Nuuskommentaar: Ná Jansen se lesing lê die skerwe – hoe nou?

Prof. Jonathan Jansen

Prof. Jonathan Jansen

Nota ter aanvang: Tot baie onlangs is daar in hierdie rubriek daarin geslaag om die Suid-Afrikaanse werklikheid te ontleed en bespreek terwyl baie selde na die ras verwys is. Heterogeniteit en die impak is eerder aangespreek in terme van die norme waaraan die internasionale reg positiewe regte toeken, soos taal, kultuur en godsdiens. Dié uitgangspunt kon egter nie staande bly in die rasbehepte samelewing, wat die regering deur beleid en ‘n horde wette skep nie – wat hier gereeld neo-apartheid genoem is.

Dros die wag voor die mond, raak verhoudinge gewond.

Almal ken die kinderrympie oor Hompie Kedompie wat van die muur afgeval het, en hoe almal vergeefs probeer het om die skerwe weer aanmekaar te sit.

Dit maak nie veel saak hoe dit gekom het dat Kovsies se rektor, prof. Jonathan Jansen, so ‘n kat in die duiwehok losgelaat het nie – die reaksies op berigte wat oor die sage handel toon duidelik dat diep wonde oopgekloof is. Op News 24 is die kommentaarfunksie van die berig waarin Jansen die media van verdraaiing beskuldig het, gou gesluit maar nie voor daar ‘n groot aantal kommentare geplaas is wat op hul eie versoening erg in die wiele ry nie. Die skuldiges is wit en swart.

Dit lyk asof die kern van die probleem die mediaverklaring was wat Kovsies oor die gewraakte lesing op sy webwerf geplaas het. Teen vanoggend was die betrokke mediaverklaring verwyder, maar dit is hier geknip en geplak.

Die lesing self kan hier gelees word.

Op 10 Junie 2010 het die Nederlandse koerant, Trouw, ‘n artikel oor Jansen geplaas. Die opskrif was veelbetekend: Nieuw icoon van de verzoeningsleer. Die artikel staan in die nasleep van die moord op AWB-leier, Eugene Terre’Blanche, en hoe Jansen die tameletjie van die Reitz-4 grootliks ontlont het.

In die artikel word Jansen selfs as die opvolger van oud-pres. Nelson Mandela as ikon van versoening aangebied. Jansen self word aangehaal oor die begronding van sy versoeningsmotivering: Trouw lui die artikel in met: In het verdeelde Zuid-Afrika maakt rector Jonathan Jansen van de Universiteit van de Vrijstaat zich sterk voor waarden als verzoening en vergeving. Onbeschaamd gebruik ik mijn religieuze en spirituele wortels.”

Maar as rektor en as rubriekskrywer van Media 24 sou Jansen selde buite die dampkring van omstredenheid beweeg. God is uit die universiteit met sy lang Christelike tradisie se leuse gehaal en die skermutseling hieroor wat onder meer die FAK betrek het, het uiteindelik onverkwiklik in die sand  uitgeloop. Skriflesing en gebed by die gradeplegtighede is opgeskort.

‘n Nuwe koshuisbeleid het gekom, wat die ou kultuureie koshuise – wat op aandrang van swart studente begin is – afgeskaf het, en het deur groeipyne gegaan.

Dikwels het die waarheid iewers in die lug bly hang – daar was aansprake dat van die stappe meerderheidsteun geniet, maar peilings en stemmings wat onder meer deur AfriForum gereël is en buite die hekke moes plaasvind het die teenoorgestelde uitslae opgelewer.

Jansen is betreklik gereeld gelooi oor die gebruik van kragwoorde. Hy het meerdere kere teen die media losgetrek, veral Volksblad, onder meer oor presies wat hy gesê en bedoel het met betrekking tot die wenslikheid dat Mandela in vrede moet sterf.

Kortom, twee uiteenlopende beelde het uitgekristalliseer – een van kleurblinde versoener waar slegs uitnemendheid sonder kleur geld, en een van ‘n genadelose transformasiedrywer waar ras die kernelement van uitmaak. Waar personeel privaat bymekaar is, klink dit gereeld soos ‘n brommerkolonie soos gemor word oor dié of daardie aangestelde “chrony” wat ander personeel uitdryf.

Na sy onlangse Brandpunt-rubriek, Honger ken geen kleur, het Jansen in die briewekolomme erg deurgeloop oor veral die volgende stelling: “My Afrikaanse koerant (Volksblad) het vandag geen woord oor die herdenking van Steve Biko se dood gerep nie,” het ’n goeie vriend van my verlede week gesê. ‘Sy dood laat hulle steeds koud,’ het hy wrang bygevoeg met verwysing na die gevoellose kommentaar van Jimmy Kruger. My vriend is ’n vooraanstaande wit Afrikaanssprekende vredemaker wat baie gedoen het om die land te verander.
”In die week toe 27 swart mense weens ’n wegholvragmotor in Pinetown gesterf het, het my gunsteling- Afrikaanse koerant gelei met ’n berig oor ’n enkele wit vrou wat op Brandfort vermoor is. Indien die kleur omgekeer was, sou die Pinetown-storie opgevolg gewees het, met joernaliste wat die begrafnisse bywoon en berigte wat saam met hartverskeurende foto’s en die onvermydelike opskrif van ‘Roerend gegroet’ geplaas word.
Die rede is dat ons pyn as ’n kleur sien en politiek as ’n ander vorm van rasse-oorlog.”

Oor die taalkwessie is die saak ook sensitief omdat Jansen, wie se pa Engelssprekend in die Afrikaanse platteland was, en sy ma Afrikaanssprekend, ‘n selfverklaarde Engelssprekende is.

Die realiteit van die kwessie oor hoe gemeenskappe gepolariseer is, word ook duidelik in die reaksie, of gebrek aan reaksie,  op die jongste debakel deur politieke partye weerspieël. Die Vryheidsfront Plus het gereageer. Onder die partye wat duidelik hul oog op kiesers van alle gemeenskappe het, het so ver bekend net die Christen-Demokratiese Party gereageer – die ander verkies skynbaar om liefs nie intern te roer deur te reageer nie. Niemand stryd dat dit sensitief is nie.

Die vraag is nou, hoe word die wonde geheel? Beide dit wat nou oopgeruk is, en dit wat heel duidelik steeds bestaan na die Waarheids- en Versoeningskommissie se werk lank reeds afgehandel is?

Om verhoudinge in ‘n heterogene land te verbeter is ‘n ou-ou kwessie.

Ideaal-gesproke behoort die beginpunt te wees dat politieke sosioloë die stand binne die land analiseer, en dat politieke wetenskaplikes en politieke geograwe op sterkte van hierdie realiteite die leiding neem om ‘n staatkundige model vorm wat die bepaalde omstandighede die beste dien. Dan gee die staatsregkundiges inhoud aan die model, soos ‘n grondwet wat daarby pas.

Voorbeelde van waar die staatkundige model dié werklikhede in ag neem is volop, soos Indië, Nigerië, België, Nieu-Seeland, Kanada en vele meer.

Maar, soos die destydse president van die RGN, dr. Tjaart van der Walt, selfs nog voor die Kemptonparkse onderhandelings gewaarsku het, as die mense mekaar nie verstaan en vertrou nie, dan sal geen staatkundige model, ook nie die beste ter wêreld, werk nie.

Hierdie “leer ken en verstaan” is ‘n komplekse proses, en die meganisme wat gebruik word, word dikwels horisontale interkulturele kommunikasie genoem.

Die sleutel hiervan is dat al die partye betrokke “oop” moet wees vir die standpunte van die ander, en al word nie saamgestem daarmee nie, moet daar minstens begrip voor wees – wedersyds. Juis daarom is standpuntinnames wat dui op ‘n voorgenome diktatuur van die meerderheid iets wat versoening per definisie in die voet skiet. Juis daarom moet die begrip duidelik gevestig wees om in algemene belang te regeer. Die huidige grondwet met sy gebreke en al is immers ‘n werklikheid, en bied die raamwerk waarbinne die kwessie aangespreek moet word.

Dit is duidelik almal se werk, maar die probleem met “almal se werk” is dat dit ook “niemand se werk” word en niks uitrig nie.  Daar is wel instellings wat hulle hiermee bemoei, maar in baie gevalle word die  doelwit reeds gekelder deur te hard op enkele aspekte te fokus soos skuld – en wie skuld moet dra is menslik ‘n taai toffie want dis mos altyd die ander se skuld – of om die saak enkeldimensioneel aan te spreek. Sosio-ekonomiese ongelykheid is nog ‘n enkeldimensionele uitgangspunt met groot aanhang.

Die Maatskaplike komitee van die destydse Presidentsraad het ondersoek ingestel na gemeenskapsverhoudinge, maar die ondersoek is opgeskort en kort daarna is met die Kemptonparkse onderhandelings begin. En sonder die basis wat hierdie ondersoek moes bied was dit vanuit die staanspoor duidelik dat die land gaan spook met verhoudinge wat onder druk geplaas word.  Politiek bly immers ‘n swak plaasvervanger vir kundigheid.

En tensy die opgeskorte ondersoek afgestof en voltooi word, sal elke tweede Jansen Rap en sy maat die wiel weer probeer ontwerp, en met gebrekkige patente wat baie skade aanrig die besige Suid-Afrikaanse straat aandurf en ongelukke maak.

En dan is daar ook nog heelwat te sê oor Christelike waardes – ook ‘n onderwerp op sy eie.

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Toetentaal

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Somerset Morkel ·

Baie dankie Prof Jansen…
U het Afrikaans weer ‘n hupstoot gegee, al was u se kommentaar baie onwys…
Heelwat mense wat ek nou nie eintlik sal beskou as vurige Afrikaners nie, maar wat doodgewone ordentlike mense is, voel u-se het nie reg gemaak met wat u-se gese het nie.
Daarmee het u, prof Jansen, die fronte geskuif, en meer stemme gewin vir Afrikaans as taal.
In goeie Afrikaans noem ons dit “backfire”, prof..
Sterkte, Prof..

H J Bester ·

Stem saam Somerset, want skielik het baie gematigde Afrikaners ook bedreigd gevoel oor die toekoms van hul taal en daarom is prof Jansen se uitlatings grootliks ‘n bewusmaking van ‘n saak wat eintlik sluimerend was – almal skielik baie bewus van hul taal. Dankie prof Jansen !

Gawie Botha ·

,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,dit gebeur maar so,wanneer n mens ontevrede is oor jou velkleur/volk/historiese agtergrond,,,,en hoe jy geskape is,,,,,,,,,en of jy n werklikke Christen is,,en tevrede is met die “Skepper”se skeppings vermoens!

Somerset Morkel ·

“We cannot accept that it was Prof Jansen’s intention to express views that are so much at variance with the Constitution, his own university’s policy and with his own laudable record in promoting reconciliation and positive relations between our communities. Surely, in the light of the tragic experience of 1976, he did not mean that South African schoolchildren should once again be forced to study in a language that they do not regard as their own?” (FW de Klerk Stigting, adv Jacques du Preez). Hahahahaha…! Die prof sit nou op ‘n warm stoel…

Flash ·

Wat ookal my vriend van Somerset kwytraak, ek bid nog steeds volgens die Woord, hoe ‘kommin’ dit ookal vir hom en sekere ander mense mag wees.

2Th 3:1 Verder, broeders, bid … … dat ons verlos mag word van die verkeerde en slegte mense,

Verder glo ek die Bose is hulle wat dinge aanvang wat die Here haat: Daarom bid ek: Verlos ons van die Bose, soos Hy ons geleer het.

Spr 6:16 Hierdie ses dinge haat die HERE, en sewe is vir sy siel ‘n gruwel:
:17 trotse oë, ‘n leuenagtige tong en hande wat onskuldige bloed vergiet,
:18 ‘n hart wat onheilsplanne beraam, voete wat haastig na die kwaad toe loop,
:19 een wat as valse getuie leuens uitstrooi en tussen broers tweedrag saai.

As julle nie kan sien dat elke kwaadspreker wat leuens oor die Afrikaners en Boere verkondig die Bose sterk in sy onregmatige plaasmoorde, aanvalle op weerlose ou mense en kinders, op gesinne in hulle huise nie, is dit dalk tyd om julle ogies oop te maak en liewer die Bose te beveg as julle eie mense.

Gen 4:10 En Hy sê: Wat het jy gedoen? Die stem van die bloed van jou broer roep na My van die aarde af.
Gen 4:11 Daarom sal jy vervloek wees, ver van die grond wat sy mond oopgemaak het om die bloed van jou broer uit jou hand te ontvang.
Gen 4:12 As jy die grond bewerk, sal dit sy vermoë aan jou nie meer gee nie; ‘n swerwer en vlugteling sal jy wees op die aarde.

Nico Kruger ·

Flash. Ek verstaan nie eintlik wat jy bedoel met jou opmerking oor jou vriend van somerset nie, maar wat ek wil weet, hoekom het jy ‘n Engelse bynaam?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.