Nuuskommentaar: Nege lewens van neet wat kleef opgebruik

Jacob Zuma. Foto: Elmond Jiyane

Die onvermydelike vooruitsig om roemloos in ’n mosie van wantroue in die parlement die trekpas as president te kry, het Jacob Zuma se koppige geklou aan die presidentskap gebreek. Om die kroon te span, sou die mosie nog deur die EFF ingedien én ingelui word.

Ure nadat oudpres. Jacob Zuma nog in ’n TV-onderhoud gesê het hy weier om te bedank, het hy met onmiddellike inwerkingtreding die tuig neergelê. Adj.pres. Cyril Ramaphosa, die man wat Zuma so kliphard probeer voorkom het om sy opvolger te word, word waarnemende president.

Dit moet egter nie uit die oog verloor word nie dat vandag, Ramaphosa se eerste volle dag in die amp, saamval met die eerste hofverskyning van mense in ’n saak wat regstreeks met die staatskaping verband hou. Dit lyk so amper of die Valke net gewag het vir ’n vaste sekerheid dat die eindfluitjie vir Zuma gelui het voor op onder andere die Guptas toegeslaan is. Luidens berigte is dit moontlik dat al drie broers in hierdie saak tereg gaan staan.

Hiermee word die pilare van die alternatiewe staat, die sogenaamde Zupta-ryk, waarin Zuma ’n groot aandeel gehad het, ook omgetrek en is Zuma van omtrent alles gestroop wat hy wettig en onwettig opgebou het.

Trouens, die direkteur van nasionale vervolging, adv. Shaun Abrahams, moet binnekort aandui of Zuma op meer as 800 aanklagte van bedrog tereg moet staan.

Jacob Zuma. Foto: Elmond Jiyane

Tog glo Zuma dat sy gedwonge bedanking onregverdig was. Hy het dan niks verkeerds gedoen nie, en hy glo hy was ’n goeie president.

Dit staan nogal in skrille kontras met die Vlaamse koerant, De Standaard, se berig oor Zuma se bedanking. “Met zijn vertrek komt er een einde aan Zuma’s negenjarige presidentschap, dat sterk gekleurd was door allerlei corruptie- en andere schandalen. Hij werd beschuldigd van verkrachting in 2006, en hij maakte zich belachelijk door te zeggen dat hij geen kans liep op hiv-besmetting omdat hij na de seks een douche genomen had. Er lopen bijna achthonderd aanklachten tegen hem wegens corruptie. Hij gebruikte belastinggeld om zijn huis te laten renoveren, en weigerde dat in eerste instantie terug te betalen. En dan waren er natuurlijk de banden met de omstreden familie Gupta.” (Met sy vertrek het daar ’n einde gekom aan Zuma se negejarige presidentskap, wat deur korrupsie- en allerlei ander skandale gekenmerk is. Hy is in 2006 van verkragting aangekla en het sy naam met ’n plank geslaan deur te sê hy loop nie gevaar om Vigs op te doen nie omdat hy ná die seks gestort het. Byna 800 aanklagte van bedrog hang oor sy kop, en hy het belastingbetalersgeld gebruik om sy privaat woning op te knap, en in die eerste instansie te weier om self daarvoor te betaal. En dan was daar die bande met die omstrede Gupta-familie.)

Plaaslike ontleders het die roede ook nie gespaar nie. Die bekende Theo Venter beskryf hom as die swakste president wat Suid-Afrika nog gehad het. Dr. Piet Croucamp sê Jesse Duarte, lid van die ANC se top-ses en Zuma-lojalis, “lieg deur haar tande” toe sy in ’n gloeiende lofrede ná Zuma se bedanking sy rol in die nasionale ontwikkelingsplan besing.

Jacob Zuma. Foto: Elmond Jiyane

Zuma sal ook onthou word vir sy “godsdiensuitsprake” wat daartoe gelei het dat die meeste hoofstroomkerke hom voor stok gekry het. In reaksie het hy net nog meer sulke uitsprake gemaak, soos om ’n plattelandse gemeenskap te dreig dat die voorvaders hulle sal laat les opsê as hulle nie ANC stem nie.

