Nuuskommentaar: Nasionale verlamming lei tot aktivisme en anargie

anargieWanneer ’n taalreg verdamp, gebeur meer as net dat die taal geknou word. Nie net taalregte word aangetas nie, maar ook ander regte van ’n taalgemeenskap. Die afdanking van Pansat se raad het dieper betekenis as bloot om dié liggaam meer doeltreffend te laat probeer werk.

So byna stil-stil het Nathi Mthethwa, minister van kuns en kultuur, die raad van die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (Pansat) afgedank. Omdat Pansat se profiel in die oë van die breë publiek een geword het van iemand wat so ’n lae profiel handhaaf dat hy regop onderdeur ’n mat kan hardloop sonder dat sy hare deurmekaar gekrap word, kan die indruk maklik gewek word dat die minister nou ’n ernstige probleem reg aanspreek. Waar, byvoorbeeld, was Pansat met die hele debakel oor die afskaling van Afrikaans by sekere universiteite? Pansat se taak is immers om al 11 amptelike tale en ander inheemse tale te bevorder.

Pansat is een van ’n paar onafhanklike liggame wat deur die Grondwet verskans word, en ten doel het om sekere aspekte van die Grondwet in stand te hou.

Ongelukkig word min of meer dieselfde indruk van die Kommissie op die Bevordering en die Beskerming van die Regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe gekry. Aanvanklik het dit gelyk of die huidige raad, wat ook nie meer so danig nuut is nie, sake te midde van ernstige beperkings soos geldnood, taamlik sou regruk. Die indruk is egter gewek dat dit ook ingeplof het.

Ná jare lange oënskynlike regeringsgedienstigheid het die Openbare Beskermer onder die huidige bekleër, adv. Thuli Madonsela, wél onafhanklik volgens die Grondwet begin optree en die veronderstelde funksies begin uitvoer. Die gevolg was woede in die ANC, en verskeie pogings om Madonsela te diskrediteer.

Oudergewoonte lewer die ouditeur-generaal oor die algemeen goeie werk, en jaar ná jaar is daar ’n slagting onder veral munisipaliteite. Ongelukkig word die indruk gewek dat die regering van die verslae kennis neem, en dan begraaf. Dit verhinder egter nie dat dit wyd oorkook in die vorm van diensleweringsbetogings nie.

Die Menseregtekommissie het pas weer onder skoot gekom toe die jongste rasseherrie losgebars het. Verskeie instansies soos AfriForum en die Afrikanerbond het daarop gewys dat die kommissie nie aangemelde sake hanteer waar die verklaagdes swart is nie. Die indruk word gewek dat sommige rasse meer menseregte het as ander rasse.

Die Kommissie vir Geslagsgelykheid wek die indruk van byna aktivisties begaan te wees oor vroueregte. Dit het vroeg in sy bestaan sy neutraliteit ingeboet deur as party tot die grondwetlike saak oor aborsies toe te tree – ten gunste van aborsies. En staatsgeld is hiervoor ingespan.

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie het verlede jaar bloedneus in die grondwetlike hof gekry, en tussenverkiesings moet nou in die Tlokwe- munisipale gebied gehou word.

Terug na Pansat.

Uit ’n media-onderhoud met die visevoorsitter, prof. Wannie Carstens, ontvou ’n ander prentjie as wat deur die minister voorgehou word. Ja, Pansat het tot stilstand geknars, en daar is byvoorbeeld meer geld aan personeel bestee as aan die bevordering van tale. Van hierdie personeel is ANC-kaders wat deur die departement aangestel is, en wat onbruikbaar is omdat hulle nie kan lees en skryf nie.

Een van Pansat, en die ander grondwetlike liggame, se vernaamste probleme is dat dit eintlik net aanbevelings kan maak. Vroeg in sy bestaan het Pansat bevind dat die regering self die grootste oortreder van die grondwetlike taalbepalings is. Hiermee het Pansat skynbaar sy eie grondwetlike doppie geklink. ’n Bevinding, heelwat meer as ’n dekade gelede en voordat Pansat so te sê gekastreer is, dat Vrystaters in plaas van FS op hul nommerplate VS mag gebruik, is deur die destydse LUR vir vervoer na die Menseregtekommissie vir “appèl” verwys. Die MRK het die saak met verwysingsnommer en al na sy Bloemfonteinse kantoor verwys, waar absoluut niks daaraan gedoen is nie, talle medianavrae en -berigte daaroor ten spyt.

Vrystaters is eenvoudig stil-stil van ’n grondwetlike reg beroof.

Intussen het die “ignoreerbaarheid” van die Openbare Beskermer voor die howe beland, in besonder oor die status van die Nkandla-verslag maar ook sake by die SAUK. Uiteindelik moet die grondwetlike hof nou uitspraak lewer hieroor. Indien dit sou blyk dat die Openbare Beskermer se verslae ’n element van afdwingbaarheid bevat, sal dit interessant wees om te sien of ook die ander liggame ernstiger opgeneem moet word.

So iets is egter nie die einde van die probleem nie. Die regerende party kan sulke liggame probeer doodsmoor deur te min geld beskikbaar te stel, en die periodieke vervanging van die hoofde met beperkte termyne, beteken daar is periodiek geleentheid vir die regerende party om marionette aan te stel. Dit het al gebeur dat so ’n marionet aan die einde van sy termyn, en ná ’n massiewe koebaaipakket, weer as voorsitter van ’n ander grondwetlike liggaam aangestel is.

Uit sosiale kommentare word ’n prentjie gevorm van bitter min vertroue in die grondwetlike liggame – die sogenaamde wigte en teenwigte. Gelukkig is daar nog ’n breë tevredenheid oor die onafhanklikheid en waaksaamheid van die howe, natuurlik met die uitsondering van die regering self. Pas het pres. Jacob Zuma die howe as’t ware (al weer) bygedam, deur te kla oor hoe die meerderheidsregering (lees meerderheidstirannie aldus die akademiese uitleg hiervan) gefrustreer word oor die nare opposisie wat so knaend hof toe hardloop. Dat die nare opposisie byna alle sake wen, laat blykbaar nie die boodskap deurdring dat dit is omdat die regering eerder ’n diktatuur van die meerderheid, as grondwetlike demokrasie, nastreef nie.

So belangrik soos die howe is, so waar is dit ook dat nie almal wie se grondwetlike regte vertrap word, oor die finansies beskik om hom of haar op die howe te beroep nie. Die rol van die grondwetlike liggame is dus uiters belangrik om elkeen onder die Grondwet “in te bind”.

Maar verlede jaar is gesien hoe Afrikaans oor ’n wye front van sy grondwetlike regte gestroop is, soos by universiteite en agentskappe van die departement wetenskap en tegnologie, byvoorbeeld die Suid-Afrikaanse Nasionale Ruimte-agentskap.

Wanneer ’n taalreg verdamp, gebeur meer as net dat die taal geknou word. Volgens die Internasionale Reg en ons Grondwet, beskik taal-, godsdiens- en kultuurgemeenskappe ook oor ander regte as net taal-, kultuur- en godsdiensregte. Kerke, en die kerkregerings soos kerkrade en sinodes, beskik byvoorbeeld oor baie wye afdwingbare magte op sy gemeenskappe (vrywillige assosiasies), soos om mense onder tug te plaas, te skors, orde te handhaaf en vele meer. Natuurlik is daar grense, en sal die staat gou ingryp as ’n kerk sou begin om lidmate wat nie hul maandelikse bydraes betaal nie op te hang.

So het taal- en kultuurgemeenskap ook regte, wat in Suid-Afrika nog nie mooi afgebaken is nie omdat daar nie behoorlik in staatkundige verband, soos deur artikel 235 van die Grondwet moontlik gemaak word, gestruktureer is nie.

Nie dat niks gebeur nie. Die Solidariteit-beweging het die afgelope aantal jare enorm gegroei, en AfriForum vermag reeds bitter baie. Plan B ontvou geleidelik.

Nogtans floreer aktivistiese webwerwe oor ’n wye verskeidenheid onderwerpe. Hulle bevind hulle gewoonlik op die buitenste periferie van die algemene denkrigtings, en is dikwels ongemaklik radikaal. Die indruk word gewek dat ’n gebrek aan iets doen in gematigde kringe die periferie voed, so asof die Seunse Weenkoor steeds die gematigde kern tot ’n lamheid dwing.

Intussen is dit ’n oerwoud “daar buite”. Dit is nou weer goed bewys toe vier boere op aanklag van moord in die Paryse landdroshof verskyn het. Hul inhegtenisneming was skynbaar hoogs onreëlmatig. Aan die een kant van die lemmetjiesdraad is die verbode haatspraaklied, “Kill the boer, kill the farmer”, gesing. Aan die ander kant het ’n paar mense die vierkleur geswaai en ’n groep “Die Stem” gesing.

Omdat die saak sub judice is, gaan bloot in algemene terme genoem word: As ’n gemeenskap van sy regte, soos sy reg op veiligheid, ontneem en ’n politieke klimaat gunstig vir plaasaanvalle geskep word, gaan die versoeking vir reg in eie hande neem groot wees.

Soms kan dit hand uitruk, soos om uit frustrasie vasgetrekte plaasaanvallers erg aan te rand. Soms meer simbolies aktivisties. In die ruimtenuus wat ek weekliks vir RSG se program, Sterre en Planete, skryf, is daar byvoorbeeld geen nuus oor die Suid-Afrikaanse Nasionale Ruimte-agentskap nie. Voorheen is voorkeur hieraan verleen, maar sedert die beleid ontwikkel is om Afrikaans uit die Grondwet te steel, en net Engels, Zoeloe en Noord-Sotho as amptelike tale in te span, lewer ek op hierdie wyse my stille protes.

Soms is die grense tussen aktivisties wees en anargisties wees maar skraal. Blote aktivisme gaan byvoorbeeld nie die bestuur van die Bloem Show oortuig om weer Afrikaans te gebruik nie. Dit moet eers duidelik wees dat ’n groot deel van die stad en omgewing se Afrikaanse gemeenskap die skou gaan boikot sodat finansiële oorwegings begin geld voordat die probleem reggestel sal word. Maar in hierdie stadium, so lyk dit, gaan die Afrikaanse gemeenskap in die woorde van vanjaar se logo, “I ♥ Bloem Show”, die bestuur met ongrondwetlike optredes laat wegkom.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

Sus ·

Tipies die ‘padda in die pot’ beleid. Gooi ‘n padda in pot kookwater en die padda sal dadelik uitspring – maar gooi die padda in ‘n pot kouewater en verhit die water stadig na kookpunt, sal die padda gáár word en nie uitspring nie. Duidelik sien die regering hulle taktiek is baie effektief. Ons sal net méér luidkeels moét protes aanteken!

John ·

Mense, ek het vanoggend terwyl ek in die tou in die poskantoor gewag het, gehoor iemand se daar is gerugte dat ons regering dit oorweeg om oor te skakel na Zimdollars om die probleme by univerisiteite met studiegeld die hoof te bied. Kan die bewerings waar wees? Dis te goed om waar te wees. Miskien kan ons Eskom en die SAA weer uithelp en ons atoomkragstasies bou en die sekuriteit by Nkandla opknap. Ekskuus, ek het vergeet dis reeds gedoen. So van regdoen gepraat, gelukkig staan al die planne van die regerende party nou in Engels opgeteken en nie in Afrikaans nie.

Jon Low ·

PanSAT was Dr Neville Alexander se lieflingsprojek en enigste inkomstebron. Toe hy sterf, toe vou sy tentjie ook op.

Therese van Schalkwyk ·

Dis te betreur dat die “nasionale verlamming” nie tot ‘n tikkie aktivisme onder Bloemfontein se Afrikaanse gemeenskap aanleiding gee nie. (so van lae profiel en matte gepraat!) Dit verbaas dus geensins dat hulle die “Bloem Show Love” nie, want hulle is ook hoogs tevrede met ‘n 100% Engelse universiteit in die hartjie van die Vrystaat. Die UV se taalreg het nie skielik verdamp nie, dis bloot op ‘n skinkbord weggegee. Ten minste twee Afrikaanssprekende SR-lede van Kovsies het in briewe na die koerant die verdwyn van Afrikaans uit lesingsale aangemoedig.
Kan jy nou meer! G’n wonder die Pukke klop die Shimlas so gereeld nie.

Regte ·

Maroela Media. Goeie berig. Maar is u bewus wat die betekenis is van die embleem wat julle gebruik. Skynbaan om aantetoon dit gaan oor Afrikaans.

koos ·

as hierdie ou net tot die punt kan kom sonder AL die onnodige ge-‘WAFFLE’, sal sy artikels dalk meer aftrek kry. Die onderwerpe is gewoonlik boeiend, maar dis waar dit eindig

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.