Nuuskommentaar: Nkandla dui op politieke noodtoestand

Pres. Jacob Zuma Foto: digitlab.co.za

Pres. Jacob Zuma Foto: digitlab.co.za

In Suid-Afrika beplan ‘n groep regspraktisyns van KwaZulu-Natal om die hooggeregshof te nader om die Openbare Beskermer se verslag oor Nkandla tersyde te stel. Die ontvangs en reaksie op die verslag loop redelik sterk volgens politieke lyne, met die ANC wat tot dusver die geledere redelik solied om pres. Jacob Zuma sluit, en opposisieleiers wat redelik eenstemmig in die koor saamsing dat Zuma se kop moet rol.

En niemand weet vir seker wat die uiteinde gaan wees nie, al is die OB-verslag taamlik klinkklaar, en al is internasionale konvensie redelik duidelik wat reeds moes gebeur het – Zuma moes “afstaan” sodat die reg onbevange sy verloop kon neem.

In Kalifornië het die FBI ‘n staatsenator sonder seremonie in hegtenis geneem. Leland Yee is nie maar net nóg ‘n senator nie. Hy is van die regerende Demokratiese Party, en was ‘n gunsteling om later vanjaar tot die prestige- en invloedryke pos van Kaliforniese “Secretary of State” verkies te word. Hy is aangekeer weens beweerde onwettige wapenhandel. Nog 25 mense is saam met hom in hegtenis geneem, waaronder ‘n bekende misdaadbaas. Die volledige saak behels ook elemente soos geldwassery en huurmoorde.

Nog geen verhoor en skuldigbevinding het plaasgevind nie, maar daar is reeds ikabod oor Yee se politieke loopbaan geskryf.

Zuma het nog net in een saak, in sy eie woorde, sy dag in die hof gehad. Hy het owerspel suksesvol as verweer teen ‘n aanklag van verkragting aangevoer. Maar in alle billikheid, hy is nie al president wat ‘n Monica Lewinsky-tipe insident oorleef het nie. Die mees onlangse was toe dit op die lappe kom dat die Franse president sy jarelange houvrou ook verneuk het.

Maar oor die sake, waar ‘n hofuitspraak staan dat hy in ‘n korrupte verhouding met die veroordeelde misdadiger, Shabir Shaik gestaan het, het na ‘n politieke aanstelling soos “mis voor die son” verdwyn. Sedertdien word belastingbetalersgeld en staatsmasjienerie ingespan om te keer dat die onweerswolke van geregtigheid weer saampak.

Die wapenskandaal moes ook eers ‘n draai deur die grondwetlike hof gaan maak voor ‘n kommissie van ondersoek aangestel is, maar ook hier het soveel suur sop al uitgeloop dat die onweerswolke baie moeilik verdryf sal kan word.

Daar is die Gutptagate-saak.

Daar is verleentheidwekkende uitsprake wat die land in vlae erge skade oorsee berokken het.

Sy, en sy kornuite se kwasi-godsdiensige uitsprake stuur gereeld skokgolwe deur die Christen-gemeenskap, en sommiges daarvan is reeds deur hoofstroomkerke as godslasterlik beskryf.

Daar is kornuite soos drie LUR’e wat op ernstige aanklagte in die howe tereg staan, wat doodeenvoudig in hul poste aanbly.

Uit eie geledere was daar al ‘n redelike koor dat die ANC sy morele kompas verloor het.

Op die oog af lyk dit of Zuma die proses wat oud-pres. Thabo Mbeki met sy Afrika-gerigtheid begin het om minderhede te vervreem, voltrek het. Soos die politieke kanniedood, Peter Marais onlangs op sy Facebook-blad geskryf het – onwettige immigrante uit Afrika bevind hulle gou in die posisie dat hulle weens hul velkleur deur die land se rasgebaseerde maatreëls bevoordeel word, terwyl die inheemse bruin gemeenskap droëbek sit.

Ten spyte van aanduidings dat daar in senior ANC-geledere druk is om Zuma uit sy amp te verwyder, is dit min of meer ‘n voldonge feit dat die ANC die verkiesing met Zuma as sy “gesig” gaan aanpak.

Nadat dit lank gelyk het of die ANC in die proses ‘n hele paar houe weg gaan hê in die komende algemene verkiesing, maar steeds redelik gemaklik ‘n volstrekte meerderheid gaan haal, dui die jongste Ipsos-peiling daarop dat die ANC selfs sy vorige meerderheid effens tot 66 persent kan vergroot.

Hoewel een peiling, veral ‘n peiling wat, tot dit deur ander gestaaf word ‘n uitskieter-uitslag opgelewer het, met groot omsigtigheid beoordeel moet word, is dit onder die huidige feitestelling duidelik dat die luukse om weg te bly van die stembus om die ANC te beperk, net nie bestaan nie. Daardie peiling dui daarop dat die verkiesing nie meer net handel oor die wegkalwing van die ANC se ongesonde magsgreep op die land nie, maar dat die gevaar bestaan dat die party ‘n tweederde meerderheid kan behaal.

As Zuma wel daarin slaag om die ANC in sy 20ste herdenkingsjaar aan bewind tot ‘n tweederde meerderheid te lei, gaan dit byna onmoontlik wees om iemand aan die stuur van sake te kry in wie se kundigheid die wêreldekonomie genoegsame vertroue het, en wat plaaslik vertroue sal inboesem dat die stryd teen korrupsie met erns aangepak sal word. Onder Zuma se presidentskap tuimel die land skouspelagtig op die korrupsiepersepsieindeks, en word Suid-Afrika op die omkoopindeks deur selfs van Afrika se mees bedenklike verrotte regimes uitgestof.

Vir alle praktiese doeleindes heers daar ‘n politieke noodtoestand.

Die grondwet maak dit moontlik dat kiesers steeds ‘n wye keuse het om hul stemme uit te bring, so na-as moontlik aan hul eie oortuigings, en sonder vrees dat hul stemme verlore sal gaan. Ja, daar is kiesers wat weens die enorme deposito’s wat vir deelname geëis word tweede keuses sal moet uitoefen, maar om heeltemal weg te bly kan die politieke noodtoestand verdiep.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

alet ·

Daar gaan ons die sous trein sal hom beskerm want as daar n ander party in kom is al die vrot appels vd boom af siestog hulle se passop die slang pik jou aan die hakskeen

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.