Nuuskommentaar: ’n Miljoen stemme vir Steve

Steve Hofmeyr. Foto: Burger Meyer/Maroela Media

Steve Hofmeyr. Foto: Burger Meyer/Maroela Media

Steve Hofmeyr se naam is pas weer onregstreeks ingespan toe die Nasionale Konserwatiewe Party met die Miljoen stemme vir Steve (ʼn Facebook-petisie) saamgespan het om eersdaags ’n eenheidsberaad aan te bied oor die probleme wat die Afrikaner in die gesig staar. Teen die agtergrond van sy aanvanklike gewilligheid, en latere onttrekking van pogings om vir hom ’n afspraak met pres. Donald Trump te reël, is dit nodig dat die aspek van die versugting na ’n inspirerende en samebindende leier in regse Afrikanergeledere onder die loep geneem word.

Gaan Boerepresident Steve Hofmeyr ’n werklikheid word?

Steve is weer in die nuus – dié keer ná ’n regse groepie hom gevra het om die pasverkose pres. Donald Trump van die VSA te gaan besoek, en ook met ’n insameling daarvoor begin het. Steve het hom aan die projek onttrek nadat sy foto en naam sonder sy medewete op plakkate verskyn het as sou hy die leier van ’n party wees van wie se bestaan hy nie bewus was nie.

Dit is egter lank nie die eerste keer dat iemand Steve probeer gebruik of misbruik om steun aan die Afrikaner se regterkant te wen nie.

Vroeg in 2015 het Steve na berig word gesê hy sal die politiek betree as ’n petisie met ’n miljoen handtekeninge daarvoor opgestel sou word. En toe word so ’n petisie op die sosiale media in die lewe geroep, hoewel ’n miljoen stemme (nog) nie bereik is nie. Die vonke het hier ook vroeg gespat toe bekendes, onder andere bekendes in die vermaaklikheidswêreld, se name op die petisie beland het, en hulle taamlik verbaal laat weet het dit was sonder hul medewete (en dikwels ’n paar onplesierighede kwytgeraak het). Die sosiale media is die sosiale media, en van hierdie mense is op hul beurt weer erg sleggesê en selfs gedreig oor hul woorde oor Steve nie met fluweel uitgevoer was nie.

Natuurlik weet Steve niks van die onsmaaklikheid nie, en dra dit nie sy goedkeuring weg nie.

Hierdie projek het egter reeds ʼn verstommende 200 000 stemme gekry, en Steve self reken al die projekte om stemme vir hom in te samel, het waarskynlik reeds ʼn miljoen stemme getrek. Hy wys daarop dat dit ʼn groot fout sal wees om sy steun net op Facebook te soek.

Pas is Steve weer onregstreeks by die politiek betrek toe die Nasionale Konserwatiewe Party (wat nie met die destydse Nasionaal Konserwatiewe Party van dr. Connie Mulder verwar moet word nie), ’n eenheidsberaad belê het met ’n wye reeks onderwerpe wat in diepte bespreek gaan word om moontlike oplossings te soek wat ingestel kan word ter verligting van die lot waarin die Afrikaner-Boervolk hom tans bevind. Die beraad word mede-gefasiliteer deur die aksie Miljoen stemme vir Steve. (Steve was ongeveer ’n jaar gelede ’n spreker by ’n kongres van die NKP. Op die party se Facebookblad waar die toespraak as video gelaai is, verklaar die NKP dat Steve nie ’n lid is nie, maar wel die beleid en beginsels van die party ondersteun.) Die NKP is nie ’n buite-parlementêre party nie, maar was tevore nog nie gereed om aan verkiesings deel te neem nie.

Steve self verduidelik sy huidige politieke rol soos volg: “Hieroor my ‘sagte aanslag’ as populis, as vriend van enige Afrikaner- of Boerebelangeorganisasie. Ook Kommandosorg. Die naaste aan eenheid of komberskonsensus wat jy kan kry, is as ek opdaag en nie te veel hare kloof met besonderhede nie. Ek het byvoorbeeld in dieselfde jaar met Pieter Mulder (VF+) en Tony Leon (DA) gemarsjeer vir die behoud van Pretoria se naam. Ek is ʼn vriend van NKP, die VVK, die Suidlanders, Praag, VF+, AfriForum, Oase, die FN, die Verkenners en die AWB, terwyl die meeste van hierdie groepe min ooghare vir mekaar het. Afrikanereenheid, het ek vroeg geleer, is by uitstek ʼn balanstruuk. Dit sal nog ʼn groot onderwerp word omdat Afrikanereenheid ons redding is, maar helaas nog nooit bereik kon word nie.”

In ’n era van populisme onder politieke leiers, staan Steve boonop intellektueel soos ’n reus uit. Sy intelligensie en ongelooflik wye algemene kennis is vir kritici op die ander kant van die politieke spektrum ’n groot frustrasie. En wanneer Steve die ou volkslied sing, kry hy in ’n klimaat waar mense die grense van moedeloosheid ruim opsoek groot ondersteuning – en nie net van regs nie. Trouens, in baie gevalle kry die (reuse-) gehoor nie rus voor Steve nie saam met die skare die kranse laat antwoord gee het nie.

Soos Trump, is Steve ook geen kerkmuis nie, wat hom werklik onafhanklik maak. So kon hy ná sy rondetjie met die Kommando Sorg (sic) verklaar hy is heeltemal bereid om met Trump te gesels as iemand dit gereël sou kry, en hy sal sy eie kaartjie betaal, dankie.

Die politieke omgewing waarmee Steve gereeld verbind word, is leeuwêreld. Selfs in die konserwatiewe deel van die Afrikanergeledere maak dit op die oog af nie ’n baie groot persentasie uit nie. Terwyl die vermoedelik groter deel die Vryheidsfront Plus ondersteun, blyk dit dat baie ook vir die DA stem, soos die getal stemme wat die DA vanuit Kleinfontein trek. Nog ander stem vir partye soos die ACDP en CDP weens die Christelike nismark wat ook nog hierop inspeel.

Die deel wat weier om aan verkiesings deel te neem om sodoende ’n boodskap uit te stuur dat hulle nie die legitimiteit van die huidige bedeling erken nie, is erg versplinter en onderling nie so vars met mekaar nie. So wil die leier van Kommando Sorg, John Rudman, die Front Nasionaal en Boere Krisis Aksie (sic) dagvaar oor dié organisasies glo agter Steve se onttrekking sit, en hom, Rudman ’n swendelaar genoem het. (Hoewel die Front Nasionaal nie ’n setel kon verower nie, is dit nie ’n buiteparlementêre groepering nie.)

Die organisasies mag talryk en versplinter wees (dink maar aan organisasies soos Dogters van Sion [mans en vroue], die AWB, die institusionele (Boere-) Volkstaatraad en vele meer) maar in die sosiale media praat die ondersteuners in min of meer dieselfde idioom en denke. Vele dwarsliggende kwessies word feitlik identies beskou.

Wanneer Steve lostrek met sy sangstem, is dit nie net die ondersteuners van buiteparlementêre groepe wat vanuit die hart saamsing nie; baie mense in die gehoor ondersteun ook ander partye. Hulle behoort nie net aan die APK of die Israel Visie nie, maar die hele spektrum van Afrikaanse Kerke is teenwoordig. Soms is dit gemeentes van die susterkerke wat Steve as gaskunstenaar by geldinsamelingsprojekte betrek, en om wins uit die optrede te maak moet veel meer as net daardie gemeente kaartjies aanskaf. Vir ’n ruk is die gehoor afgesluit van Suid-Afrika met sy moorde, plaasmoorde, korrupsie en Zuma. Hulle beleef as’t ware ’n eiland waar Afrikanerwaardes, insluitend die voorreg om vrolik en vry te voel, oorheersend is. ’n Parlement wat in ’n parleboendoe ontaard het, en ’n gevoel van ’n piesangrepubliek lê ver.

Soos met Trump, glip Steve se vingers soms op die Twittertoetse, maar Steve maak nie sommer twee keer dieselfde fout nie, want sy bedoelings word soms verkeerd verstaan.

Die groot vraag is natuurlik of Steve, as hy inderdaad die politiek sou betree en bestaande leiers bereid sou wees om ter wille van Steve terug te staan, daar ruimte of gemeenskaplike wil sal wees vir ’n eietydse bondgenootskap soos dié van presidente Paul Kruger en MT Steyn?

Op die gematigde front (waarmee die Seunse Weenkoor nukkerig nie sal saamstem nie) het die Solidariteit Beweging hom as ’n groot, beduidende en invloedryke burgerlike beweging onder hoofsaaklik Afrikaners gevestig. Die lewensruim wat sy Plan B (selfhelp) skep, gaan groter in aanvraag kom namate die ANC meer rasbenepe (wat aan ’n rassehisterie begin grens) raak en strooptogte op Afrikaans en Afrikaanse instellings binne die institusionele raamwerk uitgevoer word. Max du Preez beskuldig Solidariteit daarvan dat hy ’n staatskaping op die Afrikaner uitgevoer het. Aan die hoof van hierdie “bose spul” staan die “Boerepresident” Flip Buys.

