Nuuskommentaar: Narratief teenoor narretief

Herman Toerien

Die inleiding tot ’n artikel in die e-nuusbrief van die konserwatiewe Christian Coalition of America lui dat die Palestynse owerheid ’n sewejarige kind ter dood veroordeel het. Die inligting hierna dui dat Israel die beste mediese sorg, op Israel se koste, aan ’n Palestynse kind met kanker verskaf het, maar dat dit nou op aandrang van die Palestynse owerheid opgeskort moet word. Die slim inspan van woorde kan van ’n narratief ’n narretief skep. Ook in Suid-Afrika is die skep van ’n narretief alledaags, en is dit ook ewe pikant dat die argitekte van die narretief hulle so kan wip as ander ’n ware narratief stel.

Die woord “narratief” het so in algemene gebruik in Afrikaans posgevat dat dit nie (meer) as ’n akademikaanse aanwendsel beskou kan word nie. Terwyl baie mense sal glo hulle weet presies wat met “narratief” bedoel word – en tien teen een nogal in die kol kan wees – werp die bestudering van die woord se definisies meer verwarring as opklaring.

En dan word soortgelyke uitdrukkings soos imagologie en allegorie nie eens verreken nie.

Vir die doeleindes van hierdie nuuskommentaar word narratief beskou as die weergawe van die werklikheid wat binne ’n bepaalde identiteit as die werklikheid aanvaar word. ’n Goeie voorbeeld is om die uiteenlopende narratiewe van die Anglo-Boere-oorlog in ou Engelse ensiklopedieë en die Afrikaanse skoolleerplanne van so drie dekades gelede te vergelyk.

Die narratiewe van die ad hoc-komitee oor eiendomsbesit en baie swart mense oor hoe mense in Suid-Afrika aan hul eiendomsreg van hul plase kom, verskil so veel, dit is haas ongelooflik dat albei weergawes oor dieselfde grond handel.

Selfs binne dieselfde gemeenskap sal die narratiewe oor sekere sake onversoenbaar verskil. Terwyl die een hoogleraar in teologie ter herdenking van Geloftedag skryf oor die vroue (en soms selfs kinders) wat in die laer van Bloedrivier was, is daar ’n ander weergawe dat Andries Pretorius die teenwoordigheid van vroue verbied het. Die een kant wys op die groot getal bruin mense en die swart skerpskutters uit Port Natal van Biggar in die laer, terwyl die ander kant niks wil weet dat daar enige nie-wittes in die laer was nie.

Op die oomblik broei daar ’n al groterwordende storm oor die uiteenlopende narratiewe wat met verskillende groepe se narratief van wat met rassisme en haatspraak verband hou, en dit stuur in die Eben Etzebeth-saak op ’n hofsaak téén die Menseregtekommissie af. Op die oog af lyk dit of die probleem veroorsaak word as gevolg van die “narratief” dat die Menseregtekommissie sy rol sien as die uitsnuffel van wit mense se rassisme teen swart mense, en nie andersom nie.

Van die narratiewe wat as die ware toedrag van sake moet dien, is so verregaande dat dit as narretiewe beskou kan word. Oudpres. Jacob Zuma het hom verskeie kere as prinsipaal van die narretief bewys. So hou hy hom nou strykdeur voor as ’n slagoffer, veral met betrekking tot sy beweerde betrokkenheid by staatskaping het hy in die openbaar verklaar dat Afrika groter is as al die ander vastelande saam, en dat die grond wat tradisioneel in swart besit is, hoofsaaklik deel van die droër en meer onvrugbare dele van die land uitmaak.

Sy sogenaamde honde-vergelyking het hom internasionaal voorblaaie laat haal, en sy beeld onherstelbaar beskadig.

En lê uiteenlopende identiteitsnarratiewe nie aan die wortel van die DA se probleme nie? Narratiewe wat in ander griewe ingeforseer word, soos om die grondslae in ideologieë soos die liberalisme, Afrika-nasionalisme, Afrika-sosialisme en ander te soek nie.

Weer eens skree die uiteenlopende narratiewe ten hemel. En in die proses sal dít wat vir een groep as ’n narratief dien en wat ernstig opgeneem moet word, deur ʼn ander groep as ’n narretief beskou word.

Politici en joernaliste word gereeld kollektief daarvan beskuldig dat hulle in plaas van die werklikheid ’n narratief inspan wat nie met die werklikheid tred hou nie. Die werklikheid is egter dat die publiek net so in staat is om ’n selfgekoesterdheid van die werklikheid as die waarheid te beskou, soos nou weer die besluit om pres. Donald Trump van die VSA in ’n staat van beskuldiging te plaas.

By geleentheid was daar klagtes uit regeringskringe oor die baie mense wat onder andere ministers as nie te ryklik tussen die ore bedeeld nie voorstel. Die “persepsie” word dan in die buiteland geskep dat die land deur ’n klomp narre regeer word. Maar, as ’n mens na die week se “klein begroting” kyk lyk dit werklik of daar wel op betreklik omvangryke skaal van narre in die kabinet gebruik gemaak is.

Uiteindelik is daar onoorbrugbare klowe weens die mens se geneigdheid tot vooropgesette verwysingsraamwerke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Vaalseun ·

Uitstekend gestel, Herman. Baie dankie.

Wat het die een narretief vir die ander narretief gesê?

Lag nou net!

Zorro ·

Tot vandag het ek nie die word narratief verstaan nie. Nou verstaan ek dit as iemand se interpretasie van die werklikheid soos gesien deur die bril van ‘n spesifieke vertrekpunt. Die narretief is die opsetlike misinterpretasie van die werklikheid om by jou saak te pas. Laat weet maar as ek die kat aan die stert beet het.

andre ·

Die narretief dat jy “ekonomies bevry” kan word deur te protesteer (struggle / fight) … is vir my onduidelik.

Slegs produksie of diens skep waarde (profyt) wat ekonomies kan “bevry”.

Bedoel die ekonomiese vryheidsVEGTERS dat hulle glo in “moor” en “roof” om ryk te word?

… eish….

Peet ·

Beroemde wat lief was vir die term is Tony Blair (of te wel Tonie Blê volgens Mugabe)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.