Nuuskommentaar: ’n Lied vir SA in genadestraat – Laat die soektog na die lied begin

Sonsondergang_aanbid_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Kom ons bid vir Afrika

Here wil u gee

Dat God se liefde heers

Oor ons wye land

’n Afrikaanse strofe uit die lied “Plea for Africa”, geskryf deur die grootliks ongeskoolde stuurjonge van ’n sendeling – is dit nie dalk ’n uittreksel van die “Lied vir Suid-Afrika in genadestraat” waarna die bekende navorser Judith February so smag nie? Is ’n land waar God se liefde heers nie veel verkiesliker bo ’n land wat leeg geplunder word en twee mense per uur vermoor word – waar die staat of sy ampsbekleërs dikwels op die voorpunt van die stook van rassisme staan en institusionele rassisme openlik bevorder word nie?

Is ’n land wat volke en individue godsdiensvryheid bied en minderheidsregte erken en toepas, nie verkieslik bo ’n meerderheidsdiktatuur waar minderhede op rassistiese wyse as vreemdelinge verdoem word nie, en dit ironies nogal deur die kleed van rassisme vir die minderhede om te hang?

Te midde van opskrifte wat swaar in en op die hart gaan lê, gaan seker die mooiste opskrif van die jaar nie ongemerk verby nie. Die opskrif, “Lied vir SA in genadestraat” is ’n hoopvolle viering van ’n artikel uit die pen van die bekende navorser Judith February gister op Netwerk24.

Nog ’n opskrif dieselfde dag, “Gaan geweldpleging Suid-Afrika se erfenis word?” deur Philda Essop, demonstreer die trant van ander artikels gister. Soos “Moenie geweld met geweld beveg nie”. Nee, dinge is nie lekker in die land nie, soos wat pres. Cyril Ramaphosa ook pas toegegee het.

Nog ’n lesersbydrae op Netwerk24 is egter dieselfde dag gepubliseer. Onder die titel, Rassisme: Hoe diep lê die wortels? skryf die filosoof van Stellenbosch, prof Anton van Niekerk, onder meer hy hoop dat die klag van rassisme teen die Springbok Eben Etzebeth wat nou soos ’n wolk oor die Springbokke in Japan hang, vals is. Die insiggewende is egter soos dikwels in die “fynskrif” (die leserskommentare).

Met die neerstip van “rassiste” lys hy, waarskynlik in ’n oomblik van breinfloute, slegs blankes. Hy sluit boonop Steve Hofmeyr in, wat so ver bekend nie deur enige paslike gesag aan rassisme skuldig bevind is nie, aldus sommige van die stewige lys leserskommentare. In ’n taamlike raar verskynsel klink die lesers se beswaar oor die onewehandigheid eenstemmig op. Waarskynlik onbedoeld het Van Niekerk die verskynsel van rassisme verhewig, eerder as gekalmeer of besweer.

Die blatante onewehandigheid waarmee die Menseregtekommissie en sekere owerheidsinstellings rassisme, juis deur onewehandigheid, stook, is immers al verskeie kere uitgewys as die vernaamste oorsaak van polarisasie, nie soseer wanneer iemand die “k”-woord inspan nie, ’n spreekwoordelike halsmisdaad. In ʼn “onverwagse wending” het die Menseregtekommissie egter nou pas verklaar dat sekere twiets van Malema wél haatspraak is en dit na die gelykheidshof verwys.

En in weerwil van hoofregter Mogoeng Mogoeng se beswaar teen kritiek op die regbank, is daar wél een aspek wat onrusbarend dikwels al onder appèl afgeweer is, of waar appèlle hangend is, naamlik waar swart regters (en een hooflanddros) skynbaar teen wit beskuldigdes bevooroordeeld was. Dink maar aan die Reitz 4-geval waar die vier aanvanklik onder andere vir iets gevonnis is waarvoor hulle nie aangekla is nie, die leeukamp-geval, die doodskis‑sage en die Coligny 2.

Heel tereg vra ene Henri van Wapadrand vanoggend in Beeld waarom Van Niekerk in sy lys nie plek vind nie vir mense soos Julius Malema, Ace Magashule en Panyazu Lesufi nie?

Dit was immers die mense wat in die onlangse verlede met verdelende uitsprake die meeste in die nuus was vir (beweerde) rassisme, en walglike uitlatinge gemaak het, terwyl van hulle lustig na ander as rassiste verwys. Kortom, dit sal Van Niekerk loon om enige moontlike breinfloute uit te wys en verskoning aan te bied.

