Nuuskommentaar: Noem iemand ‘n rassis en die argument is verby

regstellende aksieDie ANC is dikwels in die aanloop tot die afgelope algemene verkiesing daarvan beskuldig dat dit nie net die raskwessie lewend hou nie, maar aanblaas om van die verkiesing weer ‘n rasse-sensus te maak, en so weer ‘n oortuigende oorwinning te behaal.

Trouens, binne ANC-geledere was daar bitterbek-besware oor ‘n neiging om by ras verby te kyk, en identiteit eerder binne volksverband te manifesteer. Oud-pres. Thabo Mbeki het minstens twee keer die nuus gehaal omdat hy sekere elemente binne die ANC-leierskap van stamgebondenheid beskuldig het, en Winnie Madikizela-Mandela het hom dit minstens een keer nagedoen.

Daar was egter nie uit hierdie geledere beswaar omdat groep-identiteit behoorlik volgens die ANC se weergawe van rasseklassifikasie geskied nie – daar waar die African Africans ‘n soort geboortereg vir voorkeurbehandeling kry nie. In daardie stadium was die Solidariteit – DKD-saak nog in volle swang, wat dit baie duidelik gemaak het wie almal African Africans is, en wie nie.

Twee spotprente wat in sirkulasie gekom het, het ontsteltenis by die ANC veroorsaak en dui in wese daarop dat die ANC homself as gelyk aan ‘n bepaalde ras beskou. Tas die ANC aan, en dit is dus rassisme.

Die eerste spotprent het die ANC se ministers as narre uitgebeeld, en die kiesers as ‘poeph*ls’. Die tweede beeld ‘n ry honde uit wat hul beurt afwag om ‘n plakkaat met pres. Jacob Zuma se gesig op te gaan benat.

In swak smaak, ongetwyfeld, en in ‘n gepolariseerde samelewing onwys beslis. Maar in ‘n genormaliseerde samelewing sou dit beslis nie as rassisties vertolk kon word nie. Trouens, om rassisme daarin te lees, sou beteken dat van die wêreld se voorste koerantredakteurs wat al hulle misnoeë oor Zuma se herverkiesing – eers as ANC-president en toe as president van die land – uitgespoel het ook tot die geledere van rassiste gereken moes word.

Primedia se interne ombudsman, adv. George Bizos, het dan ook bevind dat die spotprent oor die narre nie rassisties is nie, maar wel in swak smaak.
Die twee spotprente is egter by verre nie die enigste gevalle waar rassisme in situasies gelees is nie. Prof Dan Kgwadi, nuwe rektor van die Noordwes Universiteit, is vanoggend soos volg in Volksblad aangehaal: “Daar is belanghebbendes by die universiteit – belangrike belanghebbendes – wat die Afrikaanse kultuur wil bewaar en ek het begrip daarvoor. Ons verskil egter oor een punt: Wanneer ons ‘n institusionele kultuur praat dink hulle dat ons in ‘n institusionele kultuur ‘n besondere raskultuur moet preserveer.”

‘n Mens moet egter wyd soek om ‘n erkende definisie te vind wat ras ‘n element van kultuur, en dus volk maak. Trouens, die mees gerespekteerde woordeboeke sal pertinent ‘n onderskeid tref tussen volk as ‘n kultuurmanifestasie, en ras as etniese manifestasie.

‘n Onlangse peiling in die SA het getoon dat die meeste deelnemers meen rasseverhoudinge in die VSA is betreklik goed, maar dat dit aan die verswak is. Voorts het die meeste gemeen dat swart mense die grootste rassiste is. Natuurlik, met ‘n disseksie van die uitslae, blyk dit dat die meeste swart deelnemers (die minderheid) nie meen dat swart mense die grootste rassiste is nie.

In Suid-Afrika het ons die lastigheid dat, gebore uit die swart bewussynsbeweging, die persepsie in sekere kringe bestaan dat swart mense per definisie nie rassiste kan wees nie. Ander beskou hierdie siening as juis baie rassisties.

Daar is egter ook volop internetkommentare waarin mense wat die woordeboek-definisies van “volk” en “kultuur” volg, as “volksverraaiers” uitkryt, wat selfs konserwatiewe mense hierom as “links”, “liberaal” of nog erger uitkryt. Daar is gereeld verwysings na “blanke volk.” Op die ander punt was daar uit die werklike liberale geledere kritiek op die uitspraak in die Julius Malema-haatspraakverhoor omdat die regter sy bevinding daarop gebaseer het dat die Afrikaner ‘n minderheid is, en daarom op internasionaal-erkende minderheidsregte aanspraak kan maak.

Rassisme is egter geen uitsluitlik Suid-Afrikaanse verskynsel nie. Onlangs moes ‘n sokkerklub van Moskou nog ‘n aantal wedstryde met leë pawiljoene speel nadat sy ondersteuners deur Fifa aan rassisme skuldig bevind is. Hierna het die piesang-sage plek-plek uitgeslaan.

Hoewel die internasionale reg, soos dit ook behoorlik neerslag vind in Afrika-statute, minderheidsregte en selfs groepregte erken, en baie duidelik uitspel wat dit vir opvoedkunde en opvoedkundige instellings inhou (sien Maroela se nuuskommentaar, Solidariteit se opleidingsplanne versus transformasie hier) word die beginsels dikwels vertroebel deur mense aan beide spektrums van die politieke horison wat op die een of ander manier ras daarin lees.

Transformasieprojekte loop dikwels kultuureie instellings, soos die eertydse kultuurkoshuise by Kovsies plat omdat dit met rassisme gelyk gestel word. Ironies was dit aanvanklik swart studente wat op kultuurkoshuise aangedring het.

Wie op kultuureie aandring, het dikwels min met mense se velkleur te make, maar of die kantelpunt in die samestelling bereik is. Heelwat van dit wat gesien is toe die aandrang begin het dat die TV in die gezellie nie op rugby nie, maar op sokker ingeskakel moet wees, is ook te sien in die onvrede wat binne die DA heers. Daardie gevoel van vervreemding wanneer ‘n ander kultuur dominant word.

In die deurmekaarspul wat nou heers, is daar volop vingers om te wys. Ja, swart mense kan ook rassisties wees, en in te veel gevalle word transformasie juis hiervoor misbruik. En is die Afrikaner se kultuurbande dan so effentjies dat dit kunsmatig deur ‘n rassemuur vasgemessel moet wees?

Maar met vingerwysery is dit ook noodsaaklik om te onthou dat een vinger na ‘n ander wys, en drie na ‘n mens self (behalwe in oom Sewes se geval wat drie vingers in die vleismeul kwyt is).

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae