Nuuskommentaar: ’n Miljoen stemme vir Steve, ’n miljoen stemme teen Zuma

Jacob Zuma en Steve Hofmeyr (Argieffoto)

Twee veldtogte waarin ’n miljoen aanlyn stemme gesoek word, het in die onlangse verlede die aandag getrek. In die een word ’n miljoen aanlyn stemme gesoek om Steve Hofmeyr te oorreed om aktief tot die politiek toe te tree, en in die ander word gepoog om ’n miljoen stemme te versamel om druk op pres. Jacob Zuma te plaas om die pad te vat. Is ’n miljoen stemme “onbeduidend”, soos enkele analiste probeer te kenne gee, of kan dit ’n belangrike bousteen in ’n omvattender veldtog wees?

Dit is baie moeilik om te bepaal presies hoeveel stemme Steve Hofmeyr reeds  gekry het in verskillende aanlyn veldtogte wat ten doel het om dié gewilde maar omstrede Afrikaanse sanger tot die politiek te laat toetree. Een van die veldtogte het reeds meer as 400 000 aanlyn stemme opgelewer.

Steve het aangedui hy sal die politiek betree as ’n miljoen stemme vir hom uitgebring word. Nou is dit wag en sien. Nie dat Steve intussen baie skaam is om politieke sentimente uit te spreek nie.

Maar daar is iets magies aan ’n miljoen stemme.

Ná aanvanklik beoog is om 300 000 stemme in te samel om druk op pres. Jacob Zuma uit te oefen, is die teiken ook na ’n miljoen opwaarts aangepas nadat 400 000 aanlyn stemme in ’n ommesientjie verkry is. En steeds groei die getalle.

Analiste verskil oor die waarde van ’n miljoen stemme. Suid-Afrika het meer as 50 miljoen inwoners, en so beskou, is ’n miljoen stemme inderdaad ’n druppel aan die emmer.

Ander wys weer daarop dat Suid-Afrika ’n groot jong bevolking het en dat ’n groot persentasie van hulle nog nie stemgeregtig is nie, of bloot a-polities is. Voorts beskik baie mense, veral ouer mense, nie oor die tegnologie soos slimfone of rekenaars met toegang tot die internet nie, wat nodig is om aan aanlyn stemmings te kan deelneem.

Appels sou slegs met appels vergelyk kon word as daar ook téén-veldtogte gehou sou word, soos om ’n miljoen stemme aanlyn te probeer werf om téén Steve of vír Zuma te stem. Organiseerders sal so iets nie sommer waag nie, want die gevaar of waarskynlikheid bestaan dat hulle op hul baadjie sal kry. Dit is veiliger om bestaande petisies as onbeduidend af te maak.

Behalwe dat ’n miljoen stemme inderdaad enorm baie is, is dit ook so dat dit nie sommer ’n meerderheidsentiment kan bepaal nie. Dit ten spyte daarvan dat dit alledaags is dat die sosiale media ’n miljoen deelnemers of kykers oplewer, soos pas die geval was met die geboorte van ’n kameelperdkalfie. Maar bygesê, dit is gewoonlik wanneer die ganse wêreld as voedingsbron gebruik word. Dus is dit jammer dat daar analiste is wat standpunt inneem dat die petisie teen Zuma (wat deur die DA bedryf word) “sommer niks” is.

Tog is dit minstens waar dat as dit nie deur ander aksies ondersteun word nie – en dit vind nou ruim in die vorms van optogte plaas – dit die skuif vir niksseggendheid kan wees. Twee indrukwekkende optogte is reeds gehou, ten spyte daarvan dat die weer nie lekker saamgespeel het nie. By die mees onlangse optog na die Uniegebou het na raming sowat 30 000 mense deelgeneem. Nog optogte word beplan, en wanneer die beplande mosie van wantroue teen Zuma vermoedelik in Mei plaasvind, kan die moeder van optogte vermoedelik verwag word, veral by of naby die parlement.

Boonop het ’n onlangse peiling aangetoon dat sewe uit tien Suid-Afrikaners wil hê Zuma moet die trekpas kry.

Daar is ook ander metodes van demokratiese uitdrukking, soos briewe aan koerante – solank persvryheid daarvoor voorsiening maak. Koerante en ander media kan ook deur hul spotprente en hoofartikels standpunt inneem, en doen dit mildelik.

Dit is veral belangrik dat optrede plaasvind wat deur Zuma en sy mense verstaan word, en optogte is een daarvan. Hoewel 30 000 mense by ’n optog onbeduidend min is teenoor die meer as ’n half miljoen stemme wat die aanlyn peiling gekry het (en daar kan dalk meer peilings wees), is dit die omvang van die optogte wat Zuma duidelik die meeste pla, en waarop hy die gereeldste reageer. Dit doen hy lomp, asof hy praat voordat hy dink, en dit bring hom net verder in die moeilikheid by mense.

