Nuuskommentaar: Nkandla-verslag: Wat nou?

Adv. Thuli Mandonsela tydens haar Nkandla-verslag bevindinge.

Adv. Thuli Mandonsela tydens haar Nkandla-verslag bevindinge.

Die refrein: “In enige ander demokrasie…” is al soveel keer gehoor, en bykans net soveel keer “Maar Suid-Afrika is nie enige ander demokrasie nie…”

Die Nkandla-verslag sal in die geskiedenis opgeteken staan as dié lakmoestoets vir Suid-Afrika se verbintenis tot grondwetlike demokrasie en die konvensies wat wêreldwyd daarin verweef is.

Boonop het die verdoemende verslag kort voor ‘n algemene verkiesing gekom.

Nie net het pres. Jacob Zuma (in daardie “enige ander demokrasie…” sou dit vanoggend reeds “oud-president” gewees het) onbehoorlik baat gevind by die opgraderings nie, hy het klaarblyklik die parlement mislei, en hy is deur ‘n blok binne die kabinet, die sogenaamde veiligheidsgroepering, gerugsteun wat byna soos ‘n Mafia optree. Boonop is die geld vir die opgraderings van noodsaaklike gemeenskapsprojekte “oorgeplaas”.

Met die vlakke van armoede en werkloosheid, sou verwag word dat die kieserspubliek hulle behoorlik op die verslag sal wreek op ‘n parasitiese president en die ANC in die komende verkiesing erg straf.

Maar dis geen gewone demokrasie nie…

Terwyl die regering, by monde van die “veiligheidsgroepering”, reeds duidelik die geledere om Zuma gesluit het, het die ANC sy nuuskonferensie tot vandag uitgestel. Min mense verwag egter dat die nuuskonferensie die welkome nuus sal oplewer dat Zuma “herroep” sal word. Die voortekens is nie bemoedigend nie – die sekretaris-generaal Gwede Mantashe het reeds die Openbare Beskermer daarvan beskuldig dat sy die ANC se verkiesingsveldtog vertroebel.

Of veel waarde geheg kan word aan die opdrag van Zuma aan die spesiale ondersoekeenheid om “bewerings van misbruik” te ondersoek (klaarblyklik almal behalwe hy self) en die beklemtoning van die belangrikheid van die Hoofstuk 9-instellings, sal nog gesien moet word.  Dit dui eerder daarop dat die president volhou dat hy in wese onbewus was van wat tot sy voordeel in ‘n pot van onheilige transaksie gebroei het. Dit kom daarop neer dat hy nie bewus was daarvan dat die veiligheidstaakspan se aanbevelings oor veiligheidsopgraderings met ‘n netjies R200 miljoen plus oorskry is nie.

Kan ‘n komplekse land soos Suid-Afrika ‘n bewustelose president soos dié bekostig?

Minstens twee partye het reeds aangedui dat hulle beplan om die president in ‘n staat van beskuldiging te plaas.

Die somtotaal is dat die ANC die land in ‘n grondwetlike krisis gaan dompel as die geledere om Zuma gesluit word. Argumente dat ook ander lande se uitvoerende regeringshoofde misstappe begaan, soos Frankryk se pres.

François Hollande se verneukery van sy houvrou, of die Levinski-sage in die VSA, gaan kwalik op omdat daardie presidente deur presidentsverkiesings aan bewind gekom het. Die kieserspubliek self het hulle verkies, en die kieserspubliek self moet besluit hoe om daarop te reageer. Zuma is egter deur die ANC in ‘n huishoudelike proses tot president verkies – Zuma is dus in die eerste plek aan die ANC verantwoordbaar (hoewel sy ampseed dit anders wil hê) en die ANC sal self moet besluit of die party bereid is om die gevolge van laertrekkery om Zuma by die stembus te dra.

Of andersom gestel. Al manier waarop die kieserspubliek die president kan straf vir die reeks kommerwekkende optredes en uitsprake, is om die ANC self te straf. Die ANC staan immers borg vir die president.

Tweedens moet die kiesers dit baie duidelik maak dat hulle die Openbare Beskermer, adv. Thuli Madonsela, rugsteun om haar verantwoordelikhede na te kom. Die politieke druk op haar is enorm. Daar is al ‘n lang lys van mense en instansies wat in die slag gebly het omdat hulle ook hul verantwoordelikhede tot binne die kern van die ANC probeer uitvoer het – die Skerpioene, Glynnis Breytenbach, die Heath Ondersoek-eenheid, Mike Tshishonga en vele meer.

Die land kan eenvoudig nie bekostig dat Madonsela ook deel van die land teenkorrupsie-slagoffers word nie, tensy die ANC vandag met sy nuuskonferensie met die groot nuus kom dat Zuma herroep en elders ontplooi gaan word. Die tyd vir wonderwerke is immers nie verby nie, maar die wind waai wes…

Lees ook:
Nkandla-verslag: DA en EFF doen strafregtelike stappe teen Zuma
Radebe: ‘Nkandla-opgraderings was nodig’
DA wil Zuma laat vervolg oor Nkandla
Nkandla-verslag vrygestel

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.