Nuuskommentaar: ʼn Jaar van inperking of ʼn jaar van bevryding?

(Argieffoto: pixabay)

Verwysend na die verloop van die geskiedenis sê mense dikwels dat die geskiedenis nie lineêr is nie. Dit beteken dat die geskiedenis nie perfek voorspelbaar is nie en nie presies as ʼn aanhoudende reguit lyn verloop nie. Die geskiedenis herhaal homself in baie opsigte. Ook is die geskiedenis gevul met gebeure wat in ʼn kort tydperk ingrypende verskille in die verloop van die geskiedenis gemaak het.

Die Covid-19-pandemie het hierdie feit weer eens bewys.

Vandag presies ʼn jaar gelede was die laaste dag voor ʼn jaar lange inperking – 27 Maart 2020 was die amptelike begin van die Covid-19-inperking. Aanvanklik was die onderneming dat dit 21 dae sou duur. Mettertyd het dit ontaard in ʼn jaar lange inperking. Dit bied ʼn goeie geleentheid om terug te kyk op die afgelope jaar.

Covid-19 het die hele wêreld se funksionering omvergewerp. Die manier waarop die moderne wêreld tot stilstand gekom het, is eintlik ondenkbaar. Dit is ondenkbaar deur hoeveel opoffering, verlies, trauma en lyding mense regoor die wêreld vir so lank gegaan het – weens die virus én soveel regerings se swak hantering daarvan. Baie van die veranderings wat ondergaan is, is tydelik. Baie daarvan is meer permanent – dit is hierdie meer permanente veranderings wat juis die geskiedenis ingrypend verander het.

In Suid-Afrika was 2020 ʼn jaar van groot verandering. Dit was ʼn bepalende tyd in ons politieke landskap. Die manier waarop die ANC die pandemie hanteer het en mense se reaksie hierop het op grondvlak onherroeplik verander.

Die regering het van die begin af die pandemie gebruik om hulle sy mag uit te brei. Die nasionale koronavirusbevelsraad (NCCC) het deurentyd namens ons wesenlike besluite oor ons lewens geneem. Die regering het in hierdie opsig nie sy trajek verander nie, maar dit eerder versnel. Alles wat sleg en ondoeltreffend is wat die regering oor die afgelope 26 jaar gedoen het, is voortgesit of vererger.

Ook het hulle aan hulle rasseregulasies selfs in ʼn pandemie vasgehou – dit was seker die laaste strooi wat die kameel se rug gebreek het. Dit is wat ʼn mens onthou wanneer jy terugkyk op 2020 – ʼn staat wat in sy ideologie vasgeskop het en sodoende in sy krisis verdiep het.

Dit het ʼn baie definitiewe breuk tussen die regering en mense veroorsaak – veral tussen die regering en Afrikaners. Ons het in hierdie tyd weer eens besef wat ons eintlik lank reeds geweet het – ons is op ons eie. Die regering is glad nie by magte om enigiemand te help nie, omdat hulle bloot te swak is. Verder is hulle ook nog aktief antagonisties teenoor sekere minderhede. Sodoende het ons ʼn keuse – ons kan saam met die staat ondergaan of “ons kan sélf”.

By terugblik op 2020 kom ʼn ander perspektief ook na vore.

Vandag is die nuwe Sol-Tech Monumentpark-kampus se amptelike feesdag en bekendstelling aan die publiek. Dit is ʼn dag waarop die nuwe kampus en alles wat dit verteenwoordig gevier gaan word:

  1. As jy enigiets gedoen wil hê, gaan jy dit sélf moet doen.
  2. Die regering is nie net nutteloos nie, maar is ook ʼn aktiewe las op enige doeltreffende en vooruitstrewende elemente van die samelewing.
  3. Ten spyte hiervan is Afrikaners se stoere Westerse werksetiek gekombineer met die gehardheid wat Afrika ons geleer het die perfekte teenmiddel hiervoor.

Verlede jaar het ons geleer dat ons uitdagings groot, maar ons oplossings groter is. 2020 was ʼn hoogtepunt in die ANC se onbevoegdheid en magshonger waarmee ons welvertroud is. Die feit dat Sol-Tech ten spyte hiervan sy nuwe kampus voltooi het en dit vandag vier, is die absolute toonbeeld van die Afrikaner se antwoord hierop.

Die breuk met die regering is uiteindelik bevrydend. Die oomblik wat jy besef dat jy nooit weer op die staat kán staatmaak nie, het jy die vryheid om na jouself om te sien. Die ongelooflike kulturele energie en selfvertroue wat ons gemeenskap het, het ook in die afgelope jaar na vore gekom. Ons is ook eintlik regtig goed georganiseerd. Hoewel daar nog baie uitdagings en harde werk voorlê, is ons besig om die resep van selfdoen en kulturele selfbestuur te vervolmaak.

Vanweë ons goed georganiseerde aard en sterk instellings kan ons nie net die breuk met die staat oorleef nie, maar eintlik daarin floreer. In die lig hiervan kan ʼn mens die afgelope jaar sien as een van inperking of een van bevryding. Indien jy dit sien as jaar van inperking, gaan die vooruitsigte nie veel beter lyk nie. Die regering gaan nie sommer binnekort fundamenteel verander of verbeter nie. Indien ʼn mens vaskyk hierin sal jy uiteindelik deur die las van die staat ingeperk bly.

Indien jy dit egter sien as ʼn jaar van bevryding, lyk die vooruitsigte veel beter. Dan sien ʼn mens eerder die staat se geleidelike verval as ʼn las wat geleidelik gelig word. Namate die staat verswak, ontstaan daar meer ruimte vir gemeenskappe om na hulself om te sien in selfstandigheid. Namate die staat verval kan die sukses van kulturele monumente soos die nuwe Sol-Tech-kampus herhaal word. Indien jy die afgelope jaar sien as een van bevryding, word die ANC al meer irrelevant met die verloop van tyd. Namate die regering verswak, vergroot die ruimte vir gemeenskappe om op grondvlak daadwerklike oplossings vir hulself te bou.

Kom ons vier vandag ʼn monument van sukses, vooruitgang en kulturele vryheid!

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Maggies

Pragtige artikel Monica.
Een van hoop en droom oor die toekoms van die Afrikaner.
Ons sál oorwin.

Susanna

Dit wil gedoen wees! Met God as leiding sal ons sterk staan!

Yolande

Hoe sal die kampus teen die EFF se demands beskerm word vorentoe?