Tog het een van die organiseerders, Bantu Holomisa van die UDM, gesê optogte kan nie net onbepaald gehou word nie. Die een of ander tyd is daar ’n punt waar die verskillende instansies “onder een dak” bymekaar moet kom om op verdere optrede te besluit.

Intussen hang baie af van die uitspraak van die Konstitusionele Hof oor of die stemming in die mosie van wantroue teen Zuma geheime stemme moet wees. Geheime stemme maak dit inderdaad teoreties moontlik dat Zuma binnekort as staatspresident in die stof kan byt. Die veldtog om ’n miljoen stemme teen Zuma te kry, kan die deurslag verskaf wat ’n aantal ANC-LP’s gaan oortuig om in landsbelang (en eintlik ook in belang van die ANC) hul stemme téén Zuma uit te bring.

Zuma het die optogte nou al by verskeie geleenthede gekritiseer, ook by bykans enige geleentheid waar hy die geleentheid gekry het om die woord te voer. Dis duidelik dat die optogte hom pla. Selfs kerklike en godsdienstige byeenkomste, ja, selfs oor die Paasfees, is nie ontsien nie. In die proses gaan hy ook maar wyd om met die waarheid, soos om die rassekaart te speel. Nie alleen speel hy die rassekaart nie, maar hy speel dit só dat hy minstens probeer om gevoelens téén wit te werf, en steun vir hom onder swart te probeer konsolideer.

Na berig word, het hy nou aanspraak gemaak daarop dat hy sy gesag van God kry, maar dit sal hom loon om te lees hoe God sy gesag van Saul en Belsasar onttrek het nadat hulle so regeer het dat God hulle geweeg en te lig bevind het. Nebukadnesar het, aldus Koos Meyer se “Nederlandse aanhaling” uit die Nederlandse Bybel soos volg deurgeloop: “En Nebukadnesar aat gras wie een beest van de veld, en gaf een emmer melk.”

Die speel van die rassekaart het nou ook reeds in die buiteland die aandag getrek toe Suid-Afrikaners in Londen ’n optog na die kantore van die omstrede beeldpoetsers, Bell Pottinger, gehou het. Die firma het enkele dae voor die optog sy bande met Oakbay, die houermaatskappy van die Guptas, verbreek. Bell Pottinger word daarvan beskuldig dat hy die ontwerper was van Zuma se anti-witveldtog waar strykdeur teen “wit monopolistiese kapitaal” uitgevaar word. Behalwe dat dit uiters onverantwoordelike rassepolarisasie aanblaas, bevat dit saam met “slagspreuke” oor “radikale ekonomiese transformasie” en grondgryp sonder kompensasie die soort retoriek wat rommelstatus sommer gou in die hand werk, al regverdig suiwer ekonomiese werklikhede dit nie.

Hoewel die organiseerders van die veldtog teen Zuma hul bes doen om dit ’n nie-rassige aanskyn te gee (en objektief daarin slaag – trouens dit lyk na ’n oorwegend swart aksie), probeer Zuma om dit te gebruik om die land te verdeel, en veral volgens rasselyne te verdeel. Sou hy hiermee slaag, gaan die prys van die veldtog vir die land baie hoog word.

Vir baie wit mense is die veldtog ironies genoeg ’n belewenis dat hulle nie vreemdelinge in hul eie land is nie, en hulle gryp die geleentheid aan. Dit het, te midde van oproepe van veral aartsbiskop Thabo Makgoba, die effek dat mense voel dat daar in terme van godsdiensopvattings teen die onreg opgetree word.

’n Miljoen aanlyn stemme mag dalk nie die alfa en die omega wees nie, maar in ’n omvattende veldtog kan dit net die strooi wees wat die kameel se rug breek. Hierdie soort veldtogte wat nie op geweld afgestem is nie, vereis immers dat die deelnemers hul broeke met ’n gordel, kruisbande én ’n dik rek bo hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

37 Kommentare

Sarie ·

Interessant. Kan iemand miskien vir my die skakels na die twee onderskeie stempunte aandui? Ek sal dit baie waardeer..

Sandra Nieuwoudt ·

Ek sal nie vir Steve stem nie nie omdat ek nie van hom hou nie maar ek dink die laaste ding wat ons nou nodig het is iemand wat soos Steve meer Afrikaans en “SY” mense georienteer is ons het ‘n leier nodig wat ons almasl kan lei iemand wat ons almal se belange op die hart dra en iemand wat weet hoe om ‘n land te bestuur. Hierdie is ‘n ernstige saak en nie iets om lig op te neem nie!!!

LMF ·

Go Steve hier kom ons eie Donald Trump en dan kan hy nog sing ook

LB S ·

Ernstig nou. Ek was nog altyd ‘n “fan” van Steve, wel, immers so lank as wat hy sy eie nuwe musiek gemaak het en die Khris Kristofferson album. Hy staan op vir sy mense en is ‘n goeie spreker. Maar ek is bevrees hy trek nou bietjie te veel oor na regs en in hierdie land gaan dit net nie meer werk nie. Mmusi Maimane en die DA is my voorland. Ons moet realisties wees.

JoeV ·

@LB s, mens het immers iemand wat nie jou taal of kultuur verstaan nie nodig om jou te lei na ‘n nuwe kultuur en vooruitsigte.
So sal mens baie goed moet aanleer wat mens nie ken nie, en naturlik ook baie goed moet afleer, wat jou moeder jou geleer het, dan behoort mens nogal vinnig in die nuwe kultuur in te val.
Mens kan actually begin om nuwe taal by die huis te praat solank, wat sê jy, jy in?

fred ·

Enige petisie of “stemme” het omtrent geen waarde in SA nie. Jy kan 30 miljoen stemme of besware of ondersteunings kry vir ‘n spesefieke doelwit – so what? Daars geen wet wat bepaal ‘n petisie is afdwingbaar vir enige doel nie.

Sandra Nieuwoudt ·

Ja Fred ek stem dis darm so ons hande is eintlik afgekap en ons kan niks doen nie ons het nie eers ‘n weermag nie die is bankrot so ‘n staatsgreep is nie eens op die tafel nie, nee ons sal maar ons pak moet vat soos ‘n man!

Stella ·

Die dag na so n optog is die wittes, of hulle deelneem of nie, maar weer vyand nommer een.

N Lourens Reitz ·

Dankie Stella vir daardie insig toe die VF die punt maak is hul uitgemaak vir ñ klomp goed.Soms is logika en deursigtiheid meer belangrik as om net op te daag.

Miljoener ·

Miljoen vir Zumpie, miljoen vir Steve en ou Angus Bucum soek ook ‘n miljoen, wie van die drie gaan die stryd wen? Vra ma net

Kobus ·

Nie een gaan gaan wen….al kry Steve sy miljoen…wat gaan hy daarmee maak…net homself op die skouer klop…al word daar n miljoen stemme teen Zuma uit gebring…hy lag heeltyd hehe bank toe…Angus se miljoen se nie dat hy die hele SA in die Christendom gebid het en dat dit beter sal gaan…daar net een antwoord…en dit kan ek nie hier noem…want dan word my kommentaar nie geplaas

AL ·

Miljoen stemme kan dalk te geringgeskat word om Zuma uit die kussings te lig, vergeleke met 50 miljoen mense, maar ons weet data is baie duur en nie almal gaan dit kan bekostig nie.
Bell Pottinger in Brittanje het hul siel verkoop vir n paar silwerlinge en omdat hul nie in SA bly nie, worry hul nie oor die negatiewe impak en verwoesting wat hul saai nie.

AL ·

Vreemd dat wit monopolie kapitaal so rondgegooi word deur Zums. Dis juis wit monopolie kapitaal wat sy beeld poets – Bell Pottinger en dan het hy n wit regsverteenwoordiger – Gert van der Merwe. Dan praat ons nie eens van die SASSA kontrak nie – wit monopolie kapitaal.
Hy moet werklik uit – want eksvroutjie lief Dlamini Zuma maak belaglike stellings dat voormalige model C skole anti-Zuma propageer.

ano ·

Ag nee wat – ons sit al klaar met n immorele persoon as president. Ek wil definitief nie verteenwoordig word deur nog n immorele mens nie. 6 kinders by 5 verskillende vrouens – JZ het 5 vrouens en baie kinders en almal se hy is immoreel. Nou hoe nou? Nee wat dankie – better the devil you know

Ester van Waltsleben ·

As mense ernstig was om n miljoen stemme vir Steve uit te bring sou dit baie vinnig gebeur het. Dit het nie. So die mense wat vir Steve in die behoede my parlement wil sien is gelukkig nie so baie nie

HENNIE NEUHOFF ·

Stem saam met jou Ester. Hierdie belaglike poging is nou al 2 jaar aan die gang en hulle het nog nie eers die halfpad merk bereik nie. Dan wil ek byvoeg dat die lys uiters verdag is. Daar is talle mense wat beswaar aangeteken het omdat hul name op die lys geplaas is deur facebook “vriende”. Ek het op n stadium ‘n som vir hulle gemaak hoe lank dit sal neem om die 1m kerf te bereik. Daarvolgens sal hulle nog met die volgende 2 verkiessings nie die kerf bereik nie.

Leon ·

Heelwat ooreenkomste tussen Zuma en Hofmeyr….besluit maar self. Hoe “kommin” kan ons Afrikaners nou nie raak nie!

Deon ·

Mense maak so. Oorreed Steve. Laat hy Tromp oortuig dat die RSA soos Israel ‘n twee land oplossing nodig het – een vir die afrikane en hul vriende, kommuniste en jingos – een vir die Boere-Afrikanervolk. En dat die Volk sterk bande met die Tromp-regering sal sluit wat Militere Basisse sal insluit!

Adel ·

Ek stem miljoen stemme vir steve en miljoen teen zuma dis tyd dat hy gaan ons land het genoeg verwoesting ons het ni nog nodig nie!

Petrus ·

Miljoen stemme vir steve en miljoen stemme teen zuma go steve!

jaco ·

SA het seker 55 miljoen inwoners, maar net dié 18 jaar en ouer kan stem. So dadelik is daardie 55 miljoen af na omtrent 28 miljoen. Vanaf daardie 28 miljoen moet die 5 miljoen wettige en onwettige buitelanders binne ons grens ook afgetrek word. uiteindelik verander die implikasies van 1 miljoen stemme of meer vir Steve dis baie.

Annatjie Kruger ·

Uncle Angus het ook vir ‘n miljoen “stemme” (mense) gevra of sy byeenkoms by te woon. Miskien het die mense op ‘n miljoen vasgehak.

Gerhard ·

Is ons nou weer besig om n “kommin” Afrikaner mentaliteit te openbaar om iemand soos Hofmeyr op die voorgrond te probeer plaas? Genade tog!

Riaan ·

Steve moet net so min in die parlement wees soos Malema. Absoluut rampspoedig vir nasiebou en die ekonomie.

Lulu ·

Ek weet nie van julle nie – maar ek wil beslis nie ‘n “marriage wrecker” he vir ‘n “first lady” nie. Goeie hemel – watse voorbeeld stel sy vir die jong mense? Sy het sowaar ALLES gedoen “to get her man” Van huwelik opbreek, tot hof toe gaan, dagvaar vir miljoene rand en toe sommer alles teruggetrek toe meneer besluit het hy wil haar he? Ag nee wat – sowat van immoraliteit het ek lanklaas gesien.

Johannes Meintjes ·

Na mening is SA se dikwels morele bankrot leierskap moontlik afgestomp m.b.t. die waarde van 1 miljoen stemme. In die teenswoordige tye is dit ‘n prestasie om een miljoen stemme vir ‘n saak te trek, gesien teen die lig van apatiese, vuisvoos gemeenskappe en die informasie oorlading wat met die sosiale media en vals nuus deurkom. Volkspresidente word soms ter wille van gewildheid aangewys. Kyk bv. na die voorbeeld van Madiba.

kerneels ·

Ai, dankie vir al die pret … ek gaan my nog dood lag. Wat kan ek sê oor ‘n keuse so tussen die duiwel en die diep blou see … absoluut skreeusnaaks.

anton ·

Julle wat so slim is en teen Steve uitvaar en hom afskiet, hoekom kom julle nie dan met n beter voorstel nie?
WANT JULLE KAN NIE!!!!

christa ·

Waar moet ek aan lyn stem Mense daar kan vir ons lig aan die einde van die donker tonnel wees Solank zumpie ronde kop net waai.

BOLANDER ·

Sal beslis vir Steve stem!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!

Elizabeth ·

Miljoen stemme vir die vir daai, ??????? en stemme wat geensins gehoor word nie! Jakob Zuma sal dit weereens as toiletpapier gebruik by Nkandla en Steve, met alle respek sal nie in die parlement eindig nie, nie eens met ñ miljoen stemme nie! Ek het in elkgeval nog nooit geglo hy is ernstig daaroor nie, daaroor het hy al self vele kere gesê hy stel nie belang nie. Maar soos gewoonlik skree almal “Steve vir President” wanneer hy die regte woorde spreek. Laat my altyd aan ñ klomp skape dink, die mense! Steve is ñ goeie sanger, die beste om die waarheid te sê, goeie aktivis, maak geen fout nie, maar Steve kan ek myself nie voorstel in ñ pak klere as ñ raadslid of in die parlement nie, daarvoor is sy gees te vry, jy kan nie ñ vry gees, vry denker, een vir die ooptes en ruimtes ñ politikus wil maak nie. Die met daai drome gaan vir Steve versmoor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.