Nuuskommentaar: Neem aardbewings en vulkaniese uitbarstings toe?

Die Mayon-vulkaan in die Filippyne. Foto: (Earl Recamunda, AP)

Is daar werklik ’n gevaarlike toename in aardbewings en vulkaniese uitbarstings? Dit is eintlik onmoontlik om te voorspel, en geoloë wat dit gewaag het, is in Italië aanvanklik tronk toe gestuur voor hulle begenadig is.

Onder meer danksy pres. Donald Trump se ontevredenheid met die media, wat hy eintlik met fopnuus gelykstel, is daar waarskynlik min nuusgebruikers in die vrye wêreld wat nie sal weet wat fopnuus is nie. Bykans enige onderwerp haal afwisselend die nuus.

Tans is dit die voorkoms van groot en “baie” aardbewings. Dit alles sou op ’n manier via die aardkors verbind wees, en die brandpunte “steek mekaar aan”. Die kwessie kry wye buitelandse mediadekking.

Dis alles onwaar dat die skynbare toename op ’n bedreiging van die aarde dui, onder meer omdat die stelsels onafhanklik van mekaar funksioneer.

Maar is daar dan nie gevaar nie, en nie nou eers nie? Die bedreiging bestaan reeds, en in sommige gevalle al vir duisende jare. Dié bedreigings kom in die vorm van supervulkane, waarvan die bekendste die Yellowstonepark in die VSA is. Wanneer dié vulkaan die dag uitbars, kan dit grootskaalse vernietiging op die Noord-Amerikaanse vasteland tot gevolg hê. Hy is al jare “agter skedule”. ʼn Supervulkaan se uitbarsting kan tot ’n duisend kubieke kilometer vulkaniese puin die lug inwerp.

Maar ook van die ander supervulkane bly ver agterweë, en kan in Nieu-Seeland, Suid-Amerika en elders opgespoor word.

Vulkaan Calbuco in Chili. Foto: David Cortes Serey/ Agencia Uno/AP

En dis nie net supervulkane wat oor “skedule” (syfers van so 26 000 jaar word gewoonlik genoem) is nie, maar ander grotes, soos die bielie wat Los Angeles al lankal soos ’n kaartehuis moes laat vou. Ook in Nederland heers kommer ná dit geblyk het dat ’n supervulkaan so 120 km van die Duitse grens enkele dae gelede ondergronds “geroer” het. Dit is met ’n supervulkaan in Duitsland verbind, en in Duitsland woel dit onder die aarde. Ook hier is die agterstand al groot.

Baie mense, onder wie die eindtydprofete, glo daar is nou ’n toename in aardbewings as vooraftekens dat die eindtye op hande is. Baie dink niks daarvan om bloot op te merk dat die “toename” ’n feit is nie. Die harde werklikheid is dat die aarde die afgelope paar jaar al minder sterk aardbewings beleef. Een van die moontlike oorsake van die hipotese is ’n groepie geowetenskaplikes wat onlangs ’n effense toename in groterige aardbewings in 2018 voorspel het weens die aardkors wat vanjaar effens sou krimp, en die nuwe druk wat afgelei sou moes word.

Die werklikheid is dat die aarde jaarliks sowat ’n miljoen aardbewings van alle sterktes beleef. Dit lewer data op wat op komende aardbewings of vulkaniese uitbarstings kan dui, en so het 2017 se waarnemers meestal slegs aardbewings van 6 of meer bekyk. Daar was vanjaar al sewe aardbewings wat 7 of meer gemeet het en een bo 8 vanjaar.

Dit volg ná die aarde verlede jaar sewe bo M7 beleef het, en een bo M8. Dit is aansienlik minder as die net minder as 20 die afgelope paar jaar. Botswana, met ’n skudding van 6,5, het daarmee een van die kragtigste aardbewings in 2017 opgelewer.

Die Indonesiese eiland Lombok is in Augustus deur verskeie aardbewings getref wat honderde lewens geëis het. Foto: AP Photo/Firdia Lisnawati

Daar is nie altyd ’n verband tussen die sterkte van aardbewings en die dodetal nie. Die diepte van die episentrum, die nabyheid daarvan, die bodemtipe, die gehalte van die bouwerk op die oppervlak en vele ander faktore speel ’n rol. Wêreldwyd is ontsteltenis dat Italiaanse howe ’n groep geoloë wat gehuur is om vas te stel of daar ’n gevaar vir ’n dodelike aardbewing in ’n streek is, en verkeerd was, strafregtelike rekords opgelê het.

Die voorspelling van vulkaniese uitbarstings is dikwels bitter na aan onmoontlik. Dikwels is daar egter vooraftekens.

Vulkane, net soos groot aardbewings, laat gewoonlik ’n baie diep argeologiese voetspoor. Veral die voetspore van aardbewings, of selfs tsoenami’s wat veroorsaak is, kom op bykans enige plek op aarde voor waar daar vroeë beskawings was. Dit sluit die ou Egipte, Mesopotamië, Turkye, Israel, Italië, Algerië, Nieu-Seeland, Indonesië, Japan, China, Peru, Mexiko, Venezuela en die Karibiese See-gebied in.

Dit het egter ook geïsoleerd en dikwels onder die see gebeur. Tydens die soektog na diamante op die ondersese berg, Vema, is verskillende kleure basalt na die oppervlak gebring.

Ook vulkaniese gebiede neig om weens die vrugbare grond wat dikwels voorkom, nie net mense te trek nie, maar te sorg dat baie uiters traag is om te vlug as die waarskuwings kom.

Dit lyk tans of daar ’n vlaag vulkaniese uitbarstings wêreldwyd is. Uitbarstings in Hawaii, Guatemala en Indonesië het saam 62 mense se dood veroorsaak en miljoene dollars skade aangerig. Kenners meen daar is geen verband nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

christa ·

die baie aardbewings en verspoelings is vir my net ‘n bewys dat die Bybel die waarheid praat. Die tekens dui vir my op die “laaste dae” Die Byb el praat van die “laaste dae” waar die kinders teen ouers gaan opstaan en van oorloe en verwoesting. Die koms van die Almagtige is baie naby.

Eish ·

Want die een nasie sal teen die ander opstaan, en die een koninkryk teen die ander; en daar sal aardbewings wees op verskillende plekke, en daar sal hongersnode wees en beroeringe. Hierdie dinge is ’n begin van die smarte.
MARKUS 13:8
Die Woord se dus niks van n toename in aardbewings nie. Dit sê slegs dat daar aardbewings op verskillende plekke sal wees.

Paul ·

Maar natuurlik! Veral as die aardbewing se naam Zuma is, en die vulkaan Cyril.

Realis ·

Moenie uit die oog verloor dat sosiale net werke en algemene dekking dit heeltemal moontlik maak dat almal van alle aardbewings kan weet of hoor. Dit was nie die geval selfs so onlangs soos 20 jaar gelede nie.

adriana ·

Jip dit neem defnitief toe – net soos wat dit ook in Bybel staan- gaan gebeur.

marous ·

Weet wel korrupsie , diefstal , bedrog , leuns is sekerlik 1 000 000 op die Richter skaal .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.