Nuuskommentaar: Nkandla, vlagskip van korrupte SA

Pres. Jacob Zuma se privaat woning in Nkandla, KwaZulu-Natal Foto: @power987news, Twitter

Pres. Jacob Zuma se privaat woning in Nkandla, KwaZulu-Natal Foto: @power987news, Twitter

Woensdag se besoek van die parlementêre ad hoc-komitee oor Nkandla het kwalik plaasgevind, of die ontstelde parlementslede laat van hulle hoor. Daar is geen teken van hoe meer as R200 miljoen bestee is nie, en vakmanskap was byna voor die voet van ’n swak gehalte. Die boodskap is duidelik – iemand het mildelik geskep en die belastingbetalers het opgedok, terwyl die president met ’n landgoed sit wat weens swak vakmanskap groot onderhoudskoste gaan verg.

Voorheen is onder meer berig dat die swembad (mos eintlik ’n vuurpoel) soveel soos ’n Olimpiese standaard-swembad gekos het.

Op dieselfde dag as die besoek aan Nkandla stel die regsfirma ENSafrica data van ’n opname oor korrupsie in Suid-Afrika bekend, en hoe die wêreld daarop reageer. Al meer buitelandse beleggers begin Zimbabwe as ’n beter beleggingsopsie as Suid-Afrika beskou.

Die firma reken dat net sowat tien persent van korporatiewe Suid-Afrika aan korrupsiebekampingsmaatreëls voldoen (corruption compliant). Suid-Afrika se beeld as korrupte land word net verdiep.

Die agtergrond is die lang stelle reëls wat die VSA en Brittanje aan hul firmas stel om in hul buitelandse beleggings nie by korrupsie betrokke te raak nie. Dit is ver verwyder van die dae toe baie Europese lande korrupsie in Afrika as so ’n harde werklikheid beskou het dat hul firmas openlik in Afrika kon omkoop. Van die verdagte wapentransaksies het byvoorbeeld aan die lig gekom omdat van daardie firmas die omkoopgeld wat hulle moes betaal, aangetoon het om belastingafskrywings te kon doen.

Wat by Nkandla gebeur het, is nie heeltemal uniek in die wêreld nie. Die afgesette pro-Russiese Oekraïense president, Wiktor Janoekowitsj, het min of meer dieselfde gedoen, maar sy paleis was net nog veel luukser as Nkandla. Hy is, nadat die skandes aan die lig gekom het, uit sy eie party geskop. Oekraïne word as ’n land beskou waar korrupsie endemies was, of dalk nog is. Daar is daadwerklike pogings om daarvan ontslae te raak.

Die punt is egter,dat in die geval van Oekraïne ons van ’n gewese president praat, wat boonop deur sy eie party uitgeskop is. In Suid-Afrika beskerm die ANC die president en hou hom in die stoel. Die Nhleko-verslag oor Nkandla wat alles probeer goedpraat het (en die belastingbetalers koeltjies meegedeel het hulle gaan nog meer moet opdok vir Nkandla), word nêrens buite die ANC as geloofwaardig aanvaar nie.

Die vraag bly natuurlik staan of Zuma nie self oor dié en ander aangeleenthede moes bedank het nie? As na buitelandse voorbeelde gekyk word, is dit bykans protokol dat ’n minister sal bedank as iets ernstigs in sy portefeulje sou skeefloop. Soms voel dit of dié reël onnodig kras is – hoe moes die minister nou weet ’n vliegtuig gaan gekaap word? Die teenoorgestelde gebeur natuurlik ook – ministers en presidente wat verbete klou al wys hoeveel vingers van beskuldigings na regstreekse betrokkenheid. Die Monica Levinski-saak is ’n goeie voorbeeld van ’n president wat soos ’n neet bly klou het.

Dit was immers vanuit die staanspoor duidelik dat dit die weg sou wees wat Zuma sou volg. Met sy verkiesing tot ANC-president het hy op talle aanklagte in die Pietermaritzburgse hooggeregshof tereggestaan voordat alles op hoogs omstrede wyse teruggetrek is. Trouens, dit lyk of die presidentskap benut word om ’n tipe immuniteit te verseker, al beteken dit ernstige inmenging in die sake van die Nasionale Vervolgingsgesag.

Mettertyd het die Nkandla-kwessie egter gekom, en die president het sy gebruiklike styl ingespan. Dié van “bewustelose” slagoffer. Soos gebruiklik word sondebokke gekies om pa te staan vir sake wat uiteindelik, oorhoofs, die president se taak en verantwoordelikheid was. Die gewillige sondebokke word weer mildelik beloon, soos met ’n ambassadeurskap.

Nkandla het die vlagskip van korrupte SA geword. Dit maak dit byna onafwendbaar om instinktief ’n persepsie te vorm van die “titel” van die koning van Nkandla.

En die hele land betaal die prys hiervoor. Trouens, betaal dubbel hiervoor, want behalwe die taksgeldjie wat afgestaan word, bly werksgeleenthede in die slag oor die persepsies wat potensiële buitelandse beleggers oor Suid-Afrika vorm.

Dit strek die ANC allermins tot eer, en word ’n ernstige aanklag teen die opgehemelde nalatenskap van Nelson Mandela, dat hierdie amateur-gekonkel so gedoog word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Ekke ·

Ons gee op !!!! Ons mag nie enige kommentaar lewer op hierdie soort berig nie!! Hoe gaan ons van ons frustrasies ontslae raak as ons nie mag se hoe ons voel nie!!!! As buitelandse beleggers in Zim begin bele – wat is dan volgende ?? Mugabe en Zuma is “huisvriende” ………

Matt ·

dit is wat gebeur in n Land met “demokratiese” Diktatorskap !
Democrasy= Tyranny of the(uneducated) Masses !
dit is dan ook hoekom die twee Diktators(=Hoofnarre !) so lekker saam kekkel !

Eddie ·

As ek die naam Nkandla hoor of sien wil ek iets oorkom. Dit is maar net weereens n bewys dat hierdie land wat ons Suid Afrika noem meer en meer in die grond af gedruk word. Vrek ek het nog nooit so iets gesien waar daar so baie betaal word vir n opgradering van n president se privaat huis nie. As hy die dag die trekpas kry het ons vir sy nice huis en alles wat daar in is betaal. Soos ek verstaan is daar min of meer R6miljoen spandeur op een van die huise wat daar leeg staan. Iemand skep lekker die room hier. Om eerlik te wees daai plekke regverdig nie die koste teen wat hulle gebou is nie. Ek sal glad nie verbaas wees dat van die wat Zuma so beskerm dalk nog deel van alles is en klaar hulle retirement huis geboek het nie. Ek wens regtig dat die meerderheid wat so stem vir die ANC en vir Zuma dat hulle oggies oop gaan en sien vir wat en wie hy is. Ons as Suid Afrika kry n slegte naam weens hom en die dag wat hopenlik gou is en iemand vat oor by hom sal ons weer die land van voor af moet opbou. Weet nie wat soek hy nog in daai pos nie.

Matt ·

South Africa = just another Banana Republic !
dalk tyd om die Land se naam te verander ?!
daardie is NIE Suid-Afrika NIE !

annette ·

Meneer gaan sy tyd uitstap….en nog baie meer steel as daai Paleiss wat hy opgerig het. Hy word erger beskerm as die renosters wat gepoach word.

Winston ·

Dit is reeds oor en oor bewys dat GEEN terroriste organisasie wat daarna beheer oor n land neem, dit kan bestuur nie. Hoekom sou dit in SA werk?

marlene ·

As ou Zuma dan nie ‘n vinger in die pot gehad het nie, wil ek nie weet in watter gevaar ons Land is nie, want as ‘n mens nie eers beheer kan toepas op sy eie plek nie, hoe de hel kan hy in beheer wees van ‘n Land, soos Nkantla besig is om uitmekaar te val, so kan ons dan ook verwag dat dit met Suid Afrika gaan gebeur, jy kan mos nie regeer en nie weet wat is besig om te gebeur nie, …. persoonlik dink ek daar sit baie meer agter hierdie hele storie, tyd om die hele spul se buitelandse belange te ondersoek, ek laat my nie vertel dat enige iemand so min belang sal stel en swak vakmanskap sal toelaat en dit op die plek waar jy eendag sal wil aftree nie, hy weet die bom gaan eendag bars en hy moet voorsorg tref daarvoor

Johannes Meintjes ·

Intussen trek die burgers op hierdie gekkeparadys se grondvlak daagliks al swaarder. Dit is uitermate frustrerend as Afrika en SA se regerings nie die insigte en vaardighede besit om in geregtigheid en vooruitgamg te kan regeer nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.