Nuuskommentaar: ‘Nairobbery’, die ‘Westerse konsep’ en xenofobie

Betogers gooi klippe en brand ‘n buiteband naby ‘n Suid-Afrikaanse onderneming in Abuja, Nigerië. Foto: (AP Photo)

Volgens oudpres. Jacob Zuma is Suid-Afrika nie die verkragtinghoofsetel van die wêreld nie, en is korrupsie ’n Westerse konsep. Maar al het Afrika nie korrupsie uitgevind nie, het Afrika ’n groot rol in die vervolmaking daarvan gespeel. Suid-Afrika is nie die paradys waarna onwettige immigrante streef nie, maar vergeleke met Afrikalande is dit wel. Kan die land wel die toestroming bekostig, veral met baie misdadigers wat met misdadige voornemens hierheen versit?

“Om in een van die veiligste lande in Afrika te woon is die droom en wens van elke lewende Afrikaan, en hoewel verskeie plekke in Afrika as onveilig geklassifiseer kan word, is daar ook soveel Afrikalande wat as veilig geklassifiseer kan word – waar mense vrylik kan rondbeweeg en hul sake kan doen.” Só word dit gestel op die webwerf, Answers Africa.

Om die werklike stand van misdaadvoorkoms, geweldsmisdaad, moorde, verkragtings en gevaar te probeer bepaal, is egter skynbaar ’n onmoontlike vraag. Soveel bronne, soveel antwoorde, blyk dit.

Met xenofobie weer sterk in die nuus in Suid-Afrika krap verskeie navorsers, al is dit ook hóé politiek niekorrek, weer kop om uit te pluis hoekom Suid-Afrika so ’n gewilde plek is vir onwettige immigrante. Is dit dan nie die land met ’n amptelike werkloosheidskoers van meer as 29% nie, as mense wat moed opgegee het om werk te vind bygereken word? Die land se moordkoers is immers een van die hoogste ter wêreld, en die beskrywing van Suid-Afrika as die wêreld se verkragtinghoofsetel is nie vreemd aan die land nie. Diensleweringsmoleste in Suid-Afrika is alledaags en haal nie eens meer altyd die nuus nie.

Suid-Afrika se naam ontbreek byna voor die voet as ’n mens die lyste oor tien veiligste stede of lande op die kontinent raadpleeg. Op Answers Africa se lys van tien veiligste Afrikalande vaar Suid-Afrika se buurlande goed. Die veiligste is daarvolgens Botswana, Namibië, die Seychelle, die Ivoorkus, Tanzanië, Malawi, Ethiopië, Marokko, Rwanda en Gambië. Nie juis wat ’n mens uit die vuis sou verwag nie.

Tog bestaan die aanname wyd dat Suid-Afrika ’n goeie plek is om te hervestig, en nie net onder Afrikane nie. Baie van die miljoene migrante is van Bangladesj en Pakistan, byvoorbeeld. Nie almal is skynbaar na die land gelok deur wanopvattings oor ekonomiese welvaart en misdaadvryheid nie – inteendeel, vir baie met bose motiewe is Suid-Afrika juis ’n misdaadparadys met swak wetstoepassing waar dwelmhandelaars, handelsmerkbedrog, prostitusienetwerke, bedrog, en vele meer min of meer ongehinderd kan floreer. Selfs geboue in middestede kan gekaap en vir allerlei onheilighede ingespan word.

In ’n stadium was daar selfs regeringsontevredenheid uit Nigerië oor die skynbare opvatting onder Suid-Afrikaners dat ’n Nigeriese migrant gelyk is aan ’n misdadiger en tronkvoël, of tronkvoël in afwagting is. Selfs godsdiens word uitgebuit met Nigeriërs aan die spits by allerlei vreemdsoortige kerke met nog vreemder (mis)bruike. Ewe pikant het die Nigeriese regeringswoordvoerder gesê nie alle Nigeriërs bevind hulle in Suid-Afrikaanse tronke nie – maar Suid-Afrika moes homself in diplomatieke heuningsmeerdery oortref om ’n niekwetsende antwoord te gee oor hoe ’n groot persentasie hulle (reeds) in die tjoekie bevind.

Trouens, dis ’n sensitiewe onderwerp in Nigerië. In ʼn BBC-berig word daar gewys op die swaar vonnis wat twee Nigeriërs in Suid-Afrika opgelê is vir mensehandel. In die berig word ook gewys op die kwaai vonnisse wat Nigeriërs in Nairobi, Kenia, opgelê is.

Word die omvattende artikel oor Nairobi in die Nederlandse koerant Trouw gelees, lyk dit nie of dié megastad van ongeveer 7 miljoen inwoners van die groter metro nog enige skelms nodig het nie. Die skrywer, Ivona Eveleens, wys ter aanvang daarop dat Nairobi se bynaam nie verniet Nairobbery is nie. Sy is pas (soos verskeie kere tevore) beroof, en het pas tevore weer ’n rillerervaring by die polisie beleef. Volgens haar staan die polisie in die stad bekend as die mees korrupte instansie en die eis van “smeergeld” is alledaags. Sy noem dat van ’n vriendin verwag is om die ekwivalent van 200 euro’s (net minder as R3 300) op te dok vir ’n weergawe van ’n ongeluksverslag wat sy veronderstel was om gratis te ontvang.

’n Belangrike oorweging vir onwettige migrasie na Suid-Afrika is moontlik deur die lande se BNP’s met mekaar, asook appels met appels te vergelyk. Volgens die syfers moet Suid-Afrika dus soos ’n land van melk en heuning lyk.

Faktore soos die terreurstryde van onderskeidelik Boko Haram (Nigerië) en Al Sjabaab (Somalië) speel stellig ook ’n rol dat mense wegvlug. Die betaling van maatskaplike toelaes (Sassa-toelaes) aan byvoorbeeld bejaardes, mense met gestremdhede en buite-egtelike kinders is ’n belangrike beweegrede, al is die bedrae per individu uiters gering.

Die probleem is onder meer die volhoubaarheid. Suid-Afrika se algehele buitelandse skuld beloop na berig word nou sowat R3 biljoen (Amerikaanse triljoen) teenoor R2,2 biljoen in 2016-’17. Dit het gemiddeld sowat R40 000 per persoon wat in die land woon, beloop.

Dit verg geen genie nie om te besef dat die bottel gaan bars, tensy die flikflooi met sosialisme en korrupsie nek omgedraai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Kootjie ·

Dit wil voorkom of kleur ‘n rol in hierdie situasie voorkom?

John ·

Die goeie inkomste van baie swart Suid-Afrikaners en ‘n afset vir hul produkte, is een van die redes waarom migrante hier mini-besighede begin. Nigeriè in glo swak belasting weens die traagheid van beamptes en betalers. Die migrante stuur geld huistoe wat weer koopkrag bied in hul geboortelande… ‘n ingewikkelde langafstand-stokvel. Die nuwe gesondheidstelsel sal nog miljoene lok. Noudat Europa oorspoel is, is die EU net te bly wanneer mense na elders uitwyk of afwyk, bv SA, en sal te graag ‘n beleggings-geldjie hierheen pos. CR lees die groothartigheid totaal verkeerd.

Gemaskerde Sopbeen ·

Afrika: Hopeloos teveel mense kry hopeloos teveel geld vir hopeloos te min werk……en dit maak dit situasie hopeloos. Die enigste plekke in Afrika wat presteer het, was slawe kolonies………die oomblik wat die slawedrywers onttrek en die slawe aan hulle eie lot oorlaat, het alles verval tot niks. Ekskuus, nie tot niks nie…..tot ‘n toestand waar 5% van die populasie super-ryk is. Dit is die regering, hulle familie en vriende, en die krimineel wat finansieel so sterk is dat hy bokant die wet is….en die ander 95% is sqatter-kamp arm. Daar is bitter min Afrika lande met ‘n middelklas……….en ‘n middelklas is die ruggraat van ‘n land.

Pietertjie ·

Hoekom so baie Afrikane en Asiate na Suid Afrika stroom? Daar is nog baie aas op hierdie ashoop!

Trojaanse Donkie ·

Wie sal nie graag wil na ‘n skynbare ryk land wil oorloop waar jy nie eens ‘n paspoort , werkspermit of visa nodig het nie, ook waar jy nie hoef te werk nie en die sogenaamde polisie en immigrasiebeamptes jou nooit sal pla nie. Jy kan letterlik maak net soos jy wil. Nie eers die polisie met behulp van die weermag soos in Kaapstad blykbaar niks aan enige tipe geweldsmisdaad kan verhoed nie, en laastens ‘n rgestelsel wat nie eers in die basies vervolging kan bemeester nie. Maw Utopia. Die Zuma saak bewys dat jy vir jare nooit vervolg of in ‘n tronk sal beland nie , kommissies van ondersoek het ‘n nuwe super beroep van ongekende weelde te vore laat ontstaan.

Nico K ·

In vergelyking met die res van Afrika is Suid-Afrikaners ryk en dus ‘n goeie plek as jy niks het om te verloor nie. Wat baie interessant is, is dat die Kommunistiese lande, soos die ou Sowjet- unie, Kuba en Oos Duitsland, drade moes span en mure moes bou om hul inwoners in die land te hou. Die mense wou nie graag in die “werkersparadys” woon nie. Daarinteen moes apartheid SA reeds voor 1994 doringdrade span om die res van Afrika se mense hier uit te hou. Ek weet dit is ‘n stelling wat moeilikheid kan veroorsaak, maar dit is ‘n feit. Nie ‘n opinie of my mening nie.

Petrus ·

In Business Insider vandag is ‘n nuwe verslag van die Wêreldbank uitgelig wat die lande met die jongste bevolkings lys. Die meeste van die lande is in Afrika, sommer ‘n klipgooi van SA. Dit sal verdere risikos vir SA inhou, met meer jonges wat sal instroom.

Jerry ·

Wanneer klein ekonomiee in Afrika val dan vat dit n paar geslagte voordat dit herstel. Groot ekonomiee soos SA vat dalk langer om leeg gemelk te word, maar ek reken dat wanneer SA se ekonomie finaal val, gaan hy dubbeld soveel geslagte as die kleiner ekonomiee vat om te herstel. Die plan wat die ANC gehad het om met staatskaping die rand te laat val, net sodat die ANC met staatskaping fase 2 die rand weer kan optel, is besig om te boemerang. Dit beteken dat nie net belastingbetalers eersdaags in die moeilikheid gaan wees nie, maar so ook die ANC staat! Die massas werklose Suid Afrikaners en immigrante gaan hierdie onreg nie verdra nie, want daar is nerens anders meer op die vasteland waarheen hulle hulle kan wend nie!

Karen Fourie ·

Waarom word die buitelanders wat betrokke is by delmverkope en mensehandel nie teruggestuur na hulle lande van herkoms nie? Wanneer hulle nie meer in SA is nie…sal ander buitelanders met respek deur die SA inwoners behandel word. Dieselfde geld vir diegene wat fake gemors goedkoop aankoop en ten duurste verkoop.

Vintcent ·

SA word regeer deur mense wat terrorisme ondersteun het. Kriminele lok en maak dit aangenaam vir ander wetteloses.

Wingman ·

War lords het SA klaar oorgeneem. Van die meer gesofistikeerdes sit wel in sagte leer stoele. Ander regeer met AKs.

Vryburger ·

SA het misluk. Die westelike deel van land moet afstig. Kaapstad kan doen wat hulle wil, dis ook ‘n mishoop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.