Nuuskommentaar: ’n Sin vir regverdigheid vir SA

Foto: Reint Dykema

Foto: Reint Dykema

Die langverwagte verhoor van Julius Malema en twee mededirekteure van On-Point Engineering op aanklagte van korrupsie, omkopery en rampokkery begin vandag, en wek groot belangstelling. Maar dit is nie al nuuswaardigheid waar daar ’n aanslag op die mens se ingesteldheid is om sake deur regverdigheid te harmoniseer wat pas die nuus gehaal het nie.

Die Internasionale Atletiekfederasie (IAAF) is pas geruk deur bewerings – skynbaar goed gemotiveer – dat honderde atlete die afgelope aantal jare medaljes gewen het terwyl daar verdagte bloedtoetse oor allerlei prestasiehulpmiddels beskikbaar was. Veral Russiese en Keniaanse atlete het hulle glo skuldig gemaak aan die misdrywe – en daarmee weggekom.

Die atletiekwêreld het ontsteld op die “wilde bewerings” gereageer en dadelik daarop gewys dat die geïmpliseerde atlete onskuldig is tot hulle skuldig bewys is. Tog gaan dit blykbaar ondersoek word.

Onregverdigheid in sport is nie nuut nie. Die fietsryheld, Lance Armstrong, het bitter hard geval nadat dit aan die lig gekom het dat sy prestasies deels uit die bottel en spuitnaald gekom het. Kort-kort word ook deelnemers aan ander sportsoorte, soos selfs skoolseuns in rugby, betrap. Selfs die Springboklosskakel, Johan Goosen, is as skoolseun drie maande geskors weens ’n verbode stimulante wat hy onwetend ingekry het.

Die sokkerwêreld is onlangs geruk, met Suid-Afrika bygesleep, oor bewerings en ’n FBI-ondersoek na bewerings van omkopery wat regverdige mededinging in die wiele ry. Die einste sportsoort word kort-kort geruk deur voorvalle van ongelooflike bedrae wat vir wedstrydknoeiery aangewend word.

’n Groot deel van die land se inwoners is tans erg gefrustreerd omdat dit lyk of die ANC alles in sy vermoë doen om pres. Jacob Zuma te “laat wegkom” met ongelooflike bedrae staatsgeld wat aan die verbetering van sy privaat woning by Nkandla bestee is. Dit, terwyl talle Suid-Afrikaners nie ’n dak oor die kop het nie. Boonop, so lyk dit, word elke foefie in die boek ingespan om te voorkom dat Zuma sy dag in die hof beleef.

Trouens, daar is in invloedryke kringe ernstige kommer oor wat sal gebeur as Zuma se tweede en laaste termyn verstryk, en hy het eenvoudig te veel om met ’n verlies aan mag te verloor. (Maroela het die komplekse opsies hieroor reeds by verskeie geleenthede onder die loep geneem.)

Selfs die wyse waarop Cecil die leeu in Zimbabwe gejag is, het wêreldwyd ongekende opslae gewek.

Spruit baie van die frustrasies oor SEB en affirmative action (wat nie met regstellende aksie verwar moet word nie) nie ook maar oor persepsies van onregverdige bevoordeling nie? En dan boonop bewysbaar tot nadeel van die land se ekonomie wat almal skade berokken?

Die literatuur bevat talle voorbeelde van die negatiewe impak op ander wat die slagoffer van onregverdige behandeling word, of selfs net die persepsie van onregverdigheid. In die werksomgewing kan dit daartoe lei dat die slagoffer hom onttrek … hy kan selfs aan emosionele lyding-sindroom ly. Depressie, met al die bekende newe-effekte, kan toeslaan. Dit sluit in afwesigheid van werk, en selfs alkoholisme. Uiteindelik kan die persoon selfs word wat hy so ingeprent is hy eintlik nog maar altyd was.

Natuurlik is daar gewetenlose hoofde wat meesters is om hierdie kuns in te span om hul maatjies se mededingers af te breek, en terselfdertyd die maatjies se beeld en selfbeeld te bevorder sodat die uiteindelike bevordering of erkenning heel geregverdig lyk.

Hierteenoor het regverdige praktyke ’n positiewe uitwerking op die werkerskorps en hul geestesingesteldheid teenoor die werk.

Regverdigheid is diep in die Christelike beleweniswêreld ingebed. In Psalm 25:8 lees ons byvoorbeeld: “Die Here is goed en regverdig: Hy wys selfs vir sondaars die pad aan.” Die Bybel lys ook regverdigheid onder die goeie vrugte van die Heilige Gees.

In die bekende 1 Korintiërs 13 wat oor die liefde handel, lees vers 6 soos volg: “Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid.”

Ons hét ’n baken om te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Karen ·

Dit is juis hierdie onregverdigheid waarmee ons Volk vertrap , onderdruk en uitgemoor word wat my moedeloos laat .

Winston ·

Karin ek kan maar net saamstem. Van n heilige gees is daar geen teken aan regerings kant nie. Wel gierigheid en mags beheptheid.

Werner ·

Kan iemand vir my verduidelik hoekom persepsie en polities korekheid soveel meer water dra as die eenvoudige waarheid? Sekerlik het die meeste van ons genoeg verstand om die verskil te sien en die waarde te sien daarin om ons self nie n rat voor die oë te draai nie. SA is soos ń trein wat volspoed teen ń berg afjaag met n skerp draai aan die onderkant. Die drywer sien dit kom, maar sit steeds voet innie hoek!

Grassie ·

Maroela – my kommentaar bevat net feite en waarhede, geen vuil taal of onwelvoeglikhede nie. Waarom haal julle dit af?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.