Nuuskommentaar: Nathi en Riah sterre in Police Academy 8

police academyVir die talle goeie polisiebeamptes wat harde en goeie werk doen om Suid-Afrika ‘n veiliger plek te maak moet die daaglikse onthullings oor los skroewe in die diens ‘n yslike klip in die maag wees.

Die stroom slegte nuus wil maar nie ophou nie – van meer as ‘n duisend polisielede met selfs baie ernstige misdaadrekords, vervalste kwalifikasies, disfunksionele polisiestasies, ‘n toename van aanrandings en selfs sterftes in aanhoudingselle, siviele eise wat teen die polisie slaag, sake wat uit die howe uitgegooi word weens baie swak polisiewerk… alles help nie om ‘n gesonde beeld van die polisie te skets nie.

Die “hoogtepunt” van die drama was sekerlik dat ‘n vorige polisiehoof, Jackie Selebi, wat sommer ook Interpol-baas was, ‘n heen-en-weertjie in die tronk gaan maak het weens korrupsie, ná hy aanvanklik polities beskerm was.

Sy opvolger, Bheki Cele, is ewe-eens gepos, maar intussen tot die ANC se nasionale uitvoerende komitee verkies.

Analiste is dit min of meer eens dat die Misdaadintelligensie-eenheid heeltemal disfunksioneel is, en dat die polisiebestuur se lapwerk onder politieke instruksies die saak net vererger.

Met die onlangse bekendstelling van die jongste misdaadstatistiek was dit duidelik dat die publiek, en selfs instansies soos die Instituut vir Sekerheidstudies, nie meer veel vertroue in die akkuraatheid daarvan het nie.

Geen uitkenbare statistiek word meer bygehou oor plaasmoorde nie, wat uit die berekenings deur ander instansies blyk pro rata minstens drie keer hoër te wees as die land se hemelhoë algemene moordkoers. Minister Nathi Mthethwa weier nie net koppig om dit tot prioriteitsmisdaad te verklaar nie, hy het AfriForum se veldtog om dit tot prioriteitsmisdaad verklaar te kry as “goedkoop propaganda” afgemaak.

Die grondwetlike hof, waarheen Mthethwa self geappelleer het, het die polisiehoof onlangs met die kous oor die kop huis toe gestuur na die minister met alle geweld ‘n kommissie van ondersoek na ‘n skynbaar disfunksionele polisiestasie wat premier Helen Zille ingestel het, wou kelder. Die grondwet bepaal immers dat doeltreffende polisiëring ‘n provinsiale funksie is.

Die polisiehoof, Riah Phiyega, strompel sedert haar aanstelling van krisis tot krisis, van kleitrappery met Marikana met die intrapslag tot met ‘n klag van dwarsboming van die gereg teen haar die jongste. Analiste probeer nog agter die kap van die byl kom – leen sy haar ore aan swak advies uit, of slaag sy op eie stoom so dikwels daarin om met haar voet daarin te trap?

‘n Deel van die probleem is klaarblyklik die ANC se ongrondwetlike beleid van kaderontplooiing. Die polisie, soos ook ander staatsinstellings, word veel meer as wat die grondwet beoog geteister deur die ontplooiing van kaders wat nie oor die kwalifikasies, ondervinding of eienskappe beskik om die werk te doen wat die poste van hulle vereis nie. Hulle vernaamste funksie is ooglopend om as politieke kommissarisse te dien, eerder as om te sorg dat die instellings wat aan hulle toevertrou word doeltreffend funksioneer.

‘n Groot probleem met politieke kommissarisse is dat hulle ook instruksies van die politici kry, wat nie noodwendig doeltreffendheid in die hand werk nie. Die wyse waarop die polisiebestuur die Richard Mdluli-sage hanteer laat Phiyega werklik na ‘n willose stommerik lyk.

Nie Selebi, Cele ten spyte van sy oorhaastigheid om die rangstruktuur te verander sodat hy homself ‘n generaal kon noem en sy cowboy-styl, of Phiyega het opleiding aan ‘n polisiekollege ondergaan en enige praktiese polisie-ondervinding gehad nie. En soos die spreekwoord lui, as een blinde ‘n ander blinde lei, val beide in die sloot.

Onlangs is aangekondig dat die polisiekollege in die Paarl van volgende jaar af ‘n universiteit word. Die polisiebestuur se gestrompel het dadelik tot ‘n spottery oor “Police Academy” gelei na aanleiding van ‘n reeks van sewe internasionale komiese flieks met dié naam. Enige prestasies deur die kollege se rekrute was eerder die gevolg van toeval en geluk as vaardighede of goeie opleiding.

Ook nie lank nie, is selfs vakke vir die nuwe Suid-Afrikaanse “Police Academy” “voorgestel.”
  How to forge qualifications
  The tricks of tenderpreneurship
  How to arrange sick leave
How to be suspended with full salary and benefits
How to mess up a crime scene
  What are forensics and why not to use them
  Requirements to use police vehicles as taxi’s
  Blue light transportation of VIP’s and making only a few accidents
  How to present crime statistics positively
  How to protect the criminal and harass the victim

Dit is tragies. Doeltreffende polisiëring hang tot ‘n groot mate van gemeenskapsbetrokkenheid af, soos doeltreffende GPF’s en polisiëringsforums, die doeltreffendheid van die landelike beveiligingsplan en oop kommunikasie. Vrot appels wat plek-plek voorkom veroorsaak egter dat daar op plekke meer wantroue is as wat nodig is om ‘n gesonde verhouding te bou. En terwyl die polisie onder swak leierskap steier word elke dag nog kilometers bygevoeg aan die land se groot duiwelsvurk-heining.

Die land en sy mense moet baie dankbaar wees vir die polisielede wat steeds hul kant bring. Daar is ‘n hoë aankeerkoers van plaasmoordenaars, wat beteken dat die aankeerkoers van plaasaanvallers wat nie gemoor het nie met die nodige hulpbronne ook hoog kan wees. Die tronke is oorvol.

Die polisie het ‘n moeilike taak omdat morele verval in die land misdade soos verkragting tot die hoogste vlakke ter wêreld opgejaag het, die verkragting en moord van selfs babas kom voor, analiste beskryf Suid-Afrika reeds as ‘n land waar korrupsie endemies geword het en volgens die jongste statistiek van Transparency International kan selfs lande soos die DRK en Nigerië “kom les vat” by Suid-Afrikaners oor omkopery.

Teen dié agtergrond is dit gebiedend noodsaaklik dat die polisie die persepsie moet bou dat dit deel van die oplossing is, nie deel van die probleem nie.

As die wil ontbreek om die polisie se topbestuur reg te ruk sodat die regruk deur die hele rangstruktuur kan vloei, en die goeie polisielede geïdentifiseer, beloon en bemagtig word, dan moet nog ‘n misdaadkategorie bygevoeg word en as prioriteit aangespreek word: ideologiese benepenheid. ‘n Vis vrot immers van sy kop af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Demokraat ·

As die Suid-Afrikaanse Polisiediens asook die ANC-regering nie eens daarin kon slaag om die polisiediens doeltreffend te laat funksioneer nie – hoofsaaklik as gevolg van politieke aanstellings op hoë vlak – dan wonder mens tot watter mate gaan die be-oogde Polisie-Universiteit meehelp om die situasie te verbeter. Van die bestaande Polisie-Kollege het mens bykans nie eens geweet nie en het dit beslis ook nie ‘n noemenswaardige bydrae gemaak om polisieëring op goeie vlakke te kry nie.

Is die beoogde Universiteit nie maar net vermorsing van geld en energie nie ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.