Nuuskommentaar: Nagsirenes midde Covid-19 – soek vrede of dwing hulle tot onderdanigheid?

Lede van die polisie en weermag op patrollie tydens die staat van algehele afsondering. (Foto: SA Weermag/Twitter)

Die toename in sekere soorte misdaad te midde van die Covid-19-pandemie het skaars meer nuusdekking in SA begin kry, toe word dit ook in ander lande ’n bron van kommer. Die aanpak hiervan is egter baie kompleks en verg kundigheid.

Die een ná die ander spreek politieke partye, landbou-organisasies, burgerlike bewegings en ander hul kommer uit oor die toename van misdaad te midde van die Covid-19-ramptoestand. Feitlik almal verkwalik die breedsprakige minister van polisie, Bheki Cele, wat basies die werksaamhede van buurtwagte en plaaswagte opgeskort het en van die polisie en weermag verwag om die las nou op hulle te neem.

Uit landbougeledere word nie net ’n toename in veediefstal ervaar nie, maar ook in gewasdiefstal wat jare lank astronomiese bedrae beloop het, maar nie die ooreenstemmende mediadekking gekry het nie. Boonop word dit winter en die brandseisoen breek aan. Dit is moeilik om te bepaal hoeveel hiervan brandstigting is, maar dit is bekend dat die boere en die polisie oor die algemeen hieroor drasties verskil.

Dis nie mooi duidelik waarom Cele so beslis en groot(Bhekig) die hulp van buurtwagte wegwys nie. Toe Maroela Media in ’n nuuskommentaar (lees hier) die kwessie opper, het lesers nie net saamgestem dat dit onwys en onlogies is nie, maar self voorbeelde genoem waar misdadigers die geskepte leemte uitbuit.

Dis egter nie net Suid-Afrika wat te midde van die pandemie-afsonderingstydperk ’n toename in misdaad beleef nie. In gister se VSA-uitgawe van The Conversation word die misdaadkwessie ook onder die loep geneem. Maroela Media het met die Suid-Afrikaanse opsomming hierbo, nie bloot toevallig die kwessie van brandstigting genoem nie. Uit The Conversation werp die volgende aanhaling veel lig op hierdie kwessie: “Boise State’s Luke Montrose notes new research suggesting long-term exposure to smoke may make the virus particularly deadly for first responders who tackle wildfires.”

Hoewel baie Suid-Afrikaners gehoor gee aan die beperkings is dit bitter sleg om na ’n TV-bulletin te kyk en te sien hoe besonder baie mense die maatreëls oortree. ’n Sokkertoernooi is selfs aangebied en die polisie het hul hande vol gehad om die weerstandiges in bedwang te kry. Dit blyk dat die verkoop van vervalste reispermitte ’n lonende bedryf geword het. Drie jong meisies wat in die see gaan swem het, het verdrink. Namate die afsonderingstydperk se dae gerek word, ervaar al meer sakelui wat verliese ervaar dat sommige maatreëls onlogies is. Hersieningsvoorstelle kom nou uit talle oorde.

Kortom, terwyl sommige mense die hele kwessie ligtelik opneem of selfs uittartend ignoreer, bereik al meer nuus, sommige meer onheilspellend as ander, die mensdom. ’n Groot deel hiervan is ongelukkig fopnuus, terwyl sommige die gevolg is van navorsing waarvan die bevindinge nou bekend word. Sekere nuusbehoeftes word ook ryp. In gister se Maroela Media-nuuskommentaar is probeer om sekere aspekte oor die virus se genetika so verstaanbaar moontlik bekend te stel, en toevallig berig The Conversation vandag oor min of meer dieselfde onderwerp: “With so much discussion of the new coronavirus, it seems like we all need to become amateur virologists to understand how this pandemic is progressing. This week we had actual virologists explain two key concepts: infectious dose and viral load.” Lees meer hier.

Net so het verskeie verslae oor misdaad- en misdaadbekamping ook nou “toevallig” in verskillende dele van die wêreld aan die bod gekom. Oor die moontlike aanpak hiervan word meer verskil as oor die voorkoms daarvan.

In ’n omvattende artikel in The Conversation skryf drie kenners saam onder die inleiding: “Many African countries have imposed lockdown measures stricter than countries in Europe and Asia in a bid to contain the spread of the new coronavirus. But, due to the significant variation in living conditions on the continent, implementing these measures is likely to be more difficult in some places than others. This presents a significant challenge for the police. Should they rigidly enforce social distancing and other measures, or should they be more cognisant of the local context?” (Lees gerus volledige verslag hier.)

In Suid-Afrika is daar juis reeds baie berigte oor polisie- en weermagwreedhede, met aanrandings en selfs lewensverlies. Die SA redakteursforum, Sanef, het juis reeds sy ontevredenheid uitgespreek oor joernaliste wat geviktimiseer word, en selfs aangerand is.

Maar hoe gemaak as ’n pandemie die land se ekonomie baie, baie groot skade gaan berokken – baie mense hul werk en selfs ondernemings gaan verloor, en sommige mense weier eenvoudig om hul deel te doen om soveel moontlik van die ramp af te weer? Wat as iemand, dikwels tydens ’n onwettige kuier by die tannie met die lang nek en erg gekoring so harde koejawel moontlik met die dienders raak? En dié uitdagende optrede deur nog ander as inspirasie gebruik word om ook rammetjie uitnek met die dienders en dragonders te raak?

Die ideaal is om die sosio-ekonomiese onderliggende redes aan te raak, asook om moraliteit gevestig te kry, maar dit gebeur nie sommer oornag nie. Buitendien het staatskaping en korrupsie die staat se vermoë om op ’n naastenby doeltreffende skaal op te tree erg gestrem. Hierdie soort omstandighede word nie verniet deur die verklaring van ramp- en noodtoestande aangeraak nie (en dikwels nie opgelos nie).

Dis ’n komplekse soort proses waar doeltreffende kommunikasie ’n sleutelrol speel, en die oliedruppelstrategie uiterste vaardigheid verg. (Dit is waar net die ergs aangetaste dele van die land tot noodgebiede verklaar word, met die bedoeling dat dit, soos sake daar genormaliseer word, soos ’n oliedruppel op die water na die omliggende gebiede versprei en dit laat bedaar.) Word dit nie doeltreffend gedoen nie, beweeg die proses in die teenoorgestelde rigting en versprei die destabilisasie.

’n Belangrike hoeksteen is die maksimale inspan van plaaslike kundigheid en kennis. En dit kan deur buurtwagte en plaaswagte gebring word. Léér asseblief van die kundigheid en kennis wat rééds bestaan, minister.

Mag die dag kom dat die nagsirenes al minder dié van die polisie en wetstoepassers word, maar al meer dié van ambulanse en ander hulpdienste is.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
Nie Verbaas

Hoe eindig Bheki Cele op as minister van polisie as hy onbevoeg verklaar is in sy posisie as kommissaris van polisie? Is dit reg?

Anni

Bheki Cele moet van sy troontjie afklim. Anders moet Pres Rhamaphosa hom maar afstamp daar.

Werner

Soos hulle die reels afdwing is dit n resep vir n revolusie

AndrewL

Die grootmond minister was deel van die proses om die reserviste stelsel op sy knieë te dwing. Verder het hul die polisiereserwe tot niet gemaak. Die ouens wil nie erken dat hul drooggemaak het nie, maar wil ook nie die hulp van gewillige Suid-Afrikaners (in die vorm van buurtwagte en plaaswagte) aanvaar nie. Sou die reserwe polisie en polisie reserwe funksioneel gewees het, sal dit die las op die huidige voltydse lede baie ligter gemaak het. Daarby kon die kommandostelsel ook ‘n groot bydrae gelewer het in gemeenskappe) Hoe langer die tyd van inperking is, hoe groter word die las… Lees meer »

Johan

Ongelukkig is dit die arrogansie van regeringskant waaraan ons lankal blootgestel is.