Nuuskommentaar: Nicht Schweinefleisch und Kartoffeln Frau Merkel – Kaviar (Nie varkvleis en aartappels nie mev. Merkel – kaviaar)

Zuma en Merkel. Foto: Elmond Jiyane

Zuma en Merkel. Foto: Elmond Jiyane

Kan pres. Jacob Zuma met sy ampsbesoek aan Duitsland die lug suiwer wat minister Rob Davies en Zuma self vertroebel het? Wat wel duidelik is, is dat Zuma as blink Stefaans nie die Duitsers gaan beïndruk nie en dat hulle bloot protokol-hoflikheid aan die dag gaan lê.

Zuma se ampsbesoek aan Duitsland kan op baie maniere beskou word nadat Suid-Afrika, onder Zuma se leiding, sy heil sterk by China gesoek het en handel met die Weste afgeskeep het. Daar was veral vanuit Duitsland reperkussies en ministers moes inspring en paai.

Daarna het Zuma in een van sy onbekookte oomblikke ʼn striemende aanval op die Weste en Wes-Europa in die besonder, geloods oor die oorsaak en hantering van die vlugtelingkrisis in Wes-Europa.

Nou is die vlugtelingkwessie, benewens die wedersydse handel, op die tafel. Zuma het reeds gesê Duitsland en Suid-Afrika kan baie by mekaar leer oor die vlugtelingkwessie – ʼn radikale omkeer en witvoetjiesoekery as toe hy eers lakens aan die Weste uitgedeel het.

Wat egter opval, is dat die internasionale media die besoek as ʼn blote nietigheid beskou en kwalik daaraan aandag skenk – as daar aandag aan geskenk word. De Standaard rep byvoorbeeld, soos die Duitse Focus Online, nie ʼn woord oor die besoek nie en The Telegraph net so min. De Standaard dra wel ʼn berig wat handel oor die baie seuntjies wat in Suid-Afrika gebore is nadat die land die Wêreldbekersokkertoernooi aangebied het. Die  besoek is egter nog nie verby nie en nuusdekking kan dalk opvang, maar dit lyk asof die Suid-Afrikaanse nuusdekking oor die gebeure die internasionale belangstelling gaan oortref.

Bygesê, die byna legendariese oud-kanselier van Duitsland, Helmut Schmidt, se afsterwe het met die ampsbesoek saamgeval en oorheers die Duitse mediadekking.

Nogtans het Angela Merkel haar protokol-rol teenoor Zuma stiptelik nagekom en die rooi tapyt uitgerol. Merkel het Suid-Afrika as een van die belangrikste Afrikalande geprys en ook na die omvang van handel tussen Suid-Afrika en haar land verwys.

Al kan mens kwalik aan ʼn groter onpaar van regeringshoofde dink, het Merkel Zuma as gelyke behandel.

Maar in die praktyk is dit ʼn geval van gelyk en ongelyk tegelyk. Op die lys van bes besoldigde regeringshoofde pas Zuma ewe snoesig tussen Merkel en die Britse premier, David Cameron in. Wanneer Zuma se salaris  egter uitgedruk word in terme van elke miljard dollar wat sy land se BNP beloop, verdien Zuma nege keer meer as Merkel. Dit sluit nie die koste in wat dit die staat kos om sy vier vroue te onderhou nie en ook nie ander byvoordele, soos besteding aan sy private woning nie. Tot verhouding kry Zuma 27 keer meer as Obama.

Kortom, Zuma bied die swakste waarde vir geld ter wêreld.

ʼn Besliste simptoom van ʼn piesangrepubliek sou sommiges sê. ʼn Dikvellige ongevoeligheid teenoor sy land se armes en werkloses, sou ander sê.

Zuma, by wyse van spreke, is ʼn man van kaviaar en nie die tradisionele Duitse gereg van varkvleis en aartappels nie. ʼn Regte blink Stefaans.

In plaas daarvan om Zuma met ʼn tang te hanteer, is hy met ʼn volle militêre parade verwelkom en ʼn erewag-toekenning aan hom oorhandig.

Maar gaan Zuma se besoek in die praktyk die lug suiwer oor die troebel aspekte waarvoor veral minister Rob Davies verantwoordelik is? Ja, daar sal stellig gesê word alles vlot nou (weer) seepglad, maar gaan dit lippediens wees soos wat telkemale met die land se verbintenis tot AGOA gebeur het en Suid-Afrika nou in ʼn knyptang laat beland het?

Merkel het immers in die voormalige Oos-Duitsland grootgeword en haar pa is in ʼn stadium deur die kommuniste in die tronk gestop. Sy was nadat sy aan bewind gekom het, die groot dryfveer agter die peperduur projek om die voormalige Oos-Duitsland se ekonomie en welvaart, wat deur die kommuniste afgetakel is, min of meer op peil met dié van die res van Duitsland te kry.

Haar adviseurs sal haar wel inlig oor hoe Zuma onlangs gesê het dis die ideaal van die drieparty-alliansie om ʼn sosialistiese, kommunistiese staat in Suid-Afrika te skep. Dit gaan nie juis help om die Duitse beursie oop te kry nie – ʼn beursie wat in elk geval maar dunnerig is danksy die ekonomiese probleme waarmee die wêreld nou te kampe het.

Wanneer die praatjies en gebare wat protokol vereis het wegsterf, sal gesien word wat die besoek in die praktyk werklik opgelewer het.

Die SAUK-TV kan probeer om die besoek te gebruik om Zuma presidensieel voor te stel, maar die wind waai wes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Eddie ·

Regtig kon hulle nie iemand anders gestuur het wat weet wat om te se en Suid Afrika in n beter lig te sit nie. Zuma is besig om alles vir almal op te mors. As hy sy mond oopmaak dan praat hy julle weet wat. Eish!!!!!!!!!!!!!!

Rynhardt ·

Zuma se skielike besoek aan Duitsland is net n rookskerm vir SA! Die Anc het n anti-Westerse houding, veral teenoor Europa.Sy gewide keuses bly, China, Rusland, Indie en Brasilie( wie se ekonomie aan die kwyn is).Met Zuma se besoek gister is dit juis duidelik gemaak dat Duitsland honderde maatskappye in SA het, en naas China (Zuma en Anc se groot liefling), is SA Duitsland se tweede grootste handelsvennoot! Wat Merkel en talle Duitsers egter nie besef nie, is dat Zuma en Anc SA se ekonomie vernietig het met die implementering van die Vryheidsmanifes! Duitsland en Europa is nie eens bewus van die Vryheidsmanifes oftewel “Freedom Charter” nie! Met die chaos wat voorle in SA, wag n groot “verrassing” op Duitse maatskappye.Talle gaan sluit en dit bring my by die volgende.Gaan Duitsland kom inmeng, om te red wat daar te redde is?Hy gaan beslis nie alles wil verloor nie.Geen regering (Anc ingesluit) kan n ekonomie weer opbou wat hy vernietig het nie! Dit is soos n ou bokser wat n “come back” wil maak, maar op die harde manier leer dat sy tyd lankal verby is.Tans mislei Zuma net die Duitsers met hul gesprek!

chrisp ·

Ek hoor die gemiddelde IK van die RSA het gestyg en die van Duitsland het gedaal.

Enige idees?

Harry ·

Hi Herman. Ek hou baie van jou artikels. Een ding wat my dwars in die krop steek, en dit is nie net jy nie maar ook baie skrywers en sprekers, en dit is die word reperkussies. Dit is ‘n vreeslike anglisisme. Ek sou die gebruik van die word nog kon verstaan as daar geen afrikaanse woorde was wat kon gebruik word nie maar daar is: nagevolge, gevolge om maar twee te noem.

alida ·

Vir wat stuur hulle hom oorsee.? Net om ons weereens in die verleentheid te stel. Ek dink nie hy weet eers hoekom hy daar is nie !!!!

Jan maak n Plan ·

Nr 1 word nooit gestuur nie. Die vrouens moes gaan vir Krismas Shopping in Duitsland en toe betaal die belasting betaler in SA weer soos gewoonlik daarvoor.

HEVW ·

Het Duitsland dan nie n ambasade in SA nie? Geen land sal na behoorlike inligting vir n oomblik huiwer om sy rug op SA te draai nie. Of praat die nodige geldjies ook maar hart. Behalwe die verspulling van z en die regering het SA ook die melkkoei van die wereld geword.

Roger Rothner ·

Herman doen sulke goeie skryfwerk vir Sterre en Planete.
Ek wonder hoekom spring hy so rond in bogemelde skryfwerk

Herman Toerien ·

Roger, jy het ‘n fyn waarneming. Een van die gevolge van die gesamentlike uitwerking van die chemoterapie en die hormoonbehandeling is dat ek sleg slaap, en hierdie stuk is in twee sessies van midernagtelik en vroegoggend opgestel. Dit het ook baie navorsing geverg, want ek wou bv seker maak die buitelandse en Duitse media beskou dit as ‘n “non event” voor ek dit stel. In die proses het die stuk lank geword, en het ek bedoel om die tegniek te gebruik waar lesers later met feite / argumente verfris word wat reeds gebruik is, maar deur die bewoording van ander bronne as vertrekpunt te gebruik. So iets kan baie maklik lomp oorkom as iemand nie self behoorlik verfris is nie.
Ek het werklik nie probeer om gehalte in te boet terwyl ek chemo gekry het nie (ek het gister volgens beplanning my laaste, minstens vir eers, gekry) en na ek dit opgestel het, werk my vrou daardeur en proeflees dit voor dit ingestuur word. Ons het die kwessie ook met hierdie sstuk bespreek maar kon nie aan ‘n beter opsie dink nie, en was ook vir tyd gedruk om betyds by die hospitaal te kom. As iemand my egter nie wys op so iets nie, sal ek dit nie noodwendig besef nie en dankie daarom vir die uitwys.

Die paashaas ·

Reperkussie is ‘n pragtige woord uit die 15de eeuse Frans (répercussion) en Latyn (repercusionem) en hoegenaamd nie ‘n anglisisme nie. Net vir jou inligting Harry.

Herman Toerien ·

Dankie Paashaas.
Dis hoe ek dit ook gehad het. Volgens my kennis beteken “repukussie” en “gevolge” nie presies dieselfde nie. Ek het in die definisies gaan dolwe – ook Engelse, en oor die algemeen is ‘n repurkusssie nie positief nie. Dit kan onverwagse gevolge wees ook. “Gevolg” maaak bloot ‘n onderdeel van die begrip uit.

Andre ·

Maar is dit reperkussie, repukussie of repurkussie. Sien al 3 hierbo.

heni seemann ·

angela merkel is een van die mees ingeligte politici en nie ‘n vrou vol fiemies nie… sy weet wat sy doen en verhandel soos n skaakspeler…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.