Nuuskommentaar: Nkandla se uitgerekte vervolg

Zuma se Nkandla-woning

Zuma se Nkandla-woning

Net soos geskiedkundiges lank herkou het aan die redes en omstandighede wat gemaak het dat die Duitse volk Adolf Hitler demokraties tot Führer kon verkies, so sal geskiedkundiges eendag wonder hoe pres. Jacob Zuma al die onwaarskynlikhede kon oorkom om president van die land te bly.

Oor een aspek sal daar egter minder herkou word – die besluit van die ministers in die veiligheidsgroepering om die openbare beskermer se Nkandla-verslag na die howe te neem vir hersiening. Die kort antwoord is dat hulle die produk van die Zumafikasie is waardeur die president sy binnekring met vertrouelinge en voorste kruipers gelaai het.

Val die president, val hulle ook. Hoe harder die president val, hoe verder sal hulle die politieke duisternis ingeslinger word.

Of dit regstegnies hoegenaamd moontlik is om die OB se Nkandla-verslag voor die hof te bring sonder dat die parlement dit eers bespreek en tot ‘n vergelyk probeer kom het, lyk onwaarskynlik. Die OB self en van die land se voorste regslui meen dit kan nie.

‘n Hele paar scenario’s doem op.
– Die veiligheidsgroepering nader die howe teen die stadigste tempo moontlik sodat die appèlproses om die saak voor die hof te kry, so lank as moontlik uitgerek te kry. Teen die tyd dat hierdie opsies uitgeput is, sal Zuma se tweede termyn reeds in sy swanesang kan wees.

– Sou ‘n hof iewers in die appèlproses wel die saak ontvanklik vind vir hersiening sonder dat die parlement daaroor besin het, sal waarskynlik eers ‘n regstryd gevoer word om die verhoor weens “veiligheidsoorwegings” in camera te laat plaasvind. Weer kan die proses oneindig uitgerek word.

Die Christen-Demokratiese Party stel ‘n ander scenario – laat die saak howe toe gaan, maar met die belangrike voorwaarde: Tot tyd en wyl die howe finaal uitspraak lewer, is daar te veel bedenkinge en vraagtekens oor Zuma se integriteit en geskiktheid as president, en moet die parlement ‘n tussentydse of waarnemende staatspresident verkies.

In die ampseed wat ‘n president aflê beloof hy onder meer dat hy hom aan die welsyn van die Republiek en al sy mense sal wy. Voorts dat hy aan almal sal laat reg geskied. Hy sal alles “bevorder wat tot die voordeel van die Republiek is en sal afweer wat die Republiek kan skaad .” Daar kan geen twyfel wees, gegewe Zuma se geskiedenis soos sy Davos-uitlatings, dat sy eerste termyn eerder gekenmerk is deur wat skadelik vir die Republiek en sy mense was.

Om te bepaal wat die inhoud is van die “hoë roeping” is wat in die ampseed ingebou is, moet onder meer na internasionale konvensie gekyk word. Die beste definisie van wat die begrip behels is waarskynlik die volgende: “It is simply a strong interest in devoting time, effort, resources to caring for a larger community, larger than the self, immediate family, or even extended family. It has some sense of altruism about it… a willingness to give up something that would make one’s immediate circumstance much better in exchange for making someone else’s circumstances better. One might never even see the results of their work; it could be for future generations.” – vBulletin

Die hoër roeping het gewoonlik ‘n godsdienstige inslag, maar in ‘n grondwetlike sekulêre staat sou dit eerder bloot verwys na ‘n persoon van hoë morele aansien en integriteit.

In ‘n staat waar hierdie waardes geld sou dit ondenkbaar wees dat ‘n persoon wat suksesvol owerspel as verweer teen ‘n aanklag van verkragting aanvoer, aan hierdie “hoër roeping” kan voldoen. Voorts het Zuma en sy kornuite hulle op ongekende skaal aan opmerkings skuldig gemaak wat deur die vernaamste hoofstroomkerke veroordeel is en selfs as godslasterlik beskryf is.

Voorts is daar ook ander regsprosesse in die howe aan die gang, soos ‘n poging om die beslissing om aanklagte van bedrog teen Zuma te laat vaar, hersien te kry. Dit word nou weer deur ‘n frustrerende regsproses oor die beskikbaarstelling van bandopnames in die wiele gery. Nie juis vreeslik te versoen met die grondwetlike bepaling dat die regering ook deursigtig moet wees nie.

Op die meer konkrete vlak, het Cosatu se grootste vakbond, Numsa, die stigting van ‘n werkersparty aangekondig. ‘n Beroep is op werkers gedoen om die OB te beskerm, en ‘n beroep is op Zuma “en die ministers wat hom so skandalig verdedig” gedoen om te bedank.

Zuma en die ANC het skynbaar betreklik suksesvol daarin geslaag om die ANC nie te veel skade met sy omarming van Zuma te laat skade ly nie. In die proses is ‘n hele klomp interne kwessies tydelik in die doofpot, of op die ys geplaas. Die verkiesing is egter nou verby, en die kwessies hervat weer doodgewoon.

Intussen gaan die beplanning van Zuma se inhuldiging voort asof niks haper nie. En dit is nié die kenmerke van ‘n gesonde grondwetlike demokrasie nie.

Dit beteken ook dat die druk groot gaan wees op burgerlike instellings, die handhawing van mediavryheid en die beskerming van ‘n onafhanklike regbank – terwyl opposisiepartye een en almal ver bo hul gewigsklas in die kryt sal moet klim.

Dit lyk of die land ten spyte van, en nie danksy Zuma se tweede en laaste termyn nie, sal moet oorleef.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae