Nuuskommentaar: ‘n Morsi gemors en ons betaal by die petrolpomp

Van middernag af betaal Suid-Afrikaners ‘n rekordprys vir brandstof, terwyl daar steeds ‘n surplus aan ru-olie op die wêreldmark is. Dat ru-olie se prys so hoog bly te midde van ‘n surplus is op SABC-TV se nuus toegeskryf aan leweringsprobleme. Hoewel daar steeds plekke is waar olie-uitvoere gekortwiek word, soos in Jemen wat weens die voortdurende sabotasie van oliepyplyne miljarde dollar verliese ly, en Suid-Soedan wie se olie-uitvoere deur Soedan sukkel om op dreef te kom, moet die Midde-Oosterse kruitvat nie uit die oog verloor word nie.

Om vyfuur vanmiddag verstryk die ultimatum wat die Egiptiese weermag aan pres. Mohammed Morsi gestel het om aan die eise van die duisende betogers op Tahir-plein gehoor te gee.

In dié stadium lyk dit of Morsi wil rug styfmaak en beskryf die weermag se eis as “verwarrend,” maar ‘n hele aantal van sy ministers en minstens een belangrike goewerneur het al hul tassies gepak.

Hoewel die wêreld deeglik die kwesbaarheid van die belangrike Suezkanaal in die oog hou, is die kommer eerder een oor ‘n groter potensiële instabiliteit.

In ‘n sekere sin reageer die olieprys soos die platinumprys tydens onluste – en veral Marikana – by platinummyne.

Morsi was toe hy president geword het, ‘n prominente lid van die Moslem-broederskap. Hoewel dié instansie oor tyd effens meer gematig geword het, word hulle wêreldwyd eerder steeds as deel van die probleem, en nie die oplossing nie van radikale Islam beskou.

Die Moslem-broederskap is vanselfsprekend ontevrede oor die ultimatum wat die weermag aan Morsi gestel het. ‘n Ander party wat beswaar maak, is die Salifistiese party. Salafisme, in die praktyk eintlik neo-Salifisme, is ‘n vertakking van die Islam, veral in die Soenie-geledere, wat die dampkring verskaf waarbinne Al Kaïda floreer, asook sy geallieerdes soos die Al Shabaab, Boko-Haram en die groepe in Wes-Afrika wat ook Mali  teister.

Kortom, die klimaat word geskep waarbinne internasionale terreur weer kan floreer, en die VSA word nou internasionaal diplomatiek onder druk geplaas oor die spioenasiemetodes wat juis ingestel  om die beweegruimte van so ‘n potensiaal in te perk. (Al is duidelik ver buite hierdie grense op regerings en individue se kommunikasie gekoekeloer).

Meer as die helfte van die wêreld se Arabiere is Egiptenare, hoewel Egipte self nie ‘n baie groot olieprodusent is nie. Maar, soos die gebeure van 2011 getoon het, het ‘n vonk in die Arabiese wêreld die potensiaal om ‘n domino-effek in ander Arabiese lande aan te steek en opstande in ‘n domino-styl te laat plaasvind. Die internet speel ‘n belangrik rol, en op die oomblik word al die boodskappe van die betrokke partye in Egipte, ook die weermag en die president, op Facebook geplaas sodat almal, ook die buitewêreld, presies weet wat die eise en reaksie is.

Die Arabiese wêreld maak deel uit van die Moslem-wêreld, en oorkant die Middellandse See het oproer in Turkye die wêreld ‘n ruk lank gespanne gehou. Die Siriese konflik het onlangs die 100 000 kerf vir sterftes verbygesteek, en die burgeroorlog het reeds in die komplekse wêreld van Islam-strominge geïnternasionaliseer. Pres. Bashar al Assad se minderheidsregering is veral gesetel in die kleinerige Alawite-sekte, wat weer deel van die Sjiïete in die Islam uitmaak. Dit is dieselfde groepering wat Iran, en in ‘n effense mindere mate Irak oorheers. Dié groepering lewer ook die Libanese Hizbollah op, wat aan Assad se kant in die Siriese konflik betrokke geraak het.

Hamas, wat weer die Gasastrook regeer en in die neo-Salifistiese dampkring staan, wil hê Hizbollah moet uit Sirië onttrek, al is die twee organisasies in hul stryd teen Israel bondgenote.

Israel  het op sy beurt ‘n paar keer lugaanvalle in Sirië uitgevoer, formeel hoofsaaklik om wapenkonfooie van Iran na Hizbolla uit te skakel, maar dit is duidelik dat sekere strategiese Siriese teikens ook aangeval is.

Intussen sluit al hoe meer Moslems uit ander dele van die wêreld met selfs Belgiese en Nederlandse Moslems wat gesneuwel het, ook uit radikale geledere, hulle by die rebellemagte in Sirië aan.

In Iran het ‘n meer gematigde persoon die presidentsverkiesing gewen, maar die harde feite is dat die Ajatollahs steeds die finale sê oor belangrike regeringsake het. Of die beperking van Iran se olie-uitvoere om sy kernplanne te kortwiek enigsins verlig gaan word, sal nog gesien moet word.

Hoewel dit alles ver van Suid-Afrika af gebeur, betaal die land ook die prys vir die konflikpotensiaal in die Midde-Ooste.

En vanmiddag se verstryking van die ultimatum aan Morsi gaan ‘n ‘n belangrike aanduiding verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.