Nuuskommentaar: Nkandla nie ál Zuma-sonde

Pres. Jacob Zuma. Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Pres. Jacob Zuma. Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Die ontvouing van die Nkandla-debakel het nie die argiewe en geheues gestroop van ander sake wat pres. Zuma as regeringshoof diskwalifiseer nie. Van sy omstrede godsdiensuitsprake tot opmerkings dat die land se probleme met die aankoms van Jan van Riebeeck begin het, sal steeds op Zuma se presidensiële getuigskrif ingegraveer word. Dit raak duidelik, al manier om Zuma te pos is om in die komende munisipale verkiesings die ANC hard te straf.

Met pres. Jacob Zuma se verskoning aan die land ná die konstitusionele hof se Nkandla-uitspraak is probeer om die indruk te wek dat alles nou reggemaak word, ook deur mildelike blaamverplasing. Volksblad beskryf vandag in sy hoofartikel die “verskoning” soos volg: “Pres. Jacob Zuma se lagwekkende, skaamtelose en vernederende openbare verklaring Vrydagaand was die laaste strooi wat die Suid-Afrikaanse burgery van hierdie man kan verduur. Dat hy en die ANC dink iemand wat bietjie vir hulself kan dink en nie omgekoop kan word nie, glo twee woorde van sy kamstige verskoning en die party se rugvrywery van sy korrupte leier daarna, gaan mens se verstand te bowe. Nadat die land met die konstitusionele hof se uitspraak oor die Nkandla-kwessie en die openbare beskermer se magte bemagtig is, en die land die eerste keer in jare regtig iets gehad het om oor opgewonde te wees, was Zuma se toespraak op televisie die volgende aand soos ’n 1 April-grap wat in ’n nagmerrie ontaard het. Dit was ’n aaklige herinnering vir almal dat ons steeds met die man gaan sit en hy nie die vermoë het om self in te sien dat sy dae as president getel is nie.”

Beter kan dit nie opgesom word nie.

Of Zuma reg is dat die Nkandla-kwessie nou uitgepluis is en opgelos word (terugbetaling) sonder dat daar nog politieke vere deurmekaar gekrap gaan word, is ’n heel ander kwessie. Sou Zuma byvoorbeeld aan die hofbeslissing voldoen en ’n bedrag van tientalle miljoene rande spoedig terugbetaal, behoort dit onafwendbaar te wees dat daar ’n leefstyloudit gedoen word om te bepaal hoe iemand met ’n salaris van minder as R3 miljoen per jaar, so ’n bedrag bymekaar kon maak.

Die Nkandla-debakel was egter lank nie al wat Zuma se voortgesette presidentskap moes laat sneuwel het nie. Dis ’n baie lang lys, wat onder meer insluit dat hy owerspel as verweer teen ’n aanklag van verkragting ingespan het. Voorts het hy ’n vriend se dogter “in die ander tyd gesit”. Dit laat die Monica Levinsky-sage na ’n Sondagskoolpiekniek klink.

Oor die jare het hy en van sy volgelinge die mees ontstellende “godsdiens-uitsprake” gemaak. Baie Christene het gevoel dat die opmerkings soos dat die ANC tot die Wederkoms sal regeer, godslasterlik was. Skerp kritiek van die hoofstroomkerke is bloot geïgnoreer. In ’n stadium het verskeie kerke, waaronder die susterskerke en selfs die SARK, hom gesamentlik oor die kole gehaal. Die VGK het selfs gedreig om hul lidmate op te roep om nie weer vir die ANC te stem as Zuma nie dié soort uitlatings staak nie.

Selfs toe Zuma probeer witvoetjie soek (of steun werf) deur aan te kondig dat hy, via sy Zuma-stigting, geld beskikbaar stel vir ’n nuwe Zoeloe-Bybelvertaling in ’n proses wat nie die Bybelgenootskap betrek nie, het die genootskap in ’n lang mediaverklaring Zuma se stellings oor die gebreke in die bestaande Bybelvertaling weerlê, en ook laat blyk dat ’n nuwe Zoeloe-vertaling al ver gevorder het.

Oor die jare het Zuma telkemale erg deurgeloop oor aanmerkings wanneer hy van sy geskrewe toespraak afgewyk het. Oor die Kersvakansies, wanneer sy toespraakskrywers en ander personeel ook bietjie uitspan, het hy ook van sy mees omstrede uitsprake gemaak, waaronder die sogenaamde honde-uitspraak wat internasionaal opslae gemaak het. Kort daarna het hy ’n nasionale versoeningsdag aangekondig wat deur animistiese rituele gekenmerk sou word. Hy het voorts gesê dat mense wat nie hieraan sou deelneem nie, nie versoening op die hart dra nie.

Sy onkunde oor wat konvensionele godsdienstige praktyke behels, het voorts geblyk toe hy gesê het hy gaan emeritus aartsbiskop Desmond Tutu vra om aan die hoof van die verrigtinge te staan. Nadat sy personeel van verlof gekom het, en kon wal gooi, het daar dadels van gekom. So ’n versoek is ook nooit aan Tutu gerig nie.

Hy het ook al kaf kwytgeraak soos dat tradisionele swart grond in die droogste en onvrugbaarste dele van die land geleë is, dat wit mense hul grond bekom het deur dit van swart mense te steel, dat die land se probleme met Jan van Riebeeck se koms na die land begin het en swart mense voor daardie tydperk veel pret gehad het, en dat Afrika die grootste kontinent is waarin die ander kontinente saam kan pas.

Zuma het ook, volgens sy uitsprake, mettertyd heeltemal rasbehep geword. In sy onlangse Menseregtedagtoespraak, wat veronderstel was om oor die kwessie van rassisme te handel, het hy by herhaling na wit mense as “white supremacists” verwys. Gister het Zuma aldus Netwerk 24 gesê: “Swart mense moet saamstaan en vir ’n ander swart mens stem . . . anders sal hierdie land voor jul oë van julle weggeneem word, of hulle sal ander gebruik om dit van julle weg te neem.”

Daar is kwessies van ’n “korrupte verhouding” en aanklagte van bedrog wat op omstrede wyse teruggetrek is, maar nou weer moeisaam deur die howe getoets word.

En dit is maar net ’n kriptiese, onvolledige oorsig van presidensiële onhebbelikhede dié.

Die ANC verdien om by die stembus hard gestraf te word oor Zuma se voortgesette vernietigingspoor.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Loeis ·

Die ANC het Zuma as president aangewys, en die ANC gaan sy opvolger aanwys. Nie ‘n goeie vooruitsig nie, vir die wie illusies hieroor het.

Ek hoop dat Zuma tot ten minste na die verkiesing gaan aanbly: dit gaan die ANC skade doen, en dus die eintlike probleem (so bietjie) aanspreek.

Mei Heyns ·

As swartmense moet saamstaan wat word dan van die kleurlinge?

ora ·

Ek stem saam met die skrywer van hierdie berig. Maar. Die ANC stem sal altyd ‘n lojaliteitstem bly en die massas wat steeds swaarkry onder die leë beloftes het steeds nie werklik ‘n saak met wie president is aldan nie. Ons kan net hoop dat die hoë koppe in die ANC se oë oopgaan oor leierskap.

Heinrich ·

Suid-Afrika se ‘sheeple’ het ons al in die verlede goed verbaas deur nog elke keer vir die ANC te stem maak nie saak wat nie. Ek weet nie of dit is a.g.v. intimidasie of sommer net onnoselgeit is nie, maar ek is seker hulle gaan weer nie teleur stel nie; kyk maar die uitsprake van die Women’s League. Dis ongelukkig ‘n ANC kultuur om nie te erken wanneer jy verkeerd is nie; soos Nommer Zero altemit bewys. Ek dink hulle gaan ons almal saam onderdeur trek!

Grassie ·

Nog iets wat my ernstig pla is daardie vliegtuig met miljarde rand se banknote wat op Harare geland het. Daar is baie vrae daaroor wat nie oortuigend geantwoord is nie. Ek het verneem dat daardie vliegtuig ‘n baie lang reikafstand het en na enige stad in SA kon vlieg sonder om in Zimbabwe te land. Dan die dooie ou in die vliegtuig – volgens die regering is hy aan natuurlike oorsake dood, maar sy teenwoordigheid is deur lughawebeamptes ontdek omdat sy bloed uit die vliegtuig gesypel het. Waarom is die note in die buiteland gedruk? Waarom was die vliegtuig op pad na Durban (Zoeloeland!) as die Reserwebank en die Munt in Pretoria is? As ek reg onthou was daar so baie note dat dit ongeveer 5 ton geweeg het.
Malema beweer nou dat Zoempas miljarde rande uit die land gesmokkel het.
Ek weet nie wat die regte feite is nie, ek weet net dat daar iewers ‘n helse skroef los is.

M A ·

Selfs Zuma kan tog nie so dom wees om RAND note op te gaar nie. Iets het aangegaan maar deesdae steek mense elektronies geld weg, nie egte geld nie.

André ·

Bla bla bla……….
Hy is ‘n verskoning van ‘n Staatshoof en is nie eers die moeite werd om op kommentaar te lewer nie.

Hennie ·

Ons sal moet begin vra waar is die integriteit onder die meeste stemgeregtigde mense van hierdie land. Met Zuma se aanwysing as President het baie van hierdie ooglopende verregaande goed reeds gebeur, soos die verkragtingsaak waarin hy betrokke was, asook die Shabir Sheik sirkus wat Zuma gehelp het om as Adjunk President R30 000 per maand meer te spandeer as sy salaris. Nogtans het mense soos Malema (en ook baie ander) verkondig hulle is bereid om te sterf vir Zuma. Vandag staan ons op ‘n punt waar Zuma se integriteit dit uitskreeu wat en wie hy werklik is en almal, met Malema op die voorpunt, wil hom weg hê as President. Kon hulle nie sien waarmee hulle te doen het nie, vir wie hulle wil sterf nie?? Of moet ons dit sien as soort soek soort? Malema was ook reeds in die sop oor sy bedrywighede en het onnosel gepleit en verkondig dat hy regtig nooit hierdie land se geld steel nie, Hoe gaan ons ‘n massa opvoedingsproses aanpak om hierdie mense se waardes te verbeter?

Andre ·

Ongelukkig hou die anc met behulp van hul swak onderwys stelsel die landelike bevolking basies ongeletterd. Dus weet hulle nie van al die vergrype nie,en stem blindelings vir “Mandela”

Johan ·

André. Mag die lesers tog kennis neem van jou opmerking. Die diepte van swak onderwys skuif ons probleem van korrupte regering generasies verder… Ons is hierdie ding vir die lang termyn… Daar is geen moontlikheid van kits oplossings (politieke oplossings) as politieke deelnemers doelbewus dom geskool word nie…

neelsie ·

Die Anc voer n sampioen- beleid….maar onthou…slim vang sy baas!.

Johann ·

Wonder wanneer ‘n boek met Zuma se kaskenades gaan verskyn. Hoop dit kom gou!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.