juis laasgenoemde sentiment in die afgelope Sondag se Rapport. Dhlamini skryf hoe burgerlike organisasies soos AfriForum en Sakeliga die wil van die mense verteenwoordig wat wel nog die land wil laat werk. Indien Suid-Afrika van sy huidige toestand gered kan word, is stabiliteit broodnodig – dit is juis hierdie tipe organisasies wat nie net die stabiliteit bevorder nie, maar ook met soortgelyke instellings in ander gemeenskappe hul kennis kan deel om die kritiese massa van gemeenskapselfstandigheid uit te bou.

Adriaan Basson, hoofredakteur van News24, meen egter weer dat ons ʼn bietjie kalm moet raak wanneer dit kom by die mislukte staat- retoriek. Hy erken dat ons land baie probleme het, maar dat ons baie versigtig moet wees om so vinnig na Suid-Afrika as ʼn mislukte staat te verwys – daar gebeur nog positiewe goed met en in die land. Hy verwys onder meer na die NVG se groot deurbraak in die saak teen Gupta’s se Optimum-steenkoolmyn, pres. Ramaphosa se aanstelling van Zondo as hoofregter asook die “positiewe” uitkomste van die afgelope week se beleggingskonferensie.

Basson is reg in die sin dat elke liewe aspek van Suid-Afrika nie ʼn volslae en hopelose ramp is nie. Tog behoort die sosio-maatskaplike, ekonomiese en politieke trajekte waarop ons is veel swaarder te weeg as enkele positiewe gebeure wat steeds voorkom – nie in ʼn vasklou aan klein negatiwiteite nie, maar eerder in eerlikheid oor die negatiewe stand van die groter prentjie. Verder is dit ook veel belangriker om te verstaan hoe die huidige stand van sake nie toe te skryf is aan ʼn mislukking van die ANC nie. Dit is eerder weens die ANC se suksesvolle deurvoer van fundamenteel rampspoedige beleid soos van die staanspoor af deur die party beoog.

Tans sluit hierdie negatiewe groter prentjie in dat daar vandag ʼn mosie van wantroue teen die ganse kabinet aangehoor word. Hierdie mosie van wantroue is in Februarie na afloop van die staatsrededebat deur die DA in ʼn opspraakwekkende politieke stap ingedien. Volgens partyleier John Steenhuisen moet Suid-Afrikaanse burgers die nodige minagting wys vir dié gevoellose ministers wat net hul eiebelang dien. Hierdie is, met die uitsondering van dr. Zweli Mkhize wat intussen bedank het, redelik dieselfde omstrede kabinet wat ook twee jaar gelede hulself as diktatuur aangestel het in die gedaante van die nasionale koronavirusbeheerraad soos onderhou deur die ramptoestand. Ons stap nou al ʼn lang pad met hulle deur al die absurde regulasies, magsvergrype en onredelikhede die afgelope twee jaar saam – volledig ten koste van gewone burgers.

Hierdie ramptoestand word deur feitlik alle kenners in hierdie stadium as absoluut onnodig en oorbodig beskou. So ook is die opheffing op 5 April wat tans in die vooruitsig is, volgens die kenners heeltemal te min wat te laat gedoen word in ʼn terugkeer na normaal. Minister van samewerkende regering, Nkosazana Dlamini-Zuma, het Dinsdagmiddag op ʼn mediakonferensie aangekondig dat hulle kyk om die ramptoestand teen 5 April op te hef. Verder is nou net 48 uur gegee vir openbare kommentaar op die voorgestelde gesondheidsregulasies wat uiteindelik die inhoud van die ramptoestand moet vervang.

Solidariteit het in reaksie op hierdie nuut aangekondigde datums op sy Facebook-blad dit as ʼn groot oorwinning van sy kant gevier. Dit is heel toevallig – of glad nie so toevallig nie – dat Solidariteit op 5 April in die hof teen die regering te staan sou kom in ʼn poging om die ramptoestand af te skaf. Nou wyk die regering van sy aanvanklike datums af, maar ook van die feit dat die ramptoestand maandeliks op die 14de hersien word en óf verleng óf afgestel word. Dit lyk amper asof hulle nou naarstigtelik betyds probeer “regeer” ten einde ʼn loesing in die hof vry te spring. Enige iets net om in beheer te lyk en mag te behou!

Daar lê tog iets opgesluit in die feit dat die positiewe kom vanaf burgerlike samelewing – dit bied ʼn langertermynvisie van hoe Suid-Afrika post-ANC gaan en kan werk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
casper

Wat wel waar is dat die toestand van infrastruktuur , verskaffing van dienste, algemene veiligheid, standaard van onderwys en publieke gesondheids dienste in SA veel beter vir SWART mense in SA was onder die “apartheid” regering!!

hendrie

Dankie. U skryfsel bevestig dat Solidariteit en vennote se suksesvolle teenstand teen die huidige regime se vergrype en swak regering, algaande ‘n groterwordende rol as waghond vervul.
Doe ‘seblief zo voort!

Groen Ghoen

Iewers is ‘n vet luislang in die gras… waarom nou slegs 48 ure vir kommentaar op die voorgestelde gesondheidsregulasies? Wat gebeur daarna? Kan die afdwing van hierdie onsinnige regulasies nog gestop en ongedaan gemaak word? Dit is in wese ‘n nog erger voortsetting van die ramptoestand!

Anel

Solidariteit moet nog steeds hof toe gaan anders gaan hulle net voort gaan met hul drakoniese regulasies in die plek van die wat nou aangaan. Hulle sê dan hulle gaan nog steeds elke 14de besluit of daar voirt gegaan word sonder ramptoestand of gaan dit weer in gestel word. Solidariteit moet dit stop, asseblief!!!

Nie Verbaas

Nie dat regering hulle hieraan steur nie. Met die klomp gaan dit voor die wind en die res van Suid Afrika maak nie aan hulle saak nie.