Nuuskommentaar: Nog lesse uit Afrika

Abiy Ahmed Ali word as Ethiopië se nuwe eerste minister ingesweer (2 April 2018). Foto: AP Photo/Mulugeta Ayene

Die verkiesing van ’n nuwe leier in Ethiopië plaas onverwags ’n vergrootglas op die nuwe Suid-Afrikaanse regering se verbintenis tot menseregtevergrype. Suid-Afrika kom tot dusver bedroë daarvan af.

Ethiopië is weer in die nuus, bedoelende nuus wat deels nie vir die land bevorderlik is nie. Op die oog af is die huidige vlaag van bloedvergieting weens verset teen ’n diktatoriale regering voorlopig minstens besweer, maar die fokus kan nou bietjie nader aan Suid-Afrika verskuif word om te sien hoe met reg en geregtigheid omgegaan word.

Dan is Afrika nie vir sissies nie.

Byna onopgemerk woon daar nou al sedert 1991 ’n persoon in Zimbabwe wat in sy tuisland, Ethiopië, ter dood veroordeel is. Hy, en sy Derg-party, word daarvan beskuldig dat hulle sowat ’n half miljoen politieke opponente vermoor het (en die tereggesteldes se lyke dikwels bloot op straat uitgegooi het), en onverskillig teenoor die sowat miljoen slagoffers van ’n hongersnood gestaan het.

Mengistu Haile Mariam was diktator van Ethiopië sedert hy en die Derg van die vorige leier, keiser Haile Selassie, ontslae geraak het. Sommige berigte lui dat Selassie een van sy vermoorde slagoffers was. Die verhoor van verskeie Derg-lede ná Mengistu se omverwerping is met Mengistu in absentia gehou. Mengistu en sy familie, asook verskeie Derg-lede, het na Zimbabwe gevlug waar Mugabe aan hulle asiel verleen het.

Trouens, Mengistu was in ’n stadium ’n vername veiligheidsraadgewer vir Mugabe, en het die Zimbabwiese leier gehelp om van die mees gevreesde “veiligheidsapparatuur” tot stand te bring.

Intussen is Mugabe se bewind self omvergewerp. Die vraag of Mengistu aan Ethiopië uitgelewer gaan word, en of sy asiel ongeskonde gaan bly, kan ’n belangrike aanduiding word van die rigting van die nuwe bewind onder leiding van pres. Emmerson Mnangagwa.

Hoewel die hoofkwartier van die Afrika-unie in die Ethiopiese hoofstad, Addis Abeba, gesetel is, is dié land geen tipiese Afrikaland nie. Taalkundig en etnies behoort die normaalweg heersende stamme eerder tot die Arabiese skiereiland as tot Afrika, en was histories deur oorloë en oor en weer besettings “verbind”. Die stam wat normaalweg oorheers het, die Amharas, asook die naby verwante Tigre, praat soos die Arabiere Semitiese tale. Hulle is egter van die oudste Christene wat ’n Christenstaat geskep het. Die Amharas glo hulle stam van die Jode af, en keiser Selassie se eretitel was ook Leeu van Juda. Hulle het ook hul eie skrif.

Die ander stamme, veral die Oromo’s, is hoofsaaklik Hamiete (Gamiete) wie se taal aan dié van die Berbertale en ou Egipties verwant is. Van die oorspronklike stamme, soos die Eritreërs, is hoofsaaklik Moslem, of groot dele van die bevolkings is Moslems. In ’n stadium het sommige bronne selfs aangedui dat die Moslems die meerderheid van die bevolking uitmaak, maar die hedendaagse neiging is om die Christene as die meerderheid te tipeer.

Abiy Ahmed Ali word as Ethiopië se nuwe eerste minister ingesweer. Regs is die uitgaande eerste minister, Haileamariam Dessalegn (2 April 2018). Foto: AP Photo/Mulugeta Ayene

In ’n stadium was daar nie minder nie as agt burgeroorloë, almal etnies van aard. Hoewel die nuwe grondwet wat ná Mengistu se afsetting beslag gekry het, voorsiening maak dat etniese dele onafhanklik kan word, kon slegs die Eritreërs onafhanklikheid kry. Elders word sulke pogings onmoontlik gemaak. Opstandigheid hou dikwels verband met grondhervormingsprojekte van die regering wat mense wat geraak word heeltemal buite hul stamverband hervestig.

Benewens ’n paar klein stamme in die suide kan min Ethiopiërs vandag as etnies swart beskryf word. Die meeste se voorkoms is bruin en kan moeilik wat voorkoms betref van die Kaapse bruin mense onderskei word. Op skilderye teen ou kerkmure word hulle nog as wit uitgebeeld en ou bronne verwys na wit mense wat die gebied bewoon het. ’n Ethiopiese minister het as afgevaardigde by die Pan Afrika-parlementsitting in Midrand ook haar spyt uitgespreek dat Ethiopië, anders as ander Afrikalande, nie ’n koloniale geskiedenis het nie, en daarom, anders as voorheen gekoloniseerde Afrikalande, oor min moderne infrastruktuur beskik.

Ethiopië is nou ’n ruk lank doeltreffend deur die Tigre regeer, en verskeie eenparty-reëlings het gegeld. In ’n klaarblyklike poging om die land weer op ’n vreedsame koers te kry, is Abiy Ahmed Ali tot nuwe eerste minister verkies. Dit is die eerste keer in die geskiedenis dat ’n Oromo die pos kon beklee, al is dit die grootste stam. Hoewel die Oromo’s meestal Christene is, en Abiy se grootouers Christene was, word sy familie beskryf as van deels Islamitiese herkoms.

Daar blyk nou min geldige redes te wees om Mengistu nié van sy luukse verblyf in Zimbabwe aan Ethiopië uit te lewer nie. Medianavrae oor waar sake nou staan, word nie op so ’n manier beantwoord dat afleidings gemaak kan word nie, maar dit lyk onwaarskynlik. Dit lyk ook nie of daar enige druk van die Suid-Afrikaanse regering en van pres. Cyril Ramaphosa sal kom nie.

Ramaphosa se appèl in die Noord-Gautengse hooggeregshof dat oudpres. Jacob Zuma ongrondwetlik opgetree het in sy aandeel om die Suider-Afrikaanse menseregtehof te ontbind, word uit talle kringe as ’n fout beskou. Ook die bekende Jan-Jan Joubert draai in ’n artikel op Maroela Media nie doekies om nie.

Dit is al of Suid-Afrika hiermee in die rigting van Mugabe en Mengistu leun.

En voeg hierby hoe die harde werklikheid van voorgenome grondgryping in Suid-Afrika, ondanks omhulsels van mooi woorde, ook in die buiteland bly teenspoed kry.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Gemaskerde Sopbeen ·

Die enigste werklike metode wat sukses in Afrika tot ‘n mate kan laat gedy, is voorkoming. Jy moet keer dat ‘n eenparty staat tot stand kom, jy moet keer dat die ekonomie verkrummel, jy moet keer dat misdaad die oorhand kry, jy moet keer dat die staatskas geplunder word, jy moet keer dat geweld uitbreek, jy moet keer dat infrastruktuur tot niet gaan, jy moet keer dat die President vir 36 jaar aan bewind bly………jy moet net heeltyd keer. En in lande waar dit nie gebeur het nie…….is alles tot niet, vervalle, gebreek, verwoes en onomkeerbaar ‘n mislukking. Suid Afrika se “onderhandelaars” het nie ‘n begrip hiervoor gehad in 1990 nie………..Nou word alles agterna ondersoek, bekyk, en een saak na die ander voor “westerse howe” gesleep……waarvoor die Afrikaan geen begrip of sin het nie. Selfs die vorige Prez is nou verontwaardig omdat hy tot verantwoording geroep word…selfs al het hy “geloop” soos wat die mense wou gehad het? En hy verstaan dit nie……

Nico K ·

En Ethiopië kan dit nie op kolonialisme blameer nie, want daar was bitter min kolonialisme. Slegs sowat 8 jaar.

Oom Kalahari ·

@Herman Toerien, dankie en weereens ‘n goeie uiteensetting en prag skryfstuk uit jou pen.
@Gemaskerde Sopbeen, jou kommentaar skrywe is ook goed saamgestel en kan ek niks byvoeg as wat jy alreeds in goeie formaat genoem het nie. Dankie, dit is gebasseer op ware feite.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.