Nuuskommentaar: ’n Oorwinning wat soos ’n nederlaag voel

Die Duitse bondskanselier Angela Merkel. Foto: AP Photo/Markus Schreiber

Die Duitse kanselier, Angela Merkel, het weer ’n verkiesingsoorwinning behaal, maar die politieke landskap is goed geskud. Beide die CDU van Merkel, en haar (gedwonge) groot koalisievennoot, die SPD, het groot kiesersafvalligheid beleef. Die politiek is nou ongewoon versplinter, maar die populistiese regse AfD het ruim geskep en die derde grootste party geword.

Die verkiesing in Duitsland het plaasgevind te midde van wêreldleiers wat mekaar plek-plek goed met die teerkwas bykom. Pres. Donald Trump het in ’n toespraak minagtend na die Noord-Koraanse diktator, Kim Jong Un, as “Rocket Man” verwys. Kim het teruggekap met ’n woord wat Amerikaners die woordeboeke nader laat trek het – ’n Dotard. Dit beteken min of meer ’n periode van progressiewe seniliteit en geestelike agteruitgang. Boonop het hy die Dotard beskryf as een “wat mentally deranged” is.

Was daar nou in die Duitse verkiesing ’n Dotard?

Die naam Ystervrou wou nog nooit lekker aan die Duitse kanselier, Angela Merkel, gaan kleef nie. Tog trap sy al lank diep spore in nie net die Duitse nie, maar ook wêreldpolitiek.

Pas het sy weer ’n verkiesingsoorwinning behaal, maar haar party het byna 9% van die stemme teenoor die vorige verkiesing verloor. Trouens, die CDU/CSU het sy swakste vertoning sedert 1949 gelewer. (Die stemtellery was met die skryf hiervan nog nie heeltemal afgehandel nie.) Vroeë kommentaar lui dat die kiesers beide die CDU en die SDP gestraf het, en die politieke landskap nou gefragmenteer gelaat het. Ontleders meen die vlugtelingkrisis en die groeiende kloof tussen ryk en arm het tot die kieser-swaai gelei.

Tog word sy dié keer nie soos met die vorige, “gedwing” om ’n koalisie met haar jare lange teenstanders, die SPD, te vorm nie. Ook die SPD het gevoelige verliese gely, en sowat 5 % ingeboet.

Die werklike verandering is dat die Linke (radikaal links) en die Groenes onderskeidelik net 0,7 en 0,6 % stemme kon wen, terwyl die populistiese regses, die AfD met byna 8 %, en die pro-sakeparty, die FDP, met 6 % gegroei het. Die AfD is skielik Duitsland se derde grootste party.

In teorie het Merkel dus ’n ander keuse as ’n sogenaamde groot koalisie – haar party en die sosialistiese opposisie saam. Of dit wys is om ’n regering uit twee partye saam te stel wat beide erg onder die verlies aan kiesers deurgeloop het, is ’n ope vraag. Sy sal dus graag na die FDP kyk (met wie sy voorheen in ’n suksesvolle koalisie was tot die FDP teen die verwagting in nie die drempel vir verteenwoordiging in die Bundestag kon behaal nie).

Die FDP is nou terug, maar gaan net-net nie ’n vyftig persent aan Merkel besorg nie. Sy sal dus nog ’n party moet betrek, en The Guardian noem interessant genoeg die Groenes. Tot dusver was partye van oor die politieke spektrum maar erg allergies vir die Groenes en is dit ook in ander lande bloot as geen opsie nie, beskou. The Guardian beskou die Groenes dus as meer aanvaarbaar as die twee ander opsies, naamlik die Linke en die AfD.

The Guardian reken wel die opposisie SDP sou ’n koalisie van die Groenes en die Linke kon probeer, maar die totaal skiet in ieder geval ver tekort om by 50 % uit te kom.

Die AfD word beskou as behorende tot dieselfde groepering as dié waaraan Geert Wilders se party in Nederland behoort. Wilders het in sy eie land ’n ruk lank ’n koalisie met “gedoogde steun” [met “gedoog” wat “verdra beteken] staande gehou, maar dinge het skeefgeloop, en partye wat deel van die koalisie gevorm het, is later oor die algemeen deur kiesers gestraf omdat hulle toegelaat het dat Wilders hulle help.

Merkel sal dus baie omsigtig wees voor sy die AfD se steun, gedoog of andersins, sal probeer inkatrol.

Die AfD gee ook geen aanduiding dat ’n koalisie met Merkel eens oorweeg sal word nie. Ná dit duidelik geword het hoe die politieke wind waai, het die AfD laat weet: “We zullen Frau Merkel opjagen. En we zullen ons land en ons volk terughalen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Johan ·

‘N baie insiggewende artikelmnet jammer dat die skrywer telkens (ook in vorige artikels) in die gees van die liberale dikratuur enige party of instansie wat nasionale eiebelang vooropstel afmaak met die minagtende emotiewe term “populistiese” – so asof dit ‘n sonde is om die wel en weë van jou eie mense eerste te wil stel.

Adam ·

Johan, dink jy dit is ‘n “minagtende emotiewe” term of dat dit in die “gees van liberale diktatuur” geuiter is indien daar na Julius Malema as ‘n “populistiese” leier verwys word? Is dit nie so dat populisme na beide links en regs sny nie? Merkel betaal die prys vir die inlaat van 1m migrante, net soos dit ook elders in Europa betaal word. Die Brexit uitslag is oa verkry weens dieselfde tipe sentiment.

domkop ·

hulle het geval vir misleidende propaganda en het nie vir hulleself gedink nie. hulle gaan hulle land verloor soos ons. toe julle, skuif opsy, dis nou die beurt van n nuwe volk om julle werk en blyplekke oor te vat.

Veritas ·

Die styging in die konserwatiewe stem is direk toe te skryf aan Merkel se immigrasie-beleid. Die wêreldwye neiging na konserwatisme gaan nie sommer gestuit word nie. Mense is moeg daarvoor om soos vreemdelinge in hul eie vaderland te voel en behandel te word. Hierdie ‘regse’ groei is maar net die begin.

Leahim ·

Sy is n goeie leier behalwe vir haar simpel besluit oor die immigrante wat Duitsland nog duur gaan kos doen sy nie sleg

John ·

Meeste nuuskommentators reis op’n eie unieke Soros/CNN-ontwerpte ‘rocket’ om-en-om die aarde en kies skynbaar eerder die kant van die selfaanbiddende pokkel-godjie met die ‘trigger-happy’ vingertjie. Wat sou Hillary gedoen of gese het, want sy was mos ‘n droom-minster van buitelandse sake en ‘n uitgemaakte ultra-droom-president. Of was sy? Het Trump die mannetjie aangemoedig om sy broer by te kom, ‘n VSA-toeris in ‘n slaapwandelaar te verander en ‘n waterstofbom oor Japan te vuur? Miskien moes Trump nooit niks gese het oor N-Korea nie en die saak aan die buurlande oorgelaat het? Sou die joernaliste dan bek-gehou het? Nee, want dan was Trump weer ‘n papbroek. Ons hoop WW3, danksy CNN en Soros en al die ander alwetende wit-oe, se eie vuurpyl land veilig en presies in Hillary se voortuin vir ‘n lekker koppie Sjinese-tee en verdere wyshede saam met haar en die talle ander uitnemende dimensie-leiers.

Gerhard ·

Ek vemoed ’n oorwinning wat soos ’n nederlaag voel voel nog steeds beter as’n nederlaag wat soos ‘n oorwinning voel ;-)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.