Nuuskommentaar: ‘n Kykie na die verkiesing

Foto: Maroela Media

Foto: Maroela Media

Die uitslae:
Soos ook reeds voorheen gebeur het, is daar ‘n aantal “hardnekkige” stemdistrikte waar oponthoude voorkom en keer dit dat die finale uitslae bekend gemaak kan word. Veral in Gauteng waar teen vanoggend nog net meer as 79 persent van die stemme getel is – juis die provinsie met die meeste kiesers, is die oponthoud ongemaklik.

Nasionaal was toe reeds meer 95 persent van die stemme getel, met die stemtellery in die Noord-Kaap en Mpumalanga volledig afgehandel. Uit projeksies was dit toe reeds duidelik dat die ANC steeds die grootste party bly, hoewel dit met ongeveer drie persent teruggesak het. Die DA is die tweede grootste party, terwyl die EFF van Julius Malema die derde plek ingeneem het.

Dit was ook reeds duidelik dat Agang SA, waarvan aanvanklik veel verwag is, skouspelagtig met sy neus in die grond geduik het. Die party en sy leier, dr. Ramphela Mamphele se grootste bydrae was waarskynlik om meer ANC-kiesers bewus te maak daarvan dat swart kiesers ook ander opsies as die ANC het.

Voorts het nog ‘n ander groot hoop, Cope, byna-byna heeltemal uit die wa geval. Terwyl heelwat kiesers wat voorheen vir die ANC gestem het, nou duidelik elders gestem het soos baie bruin mense in die Wes-Kaap, en vir die EFF, is dit ook duidelik dat die ANC, en waarskynlik die EFF, grootliks gebaat het by die inploffing van Cope en die wegkwyn van partye in die pan-Afrikanistiese dampkring soos die PAC, Azapo en die APC.

Terwyl dit baie duidelik is dat die ANC sy enorme verkiesingsmasjinerie, baie geld en houvas oor staatsbronne ingespan het om byna te kon hou wat hy gehad het, sal daar nog lank oor die metodiek kopgekrap word – amptelike geleenthede soos die oorhandiging van HOP-huise wat in ‘n ANC-verkiesingsvergadering ontaard, die hele kospakkie-sage, bewerings van bevoordeling deur die openbare uitsaaier, en vele meer.

Die DA het op sy beurt getoon dat die inspan van sosiale media ‘n reuse impak kan hê, al het dit hom plek-plek in die sop laat beland. Die party sal in die toekoms moontlik kenners inspan om die inhoud van boodskappe bietjie meer gesofistikeerd te hou dat dit nie soveel weerstandigheid ook by baie kiesers ontlok nie.

Wat van die kleiner partye betref, is dit nog moeilik om die finale oordeel oor byvoorbeeld die Vryheidsfront Plus en die ACDP te fel, omdat die uitstaande stemme nog ‘n relatiewe groot verskil kan maak. Beide partye het nog duidelik die impak gedra van ‘n “natuurlike” dreinering van die kleiner partye – die VF+ het dit baie hard probeer teenwerk en deur gereelde mediaverklarings die aandag daarop probeer vestig.

Die ACDP het in die aanloop tot die verkiesing volgens ontvangsrekords net een mediaverklaring uitgereik – een waarin simpatie oor die herdenking met die volksmoord op die Jode uitgespreek word. Dit sou gevolglik vreemd wees as die ACDP nié erg by die stembus gestraf sou wees nie. Die ACDP kon moontlik in ‘n mate “gekompenseer” word deurdat sy vernaamste teenstander in die Christen-demokraiese dampkring, die CDP, nie aan die verkiesing deelgeneem het nie. Die CDP het in die laaste tussenverkiesing waar die twee partye beide aan deelgeneem het, die beste daarvan afgekom.

Die IVP is duidelik nie net deur die Jacob Zuma-faktor in KwaZulu-Natal hard getref nie, maar ook weens die wegbreek van die NFP. Dit lyk of die NFP op nasionale vlak as die vyfde sterkste party uit die stryd gaan tree. Die proses van dreinering is aangehelp deur ook vorige pogings deur die IVP-leier, Mangosuthu Buthelezi, se pogings om te keer dat ‘n opvolger ontwikkel, soos die Jijane-geval.

Die UDM het skynbaar ‘n effense reddingsboei gekry weens die Marikana-insident en wat daarmee gepaard gaan.

Die politieke wetenskap sal ruim uit vakgebiede soos die antropologie en politieke sosiologie moet put om te verklaar hoekom die ANC so goed kon vertoon ongeag Zuma. Vir die buiteland is so iets doodgewoon onverklaarbaar, wat nie goeie nuus vanuit ‘n beleggingsoogpunt inhou nie. Trouens, dit herinner aan Zimbabwe waar die kiesers Mugabe weer ingestem het, terwyl dit duidelik was dat dit enige poging om die land uit die as te laat hereis, byna heeltemal onmoontlik maak.

Hoewel die sterk toon van rassisme en die oprakeling van apartheid ‘n invloed gehad het om van die verkiesing weer eens tot ‘n groot mate ‘n rasse-sensus te maak, is die situasie kompleks. Of die verlies van ongeveer drie persent steun (boonop eerder na links) die ANC-ringkoppe gaan laat besef dat die land en die ANC beter af is sonder Zuma, sal net die tyd leer. Houdini sou immers ‘n hele paar lesse in ontsnaptoertjies by Zuma kon neem.

Tendense:
Dit is moeilik om wat in Suid-Afrika gebeur, met internasionale analoë te verklaar. Aan die een kant is daar ‘n duidelike ooreenkoms met die styl van Zanu-PF in Zimbabwe, en aan die ander kant duidelik ‘n strewe by ander om Westerse standaarde na te doen.

In die praktyk neem die geheelbeeld eerder die Zimbabwe-karakter aan, soos die grootskaalse inspan van staatsbronne vir verkiesingsdoeleindes, soos “regeringsadvertensies” wat eintlik nie te onderskei is van ANC-advertensies nie, maar wel deeglik deur die wyse waarop vir hulle betaal word.

Die kieserskeuses stem hoegenaamd nie ooreen met dié van Westerse lande waar ‘n soortgelyke proporsionele kiesstelsel geld nie. ‘n Nuwe peiling van Vote Watch toon dat die Christen-demokrate in die komende verkiesing vir die Europese parlement die grootste blok sal bly, hoewel dit effens gaan krimp. Uit die 751 setels sal die CDP’s waarskynlik van 274 na 216 setels verminder. Die verlore steun gaan egter net ten dele na die sosiaal-demokrate wat van 196 tot 205 setels kan toeneem. Die groot “wenner” blyk die verregse groepering wat onder meer Geert Wilders se party en die Franse Front Nasionaal te wees. Hulle setels kan tot 38 vermeerder.

In Suid-Afrika het die Christen-demokrate in die vorm van die ACDP ‘n half persent van die stemme getrek, en sal waarskynlik net twee setels hê teenoor sewe op sy hoogtepunt. Bygesê, die beleid en styl van die ACDP verskil in baie opsigte skerp van die Europese model. Die ander Christen-demokratiese party die CDP, het weens die hoë depositokostes nie aan die verkiesing deelgeneem nie.

Dit lyk of Suid-Afrika se Front Nasionaal sowat 0,03 persent van die stemme gaan trek.
Daarteenoor vaar Europese partye wat in hul staatkundige beleid ooreenkomste met die VF+ het, bv. in Skotland, België, Italië, Spanje en elders goed, terwyl dit lyk of die VF+ hier sowat een persent van die stemme gaan trek. Hier lyk dit of die VF+ ongeveer net soveel aan nuwe stemme weens ontnugtering met die DA bygekry het, as ondersteuners wat om “pragmatiese redes” vir die DA gaan stem het. As is verbrande hout, maar dit interessant wees om te weet wat die verskil sou wees as die VF+ sy klagtes oor DA-SMS’e vroeër by die OVK aanhangig gemaak het.

Die groot kwessie waarmee die buitelandse media sukkel om te begryp, is hoe die ANC weer so goed kon vaar na al die kwessies rondom Zuma se kop en vaag op vlaag gewelddadige diensleweringsproteste.

Word stemme op ‘n klein party vermors?
Dié kwessie het die eerste keer so ver bekend ter sprake gekom toe die destydse DP-leier, Tony Leon, woedend kwaad was vir die NNP-leier, toe Marthinus van Schalkwyk, nadat hy gesê het kiesers moenie hul stemme op klein partytjies (soos die DP destyds) vermors nie.

Selfs al word gemeen dat stemme verlore gaan, geld dit dikwels eerder die groot partye as die kleintjies. Die uitslae van die provinsiale verkiesing in die Noord-Kaap, wat reeds afgehandel is, dien as goeie voorbeeld. Hier het die totale aantal geldige stemme uitgebring, gedeel deur die 30 setels van die wetgewer, ‘n vol kwota van 14 100 stemme per setel opgelewer. Wanneer die aantal geldige stemme per party uitgebring, deur 14 100 gedeel word kry die ANC 19 setels, die DA 7, die EFF 1 en Cope 1. By elk bly daar ‘n “res” van “onnodige” stemme oor.

Word die volkwota-setels bymekaar getel, gee dit 28, met twee setels wat dus aan partye toegeken moet word wat die grootste reswaarde opgelewer het. Die EFF se 6 851 “res” is die grootste, en die EFF se setels skuif dus op na 2. Die tweede grootste “res” is egter nie die 4 153 stemme van die ANC nie, maar die 4 600 stemme wat die VF+ getrek het. Die VF+ kry dus die oorblywende setel. Kiesers wat vir die VF+ gestem het, het dus nie hulle stemme gemors nie, hulle het danksy elke stem wat tel, nog 9 500 stemme “pasella” gekry.

Die ANC, DA en Cope het saam 7 483 stemme van kiesers “gemors”, terwyl die 11 kleiner partye wat nie verteenwoordiging gekry het nie, saam 3 963 stemme “gemors het.” Nota: Omdat die syfers vir demonstrasie-doeleindes gebruik is, en nie om werklike setels te bepaal nie, is syfers soms afgerond om effens makliker mee te werk).

Presies dieselfde berekenings word op nasionale vlak en vir die ander provinsies gedoen. Dit is onmoontlik om vooraf te bepaal watter kiesers hul stemme gaan “vermors” ongeag die party waarvoor hulle stem.

Wat wel waar is, is dat van die klein partye wat nou hul deposito’s kwyt is, soos die UCDP en die ACDP, reeds vooraf in tussenverkiesings ‘n duidelike boodskap gekry het dat hulle nie die pyp vir verteenwoordiging gaan rook nie.

Sosiale media:
Dit is duidelik dat die sosiale media al hoe belangriker word. Of dit reeds heeltemal doeltreffend is, is ‘n oop vraag, want ‘n party wat grootliks daarvan afhanklik was, die Front Nasionaal, het nie hond-haaraf gemaak nie. Die DA se inspan van die sosiale media kan moeilik bepaal word, omdat die party ook ruim ander nuusdekking verkry het.

Die sosiale media is egter ‘n medium waarop die oog gehou sal moet word, veral die manier waarop Suid-Afrikaanse kiesers deur hul selfone bereik kan word.
Dit is ook duidelik dat die ou gesegde, dat iemand wat ‘n tikmasjien en ‘n faksmasjien het, gemaklik ook ‘n politieke party kan wees, nou plek moes maak vir die rekenaar en die kuberruim.

Was die verkiesing vry en regverdig?
Volgens alle aanduidings sal die Suid-Afrikaanse verkiesing ongeag ‘n aantal insidente as vry en regverdig verklaar word. Terwyl dit baie moeilik sal wees om te bevind dat die verkiesing nie “genoegsaam vry” was nie, sal die vraag of die verkiesing “genoegsaam regverdig” was, heelwat meer debat ontlok.

Op die individuele vlak is daar heelwat klagtes dat kiesers by stempunte weggewys is omdat hulle nie daar geregistreer is nie – in die Vrystaat selfs ure nadat die OVK ‘n boodskap na alle stempunte sou stuur dat sulke kiesers wél daar mag stem.

Op die oorhoofse vlak is die vraag komplekser, en handel veral oor die wyse waarop die openbare uitsaaier reeds lank voor die verkiesing volgens talle berigte en uitgewysde insidente die inligting geplooi, of na bewering geplooi het wat uitgesaai is.