Hoewel ’n bekende DA-LP haar volle steun aan Plan B toegesê het (op Solidariteit se Facebookblad), het die onlangse aanstelling van Gerrie Nel by AfriForum die Seunse Weenkoor weer laat lostrek en ’n aanduiding gegee van die ongelukkigheid in linkse kringe met die Solidariteit Beweging. Vanuit die regterkant van die politieke spektrum is daar ook ’n voortdurende bitterbekheid jeens “Soliforum”.

Die aanslag teen Afrikaans en minderhede in die land neem ’n omvang aan waar ’n versplinterdheid ’n onbekostigbare luukse is. Kommentators (en selfs ’n verslaggewer) hanteer Solidariteit en AfriForum se saak in die appèlhof oor Kovsies se nuwe taalbeleid reeds asof die universiteit die saak gewen het.

Steve is waarskynlik die enigste persoon op die horison wat beskik oor wat nodig is om ʼn soort eenheid en gefokusde visie te bewerkstellig in ’n regse leeuwêreld waar bitter min groot leiers hulle sal wil begewe.

Maar onthou net – dis leeuwêreld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

82 Kommentare

Skim ·

Wel niemand anders het die GUTS nie, en of mense van hom hou of nie, is julle bereid om die plaasmoorde onder Donald Trump se aandag te gaan bring? Almal vertel altyd die buiteland doen niks nie, wat het hulle tydens Apartheid gedoen? Sankies toegepas, moratoriums, en hulle het duisende ANC lede in hulle lande as EXILES ingeneem en gratis laat studeer, so ongelukkig kan die handjievol wittetjies nie die regering tot ander insigte dwing nie, ‘n land met mag moet hulle ongelukkig maar ‘n les begin leer.

marthie truter ·

Ek voel ook magdeloos soos Steve maar mnr Donald Trump weet wat aangaan in SA. Ek steun Steve 100%. As hy mnr Trump kan sien, met bewyse, sal waardeer.

gerda ·

Ek vertrou Steve ten volle. Hy is ‘n goeie leier en weet waaroor dit gaan. Al is ditLeeuwereld sal hy dit kan doen met ons ondersteuning.

Marietjie ·

STEVE HOFMEYR vir PRESEDENT !!!!!!!!! Ek stem saam daar is niemand nou wat blank is by parlement nie……. gee ons ook n stem vir STEVE hoop hy gaan vir DONALD TRUMP sien want hy het GUTS….. go STEVE ONS STAAN AGTER JOU……..

Johanna ·

Absolute volle vetroue in Steve. Ons moet hom ondersteun. Skrik wakker mense!!

AL ·

Afrikaners het min of meer dieselfde dinge wat hul graag wil verander, maar nie besef dat eendrag maak mag nie. Afrikaners moet hul fokus van die verlede soos FW en die berugte en beroemde JA stem wegkry en eerder fokus op oplossings vir die toekoms. N Dinkskrum met aksie kan ons help. Ons is dit verskuldig aan ons nageslag.Steve het die guts en daarvoor salueer ek hom.

wdp ·

Nou gaan Steve seker weer as die grootste rasis in mense heugenis uitgebeeld word -maar as daar een ou is wat al hierdie opgebreekte Afrikaner groepies bymekaar kan bring sal dit beslis nie ‘n fout wees om hom ‘n kans te gee nie.

Koos ·

Ek stem maak hom die leier en hy sal die leisels vat. Steve is die enigste een wat ware “guts” het. Dis wat ons nodig het. Kom nou Mnr Hofmeyer ons wag vir jou, die oproep is gemaak, kom lei die volk…

bendons ·

Ek stem volkome saam. Dis tyd vir opstaanen regtig ons rug reguit maak.
Steve jy is die een wat ons kan verenig en jy het die guts. Asb Steve doen jou ding. Jy kan maar man want jy het my en vele Afrikaans Boerevolk ondersteuners se JA.
Sterkte.

John ·

Intelektuele reus… nee. ‘Has been’ akteur… ja. En nou wil hy die wereldtoneel betree. Was hy ‘n toegewyde Christen? Of is dit nie ter sake nie. Wat is sy opinie deesdae oor aborsie? ‘n Man met met ‘n skynbaar promiskue agtergrond. As sommige van julle hom as leier wil he… ‘n tweede Tereblance… gaan vir hom. Afrikaners kies gereeld leiers wat later vreemd uitdraai…

Johann ·

Stem saam met jou, John. Dan vra ek, is die Afrikaner dan nou al so desperaat?

kerneels ·

Eenhonderd persent saam met jou, John. Hofmyer verstom met sy obsessiewe ego. Ek wens hy wil hom by sy lees (sing en versies) bepaal en ophou om desperate politieke uitlatings te maak. Netnou besluit die wêreld ons wittes se loppe werk almal so.

Liezille ·

John, God vergewe almal, maak nie saak wat jy gedoen het nie, en ek ken vir Steve persoonlik, hy is ‘n Godsvreesende man. Wat maak dit saak wat sy opinie oor aborsie is?! Jyt joune en hy het syne, hoe dit okal sy. As julle nie van hom en sy “obsessiewe ego” hou nie, moenie die berig lees nie, dis maklik!

Hendrik ·

Wat die mense moet besef dat ons gaan nie ons uit hierdie gemors stem nie. Tans is die beste oplossing om die Burgerregte groep Afriforum te ondersteun want… S.A. is ‘n regsstaat. Buite parlementere aksies baat ons baie meer as die DA en VF+ verteenwoordigers wat in die parlement sit .

what a joke! ·

Regstaat vir nou maar die grondwet beteken eintlik niks zumba1 bewys dit hy gebruik dit gereeld vir ? papier…

Retha ·

STEVE VIR PRESIDENT!!!! Hy is die enigste een wat die guts het om iets te doen. Hou op oordeel en staan tog net vir een keer saam Mense, asseblief!!!?

Richard ·

Die politieke wêreld is inderdaad ‘n leeuwêreld. Wat ek wel raaksien is dat organisasies soos Afriforum/Solidariteit suksesse behaal met wat hulle aanpak, hetsy dit gemeenskap georiënteerd is, of op ‘n politieke vlak.

Ondersteuners van die; kom ons noem dit nou maar “verregse” organisasies soos Dan Roodt se Praag of die Boere krisis aksie, Awb, Front Nasionaal, en sommer nog ‘n hele swetterjoel sogenaamde “Boere/Afrikaner” organisasies. Ek kan self die APK hier ook noem, doen baie meer skade aan die Afrikaner.
Net vandag word daar weer wyd gekwyl, gekef en gesanik teenoor Afriforum/Solidariteit (by die Praag webtuiste) wat eintlik iets doen en nie net terug sit en kwaak nie. Hierdie randeier verregse organisasies is vreeslik manhaftig, maar wanneer dit by “die doen” gedeelte kom, dan is hulle tjoepstil, verlam en stom.

Steve bevind hom waarskynlik iewers in die middel van die “regse kringe” alhoewel ek self nie Afriforum/solidariteit as “regs” beleef nie.

Pensioenaris, Koos ·

Ek en al my familie lede stem vir jou, Steve. So bly daar is darem een boerseun wat kans sien om te staan vir die Afrikaner volk se regte.

Justice ·

Steve is welbelese, `n goeie spreker, puik redenaar, trots Afrikaans en boonop als nog `n sanger / komponis / vermaakskunstenaar van formaat. Hy het beslis my stem – Facebook se gebrek aan privaatheid is egter nie vir my nie – enige ander manier om te stem?

Pat ·

Ek dink almal is dit eens: Die afrikaner kan nie saamstaan nie. So hoekom op daardie ou kitaar slaan as jy weet wat die resultaat gaan wees. Probeer iets anders. Iets nuuts. Niemand gaan ooit dieselfde sienings hê nie, so hoekom mekaar probeer oortuig. Een ding stem almal oor saam, en dis om ons taal en kultuur te beskerm en ‘n omgewing te skep waar ons kan floreer en voortbestaan en ons kinders ‘n toekoms het. So hoekom kan al die splinterpartye nie saam kom en nog steeds afsonderlik onder een vaandel baklei vir die dinge wat ons wel oor saam stem nie? Dan gee niemand hulle sienings op nie, maar saam veg ons vir wat saak maak. Miskien moet al die splinterpartye begin dink daaraan, wat is die belangrikste op hierdie stadium? Jou opinie of jou behoud? G’n wonder niemand sien kans vir hierdie sirkus nie, as jy eers na almal se opinies moet begin luister sal dit jou mal maak. Staan vir 2 of 3 punte en dis dit. Die res sorteer jy in jou gemeenskap uit.

AL ·

Ek stem! Laat die onderskeie party hulle ego’s by die huis los!

Flip Sadler ·

Dis presies soos ek ook voel, staan NOU saam en baklei later !!!Nie later nie, begin nou !!

Daleen ·

Hiermee stem ek saam. Ons kan net n verskil maak as ons saam staan en al die mense wat giftge woorde op die sosiale netwerke kwyt raak, bly liewers stil ons het nie verdere verdeelheid nodig nie.

"Eksê" ·

Die besluit is joune steve, of hulle jou optimaal wil aanwend of misbruik dit sal wees na jou rasionele besluit.

koos ·

ek het na die Nasionale Konserwatiewe Party se facebook blad gaan kyk en ook n paar vrae daar gestel. hulle is maar nes die ou Konserwatiewe Party van Treurnicht en kie in die 1980’s en vroeë 1990’s. Hulle stel nie eens belang in samewerking met Kleurlinge en Indiërs en wit Engelssprekendes nie, alhoewel hierdie groepe net so erg as Afrikaners onder ANC onderdrukking ly. Hulle wil nog steeds hulle eie ding doen. So gaan ons nie ver kom nie…

Pieter ·

Ons hulp is nié van Steve, Trump of wié ook al nie. Ons kry presies wat die Woord ons beloof het as ons nié aan Sy Woord getrou bly nie. Keer terug na God! Ons het nie t6d vir God nie, want die Rusdag het sportdag geword, ons dryf handel en doen besigheid en soek ons eie belang. Vir baie is God se enigste nut as Hy ons tog net kan seën.

Ek is lief vir Afrikaans en ons mense, maar jammer – ons in níé ‘n oorwegend Christelike groepie nie…

Eugene ·

Ag asb. Steve Droom! n miljoen stemme die Vryheidsfront + kon maar 165 000 kry in 2014!

Susan de Klerk ·

Al wanneer daar van die VF+ gehoor word is wanneer dit verkiesingstyd is of tydens die parlements opening wanneer daar ‘n woordjie gespreek word met n joernalis. Hulle beteken niks en verskaf net werk aan ‘n paar mense.

Pieter ·

Ek is dit 100% eens met jou. Ek sal enige tyd eerder iemand steun met goeie sedes, één vrou en slegs kinders binne die huwelik. Iemand na wie mense kan opsien en weet sy uitsprake is op die Woord gebaseer. Km ons bid vir ‘n ware leier om op te staan en ‘n land met toegewyde Christene wat hom in gebed ondersteun!

Kobus ·

Pieter,
Geloof in die bonatuurlike en outydse bygelowigheid het nie veel gehelp tot dusvêr nie. Ons is op ons eie. Kies om saam te staan of dis elke man vir homself.

Piet Badenhorst ·

Ek weet nie wie die storie geskryf het nie, maar, Welgedaan. Puik om sulke geballanseerde Joernalistiek en Kommentaar te sien.

skorra ·

Ek sien altyd uit na Herman se artikels en is nog nooit teleurgestel nie. Nugter, weldeurdag en deeglik ingelig. Baie dankie vir telkens-verfrissende perspektiewe!

Adele ·

Steve is die een!!! Hy het die Guts om vir die Afrikaner volk op te staan. Ek en my familie sal agter hom staan!

Johanna Botha ·

Moes julle nou die foto gebruik …sy hare is deurmekaar en hy lyk na n boef op die foto .. ag nee man !

Sarie ·

En so baklei die afrikaner onder mekaar en sê mekaar sleg. Dit is die probleem – niemand wil iemand anders sien presteer nie, maar wil ook nie opstaan en uitstaan nie. Praat eerder en sê mekaar eerder sleg onder mekaar. Dit is, was en sal altyd die afrikaner se probleem. Blameer altyd iemand anders vir die probleme en breek iemand anders as om net saam te staan. Toe Bok van Blerk ” De La Rey” gesing het, toe het niemand hom sleg gesê nie. Toe wil almal “saam staan” en veg vir waaroor die liedjie gaan. Nou dat Steve wil “leier” staan vir al die plaas moorde, want niemand gaan besef hierdie is massamoord op ‘n “ligte” skaal, sal ek vir hom stem, ongeag wie en wat hy is en wat hy gedoen het. Magtig mens – wie is perfek. Ons almal het geraamtes in die kas. Sommige steek dit net beter weg.

Tanya ·

Ek hou ook nie van wat Steve in sy verlede gedoen het nie,maar ek weet hy is trots op Afrikaans en ons geskiedenis. Ons het so iemand nodig.

Blom ·

Wel ek sien net 2 moontlike figure wat vir President Trump kan gaan spreek oor ons situasie.. Dis of Steve of Adv Anton Alberts. In hulle het ek vertroue om die Afrikaner se belang mooi uit te spel..

popeye ·

Polarisasie onder Afrikaners is daar gewis, was altyd daar, net so onder die ANC – leiers en ondersteuners. Met dit gesê kom ons beweeg aan! Die rigting wat ons sal gaan sal deur die meerderheid Afrikaner-simpatie bepaal word. Ek sien ‘n groep wat uitsluitlik Afrikaner wil wees op hul eie, weg van alle ander. Ek sien ook ‘n groep wat inklusief wil wees met alle ander. Ek sien ook ‘n groep randeiers wat radikaal links EN regs verdreel kan word. Die uitkoms gaan op populistiese terme bepaal word. Die skeidslyne is nou nog te vaag.

Eugene ·

Ag asb. Wat kan Donald Trump nou vir ons beteken? Hy het in elkgeval nie tyd om met n sanger van SA te praat nie!

Oopsie ·

Ten minste probeer Steve. Wat probeer jy om jou medemens te beveilig en die slagoffers van plaasaanvalle te help? As Amerika al die jare sanksies op SA gedurende Apartheid kon toepas, hoekom nie nou nie? Moenie Amerika se invloed onderskat nie, ook nie vir Steve nie. Almal het altyd gelag vir Trump se blonde kuif ens ens . vandag is hy een van die sterkste moonthede in die WERELD se president. OOPS!

Johannes van Staden ·

Wel miskien kan hulle n liedjie saam skryf en dit dalk nog sing …dit sal SA op die map sit !

PvZ ·

Mense wat as leiers in die geskiedenis boeke opgeskryf is, was nie altyd die “soetste”, “sterkste” of “slimste” mense gewees nie. Wat hulle wel kon regkry, was om die verskillende faksies binne hulle volk saam te bind. Iemand wat dit regkry, is ‘n leier.

Peet ·

Fantastiese kommentaar. Die skynheiliges wat hier almal anders wil judge, se boekies is self nie so skoon nie. Ek stem saam. Saambind omdat almal dieselfde gemeenskaplike belange het, is absoluut belangrik. Maar ek is teleurgesteld in my eie Afrikanervolk wat eerder vir Steve hier uitmekaar trek as wat hulle ‘n sent sal gee vir Afriforum of vir Steve se reis na Amerika. Lekkerder om te sit en sushi eet en Moét shampagne drink en vir ander vertel hoe sleg is hulle. Oops daar lui die alarm, ek net gou die gewapende reaksie eenheid skakel .. so iets !

Theresa ·

Ten minste sal hy wel ter tale wees met ‘n onderhoud. En, wie anders het die moed om dit te doen? Dan weet ‘n eerste wêreld land van ons ongelooflike stryd hier as minderheid wat minder word a g v brutale moord. Natuurlik moet hy gaan. Wie nie waag nie, wen nie.

Getda Malherbe ·

Ek is bevrees die meeste mense begryp nie die diskoers wat Steve aan die gang probeer kry nie. Wees trots op wat jy is en wie jy is en staan op vir wat reg is. Dankie Steve dat jy onbeskaamd dit voorstaan

Alida ·

Julle wat Steve se persoonlike lewe so kritiseer bly natuurlik almal in glashuise. Steve het nog nooit sy kinders weggesteek nie. Hy onderhou hulle almal uit eie beurs maar JZ se ontelbare getal kinders word met ONS geld onderhou. Steve sal doen wat hy goeddink en nie gek van homself maak nie.

Johann ·

Hy is nou nie my cup of tee nie, al bedoel hy die goed, maar nie, net nie hom nie. Genade, is dit al wat die Arikaners het, en Herman?

Elna ·

Ag genade tog hou net op kritiseer en staan vir n slag saam….

Johann ·

Nie ongeag nie, hy steek maar swak af teenoor enige van die Afrikaner leiers wat ons in die verlede gehad het. Ek wil nou nie vergelyk nie, maar nee, is ons nou al so desperaat dat ons hom as ons leier sien?

Herman? Goeie ouers.

Rupert Ashford ·

Wow Herman! Change of tune soos die Engelsman se. Ek hou van wat jy probeer doen. Groetnis.

krag van God ·

Ek verbaas my elke dag alhoemeer. Niemand vra na Hom wat alles in ñ oogwink kan verander. In Spr.1;20-33 en Spr8 kyk Hy almal reguit in die oë : Spr8;14 en 15 “Raad en beleid is Myne, Ek is die insig, sterkte is myne”. “Deur my regeer die konings____”. In Deut28 is ons lank gelede reeds gewaarsku dat hierdie toestande oor ons gaan kom weens ons onchristelike lewenswyse. As ons die weg van gehoorsaamheid gekies kon dinge soveel anders gwees het. Mt22;29″Julle dwaal want julle ken nie die skrifte en die krag van God”. Die krag van God: Jos10 en Núm16;31-33. Die skrifte sê vir ons ho e skeef ons uitgedraai het:Lk16;29-31. Die ganse Skrif is deur die Heilige Gees ingegee:2Petr1;19-21. Alles nie so erg? Lk12;10 het ñ ernstige waarskuwing. Hoekom aanvaar ons ni e die uitnodiging van Spr1;20-21?

Johann ·

Steve het nie eens die kwaliteite om ‘n skoolhoof te wees nie. Genade.

oni ·

so tipies ons ou nasie, kan, sal en wil nooit saamstaan nie. regtig die wat sedigheid so aanhang, gooi die klippe. hier is meer nyd en afguns, as enige iets anders. Maak nie saak wie gaan wil help nie, die ou normale gesang gaan gesing word, laat ons sit op ons eie tak en sie als val om ons.

Paperdoll ·

God sal op die regte tyd die regte persoon stuur wat ons as christelike volk bymekaar sal bring en tot oorwinning lei. Totdat ons nie volkome terug keer na God en sy woord nie. Sal ons cerdwaalde slape wees
Met geen herder en geen rigting. Die wolwe sal ons verskeur en verwoes. Keer terug na God. Belei jul sondes en smeek vir vergifnis.

ada ·

Sal almal sonder foute asb na vore kom? Wil julle foutlose mense graag ontmoet. Dit sal n eerste vir my wees.Almal sonder ego’s met mooi gekamde hare hoe morele waardes en n plan op die tafel.

hannes marais ·

ek sal eerder die HNP voorstel om donald trump te gaan sien…steve is te veel van n “has been”

Anton ·

Steve vir president sal n burger oorlog afgee (een wat reeds oppad is)… wat die land nodig het is n neutrale president, n party wat regeer vir almal se gewin. Ek weet nie van julle nie maar ek wil nie he ons wittes moet voor getrek word nie en ek wil ook nie kyk hoe swart voorgetrek word nie. Ons het nou al die wit apartheid en die swart apartheid probeer, hoekom nie net n regverdige regeering met gelyke waardes vir almal nie? Steve staan vir wit, malema vir swart, wie staan vir almal? Een ding wat ons moet besef is dat n wit regeering nie die land gan vebeter nie, dit gaan die haat meer maak, dit gaan die moord meer maak en dit gaan die ekonomie net meer skade aandoen. Ons kort n neutrale persoon wat opreg almal se belange beskerm, iemand waarvoor wit, bruin en swart sal WIL stem. Ek weet nie van julle nie maar ek wil net vrede he, ek het nie in apartheid geleef nie, wel nie die een voor 1994 nie, maar ek haat elke deel van die rasse oorlog wat net mooi niemand ooit sal wen nie. Almal is verloorders in die een. Tyd vir almal om saam te staan en n leier te kies wat die land verteenwoordig, nie net n sekere groep nie. Of so dink ek

Johann ·

AS hy en Trump mekaar ontmoed, sal Steve hom seker aan Trump voorstel as die ou wat die liedjie ‘Pampoen’ bekend gemaak het.

Nel ·

Hulle sal beslis iets in gemeen he. Die TRUMPKIN was Halloween 1916 se gewildste pampoengesig!

Adam ·

Kan iemand my asb help? Wie en wat is die Afrikaner Boerevolk?

bella ·

Ai tog. Ons word afgemaai. Ons word as Afrikaners as ploerte uitgebeeld en dan het ons wragtig die vermetelheid om mekaar nog af te kraak. Wie is nog altyd deur God gebruik? Gaan lees julle Bybels. Nie die skrifgeleerdes ens nie. Eenvoudige mense vol foute en sonde. Mense wat deur God opgelei en heel gemaak word. God gaan ons bly tugtig en laat ly totdat ons ophou om mekaar so af te knou en te verkleineer. Tyd mense om na 1 Tim 5:8 te kyk. As jy na jou EIE mense nie kyk nie is jy slegter as ‘n heiden. Ek is trots om ‘n Afrikaner te wees. Van my mense het ‘againts all odds’ daarin geslaag om die vreeslikste situasie in ‘n sukses te verander. Ek se ons Vader moet asb ons leier daar waar hy/sy besig is om skape op te pas vir ons te roep en bevoeg te maak.

