Nuuskommentaar: ‘n Nuwe wêreldorde en Suid-Afrikaanse wanorde

skaakSedert Suid-Afrika deur die Rubicon gestap het, bly die land in baie opsigte in diep water. Nie altyd al te skoon water nie, aldus ‘n verslag van AfriForum, en ook volgens die groen- en bloudruppelverslae. Soms daal dit letterlik tot die vlakke van poefietiek.

Die ANC verkondig dat hy ‘n goeie verhaal het om te vertel…

In die internasionale konteks het die land ook na 1994 ‘n groot koersaanpassing gemaak. Pres. Nelson Mandela het die Libiese diktator, Moeamar Ghadafi omhels, Kuba het ‘n dik vriend geword, en heel dikwels het Suid-Afrika in die VN erg deurgeloop vir bedenklike keuses veral in die Veiligheidsraad. Die lysie is nog veel langer.

In die breë konteks van internasionale politiek het dit nie veel saak gemaak nie. Die Koue Oorlog was verby, en eertydse vyande het saam om tafels gesit en groot besluite oor wêreldvrede en ander kwessies geneem. Geopolitieke denke, en tot ‘n groot mate magspolitieke denke, is in die vullisblik gevee. Die Internasionale strafhof het tot stand gekom, en voortaan, so is gehoop, sou politieke leiers twee keer dink om soos padvarke in die internasionale verkeer te kere te gaan.

Daar was krapperighede en sake waaroor nie saamgetrek is nie, soos Noord-Korea en Iran.

Hoewel die grafskrif lank reeds oor dié Utopia geskryf is, is verkies om dit nie raak te lees nie.

Dit het egter die Krim-krisis gekos om te besef die wêreld-Utopia is net so ‘n mite soos die “goeie storie” wat die ANC vir die kiesers hier opdis.

Aanvanklike vooruitskouings dat die krisis tot ‘n derde wêreldoorlog kon lei het intussen min of meer oorgewaai, en die vraag wat nou gedebatteer word, is of die Koue Oorlog weer voortgesit word. Magspolitiek is weer aan die orde van die dag, en die geopolitiek is weer afgestof – die keer met ‘n groter fokus op McKinder en Rätzel se hartlandgedagtes, met die een oog darem op die kwessie van seetoegang.

Maar die werklike kundiges loop nog katvoet. Hier is nog te veel onsekerhede en nuwe elemente te verreken voor etikette uitgedeel, en stellings met groot sekerheid gemaak kan word.

Omtrent al wat seker is, is dat dinge nie meer dieselfde is nie, of anders, al wat seker is, is die onsekerheid. Die nuwe wêreldorde het juis een van die produkte van die post-Koue Oorlog-periode, die derde internasionale spitsberaad oor Kernwapens, “benut” om sy kleure te toon. Dit was baie gou duidelik dat die aandag veel meer op die uitkristallisering van die nuwe wêreldorde sou fokus as op die amptelike agenda. Een van die eerste slagoffers van die post-Koue Oorlog-periode was die G-8 wat in die stof gebyt het, en die herlewing van die G-7 met Rusland in die koue. Dit was egter nie net die G-7 wat sy eie kantlynagenda gehad het nie, Brics het ook by die geleentheid koppe bymekaar gesit, en hier was Rusland en China die groot honde, en het duidelik rug styfgemaak teen die G-7, wat nou weer ‘n “Westerse klub” is.

Hoewel die beraad deur talle regeringshoofde soos die presidente van die VSA, China en Frankryk, die premier van Brittanje en die kanselier van Duitsland bygewoon is, het die presidente van die lande wat die kwessie op die “agenda” laat beland het, Rusland en die Oekraïne nie self opgedaag nie. Beide se ministers van buitelandse sake was egter teenwoordig.

Westerse lande skuif onderlinge haakplekke opsy en val behoorlik oor hul voete soos hulle mekaar onderling van lojaliteit en vriendskappe verseker, terwyl die vuis eenkant vir Rusland geswaai word. Rusland steek tong uit vir dié petalje.

Swede se minister van buitelandse sake, Carl Bildt, het die huidige situasie dalk die beste opgesom toe hy gesê het ons beleef nou ‘n “post-post Koue Oorlog-era.” Hy meen dit is nou heeltemal onbekende vaarwater.

Te lank kan die wêreld nie water trap oor hoe om in die nuwe era te navigeer nie. Daar is kwessies soos die ontsettende Siriese lyding wat om oplossings roep, Iran se kernooreenkomste met die wêreld moet nou weer ‘n kapstok kry, die Israels-Palestynse vraagstuk kan weer in ou loopgrawe vasval…

As die onmin soos nou opbou, kan lande soos Suid-Afrika wat min of meer koersloos in sy internasionale verhoudinge is, gedwing word om kant te kies. As lidland van Brics en die opkoms van China as wêreldmag sal die instink dalk wees om die oog ooswaarts te wend, en die weste in die tande te skop. Maar so eenvoudig is dit nie. Minister Rob Davis het pas laat blyk dat Suid-Afrika bekommerd is hoe sy handelsbetrekkinge met China eintlik kontra-produktief is. In nege uit die tien gevalle voer China rou produkte uit Suid-Afrika in, en in 100 persent van die gevalle ten volle verwerkte produkte na Suid-Afrika uit.

Terwyl die internasionale skaakspel se nuwe stel reëls moet uitkristalliseer, bly een waarheid staan: State is gelyk en ongelyk tegelyk. ‘n Land wat sy vriende kies onder hulle wat minder gelyk is as ander, gaan net met pionne aan die spel deelneem.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae