Nuuskommentaar: Nigerië veel meer as profeet TB Joshua en Boko Haram

Foto: Google Maps

Foto: Google Maps

Die ramp by die kerk van TB Joshua in Nigerië het die aandag van baie Suid-Afrikaners wat al afgestomp geraak het oor die deurlopende nuus oor die Boko Haram, weer op hierdie land, die Reus van Afrika, gevestig.

En Nigerië hou aan die begin van volgende jaar weer ’n verkiesing – ’n verkiesing wat al hoe meer lyk of dit kan ontspoor.

Die jongste gebeure bevestig die kloof van Moslem versus Christen in hierdie land, maar dit is ook meer onheilspellend omdat dieselfde foutfaktor in vele Wes-Afrikaanse kuslande, soos onlangs in die Ivoorkus gedemonstreer, aanwesig is.

Breedweg weet ons van “die Moslem-noorde” en “Christen-suide” van Nigerië. Dit is egter meer kompleks as dit, want van die groot suidelike stamme is ongeveer 50/50 Moslem-Christen. Slegs die Ibo (van die eertydse Biafra-faam) word as oorweldigend Christen beskou. Die Biafra-oorlog het ook veroorsaak dat die binnelandse grense van die federasie hertrek is sodat die verskillende stamme politiek-geografies minder versplinter is. Binnelandse migrasie en verstedeliking, veral weens die kolle van welvaart wat die land se olierykdomme bring, maak egter al hoe meer kleingeld hiervan.

Boonop is daar maar min ooreenstemming van waar die olievelde voorkom, en waarheen die olierykdom gaan, want die olie-elite woon selde in die olieproduserende gebiede soos die Niger-delta. Dit lei ook tot gewapende insurgensies.

In een van die mees korrupte lande ter wêreld word probleme soos gewapende insurgensie, as eerste instink dikwels deur omkopery “opgelos.” Soos om die insurgente te betaal om nié te veg nie. Maar dié benadering werk nie so lekker met die fanatieke Boko Haram nie.

Die voorkoms van olie hoofsaaklik in die suide, skep die persepsie van ’n meer welvarende Christen-gemeenskap teenoor ’n minder welvarende Moslem-gemeenskap. Die suide blameer inhalige amptenare en politici in die noorde hiervoor – oliegeld wat vir aanwending in die noorde bestem is word glo deur hierdie mense na hul eie sakke gekanaliseer.

Die Moslem-noorde is lank voor die suide, juis via die Islam, aan elemente van beskawing soos skrif en argitektuur bekend gestel voor die suide via kolonisasie uit die weste daaraan blootgestel is. Beide die Islam en die weste was ook bedrewe slawehandelaars, en soos gebruiklik is stamme teen mekaar opgestel om namens die slawehandelaars ander stamme se lede as slawe te vang – teen vergoeding.

Boonop word sowat $1 miljard se olie per maand gesteel.

In die praktyk is daar geen duidelike skeidslyn tussen ’n Christen-suide, en Moslem-noorde nie. Dit is dikwels hierdie middel-gordel wat die spit afgebyt het.

ʼn Ou ooreenkoms dat Christen- en Moslempresidente mekaar sou opvolg, het in die slag gebly, en die afgelope 15 jaar is die presidentskap net drie jaar lank deur ʼn Moslem gehou. Volgende jaar se verkiesing hou die gevaar in dat dit die noord/suid-verdeling kan verdiep omdat die oorwegend noordelike opposisiepartye ’n verenigde front teen die suide hou.

Intussen moet die oog ook op die verspreiding van ebola gehou word. Die kerk-ramp het baie duidelik gedemonstreer wat die omvang van beweging van lugpassasiers tussen Suid-Afrika en Nigerië is.

Dit sou baie oppervlakkig wees om simplistiese ooreenkomste te trek tussen die omstandighede wat tot die opkoms van Boko Haram, en die makro-bediening van Joshua gelei het. Boko Haram is deel van ʼn momentum binne die Soennie-Islam, waar die radikale neo-Salafiste – die broeiplek van Al Kaïda – internasionaliseer. Die wêreld het onlangs met ’n skok besef hoe ’n groot gebied deur ʼn “handjievol” IS-stryders in Irak en Sirië beset is.

Terselfdertyd het die IS met naakte terreur gesorg dat die wêreld deeglik van hom kennis neem, maar só erg dat dit uit Al Kaïda geskop is. Ook in Somalië (Al Shabaab) en Mali het hierdie Islam-vertakking met hul wreedheid geskok.

Voorts word die weste geskok dat baie van die IS se stryders uit hul eie lande soos die VSA, Brittanje, Nederland, België en Frankryk kom… jong Moslems wat oor lang tydperke deur onder meer webwerwe van die neo-Salafiste ingekatrol word.

Intussen het Boko Haram nie gaan stil lê nie, die krisisse in ander wêrelddele laat slegs druppels nuus uit hierdie geledere deursypel, soos dat Boko Haram ’n stad met ’n miljoen inwoners volledig omsingel het, en nog ’n daad van verstommende wreedheid elke nou en dan.

Die charismatiese Joshua het na berig word sy bediening in die 1980’s met slegs agt volgelinge begin. Nou woon tot 20 000 mense sy dienste elke Sondag by. Voorts besit hy ʼn TV-stasie, Emmanuel TV, wat sy dienste wêreldwyd uitsaai. Volgens Africa Report is hy een van die 50 mees invloedryke mense in Afrika, en met ʼn geraamde rykdom van R170 miljoen ook nie juis ʼn kerkmuis nie.

Terwyl sy volgelinge hom as profeet en wondergeneser eer, meen sy teenstanders hy dryf baie suksesvol handel met God se naam. Hy is onder meer van omkopery beskuldig.

Voorts word hy daarvan beskuldig dat hy sy beeld deur ’n obsessie van versluiering in takt probeer hou. Dié persepsie het veroorsaak dat bewerings, dat Joshua ook nou met die ineenstorting van sy residensiële kerkkompleks eerder noodreddingswerk gedwarsboom as aangehelp het, ’n hupstoot gegee word.

Wat wel seker is, is dat Nigerië, waar korrupsie endemies is, ’n morele herlewing nodig het. Soos sake nou staan, bestaan die persepsie dat Nigerië se bekendste uitvoerproduk nie sy olie is nie, maar burgers wat in ander lande by allerlei onheilighede soos dwelmhandel, prostitusie, piramideskemas en selfoonslenters, onder meer, betrokke raak – ook in Suid-Afrika. Hoeveel Suid-Afrikaners het nie reeds ervaring van ’n groot bedrag kompensasie wat hulle kan kry om dié of daardie Nigeriese weduwee te help om ’n reuse- (gesteelde) bedrag uit Nigerië te kry nie? Of van ’n “prys” wat hulle gewen het, maar die een administratiewe bedrag na die ander wat verlang word tot die “prys” en die “administrateurs” spoorloos verdwyn? Selfs werkloses loop deur wat ’n geldjie leen en betaal om vir allerlei aantreklike, en hoogsbetaalde werk oorsee in aanmerking te kom. Vir poste wat nie bestaan nie.

Maar of TB Josua deel van die oplossing of die probleem is, sal nog lank oor op Suid-Afrikaanse bodem gestry word. ’n Hele paar bekende sterwende Suid-Afrikaanse sportlui het al geglo hulle is deur Joshua genees, maar is later tog aan die siekte oorlede. ’n Ander glo weer sy beseerde knie is deur Joshua se intrede genees.

Maar gaan Nigerië as stabiele demokrasie uit aanstaande jaar se verkiesing kom? Of (al weer) op ʼn staatsgreep en dalk burgeroorlog afstuur? Die tyd sal leer.

As hierdie reus val, gaan die hele kontinent bewe. Trouens, in die verlede het die hele wêreld gebewe weens die slegte impak wat dit via die olie-impak op die wêreldekonomie het.

*Met spesiale erkenning aan Christian Science Monitor wat die aanloop tot aanstaande jaar se verkiesing in oënskou neem. Ander bronne sluit o.a Eyewitness News in.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.