Nuuskommentaar: ‘n Verkiesing voor Moedersdag

Argieffoto

Argieffoto

Sondag is dit Moedersdag, en vroeër die week het die organisasie, Save the Children, ‘n verslag uitgereik oor die wêreldwye posisie van moeders en kinders. Dis nie baie aangename leesstof nie; tot 60 miljoen vroue en kinders benodig humanitêre hulp, meestal in lande wat deur konflik geteister word.

Uit die 178 lande wat geëvalueer word, is Suid-Afrika in die 75ste posisie. Die kanse dat ‘n vrou in Suid-Afrika weens moederskapverwante probleme sal sterf, is een uit 140, teenoor een teen 17 in Somalië, en een uit 25 300 in Singapoer.

Die sterftes van kinders onder vyf in Suid-Afrika is ook betreklik hoog, naamlik 44,6 per 100 000. Hierteenoor is die ooreenstemmende syfer vir Swede 2,9, en vir Somalië byna 150 per 100 000.

Sowat 43 persent van Suid-Afrika se parlementslede is vroue teenoor nul persent in Katar. Slegs Rwanda (57 persent) en Swede (45 persent) staan meer onder die pantoffelregering as Suid-Afrika.

Dit vertel egter nie die volle verhaal van vroue, dus ook vroue al is hulle nie moeders nie, in hierdie land. Suid-Afrika staan al ‘n paar jaar lank bekend as die verkragtinghoofsetel van die wêreld. Boonop verskil syfers baie oor hoe ‘n groot persentasie van mense wat verkrag word so ver kom om klagtes by die polisie te lê, en van die klein persentasie wat wel aangemeld word, loop net ‘n klein persentasie uiteindelik op skuldigbevindings uit.

Hoewel daar in verskeie partye vroue is wat prominente rolle, soos selfs die leierskap beklee (DA en NFP), behoort die fokus vandag eerder te val op waar vroue hul kruisies gaan trek. Nie net ter wille van hulself nie, maar ter wille van hul kinders. En die sentimente wat in die vrou se stemkeuse gaan, behoort ook vir die mans baie swaar te weeg.

Teen Sondag, Moedersdag, behoort die uitslae reeds bekend te wees, en sal almal se stemkeuses bepaal of die land se moeders ‘n goeie Moedersdaggeskenk gekry het.

Wanneer die kiesers vandag opruk stembus toe, sal die verantwoordelike kieser egter sy oog op talle aspekte hou.

Gaan sy of haar stemkeuse hul kinders se toekoms moeiliker maak, soos dat die kinders weens hul velkleur moeiliker werk en bevordering sal kry?

Gaan die regering onderwyssake reggeruk kan kry waar dinge haper? Of gaan veral ‘n sekere vakbond die onderwys ten koste van die kind gyselaar bly hou?

Sal daardie stem daartoe bydra dat plaasaanvalle tot prioriteitsmisdaad verklaar word, en dat die weermag in gebiede ontplooi word waar dwelmbendes ‘n skrikbewind voer?

Gaan die stem bydra daartoe dat die euwels van moraliteitsverval, soos korrupsie en kort-kort ‘n brose kindjie wie se vermiste lykie tussen die duine gesoek moet word, ernstig aangepreek word?

Watter toekoms gaan die party vir wie gestem word se grondbeleid ‘n toekoms vir die kinders – eintlik die hele nageslag hê?

In byna geen van hierdie aspekte is vroue en kinders nie dikwels die slagoffers nie. Boervroue, en soms selfs die kinders ook, word ook in plaasaavalle vermoor, en kort-kort word berig van nog ‘n onskuldige kind wat in die kruisvuur tussen twee bendes doodgeskiet is.

Pas het pres. Jacob Zuma ook die behoefte aan die peperduur Nkandla-verbeterings probeer regverdig deur te meld dat een van sy vroue voor die verbeterings tydens ‘n rooftog verkrag is, en die huis aan die brand gesteek is. Hy word nou van die opvordering van die simpatiestem beskuldig.

Op pad stembus toe sal die talle plakkate nog vir oulaas ‘n aanslag op die kiesers se uiteindelike keuses probeer maak. Beloftes word behoorlik van die lamppale af “geskree.”

Peilings het reeds ‘n redelike aanduiding gegee van hoe die partye gaan vaar, veral die groteres. Talle faktore kan egter die uitslag beïnvloed. Watter party se kiesers gaan die mees gemotiveerdes om lank in toue in die reën wat oor die Boland en dele van die binneland verwag word te gaan staan? As ‘n party kiesers wat vir hom stem kan motiveer om hul kruisies te gaan trek ongeag die weer, en ongeag lang toue, en selfs fisiese gevaar soos blyk uit ‘n aantal aanvalle op stempunte tydens die spesiale stemme wat reeds uitgebring is, kan dit ‘n groot verskil maak.
Die stemkeuse gaan bepaal of daar vir die kinders eendag ‘n vaderland, en ‘n moedertaal sal wees.

Ook koerante, in hul hoofartikels, roep die kieser op tot die uitbring van die beste moontlike keuse. Volksblad stel dit so: “Trek dus jou kruisie by die party wat die beste belyn is met jou persoonlike waardes. Die party wie se beleid oor onderwys, landbou, misdaad, ekonomie en gesondheid gegrond is op die welvaart van alle Suid-Afrikaners. Stem vir politici wat bereid is om te dien, nie vir opportuniste wat op die soustrein met belastingbetalers se geld bedien wil word nie. Oefen die beste moontlike keuse uit om ’n politieke landskap te help skep wat die belange van Suid-Afrika sal dien.”

Beeld wys daarop dat kiesers se rol nie môre verby is nie: “Jou verantwoordelikheid eindig nie hier nie. Onthou wat jou party se beloftes was en hou hulle daarby. Daar is duur betaal vir jou reg om te stem: Gebruik dit wys en verantwoordelik.”

In sy hoofartikel looi Die Burger vir Zuma, en verwys pertinent in dié verband na die belang van vroue: “Die hubris waarmee hy (Zuma) Dinsdag die Nkandla-opgraderings goedgepraat het – en in die proses eintlik elke vrou wat al verkrag is en elke ander misdaadslagoffer beledig het – is tekenend van ’n president wie se oordeel hom in die steek laat.”

Mag alle vroue dié Moedersdag die grootste Moedersdaggeskenk ooit kry – iets wat haar hand versterk om haar koesterende moedersinstinkte uit te leef. En moeders, die pen is ook vandag letterlik in jul eie hande om deur daardie kruisies wat julle trek, vir julself ‘n baie groot en bruikbare Moedersdaggeskenk te besorg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.