Nuuskommentaar: Nkandla-verslag getransformeer?

Grafika: Time-tydskrif

Grafika: Time-tydskrif

“’n Profeet word nie in sy eie land geëer nie,” blyk steeds ‘n vaste waarheid te wees. Kort na die Openbare Beskermer (OB), adv. Thuli Madonsela, deur Time as een van die 100 mees invloedryke mense ter wêreld aangewys is, het die parlementêre komitee wat haar verslag en die president se “antwoord” daarop moes oorweeg, haar kliphard in die tande geskop.

Omtrent al wat die ANC-meerderheid reg gehad het, is dat die komitee te min tyd gehad het om die verslag – of eintlik net die president se antwoord, volgens die ANC – te oorweeg.

En wie moet daarvoor bedank word?

Kiesers gaan oor minder as ‘n week stembusse toe opruk, en omtrent al waaroor duidelikheid bestaan is dat die ANC vanuit die staanspoor alle truuks in die boek op die proef gestel het om eerstens die afhandeling van die OB se verslag te vertraag, en tweedens om te sorg dat die president nie verantwoording doen nie – in elk geval nie voor die verkiesing nie.

Die kiesers gee ‘n blanko tjek.

Intussen het die president die Spesiale Ondersoek-eenheid opdrag gegee om ondersoek in te stel na diegene wat daarvoor verantwoordelik is dat so rojaal op Nkandla spandeer is. Nadat aanvanklik “verkeerdelik” aangedui is dat die verslag voltooi is, sal dit nou ook eers ruim na die verkiesing gereed wees.

Intussen dui peilings aan dat soos sake nou staan, dit nie veel impak op die kiesers se stemkeuses gaan maak nie.

Ontleders is dit egter min of meer eens dat Zuma se dae kort na die verkiesing getel gaan wees. Omtrent al waaroor verskil word, is of Zuma “herroep” gaan word ongeag die uitslag van die verkiesing, en of hy net “herroep” gaan word as die ANC swakker as die vorige verkiesing vaar. Selfs so min as 2% minder steun vir die ANC word as genoeg beskou om Zuma se doppie te kink.

Suggesties dat die ANC se adjunkpresident, Cyril Ramaphosa, na die verkiesing na vore kan tree is daar volop. Daar is selfs gereelde mediaberigte en –artikels waarin meningsvormers gepols word oor die kwaliteite van Ramaphosa, en byna voor die voet is dit positief.

Die probleem met die suggestie is dat dit nie nuut is nie. Selfs voor die Mangaung-konferensie het die gedagte sterk in omloop gekom dat Zuma na die verkiesing die rol van ‘n seremoniële staatshoof sou begin opneem, en dat Ramaphosa vir alle praktiese doeleindes ‘n de facto eerste minister sou word.

Zuma het baie gou na sy herverkiesing korte mette van dié gedagte gemaak.

Hy het immers getoon dat wat die politiek en regsake betref, hy Houdini na ‘n amateur laat lyk.

Intussen is Cope se verkose leierskorps sienderoë besig om te verbrokkel, en terug te stroom na die ANC. Peilings het getoon dat Cope ook nou tot die geledere van die 1%-partye gaan toetree, nadat dit met die vorige verkiesing ‘n goeie nooiensbuiging gemaak het.

Dat talle LPs die skip sou verlaat terwyl die aanduidings daar is dat net ‘n handjievol sou terugkeer, is te verwagte. Dit kan aanvaar word dat ‘n hele paar stilweg eintlik Shilowa-ondersteuners was wat bly sit het met die hoop dat die gewese mede-leier se hofaksies iets sou oplewer, of bloot ter wille van ‘n meer oorleefbare pensioen bly sit het.

Maar hoekom juis ANC toe oorloop ná ‘n hele termyn waar die ANC in soveel opsigte aangevat is?

Selfs al is hulle stilweg beloof dat Zuma se kop na die verkiesing gaan rol, kan hul oorlopery juis die reddingsboei wees wat Zuma nodig het.

Om te aanvaar dat die ANC na die verkiesing skielik spontaan ‘n Damaskuservaring sal beleef en met ander oë na Nkandla en ander Zuma-flaters sal kyk, is om hoë risiko politiek te bedryf.

Tot die ANC die teendeel ongekomprimeerd laat blyk, kan aanvaar word dat die ANC die angel in die Nkandla-gebeure gaan bly transformeer dat dit die minimum skade aan die ANC, en aan Zuma gaan aanrig. Klein vissies kan slae kry.

Die mees waarskynlike om verandering te weeg te bring, is dat kiesers duidelik aandui wat hulle verkies. Moenie die bogstorie glo dat stemme op klein partye vermors word nie, en omdat die kieser nie vir een van die groot partye kans sien nie, van die stembus wegbly nie. Die kiesstelsel maak vir selfs die kleinste hoeveelheid stemme voorsiening ná vol kwotas behaal is.

Gaan stem, of swyg ná die verkiesing as Zuma weer ‘n onhebbelikheid aanvang, of kwytraak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.