Nuuskommentaar: ‘n Kabinet met moraliteit

Argieffoto

Argieffoto

Twee weke na die algemene verkiesing begin die regerende ANC se kaarte in plek val. Die aanwysing van die agt premiers in die provinsies wat deur die ANC gewen is, word as ‘n tipe barometer beskou, maar so ook die aanwys van die Nasionale Vergadering se speaker en adjunk-speaker.

So tussenin het mnr. Tito Mboweni hom as parlementslid onttrek nog voor hy ingesweer is.

Deurdat sewe van die agt ANC-premiers mans is, het dit ‘n storm op sy eie veroorsaak. Boonop het die enigste vrou in hierdie geledere, Sylvia Lucas, net die paal gehaal omdat die ANC se provinsiale voorsitter, die omstrede en Zuma-vertroueling, John Block, hom nie as kandidaat beskikbaar gestel het nie. Block staan nog op verskeie ernstige aanklagte tereg.

Zumafikasie
Heel ander kwessies as gelyke geslagsverteenwoordiging het klaarblyklik ‘n rol gespeel. Die opvallendste is die ANC se dramatiese kreeftegang in Gauteng. Nomvula Mokonyane se Marie-Antoinette wat sy op die informele inwoners van Bekkersdal getrek het, het beslis ook bygedra daartoe dat sy nie weer as premier oorweeg is nie.

In Noordwes kon Supra Mahumapelo nie langer uitgehou word as die ANC enigsins hoop om die onmin binne die provinsiale ANC te laat bedaar nie. Die keersy is egter ook dat Supra groot vyande het, en hoe hy daardie magsblok koöpteer eerder as probeer vernietig sal die bestendigheid in die provinsie bepaal. Tot ‘n groot mate word die verwikkelinge in die platinumgordel nou ook sy probleem.

Die Vrystaat se Ace Magashule is ‘n verbete Zuma-lojalis, maar daar is ‘n reeks verslae van die Openbare Beskermer en die Ouditeur-generaal onderweg, onder meer oor die omstrede webwerf, wat sy termyn baie stormagtig kan laat verloop.

Zoeloefikasie
Met die aanwysing van Baleka Mbete as speaker in die plek van Max Sisulu, word die speaker-amp nog sterker verpolitiseer. Mbete se naam is deurlopend genoem as ‘n moontlike tweede adjunk-president, iets waarvoor die grondwet gewysig sou moes word. Hoewel Sisulu skynbaar gestraf is vir die aanwys van ‘n parlementêre ad hoc-komitee om die Openbare Beskermer se Nkandla-verslag te bespreek, lyk die ontkenning baie verdag.

Sisulu is egter deel van die, soos dit al gestel is, ANC-adel. Met Xhosas soos oud-presidente Nelson Mandela en Thabo Mbeki aan die stuur, het die Sisulus ‘n baie sterk rol gespeel. Na Zuma se oorname, het Lindiwe Sisulu haar pos van minister van verdediging verloor, en is sy na ‘n, wat sy beskou, mindere ministerie verskuif.

Kort hierna het daar verskeie beskuldigings van die herlewing van “tribalism” van onder meer Mbeki en Winnie Madikizela-Mandela gekom.
Dit sal interessant wees om te sien in hoe ‘n mate die Zoeloefikasie in die kabinet voltrek word.

Skisofrenie in die ekonomiese portefeuljes
Verskeie koerante en waarnemers het ‘n beroep op Zuma gedoen om die huidige skisofrenie in die ekonomiese portefeuljes te verwyder. Die betrokke ministers – almal lede van die SAKP – verteenwoordig egter ‘n spektrum uitgangspunte wat wissel van die pragmatiese tot ideologiese verstardheid.

Selfs die Nasionale Ontwikkelingsplan se groeidoelwitte word gekniehalter deur pogings om deur sterker regulering van kleiner sake-ondernemers verder te verstik. Boonop is daar ‘n redelike konsensus dat Tina Joemat-Pettersson as minister van landbou en visserye nie die mas opkom nie.

Tegnokrasie
Dit sal ook interessant wees om te sien tot watter mate die behoefte aan kundige ministers oor die ganse spektrum, gaan opweeg teen kader-oorwegings. Mandela het reeds die noot gevat om deur etniese verteenwoordiging die land in te bind, wat in veral sommige gevalle tot chaos gelei het weens ministers wat net nie die pyp kon rook nie.

Onderwys en binnelandse sake is maar twee van die departemente wat met ‘n sleureffek weens die keuses van ministers die toekoms moes instrompel. By Zuma sal die omringing deur Zuma-lojaliste waarskynlik beteken dat die polisie en verskeie ander departemente steeds gaan steier.

Moraliteit
Die baie mediadekking wat Solidariteit se oproepe op Zuma om ministers met morele integriteit aan te stel gekry het, vertel reeds ‘n verhaal op sy eie – dat die oproepe ‘n besondere uitdaging aan Zuma gaan stel sou hy daaraan gehoor wil gee.

As Zuma wil toesien dat sy laaste termyn met minder haakplekke en storms wil verloop, sal hy ernstige oorweging hieraan gee. Hy sal ook ernstig moet besin oor wie hy as adviseurs gebruik, en as woordvoerders en beeldpoetsers.

Slotsom
Uiteindelik gaan Zuma se sukses al dan nie, van een persoon afhang…Zuma self. Hy sit met die kaarte in die hand, en het die opsies om die sterker kaarte te speel. Maar dit sal ook vereis dat Zuma self in minder omstrede kwessies betrokke moet raak, soos wat sy ampseed vereis.

En hoe minder konkelwerk daar is, hoe nader kan Suid-Afrika aan sy grondwetlike bepalings soos verantwoordbaarheid en deursigtigheid beweeg.

Maar dit lyk of Zuma reeds te diep in die dryfsand vasgesuig is om nou die regte kaarte vir Suid-Afrika te speel.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae