Nuuskommentaar: Nasionalisering en grondhervorming: Hoe grondwetlik verweef is dit?

Na afloop van pres. Jacob Zuma se jongste staatsrede het twee sake wat nie van mekaar losgemaak kan word nie, sterk op die nuustoneel bly voortbaljaar; die skynbare nek omdraai van die nasionalisering van myne, en die dat die beginsel van vrywillige koper, gewillige verkoper, vir grondhervorming volgens die regering nie werk nie.

‘n Eerste opvallende probleem is dat die president glad nie die woord “nasionalisering” in die staatsrede gebruik het nie, en die afleiding dat hy nasionalisering van myne finaal versuip het is eerder die vrug van wensdenkery as wat werklik gesê is. Die president het egter die volgende dag in ‘n toespraak van die New Age wel hom meer pertinent uitgedruk. Die president het egter ‘n lang reputasie van bontpratery waar hy vir verskillende gehore verskillende dinge sê.

Grondhervorming in die vorm van grondgryp soos wat Julius Malema bepleit, is gewoon nie sonder drastiese grondwetlike wysigings moontlik nie, en sal boonop die grondwetlike posisie van die howe, en die grondwet self kwaai aantas. Nogtans kan Zuma se staatsrede wat eiendomsreg betref, weens verskeie stappe wat reeds geneem is en die voortdurende gesindheid van die ANC, nie ligtelik afgemaak word nie. Die president het immers in die staatsrede verklaar dat die regering die groenskrif oor grondhervorming aanvaar het, hoewel dit nog nie ‘n witskrif is nie, en die groenskrif is ‘n erg bedenklike poging. Boonop maak die nasionalisering van myne – en onder meer ook banke – deel uit van die ideale wat in die Vryheidsmanifes gestel word. Die ANC verklaar gereeld dat dit die handves aanhang. Ook omvattende grondhervorming word in die handves voorsien. Die gedagte om die howe as finale arbiter oor prysbepaling te skrap, beteken nie net die grondwet nie, maar in die besonder die Handves van Menseregte, waarvan besitreg deel uitmaak, moet gewysig word. En om in die proses die grondwetlike funksies van die howe aan te tas, gaan waarskynlik nie sonder teenkanting van die howe self geskied nie.

Selfs al sou respek vir die grondwet en howe, en die astronomiese koste van onteiening met billike kompensasie die nasionaliserings- en onteieningsretoriek permanent dwarsboom, verander dit niks aan die verskillende persepsies van verskillende bevolkingsgroepe nie, en die polarisasie wat hieruit voortspruit sal spanning bly opjaag. Die regering behoort behoorlike staatsmanskap aan die dag te lê om dit aan te speek. En geen land wil immers permanent in ‘n toestand van spanning bestaan nie.

Lees die volle artikel hier

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae