Nuuskommentaar: Is nie-rassige politiek in Suid-Afrika moontlik?

Argieffoto

Argieffoto

Die dilemma wat die Demokratiese Alliansie oor die “ja” of “nee” oor neo-apartheid beleef, is nie net tot die DA beperk nie. Van al die partye in die parlement het net die Vryheidsfront Plus teen die wysigingswetsontwerp gestem wat die DA in die warm water laat beland het.

Meer as twintig jaar nadat die destydse Nasionale Party die laaste apartheidswet uit die wetboek verwyder het, vind partye dit steeds (of dalk al weer?) baie moeilik om as werklike nie-rassige partye te bestaan. Ja, baie partye is formeel nie-rassig, maar word na faktore soos die lede se rassesamestelling, en die kultuur van styl gekyk, kan die politiek-korrekte woordjie “oorwegend” maklik aan so ‘n party gekoppel word.

Om ‘n paar faktore kortliks onder die loep te neem.

Peilings toon hoekom dit so ontsettend moeilik is om as party werklik nie-rassig te wees. ‘n Peiling van Pondering Panda het byvoorbeeld getoon dat die meeste jong wit, bruin en Indiër-respondente neo-apartheidswetgewing as rassediskriminasie ervaar, terwyl die meerderheid jong swart respondente dit nie so beskou nie. Dit blyk nie net ‘n Suid-Afrikaanse verskynsel te wees nie. Met die verhoor in die Amerikaanse Supreme Court oor die grondwetlikheid van twee deelstate se afskaffing van rassekwotas vir universiteite se toelatingsbeleid is die meeste betogers swart.

Die meestersverhandeling van die Matie Charl Swart toon duidelik dat sowat 85 persent swart respondente glo wittes het hul grond bekom deur dit van swart mense te steel. Onder wit, bruin en Indiër word min of meer die teenoorgestelde resultaat getoon.

Partye wat pertinent hul oog op baie swart stemme het, sal neig om te swyg oor plaasmoorde, en waar dit wel aangespreek word sal dit dikwels na provinsiale leiers “gedelegeer” word.

Wanneer partye hul teikenmarkte bepaal het, moet met die faktore wat verskillende persepsies by verskillende bevolkingsgroepe voed rekening gehou word.

Hoe hanteer partye die nie-rassige opsie?

Die UDM het, toe dit onder die gesamentlike leierskap van Bantu Holomisa en Roelf Meyer tot stand gekom het, ‘n werklike nie-rassige aanskyn gehad. Dit het die Afrikaanse media ‘n rukkie geneem om te besef die party se naam is nie die Verenigde Demokratiese Beweging nie – dit het slségs die Engelse naam en daarmee was die fokus van die party duidelik. Met Meyer se onttrekking het die UDM se steun grootliks tot enkele Xhosa-stamme in en om Mtata beperk geraak, en mettertyd verder gekrimp.

Cope het aanvanklik moeite gedoen om as nie-rassige opsie die politiek te betree. Dit was gou onder die Shilowa-ondersteuners met hul magspel duidelik dat daardie faksie ‘n taamlike duidelike swart visie gehad het, hoewel dit ontken is. Hoewel heelwat wit en bruin LP’s en ander prominente lede steeds in Cope aanwesig is, toon die party se steun aan die neo-apartheidswetgewing dat dié party se fokus ook “oorwegend” swart is.

Met die IVP is dit nie veel anders gesteld nie. Die party het prominente wit gesigte, maar die steunbasis lê steeds diep gesetel in die Zoeloe-bevolking waar dit stewig deur die ANC en die NFP uitgedaag word.

Die ACDP is die party wat waarskynlik die beste aanskyn van nie-rassigheid gehad het, en daarom word ‘n bietjie meer volledig hier stilgestaan.

Die ACDP is in werklikheid ‘n teksboekgeval. As nis-party vir Christene waar ‘n duidelike voorkeur gegee word aan Christene uit die Pinkster-charismatiese dampkring het dit op verskillende vlakke ‘n duidelike nie-rassige aanskyn. Voor die party in onlangse jare erg steun ingeboet het van ‘n hoogtepunt van sewe LP’s en verteenwoordiging in die meeste provinsies se wetgewers, het ‘n ontleding van stempatrone daarop gedui dat die party onder wit kiesers ongeveer tien keer soveel steun geniet as onder swart kiesers. Wanneer die bevolkingsgetalle in berekening gebring word, het die party ongeveer ewe veel wit en swart stemme gekry. Die party het ook danksy ‘n groep sterk bruin leiers heelwat bruin stemme, veral in die Wes-Kaap gehad, en ook ‘n duidelike Indiër-verteenwoordiging. Op die oomblik is die drie oorblywende LP’s twee wit, en een bruin (wat die leier, Kenneth Meshoe in die parlement vervang het).

By die OVK is slegs die Engelse naam geregistreer, en alle nuusverklarings in die parlement word slegs in Engels uitgereik. Daar is al gespot dat die persone wat die mediakakeling-aanstellings doen, besonder talentvol moet wees om in die Wes-Kaap, waar Afrikaans die grootste taal is, die een aanstelling na die ander te kan doen sonder dat een iets in Afrikaans kan uitreik.

Een van die belangrikste norme om “nie-rassige” partye se fokus te bepaal is om te kyk na die aantal mediaverklarings wat die partye op nasionale vlak oor plaasmoorde, en spesifiek, plaasaanvalle uitreik. In ‘n stadium het nog ‘n grusame plaasmoord te midde van ‘n vlaag plaasgevind, en dit het saamgeval met ‘n vergadering van provinsiale leiers met Meshoe. Een van die provinsiale leiers het ‘n verklaring saamgeneem, in Afrikaans en Engels, waarin Meshoe die aanvalle veroordeel. Meshoe het egter geweier om dit uit te reik “omdat die ANC dan sê ek is ‘n meeloper van die Boere.” Die provinsiale leier is verstaanbaar lank nie meer lid van die ACDP nie. Onlangs het die ACDP in ‘n tussenverkiesing slae gekry by die Christen-Demokratiese Party (CDP) wat wel gereeld mediaverklarings oor plaasaanvalle uitreik.

 

Die Demokratiese Alliansie:

Die DA is die party wat nou – geregverdig of nie – vir die kritiek uitgesonder word. As amptelike opposisie moet hierby stilgestaan word.

Na die Demokratiese Alliansie aanvanklik onder sy Afrikaanse en Engelse name as politieke party by die OVK geregistreer is, dui die jongste OVK-lys aan dat die DA nou net onder sy Engelse naam geregistreer is. Dit beteken, tensy aktief werk hiervan gemaak gaan word, ook net die Engelse naam op die stembriefies sal verskyn. Op nasionale vlak word so ver bekend nou alle mediaverklarings slegs in Engels uitgereik (wat dit vir verskeie Afrikaanse nuusdienste wat veral Afrikaanse gemeenskapsradiostasies bedien, baie moeilik maak. Trouens, dis al telkemale met die DA opgeneem dat dit so gereelde blootstelling aan sowat ‘n miljoen Afrikaanse luisteraars verbeur).

Die party se fokus is al ‘n geruime tyd baie duidelik: Dit het die Freedom Charter aanvaar, en die DA self beskryf as die werklike verteenwoordiger van oud-pres. Nelson Mandela se nalatenskap. Op Nasionale vlak word effektief oor plaasmoorde geswyg, en met die verloop van Julius Malema se haatspraakverhoor is effektief geswyg, en met die skuldigbevinding is amptelik met die skuldigbevinding fout gevind.

Seun vir SEB kom ook al ‘n geruime tyd.

Op 24 Oktober vanjaar skryf  die DA se Gautengse premierskandidaat, Mmusi Maimane, soos volg in Politicsweb: “That is why we support broad-based Black Economic Empowerment. People who say that they would abolish BEE are irresponsible; they are throwing out the baby with the bathwater. We need BEE that works.”

Na die DA-leier ingegryp het en die DA se steun aan die wysigingswetsontwerp waardeur ras-tellende aksie verskerp word, onttrek het, het een van die vernaamste rolspelers in die DA se aanvanklike steun daarvoor, Sej Motau, aangedui dat hy by sy standpunt bly.

Min ontleders meen die kwessie is nou werklik binne die DA ontlont, en die meeste meen dat die DA hom nou in baie moeilike vaarwaters begeef.

Die DA sal ook met reg kan wonder hoekom juis hierdie party so onder skoot kom, terwyl die ander opposisiepartye wat aktief nie-rassig probeer wees, die roede gespaar word. Trouens, in die sosiale kommentaar het verskeie mense wat hul ontnugtering met die DA te kenne gegee het, aangedui dat hulle nou oorweeg om hul kruisies by een van die ander ja-stemmers te gaan trek.

Is dit dan onmoontlik om werklik nie-rassig te wees?

Die opkoms van die BBB lê vir baie as politiek inkorrek soos ‘n klip in die maag. Die verskerpte fokus op minderheidsregte is egter ook iets wat meer aksente kry namate Europese lande se kulturele karakter deur immigrasie uit ander kulture ‘n stempel afdruk. Die oorspronklike fokus op assimilasie het onder druk gekom na mate meer en meer gemeenskappe die sogenaamde kantelpunt bereik het. (Maroela Media het hierdie beginsel, ook bekend as die keerpunt van rassedinamika, reeds op 24 Junie vanjaar bespreek.)  In Suid-Afrika word die kantelpunt-beginsel goed beskryf deur Kovsies se aanvanklike koshuisintegrasie. As aanvanklik oorwegend wit kampus was die opname van swart studente betreklik maklik, tot van die koshuise se samestelling die kantelpunt bereik het. Skielik was dit nie meer ‘n vanselfsprekendheid dat die TV in die gazellie op die Afrikaanse rugby-uitsending ingestel sou wees nie – ‘n beduidende groep wou sokker kyk.

Kort voor lank het die swart studente kultuureie koshuise gevra en gekry, tot die huidige rektor dit as onaanvaarbaar vir transformasie beskou het.

Nie-rassige partye beleef dieselfde kantelpunt, wat die onderskeie gemeenskappe se persepsies oor die werklikheid in konflik met mekaar bring.

Die DA het nou ‘n teksboek-geval op die lyf geloop.

Die “dissidente” wat byna-byna die party gekaap het, word onder meer in die media daarvan beskuldig dat hulle die goeie ou liberale waardes versaak het. Maar dis ver van so eenvoudig. In die meeste lande, waaronder die VSA, word die SEB-, “Affirmative action” – kwota-pakket juis hoofsaaklik deur die liberale kragte aangebied en bevorder.

Op die gevaar af om ‘n enkele insident buite verband te ruk: ‘n Huishulp daag erg olik by die werk op waar sy al bykans 30 jaar eintlik deel van die gesin is. Die werkgeefster neem haar na die naaste apteek se kliniek waar die suster die huishulp as duidelik onwelkome pasiënt hanteer. Na sy haar medikasie gekry het en vertrek het, sê die huishulp vir die werkgeefster: “Dit is Zuma se skuld dat die witmense ons so haat.”

Dit laat nietemin die vraag: Dra diskriminasie, ongeag die motiverings daarvoor, teen minderhede enigsins by tot die politiek-korrekte doel van politieke integrasie?

Miskien is dit tyd om net te besin oor of “liberale waardes” (selfs al word uitgepluis presies wat dit in elke situasie behels) die beste opsie is om die land vorentoe te neem.  Daar is ander opsies wat dalk meer pragmaties is en ook nie die baadjie van rassisme of diskriminasie aantrek nie.

En noudat dit duidelik is hoe moeilik nie-rassige politiek in Suid-Afrika is, sal die swaarde ook nog gekruis word oor die wenslikheid daarvan, maar dis ‘n heel ander kwessie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Nico Kruger ·

Ek sien uit na jou kommentaar oor die wesentlikheid van nie rassige politiek. En of ‘n party nodig het om nie-rassig te wees. En miskien kan jy die mense bietjie verduidelik van die voordele van die proporsionele kiesstelsel, want die meeste Afrikaners is steeds van mening dit is beter om vir die groter party te stem, al stem jy nie met alles van daardie party saam nie. Hulle glo nog dat 2 groot partye die enigste opsie is, soos ons dit in die ou Suid Afrika gehad het. Hulle besef nie die 2-party stelsel is veroorsaak deur die kiesstelsel soos ons dit gehad het. En dat geen land met ‘n proporsionele stelsel, soos ons dit nou het, ‘n 2 party-stelsel het nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.