Nuuskommentaar: Nasionale ramptoestand, kommunikasie en die demokrasie – en ’n ander uitkyk

Die nuwe koronavirus Covid-19. (Grafika: CDC/Alissa Eckert, MS; Dan Higgins, MAM via Wikimedia Commons)

Min van dit wat Suid-Afrika nou met Covid-19 beleef, insluitend die afkondiging van die ramptoestand, is werklik nuut en dit sal Suid-Afrikaners loon om behoorlik, en korrek ingelig te wees. En die geestelike herlewing wat nou plek-plek in dele van Europa ontluik, is ook geen slegte idee hier plaaslik nie.

“Now what is this all about?” Vraagtekens is oor die gesig van ’n vrou geskryf – een van verskeie mense wat deur ’n TV-maatskappy op ’n Britse strand oor die Covid-19-uitbreking ondervra is. Die onderhoud met dié vrou is net daar gestaak, want wat is die kanse dat iemand in vandag se beskaafde wêreld nog niks weet van die snelle verspreiding van die nuwe en potensieel dodelike mutasie van die koronavirus nie?

Dit is nou al ’n ruk wat al hoe meer mense openlik sê hulle stel nie in nuus belang nie en lees of luister dit daarom nie – so amper asof hulle trots is daarop. Al hoe meer beland so ’n persoon in ’n geselskap waar dit blyk dat die persoon niks van ’n komende verkiesing of ander belangrike nuusgebeurtenis weet nie. Die rede is gewoonlik dat daar so baie slegte nuus is dat dit “beter” is om niks daarvan te weet nie.

Dit sal Woensdag interessant wees om te sien hoeveel mense nog oudergewoonte hul kinders skool toe sal piekel, hoewel min ouers seker nie deur hul kinders, baie opgewonde oor die komende bonusvakansie, ingelig sal wees nie. Die ironie is dat hierdie “nuusboikotters” dikwels hul ore mildelik aan wolhaarstories op sosiale media uitleen en selfs op loop gaan daarmee. Sonder behoorlike agtergrondkennis verhoog die kanse dat iemand vir fopnuus kan val.

Of hoeveel mense gaan by hul KKNK-verblyf opdaag, slaggereed vir ’n fees wat nou reeds gekanselleer is?

Die impak van die siekte word by implikasie tot op Mars gevoel met die uitstel tot 2022 van die Europese Ruimteagentskap en Roscosmos se gesamentlike sending, Exo Mars wat vanjaar gelanseer sou word. Die kansellasie is gedeeltelik weens Covid-19. Op die oomblik “hou” vanjaar se Olimpiese Spele in Japan nog, maar tensy middels baie gou gevind kan word waarmee die siekte behandel kan word, is dit moeilik om te dink dat dit nog sal kan gebeur. ’n Voorkomende inenting is teoreties nie voor dan moontlik nie.

Kommunikasie

Volgens ’n nuwe artikel het stringe wat in Suider-Afrika van volstruiseierdoppe gemaak is meer as 33 000 jaar gelede ’n groot rol gespeel in wat as die destydse sosiale media beskryf word gespeel om die mensdom teen potensiële rampe soos klimaatsverandering te red. Die stukke eierdop is onder meer beskilder, en dit het oor enorme afstande versprei, en kon mense elders, ook waar volstruise nie eens voorgekom het nie, uitwerk wat klimaatstoestande elders is, en soontoe verhuis. Versierde potskerwe het voor Columbus se herontdekking van die Amerikas ook die rol van sosiale media oor ’n groot gebied in die suide van die hedendaagse VSA gespeel.

Pandemies as wapens

Siektes wat pandemies veroorsaak is van oudsher aan die mensdom bekend, en is ook reeds as wapen gebruik. So het die oprukkende Hunne uit die Ooste ommuurde stede wat hulle wou inneem verswak deur mense wat so ’n pandemiese siekte onder lede het, of selfs die lyke van sulke mense, gewoon in die “mandjie” van ’n katapult gelaai en oor die muur in die stad ingeslinger. Die Spaanse veroweraar Hernan Cortez het met sy invalsmag ’n ruk buite die Asteekse hoofstad Tenochtitlan gewag, terwyl die siekte wat die Spanjaarde kort tevore tydens hul verblyf as gaste van die Asteke in die stad laat uitbreek het, onder die inwoners gemaai het en weerstand verwoes het. Die inwoners van die Nuwe Wêreld het geen weerstand teen dié Europese siektes gehad nie wat miljoene mense laat sterf het. (Bronne is nie eenstemmig oor watter siekte soveel Asteke geëis het nie.)

Maar die Ou Wêreld het nie oorlogsverwante epidemies vrygespring nie. In 430 vC is ongeveer twee derdes van Athene se bevolking tydens die uitbreking van ’n onbekende pes dood terwyl die Spartane die stad beleër het. (Hierdie artikel lys ook al die bekende epidemies en pandemies van die vroegste tye en verskaf kortliks agtergrondinligting oor elk.) Die siekte, wat as pandemie van Noord-Afrika versprei het, het bygedra daartoe dat die Spartane die oorlog kon wen.

Tydens die Anglo-Boereoorlog het ongeveer 15% van die Afrikaners weens siektes en ander redes wat met die konsentrasiekampe verband hou gesterf. Gewapende konfrontasies tussen soldate het ’n veel kleiner rol gespeel, terwyl die gevolge van die konsentrasiekampe veel meer as die gevolge van ’n stryd teen ’n oorweldigende oormag tot die vredesluiting bygedra het.

Sou die ramp van oorbevolking nie vandag veel groter as die impak van pandemies oor duisende jare gewees het as dit nie was dat dit met tussenvalle voorgekom het nie?

Die demokrasie

Ons Grondwet maak voorsiening daarvoor dat daar onder sekere omstandighede ’n noodtoestand aangekondig word, maar hoewel dit die demokrasie wel effens beperk, en menseregte effens meer, bly die demokrasie naastenby intakt. Dit gebeur wel dwars oor die wêreld dat diktature ontstaan deur noodtoestande af te kondig.  Die Atheners het selfs ’n vaste gebruik gehad om die demokrasie tydens oorloë op te hef en ’n diktatuur in te stel om die oorlog so doeltreffend as moontlik te kan voer.

Die hedendaagse situasie word vandag in De Standaard hier bespreek. Oor België self wat nou al maande lank spook om ’n federale regering saam te stel word onder meer onder die opskrif “Corona, stresstest voor de Belgische democratie geskryf”: “Landen met een slagvaardige overheid en politici die spreken met gezag, zijn het best uitgerust in de strijd tegen corona. België ontbreekt het aan beide. Er is geen volwaardige regering en de Belgen stellen meer vertrouwen in een viroloog dan in de verzamelde Wetstraat. Het recept voor een perfecte storm?” (Die gebrek aan ʼn volwaardige regering strem die land se owerhede om effektief op Covid-19 te reageer.) Die Atheense denke slaan duidelik deur.

Daar is tegnies nie nou in Suid-Afrika ’n noodtoestand ingevolge die Grondwet afgekondig nie, maar wel ’n ramptoestand. Uit beginsel sal politieke partye en ander nou met ’n vergrootglas in die hand moet waak dat die demokrasie nie onder die noodmaatreëls geërodeer word nie.

’n Ander uitkyk

Volgens berigte word gewyde musiek oral in Italië gehoor, ook op straat, terwyl daar vroeë aanduidings van ’n geestelike verdieping in verskeie Europese lande is. Die potensiaal van ’n ander, verdiepte siening word mooi in die splinternuwe gedig van Richard Hendrick, “Wonder and awe of our faith”, onder die titel “Lockdown”, saamgevat:

“Yes there is sickness.
…Yes there is even death.
But,
They say that in Wuhan after so many years of noise
You can hear the birds again…

They say that in the streets of Assisi
People are singing to each other
across the empty squares,
keeping their windows open
so that those who are alone
may hear the sounds of family around them…

Die volledige gedig kan hier gelees word.

Wat natuurlik nie beteken ons moet nie alles in ons vermoë doen om die pandemie te stuit en om te keer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johan Venter ·

Gegewe die ANC-regering se manier van landsbestuur en hoe hulle situasies gebruik (buig?), om hul ideologie te pas, soos ons dit oor die jare ervaar, moet mens verseker die oë wawyd oop vir die volgende soos per Herman se skrywe wees: “Daar is tegnies nie nou in Suid-Afrika ’n noodtoestand ingevolge die Grondwet afgekondig nie, maar wel ’n ramptoestand. Uit beginsel sal politieke partye en ander nou met ’n vergrootglas in die hand moet waak dat die demokrasie nie onder die noodmaatreëls geërodeer word nie.” (En die NVG?)

James ·

Ek het sulke familie. Hulle klink verwonderd as ons telefonies gesels, en ek ‘n paar dinge noem tydens die gesprek.

Volstruise.

Johan Venter ·

Nog iets wat ek graag aanraak, Smurf het vanoggend onderaan die berig oor die maatreëls wat Cyril gisteraand aangekondig het in sy kommentaar van die varkgriep pandemie van 2009 – 2010 melding gemaak, syfers genoem met aantal gevalle en sterftes. Ek het dit ook gaan Google, dit sal nou baie interessant wees as Herman Toerien ons meer daaroor, met statistiek, kan toelig en dit dan met die huidige pandemie betreffende hierdie virus wat die wêreld tans ervaar vergelyk. Ook sommer hoe dit die wêreldekonomie geraak het teenoor wat ons nou ervaar.

En, gaan ons regering nou aan uitgawes en salarisse spaar? Die SAL kan dan mos nou maar finaal die deure sluit, gegewe dat die ministers se ‘vlerke’ prakties geknip is.

Grassie ·

Wat baie mense miskyk is dat verskillende volke se burgers verskillend reageer op liggaamsruimte. Mense van Europese afkoms handhaaf ‘n liggaamsruimte van ongeveer ‘n half tot ‘n driekwart meter om hul liggame wat as privaat beskou word. As ‘n vreemdeling daarin kom staan beweeg hulle instiktief weg, dit is ‘n aangebore reaksie. Maar ander volke het geen, maar geen so ‘n gewoonte nie. Hulle bondel sommer maklik saam. As jy dus in ‘n winkel toustaan met jou trollie en “iemand” kom staan te naby agter jou, gaan staan dan voor jou trollie. As jy bv moet toustaan vir iets soos ‘n motorlisensie moet jy seker maar net bid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.