Meer opsigtelik was egter die “skielike” advertensieveldtog van staatsdepartemente om oor hul “prestasies” te spog – tot die kantoor van die president. Hierdeur is in effek groot bedrae belastingbetalersgeld gebruik om die ANC se verkiesingsveldtog te finansier. Terwyl daar moontlik gedebatteer kan word of die regering tegnies net-net binne die wetlike toelaatbare grense speel (die departement van landelike ontwikkeling het byvoorbeeld promosie-artikels oor die nuwe grondhervormingsbeleid gepubliseer asof sekere wetgewing reeds afgehandel is terwyl ‘n toespraak van Zuma in wese as “gesag” daarvoor gebruik is), val sekere advertensies loshande buite die konvensies van die speelruimte wat internasionale grondwetlike konvensie toelaat.

Groter duidelikheid moet ook nog kom oor talle klagtes in die aanloop tot die verkiesing en tydens die verkiesing by die OVK waaroor nog nie terugvoer ontvang is nie.

Die laaste ding wat Suid-Afrika nou nodig het, is dat die ingesteldheid teenoor die Zimbabwiese verkiesing nagedoen word, naamlik dat die verkiesing as vry en regverdig verklaar word ongeag daarvan dat dit duidelik nie regverdig was nie, en sekere lande soos Botswana en Australië ook wou hê dat die verkiesing oorgehou moes word.

Slotopmerking:
Suid-Afrika het nog reuse stappe om te neem om tot ‘n volwasse grondwetlike demokrasie te vorder. Tot dan ontkieser baie kiesers hulself deur ander oorwegings as beginsels en beleid as norm te gebruik vir wie hulle stem.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Gemsbok ·

Herman, ek dink jou somme met betrekking tot die toekenning van setels in die Noord-Kaapse Wetgewer is verkeerd.

Die totale aantal stemme uitgebring word gedeel deur die aantal setels +1 (dus 31). Die kwota vir ‘n setel is dan net oor 13,000 stemme en die laaste setel gaan aan die EFF.

Herman ·

Dankie Gemsbok. Goed om weer van jou te hoor. Soos altyd getuig jou bydraes van insig en kwaliteit. Ek glo my argument dat stemme ewe maklik op groot as klein partye “vermors” kan word bly waar.

Peter Rossfour ·

Ek glo dat die Suid Afrikaanse verkiesing vir die internasionale toekykers bitter vreemd moet wees, veral in Westerse lande waar ware demokrasie aan die orde van die dag is en insidente en tendense soos hier in SA nooit geduld en toegelaat sal word nie.

Ongelukkig sit ons met n kiesers basis wat tipies “Afrika” is. n Baie groot gedeelte van die basis is geweldig beindrukbaar en glo vas dat as hulle nie vir die ANC stem nie hul voorvaders ontevrede sal wees en hulle sal straf. Hoe werk n party soos die DA so n “mindset” tee?

Verder is daar groot getalle kiesers wat nie die vaagste benul het van hoe n demokrasie werk nie. n Reuse aantal weet nie presies waarvoor hulle stem nie. Hulle besef doodeenvoudig nie dat dit op die aantal stemme berus van wie en wie nie in die land se parlement gaan sit nie, en dan weet hulle nog minder presies wat diegene wat wel parlement toe gaan daar gaan maak en hoe dit hulle persoonlik gaan raak.

Die ANC buit bg feite onbeskaamd en vasbeslote uit. Met hul oorweldigende meerderheid in die parlement kan hul basies maak net soos hul wil en ongelukkig het bitter min daarvan met die land se welsyn en voorspoed te doen. Dit is die eertse keer in hierdie land se geskiedenins dat die merederheid van diegene wat in regeringsbanke sit alleenlik daar is vir selfgewin en persoonlike mag. Die grootsskaalse korrupsie wat die land lam lê is bewys hiervan.

Wat die prentjie nog donkerder maak is dat daar vele persone in posisies sit wat hulle nie bekwaam
voor is nie en nie die nodige opleiding besit om reg aan die pos te laat geskied nie. Die verstommende dom optrede van die vakbond leiers wat die land se platinum myne doodwurg is n sprekende voorbeeld, en dis maar een van honderde soortgelyke situasies. Die land se infrastruktuur is stadig maar seker besig om te verkrummel maar niemand slaan ag daaop nie, more is nog n dag, en buitendien is meeste van die land se munisipalitieite bankrot en gaan gebukkend onder ongehoorde salaris strukture.

As die ANC ernstig slim wil wees om nog iets uit die sinkende wrak te red moet hulle onmiddelik van Jacob Zuma ontslae raak, asook al sy trawante wat bakhand tou staan.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.