E.K. - ek sê net! ·

Trump en VSA het SA nie nodig nie. Hulle het olie en al die res en is die grootste en sterkste Westerse moondheid. Sal Trump nou regtig tyd wil mors op SA – hy het alreeds genoeg vure om te moet doodslaan met mense wat in sy eie land teen hom is. Wat Hofmeyr sal bereik weet g’n mens. Sovele mense hierbo slaan die spyker op die kop, die Afrikaner kan en wil nie saamstaan so… Hul wil veg vir die taal maar let nie eers op op hul spelling en taalgebruik- red nou ‘n taal SO!

dan ·

Ek sou ook graag wil weet wie is die Afrkaner volk. Ek hoe mense net kan aanvaar God moet ons hier ‘uitlei en red’. God het aan jou ‘n brein en twee hande gegee. Gebruik dit met wysheid. Dit is jou gereedskap. In Suid Afrika beteken Afikaner wees om jou medemens en medeAfrikaner te help en by te staan. Staan agter sterk instansies met integriteit wat jou regte in die land beskerm en maak die grootste bydraes wat jy kan bekostig. Dit is hoe mens saamstaan. maak n bydrae aan die mense wat die grondbesit databasis bou. hulle navorsing en werk kos geweldig baie en dit is een van dié belangrikste studies nog! Ondersteun AgriSA en boere!

Dawie ·

Herman, goeie artikel. Net een regstelling. ‘n Mens kan nie die woorde “intellektueel” en “politiek / politici” in dieselfde sin gebruik nie. Die begrippe is nie versoenbaar met mekaar nie.

Magaret Henderson ·

Ek lees nou hierdie berig, weet eks n Ma, N Ouma, en n Gebore Suid Afrikaner, Ekt wel di Fb blad van Miljoene vir Steve Hofmeyer delete Omdat baie se Steve het GEEN IDEE van Hierdie Blad Ni Maar My Insig soos toe ek daar was, Het ek Agtergekom HOEVEEEL SUID AFRIKANES Om HULP SKREEU Dat Iemand Vir Wie HULLE SO BAIE RESPEK HET SOOS STEVE HOFMEYER om Hierdie land te probeer Red Om Hulle Vroue en Kinders Hul Klein Kinders Se TOEKOMS vir Hulle te Red, Ek Sal OOK my stem vir hom gee want die Dag toe TREURGROND uitgekom het het bewys dat Steve se Hart Nie net By sy Gesin is nie Maar ook by Elke Suid Afrikaner, Nou Vra ek met al my Liefde In My Hart Dat Steve Hofmeyer Sy Hart sal ondersoek en Op te staan en te luister na elke Hulp Kreet van Sy Afrikaner Volk en ag sal gee om die Land te Help. Sy Vrouki gaan ook n Kindjie in Hierdie Land in bring en even Sy of Hom se Toekoms le in gevaar. Daar is soveel Moord op Oneindig baie Onskuldige Mense in hierdie Land. Mag God Met Steve wees en Hom Lei Sodat Suid Afrika gered kan word uit n Bose mag wat besit geneem het van Suid Afrika, N Mamma, Ouma, En n Suid Afrikaner vrou.

sofia ·

Ek stem nie vir Steve nie. Ek luister nie eers na Steve nie. Steve se raklewe is hoeka verby.

R ·

Heelwat boontoe kla Johanna Botha oor die foto met sy deurmekaar hare. Nee man, dis nie deurmekaar, dis so drooggeblaas om die vleiskuif bietjie toe te maak!

Johan H ·

Ek wou nog se Steve het meer breinselle as die hele Kabiner gekombineerd. Tenminste het y Metriek.Wie anders is daar ???

M.JOUBERT ·

Hy is die enigste Afrikaner wat die moed het om sy opinie in die openbaar te lug, en wat tenminste iets probeer doen.

Takkie ·

Ja kom Steve en hy het guts!!! Sal nie impulsief handel nie en dink voor hy doen. Hy is nie bang of staan swak nie. Wie en hoeveel boerseuns sal by hom en mekaar aansluit??? Kom manne te veel tyd al verby en ons wag en wag…… dinge moet nou gebeur asb

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.