Hy het behoorlik berug geword vir die vreemdste uitlatings wat hy veral oor Kerstyd, wanneer sy adviseurs met vakansie was, gemaak het. Hy het dit gewoonlik in Zoeloe voor landelike gehore gemaak, maar daar sou wel iemand van die stad in die gehoor wees wat Zoeloe verstaan – met die gevolg ’n dag of wat later was dit wêreldkundig, soos Zuma se honde-uitlating.

Die laaste woord is nog nie van Zuma gehoor nie, en veral as besluit sou word om met strafregtelike aanklagte teen hom voort te gaan, sal hy in die openbare oog bly.

Ten minste kry die ekonomie nou blaaskans teen die aanslag van konstante skadelike opmerkings en stellings van Zuma. Niemand sal hulle nou meer hoef te bekommer oor Zuma se betreklik onlangse stelling dat die ANC ’n kommunisties-sosialistiese staat voorsien nie.

Cyril Ramaphosa

Die nuwe president van die ANC, Cyril Ramaphosa. (Foto: GCIS)

Gaan die koppe nou rol? Dit sal erg teleurstellend wees as verskeie ministers, soos onder andere Faith Muthambi, se koppe nie rol nie. Ook onder ander parlementslede kan die snoeiskêr ingelê word onder Zuma-lojaliste wat skynbaar slegs om een rede ontplooi is – om sake te smoor wat voor portefeuljekomitees beland waarby die president ’n regstreekse of onregstreekse belang het.

Nog ’n vraag is of Zuma se verwydering nie tot ’n “sagter” verhouding tussen die ANC en die EFF sal lei nie. Die bestaan van die EFF is immers grootliks te wyte aan ’n persoonlike breuk tussen Zuma en Julius Malema, destyds heethoofleier van die ANC-jeugliga. ’n Gesindheidsverandering kan daartoe lei dat die DA opnuut beheer oor verskeie metro’s verloor, wat nou danksy die EFF se gedoogde steun in opposisiehande is.

Maar, waarsku verskeie ontleders, Ramaphosa is ook nie die ridder op die wit perd nie. En dit gee opposisiepartye moed om kort voor lank met die ANC klaar te speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jerry ·

Die skrywer en opposisie partye sal F.W. de Klerk en sy span se foute herhaal deur CR te onderskat en te ondergrawe. CR is goed geskool, toon sterk leiereienskappe, maak die regte uitsprake en beskik oor die vermoee om uit te styg bo kleinlike politiekery van Zuma en Malema. CR gaan die ANC verenig ten spyte van Zuma lojaliste se pogings om die ANC verder te laat skeur en dan gaan Zuma “just fade away”, hopelik in die tronk.

Sarel Strydom ·

Ek sien egter nerens ‘n sterk politieke leier nie. Nie ANC of Opposissie nie.

christa ·

stem CR het leierskap einskappe maar hy bly ‘n ANC. Ek het geen vertroue in hulle nie alhoewel CR ‘n goeie indruk maak.

Nico K ·

Dit is baie interessant dat daar so vinnig toegeslaan is op die Guptas en mense reeds in hegtenis geneem is. Ek dink nie hulle het dit verwag nie. Daar is ‘n paar mense wat nou baie vinnig dokumente gaan verbrand.

Pieter ·

Wat my baie verbaas het, en ek kon dit nie glo nie, is dat toe die skrif aan die muur, al verlede week, vir Zuma aangebreek het en dit duidelik was dat dit net ‘n kwessie van tyd is voor hy van sy presidentskap onthef sou word, dat die Guptas jou werklik nie toe al landuit padgegee het nie, mens sou in effek verwag het dat hulle al hele tyd gelede sou verkas het. Onverstaanbaar dat hulle kon dink hulle sou hier teen vervolging veilig wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.