Nuuskommentaar: Nakom of verpas van afspraak met die toekoms

pres-jacob-zuma-anc-beleidskonferensie

Pres. Jacob Zuma lewer sy openingstoespraak by die ANC se vyfde nasionale beleidskonferensie in Johannesburg. Foto: Jonisayi Maromo/ANA.

’n Afspraak met die toekoms waaroor die ANC stellig nog die hare uit die kop sal trek, is dat hulle nie al lankal van pres. Jacob Zuma as president van die land, en president van die ANC, ontslae geraak het nie.

Hoeveel ander afsprake met die toekoms is al nie nagekom nie? Of hoeveel verkeerde afsprake is wel gemaak soos dié wat die Guptas in staat gestel het om die land te kaap?

Suid-Afrika en die ANC is nie al wat die vraag aan homself moet stel nie. Trouens, die afstof van die begrip kom onder meer uit België waar dié klein landjie besluit het om nie die nuwe kernsperverdrag van die VN te onderteken nie. Nie dat België kernwapens het of dit beoog nie. Belgiese joernaliste pik nou verward rond om hul regering se besluit te verduidelik.

Die werklike voorbeeld van die verpassing van ’n afspraak met die toekoms is Spanje. Op 1 Oktober wil die streekregering van Katalonië ’n referendum hou vir hierdie welvarende en eiesoortige streek om Barcelona. Katalaans is ’n eie taal wat nader aan Italiaans as aan Spaans verwant is.

Spanje beskou die beoogde referendum as ongrondwetlik en onwettig, en het ook verskeie Katalaanse regeringslui in hegtenis geneem. Tienduisende betogers het die strate van Barcelona ingevaar en die polisie het ure bestee om hulle uitmekaar te dryf.

Terwyl die Spaanse premier, Mariano Rajoy, die Katalaanse leiers aangespreek het as sou hulle verantwoordelik wees vir die eskalasie van radikalisme en ongehoorsaamheid, het die streekregering Spanje daarvan beskuldig dat dit die streek se outonomie grootliks gesteel het. Selfregeringsfunksies, soos die reg op begroting, is onder meer ontneem. Effe pikant maak Rajoy daarop aanspraak dat sy kant die demokrasie verteenwoordig.

Oor hoekom die situasie in Spanje nie werklik die aandag van die plaaslike media trek nie, kan bloot bespiegel word.

Nog ’n onafhanklikheidsreferendum vind Maandag plaas wanneer Noord-Irak se Koerde stembus toe gaan. Hulle bou nou al 25 jaar aan ’n eie staat. Daar is ook baie teenkanting.

Hoeveel afsprake met die toekoms is nie al in Suid-Afrika verpas nie? Was Kodesa nie so ’n geval nie?

Behalwe dat ’n mens lesse uit die verlede ter harte moet neem, dien (self)verwyte oor verkeerde besluite nie veel van ’n doel nie. Die idee van ’n afspraak met die toekoms nakom, is juis om toekomsgerig te wees. Gaan ons die Solidariteit Beweging se Plan B ondersteun en laat slaag, of gaan ons sanik oor Solidariteit wat die Afrikaner sogenaamd gestaatskaap het?

Gaan ons bloot toelaat dat ons ge-Tumi word, of gaan ons stappe doen om ’n herhaling (en eskalasie) daarvan te voorkom? Gaan ons ons kruisies volgens beginsels trek, of volgens dit wat ons as pragmaties beoordeel?

Ons moet bid dat die afsprake wat ons met die toekoms maak die regte besluite is.

Dat ons nie eendag soos Hillary Clinton verward die vraag vra: “What happened?” nie. Jim Comey, voormalige minister van buitelandse sake en direkteur van die FBI, verskaf die volgende lys wat toon hoe kompleks nabetragting, laat staan nog voorafkennis, kan wees: “Russian interference, Vladimir Putin, sexism and misogyny, Bernie Sanders’s supporters, voter suppression, Benghazi, fake news, stolen emails, Wikileaks, Facebook ads, unaccountable money, weaponized information, the Democratic National Committee, bots, the mainstream media, Infowars and Breitbart were among the factors that contributed to her loss.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Swart Piet ·

Baie goeie rubriek Herman. Hierdie land sal in die volgende 50 jaar nadat die ANC Nie meer regeer nie sukkel om die land weer op standaard te kry. Die skade is vreeslik groot.

Eish ·

Dit bly maar n vragie wat n ieder en elk homself sal moet antwoord. Die uitnodiging is uitgestuur vir die bruilof, die RSVP kom terug. Nie alger gaan kom nie. Tog, gaan die verrigtinge voort want daar is genoegsame kritiese massa.

Luke ·

Dit is so dat dit lank gaan vat op als op standaard te kry. Hoe moed. Kyk na die geskiedenis hoe vinnig opbou en vooruitgang werklik kan plaasvind. N voorbeeld is Duitsland. Die land is twee maal verwoes, tog bly hul voor in die koor met ontwikkeling.

Alida ·

Luke met die regte en intelligente leierskap is enigiets moontlik onthou!!

Johannes Meintjes ·

‘n Kritiese kwelvraag m.b.t. SA se korporatiewe en individueele rentmeeterskap, inderdaad! Wat gebeur as ons (aanhou) om niks te doen nie of aanmekaar die verkeerde dinge doen? Wat gebeur as ons SA leierskap ingryp? Wat gebeur as ons SA leierkskap (op alle vlakke en terreine) verkeerd ingryp?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.