Nuuskommentaar: ’n Polisiestaat wat hik en stotter?

Polisiebeamptes by die staatsrede 2017 Foto: ANA

Polisiebeamptes by die staatsrede 2017 Foto: ANA

Om die verskillende magsvertoners in die polisie in te span om ’n magsbasis vir politiekery te hê, herinner aan iemand wat ’n trop wilde tarentale in die veld aankeer en by sy hoenderhok se hek probeer injaag. Maar dit lyk tog of pres. Jacob Zuma die vernuf het om die skynbare chaos in sy belang te stuur.

Gebeure die afgelope paar dae dui kommerwekkend al meer op tekens van ’n polisiestaat. Of, so lyk dit, deur onbeholpenheid lyk dit of die sekurikrate wat die polisiestaatnetwerk mooi moet span en toeknoop, so onbeholpe is dat hulle eerder die piesangrepubliek stook.

Die mees onheilspellende is dat pres. Jacob Zuma self betrokke is, en die parlementsopening as magsvertoon probeer gebruik het om sy statuur as onaantasbaar te bevestig. Daar sal nog lank koppe gestamp word oor die grondwetlikheid, of grondwetlike proses, wat gevolg is om meer as 400 soldate om die parlement te ontplooi tydens die onlangse staatsrede.

Verskeie partye beweer hulle herken polisiemanne wat die aand met die staatsrede as withemde gedien het, en hoewel die parlement dit ontken, word videomateriaal bestudeer.

Dan is daar die onopgeloste vraag oor die seremoniële beamptes wat in die parlementêre raadsaal diens gedoen het, en volgens die opposisie nie daar mag gewees het nie. Die voorsittende beampte het haar naam met ’n plank geslaan deur te beslis hulle staan in die deur (aan die binnekant) en is nie “op die vloer nie”.

Dan was daar die agtereenvolgende nagtelike dramas waar eers die privaat forensiese ondersoeker, Paul O’Sullivan, se assistent (’n toegelate prokureur) deur die polisie rondgery en toe toegesluit is, en toe O’Sullivan self. O’Sullivan is in weerwil van ’n hofbevel in hegtenis geneem.

Dit is duidelik dat die gebeure hulle afspeel teen die agtergrond van Zuma se beleid van patronaatskap. Maak nie saak in watter rigting ’n mens ’n tree agteruit gee nie, dan duik die name van ontplooide kaders, of kaders wat in onguns verval het, op. Kort-kort slaan die wortels tot in die Nasionale Vervolgingsgesag terug. Trouens, dit lyk of enige kapasiteit om Zuma se maatjies met die skerp kant van die gereg te laat kennis maak, skielik self teenspoed kry soos die Ontvanger se sogenaamde “rogue unit”.

Verskeie senior mense se name het om al die verkeerde redes via die media (en selfs ’n paar boeke) bekend geword.

Op die oog af is daar ’n tipe magstryd tussen verskillende eenhede van die polisie, wat genoeg is om die gewone burger te verwar. Die name van die Onafhanklike Ondersoekeenheid, die Valke (eenheid vir die ondersoek van prioriteitsmisdade), Opod en verskillende ander vertakkinge kom aan die beurt, ook in die howe waar die howe bevel op bevel uitreik, maar bitter na aan geminag word.

Oor die afgelope drie jaar is die bedrag wat aan BBP-beskerming bestee word met 50 persent verhoog. Sedert die einde van verlede jaar is die persoonlike beskerming van Zuma verdubbel, en na berig word bestaan sy kavalkade nou gereeld uit meer as 20 voertuie. Die personeel bestaan na berig word uit polisielede en soldate.

Persepsies oor hierdie enorme oordadigheid laat nie veel opsies oop nie. Óf Zuma is verskriklik bang, óf dis ’n poging tot magsvertoon wat die grense van magsmisbruik sterk toets. Hoe ervaar die publiek dit? Die geval enkele jare gelede van ’n omstander wat Zuma se kavalkade met die middelvinger begroet, en toe deur die beskermingsdienste in hegtenis en onder hande geneem is, doem onwillekeurig op.

Toegegee, ’n mens staan effens verbluf dat Zuma op die oog af genoeg beheer oor ’n opset het wat sterk herinner aan ’n poging om ’n trop wilde tarentale in die veld aan te keer en by ’n hoenderhok se hek in te jaag.

Is ’n ontleder alarmisties as hy waarsku dat wat nou aan die gebeur is, in die rigting beweeg van ’n polisiestaat waar die polisiediens aangewend word as die persoonlike werktuie van die regerende party, en die reikwydte van hofbevele getoets word? Hoe ver voor hofbevele nie meer die papier werd is waarop dit geskryf is nie?

Hoe pikant dat die Seunse Weenkoor die nuus dat adv. Gerrie Nel die Nasionale Vervolgingsgesag verlaat en by AfriForum aangesluit het om ’n private vervolgingseenheid te lei, so skerp aangeval het. Ja, so simplisties is dit nie, maar om AfriForum en die Solidariteit Beweging verdag te maak terwyl saamgestaan word om vergrype en die verdere gly na ’n polisiestaat of piesangrepubliek, of minstens ’n staat waar korrupsie endemies geword het, te keer, was ’n uitnodiging om van wyd en syd slae te kry.

Oor persoonlike vooroordele wat selfs tot die dae van die Mynwerkersunie teruggevoer word. Om ou koeie in te span beteken mos dat hulle self beoordeel moet word aan die hand van optredes van hul publikasies toe dit nog “lyfblaaie” van die ou Nasionale Party was.

Byna daagliks reik AfriForum se takke nou verklarings uit oor samewerkingsooreenkomste wat met verskillende polisiestasies gesluit is. Daar was samesprekings op die hoogste vlak sodat plaasaanvalle selfs weer as ’n prioriteitsmisdaad genoem is. Maar kom dit by beweerde korrupsie en magsmisbruik is die einste Khomotso Phahlane, wat glo agter die teistering van O’Sullivan sit, nie kroonwild nie. AfriForum is ook daar betrokke om reg en geregtigheid te laat geskied.

Sal dit verkeerd wees om die een oog op Zuma te hou namate sy termyne eers as president van die ANC, en dan van die land, besig is om uit te loop terwyl die tekens van magsvergryp aan die toeneem is?

Of kan bloot aanvaar word dat die grondwetlike prosesse vreedsaam sal afloop en Zuma dan ook heel waarskynlik weer in die hof kan beland om tereg te staan op meer as 700 ernstige aanklagte?

Die bal is nou in Zuma se hande om enige bedenkinge oor staatskaping en stille staatsgrepe te suiwer. Hy kon alles voorkom het toe die eerste onweerswolke begin saampak het, en soos ’n ware staatsman bedank het. Maar ons weet nou reeds dit sal nie gebeur nie, nadat hy verklaar het hy sal nie omdat hy “vyande” het wat hom in die tronk wil sien. Sy rug kom al nader aan die spreekwoordelike doringbos.

Sonder om in pessimisme te verval, is dit tog sinvol dat Zuma ons eerder aangenaam as onaangenaam moet verras. En net om gordel, kruisbande en ’n stywe rek in te span, kan lidmaatskap van AfriForum ernstig oorweeg word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

AL ·

Zuma is n uitstekende strateeg. Die ANC het vir hulself n lat gepluk deur hom as die president vd ANC sowel as die land te verkies. Ek is nie n politikus nie maar na my mening moet hul nie weer so n fout maak en soveel mag in een mens se hand sit nie. Weense seunskoor moet hul hou by hul sang

Cecilia ·

Nee kyk,ek is maar n gewone burger van die land wat hierdie sirkus dophou. Ek het nooit gedink dat wat ek in hiedie land sien gebeur, moontlik gaan wees nie. Ek het wel van dag 1 af geweet: KORRUPSIE. Wolf is nou skaapwagter.Die choas in die parlement asook die spul trarentale, het ek sekerlik nie voorspel.
Die kort en die lank is die dag wanneer Zuma aarde toe gaan kom, ek liewer nie by wil wees nie. Ek gun dit ook vir niemand.

humor ·

Hierdie seunse weenkoor is soos n vrot aartappel in aartappelsak.

Rupert Ashford ·

Hy gaan probeer aanbly as president kyk mooi. By hook or by crook en hy sal nie ‘n “staatsgreep” aangetrek in ‘n ander jassie buite rekening laat nie.

Frans C ·

Jammer om te sê maar ons land begin alhoemeer ooreenkomste met Zimbabwe vertoon. Daar is onlangs berig dat met sy 92ste verjaarsdag 50 000 mense dit ten koste van 1 Miljoen USD dit bygewoon het.

Dit terwyl miljoene ,na beraming 3 miljoen,van sy mense werk in Suid Afrika soek en sy beleid die land se ekonomie in duie laat stort het. Die opposisie word met behulp van die weermag en polisie onderdruk en beland gereeld in die tronk,terwyl joernaliste ook dikwels vervolg word.

Iets wat my altyd verbyster sal laat is-hoe enigiemand met gesonde verstand-gereken het ‘n Westerse demokrasie sal in Suid Afrika werk soos ‘n demokrasie veronderstel is om te werk.

Afrika van bo in die noorde tot die Suid punt van Afrika is ‘n kontinent van diktators wat met ‘n sg demokratiese proses aanbewind kom om dit nooit weer te los nie.

jaco ·

dit sal eintlik goed wees as SA regtig n polisiestaat kan word – amper soos die ANC se vriende Iran, China en Saoedi-Arabië. In daardie polisiestate is behoorlike wet en orde en die doodstraf word vir verskeie misdade toegepas. Daars ook nie death row soos in Amerika nie: dis sommer vining en in China tot soveel as 1000 maal per jaar. Daar weet jy jy moet vir jou inhou en jou mond hou, want as jy durf waag net n bietjie skeef trap, is die polisie dadelik op jou. Dis seker nie ideaal nie, maar dit sal tog goed wees om aspekte daarvan in SA toe te pas. Dit sal veral wonderlik wees om nie meer alles hoef te sluit en R600 of meer aan n alarm en armed response besigheid te betaal nie. Die ANC kan met anderkant ons grens sommer by Mugabe gaan leer: ek dink hy stuur Zimbabwe die afgrond in met sy stupid beleid, maar wat wet en orde betref is Zimbabwe baie beter as in SA. Maak moeilikheid en die polisie en selfs die weermag tree onmiddelik op. Almal sê armoede help misdaad aan in SA, maar Zimbabwe is baie armer as SA en tog is die misdaad baie minder.

John ·

Miskien kry Zuma te veel krediet as ‘n slim strateeg. Vriende agter die skerms doen die werk.. die kaperleiers dalk? Die bloudruk is steeds om die Zuma’s in die toekoms te laat gedy. Die familie is die eend wat die goue eiers le. Die’ eendjie moet nou opgepas word… vergeet van die hoenderhok… Interessant is dat ‘n sekere Sanjay Gupta skynbaar ook op die bestuur van CNN in die VSA is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.