Nuuskommentaar: Neerskiet van MH17, staatsrede en staatsgeheimhouding

Die wrak van die Maleisiese passasierstraler, MH 17. Foto (AP Photo/Dmitry Lovetsky, File)

Twee nuusgebeure: Die een, die staatsrede, kry oorvloedige mediadekking, en die ander, die aankondiging van die verhoor van vier verdagtes in verband met die neerskiet van die MH 17, kry plaaslik feitlik geen mediadekking nie. Hoe ’n groot rol speel strategiese oorwegings agter die skerms in die nuusdekking wat ’n gebeurtenis kry?

JIT, die multinasionale ondersoekspan na die neerskiet van die Maleisiese passasierstraler MH 17 oor Oekraïne in 2014, het pas aangekondig dat vier persone wat as die hoofverdagtes geïdentifiseer is, volgende jaar in Maart sal teregstaan. Altesaam 298 mense het omgekom in dié lugramp.

Die vier wat aangekla gaan word, is die Russe Igor Girkin, Sergei Dubinsky en Oleg Pulatov en die Oekraïner Leonid Kharchenko.

Om die een of ander rede is dit nie oral groot nuus nie en in Suid-Afrika skaars nuus.

In Nederland en België, wie se burgers onder die meeste slagoffers tel, is dit verstaanbaar groot nuus. Die reaksie elders is egter kleiner as wat verwag sou kon word van so ’n belangrike nuusgebeurtenis wat die wêreldaandag behoorlik beetgepak het. Een moontlike verklaring is dat Rusland, na wie die vingers erg beskuldigend wys, dit steeds ontken, en ’n alternatiewe werklikheid op die wêreldmening probeer afdwing. Rusland het onder meer sy vetoreg in die VN gebruik om te verhoed dat ’n internasionale tribunaal die saak ondersoek. Volgens berigte is dit steeds uiters politiek inkorrek om in Rusland selfs net te praat oor ʼn moontlike Russiese betrokkenheid.

Die taakspan wat die MH17-ondersoek behartig bestaan uit die lande wat daardeur geraak is, naamlik Maleisië, Nederland, België, Oekraïne en Australië.

Vanuit ’n geo-politieke oorweging is Rusland egter strategies so belangrik vir sommige lande dat dit uiters ongeleë is om die vinger na dié land te wys. Hoewel die media geo-politieke oorwegings, reg of verkeerd as beweegrede noem, is daar stellig baie ander redes betrokke, soos ekonomiese oorwegings, en natuurlik belangepolitiek.

In die internasionale politiek speel die waarheid nie ’n besonder belangrike rol nie.

Elke nou en dan is daar byvoorbeeld taamlike ontsteltenis onder Afrikaanssprekendes oor selfs opgetekende weergawes van hoe die Britte die oorsaak vir die Anglo-Boereoorlog beskou, en die Britse optredes in die oorlog edel voorstel. Tot die konsentrasiekampe word as vlugtelingkampe uitgebeeld.

Seker die bekendste verswyging van ’n skandalige geskiedenis is Turkye se formele skandalige toesmeer van die Armeense volksmoord deur die Jong Turke. Volgens die Turkse literatuur het die volksmoord gewoon nie plaasgevind nie, en dié standpunt word op ander lande afgedwing. Die ontkenning is so volledig dat Turksgebore Nederlanders al as parlementslede moes bedank omdat hulle weier om die volksmoord te erken.

Hoewel dit gelukkig nie gister in die staatsrede so opgeval het soos byvoorbeeld in pres. Cyril Ramaphosa se Versoeningsdag-toespraak in 2018 nie, is die indruk tog gelaat dat die sogenaamde wit weergawe van die geskiedenis van die land nie meer bestaan nie. Die aanslag van sy “Versoeningsdag”-toespraak het nogal baie ooreengestem met me. Zindzi Mandela se Twitter-tirade teen wit mense. Bykans alles, soos die motiewe vir die Voortrekker-strafkommando wat Bloedrivier insluit, is deur Ramaphosa só omgekeer dat dit eintlik ’n heel “nuwe” weergawe van die geskiedenis verteenwoordig.

Pres. Cyril Ramaphosa. Jairus Mmutle/GCIS

Min dinge vertel byvoorbeeld die uiteenlopende verhale van die land se geskiedenis so duidelik soos die verhaal van grondbesit. Sowat 85% van die swart mense glo wit mense het hul grond bekom deur dit van swart mense te steel. Baie min wit mense, maar wel ’n groeiende persentasie, glo dieselfde, waarskynlik namate meer wit mense deur skole aan die diefstal-weergawe blootgestel word. Die ad hoc-komitee oor eiendomsbesit beskryf die swart weergawe as “die groot leuen”. Zuma, wat ook die gronddiefstal-weergawe verkondig het, het hieroor klagtes van haatspraak op die lyf geloop (waarvan uiteraard dadels gekom het). Uit die staatsrede, so lyk dit, word Zuma se siening nou as die Suid-Afrikaanse “konsensus” voorgehou.

Wat die MH 17-verhaal betref het Maleisië se premier ook koue water oor die JIT-bevindinge gegooi. Volgens die 93-jarige premier, Mahathir Mohamad, is daar nie ’n greintjie bewys dat Rusland betrokke was nie. Mohamad is egter ’n bekende ontkenner en aanhanger van samesweringsteorieë, en het byvoorbeeld begin verkondig die VSA was self vir die aanvalle op die Wêreldhandelsentrum en ander teikens verantwoordelik om ’n verskoning te hê om die Moslemwêreld te kan aanval. Intussen onderhandel Mohamad met Rusland oor die uitbreiding van handel, soos die aankoop van Maleisiese palmolie in ruil vir wapens. Dit terwyl die EU die aankoop van palmolie probeer afskaal, veral om te keer dat dit in bio-vliegtuigbrandstof gebruik word.

Ramaphosa se staatsrede het taamlik erg onder kritiek deurgeloop. Die hoofrede is die gebrek aan besonderhede oor hoe die ideale bereik kan word, maar die feit dat die regering oor die afgelope aantal jare so wild met die waarheid omgegaan het, maak baie Suid-Afrikaners kopsku om iets uit daardie oord as die waarheid te aanvaar.

Terwyl daar mense oor die hele wêreld heen is wat nie glo dat pres. Wladimir Poetin tot iets anders as die reine waarheid in staat is nie, glo ander die waarheid of nie hang af van watter weergawe die aanneemlikste onder die omstandighede is. Die ondersoekers het daarom ook reeds seker gemaak dat die wêreld insae kry in die bewyse, soos opnames van die aangeklaagdes se telefoongesprekke. Die volledige opnames word vir die verhoor teruggehou, maar nou kon die wêreld self hoor hoe hulle by die gebeure betrokke was.

Bronne

https://www.trouw.nl/democratie/dankzij-kritiek-van-maleisie-op-mh17-onderzoek-staat-rusland-niet-geisoleerd-~a4e7b7db/

https://www.bbc.com/news/world-europe-48691488

https://www.trouw.nl/home/de-zoektocht-naar-mh17-verantwoordelijken-is-openlijke-confrontatie-met-de-top-van-het-kremlin~ab82cac9/

 

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Andreas ·

My probleem betreffende die staatsrede is dat hy/die staat wil als self doen en los niks, of bykans niks vir die privaat sektor nie, ek glo die staat het net nie die kapasiteit en die kundigheid nie en die droom is net té ambisieus. En dan het hy net oor Eskom gesê gebruikers sal vir elektrisiteit moet betaal maar niks verder oor die ontbondeling nie.

Cyril se superstad kan seker herrys daar waar die plaas Akkerland in Limpopo is en waar die plan vir ‘n kolossale steenkoolmyn dalk nog nie laat vaar is nie.

Maar nou ja as Cyril groot kan droom, wat van as die Afrikaner hom voorspring met so ‘n stad waar Afrikaans die spreektaal is, Afrikaanse skole, Afrikaanse kerke, Afrikaanse woongebiede ‘n Afrikaanse universiteit?

Andersins kan almal wat nie Afrikaans is nie, uit Pretoria na die nuwe stad toe trek en al die Afrikaners trek Pretoria toe, daar waar die Unie Geboue is. Dit kan nogal werk want Solidariteit en Afriforum sit reeds daar in Centurion.

Andreas ·

Zindzi Mandela. Herman, ek het tog die vrymoedigheid om hierdie nota te los, dit sal wel deur iemand wat hier lees na verdienste gebruik kan word. Ons lees die afgelope dae wat hierdie dame kwytgeraak het, of sy nou ‘uitgelok’ was al dan nie. Ook die manier waarop dit nou na die tyd deur die minister hanteer is laat veel tewense oor, maar dit strek verder. Mens kan nie, veral die ‘minderhede’ (kom ons gee hulle ‘n naam, witmense of die Afrikaner) genoeg daarop attent maak, soos jy/julle meer as een keer in die verlede oor geskryf het om omsigtig met woorde om te gaan.

Laat ons weer hieruit leer, laat dit ons aanspoor om nog ‘n keer en nog ‘n keer, al is dit tot vervelens toe, aan ons menswees te slyp dat ons van ‘n hoër standaard ingestelheid kan wees, waardes uitleef en dat ons nie vieslikhede uiter nie, ook nie teenoor ander nie, dat ons nie rassiesties is nie, ook moet ons waak teen ‘n refleks twiet , skriftelik, of iets wat ons direk aan ‘n ander toesnou. As mens waardig uit so ‘n situasie opstaan, leer mens jouself nie net beter ken nie, mens put daaruit en dit maak jou net nog ‘n beter mens.

Attie. ·

‘n Nuwe stad vir ons land, Cyralton, kan by Bronkhorstspruit kom. Daar is reeds reeds die grootste Islam kerkin Afrika en die staat sal nie te duur betaal vir die saaiplase in daardie omgewing nie. Kyk dit werk so, elke predikant in die land begeer ‘n gemeente van sy eie en ook ‘n kerkgebou waarvan hy die eerste sooi gespit het. Gun Cyral sy begeertes en laat hom lugkastele bou soos hy wil.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.