Die drie artikels waarna hierbo verwys word, is op dieselfde dag geplaas as wat uitspraak gelewer is in die saak waar die Nelson Mandela-stigting se klag teen Ernst Roets, een van AfriForum se adjunkhoofde, oor die ou landsvlag, skynbaar op hoofsaaklik tegniese aspekte, in die stof gebyt het.

’n Nuwe lied uit genadestraat?

Voor daar onnodig oor die vraag gedebatteer word – bestaan daar nie dalk reeds so ’n lied nie. Wat die uwe betref, ja, dit bestaan. Die lied is die Afrikaanse vertaling van John Knox Bokwe se “Plea for Africa”. Bouwer van Rooyen se Afrikaanse weergawe, “Pleidooi vir Afrika”, saam met Bokwe se oorspronklike melodie, kan die ding doen. Luister en lees gerus hier.

Bokwe is in 1855 gebore, en het later die stuurjonge van die sendeling dr. James Stewart geword. In die voorhuis het hy op ’n ou orreltjie leer speel en sy musiekkennis gevestig. In Januarie 1900 het hy die lied “Plea for Africa” gekomponeer. Dit is steeds ’n gewilde koorlied in verskeie kerke, ook Afrikaanse kerke. Veral die opname met die sopraan Sibongile Khumalo het gewild geword, en word nog gereeld op RSG se U eie keuse gehoor.

Die bekende musiekman en orrelis, Bouwer van Rooyen, het as stigter van Cantando@Bloem die lied effe meer as vertaal. Dié weergawe se woorde is so sterk dat dit gerus oorweeg kan word om dit as alternatiewe weergawe vir die oorspronklike Engels te vestig. Bokwe het homself mettertyd opgewerk en onder meer joernalis en predikant geword. Hy was ook ’n medestigter van wat nou as Fort Hare-universiteit bekend staan.

Die versoeking is baie groot om die “Magaliesburgse Aandlied”, soos gesing deur Nianell (luister hier), ook in die hoed te gooi, maar so mooi soos dit is, dien dit eerder ’n ander doel.

MAGALIESBURGSE AANDLIED

Woorde: G.G. CILLIÉ

Musiek: S.A. Volkswysie; verwerk: G.G. CILLIÉ

Hoed my as ek my gaan neerlê,

grote God, wat altyd waak.

O, beskerm my deur u Almag

as die kwade my genaak.

 

O, vergeef my al my sondes,

dan lê ek my hofie neer.

Dood of hel sal ek nie vrees nie

want U is my Rotssteen, Heer.

 

Neem my ouers en my vriende

in bewaring hierdie nag.

Môre dank ons U vir goedheid,

gawe van ‘n nuwe dag.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jimmy ·

Ai tog, SA is dood en begrawe. Vlae, liedjies en wat al ook kan die land nie red nie. Daar moet eerder gewerk word aan alternatiewe staatkundige modelle.

Jerry ·

Afrika en nou meer as ooit tevore SA, benodig bo en behalwe mooi geloofsliedere eintlik maar n genadige wonderwerk. Te veel onskuldiges en weerloses se bloed het gevloei in afrika en nou ook reeds in SA. Om vir die geweldenaars te se om nie geweld met geweld te vergeld nie is mynsinsiens slegs lee woorde. Die kultuur van haat en geweld/onverdraagsaamheid om enige denkbare probleem mee op te los is gevestig in SA en het wortel geskiet tot die mees ondenkbare diepste dieptes. Die onheil wat reeds voortspruit uit die boosheid van hierdie haat, geweld en plunder kultuur kan voortduur vir baie geslagte lank, soos gesien kan word van wat met Zimbabwe gebeur het en waar die onheil steeds onverpoost voortduur en Zimbabwiers aanhou straf. Die onheil wat die bose dade van die geweldenaars oor hulself en hulle nageslagte bring sal dus nie ongesiens verbygaan nie en sal dus ook nie ongestraf gelaat word nie. Ons het gesien hoedat die onheil wat mugabe se boosheid tot sover oor vyf geslagte teweeg gebring het, deur verskeie afrika leiers, selfs deur SA se president met die hoogste lof en toejuiging begroet is. Dit behoort n aanduiding te wees dat die onheil n vreesaanjaende en stewige greep van goedkeuring op sy onderdane het. Die onheil bestaan, dit is werklik en dit is nou ook in SA se leiers se denke aanwesig. Die onheil wat deur hierdie boosheid voortbring word verdra nie die liefde nie, dit verswelg alles, straf alles en vernietig alles!

Stephan de S ·

Baie dankie Herman vir hd artikel wat met n mens se hart werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.