Nuuskommentaar: Noord-Korea se interkontinentale missiel (IKBM) verander skaakspel

Noord-Korea beweer hulle het die eerste interkontinentale ballistiese missiel (langafstandmissiel) ooit op ʼn toetslopie gelanseer. Die foto is deur die regering van Noord-Korea uitgereik. (Foto: Korea News service via AP)

Met ’n ontoerekeningsvatbare leier in ’n land met interkontinentale missiele en ’n kernvermoë, neem Noord-Korea min of meer die lank gevreesde scenario in van terreurgroepe wat kernwapens bekom. Die wêreld is onthuts, want skielik is Noord-Korea nie net meer ’n bedreiging vir sy buurlande nie, maar binnekort dalk vir die hele wêreld. Die spelreëls het oornag verander.

Die geheim van kernwapens is om dit nie te gebruik nie. Die ou waarheid kom egter onder druk met nie net kernwapens in die hande van die Noord-Koreaanse diktatuur nie, maar nou ook ’n vermoë om die wapens op teikens “af te lewer”. Gelukkig is Noord-Korea se bestaande kernwapens te groot om op sy missiele gedra te kan word, maar dié probleem sal na verwagting binnekort ook opgelos word.

Noord-Korea gaan lustig voort met sy kernkragontwikkeling, en toets selfs elke nou en dan ’n kernbom ondergronds, in weerwil van ’n VN-verbod daarteen, en gevolglike sanksies.

Die uitgesproke doel van die Noord-Koreaanse leier, Kim Jong-Un, is om die VSA met kerndraende IKBM’s te bereik. Die missiel is dan ook afgevuur toe 4 Julie, die VSA se onafhanklikheidsdag, in Noord-Korea aangebreek het. Pres. Donald Trump was nie beïndruk nie – ook omdat hy voorheen getwiet het dat “dit nie sal gebeur” dat Noord-Korea oor sulke tegnologie beskik nie.

Binne ure het die groot media wêreldwyd breedvoerig ontledend na die situasie gekyk, byvoorbeeld The Telegraph en die Los Angeles Times. In Suid-Afrika het die Daily Maverick ’n omvattende ontleding van AFP gedra.

’n Klinkklare oplossing ontbreek egter nog.

Die missiel het na berig word 40 minute lank gevlieg, voor dit volgens Japan in sy eksklusiewe ekonomiese sone geland het. Ook Japan was nie beïndruk nie. Die missiel het ’n skerp paraboliese baan gevolg en ’n hoogte van 2 500 km bereik. Die Internasionale Ruimtestasie, daarenteen, trek op ’n hoogte van 550 km bo die aardoppervlak om die aarde. Kenners meen as die missiel ’n platter trajek gevolg het, sou dit verder kon trek. Een kenner meen die missiel sou Alaska kon haal.

Hoewel Kim Jong-Un ná die lansering gespog het dat sy land nou enige teiken enige plek in die wêreld kan tref, lyk dit egter of Noord-Korea nog ʼn entjie het om te gaan voor dit werklikheid sal wees.

Noord-Korea se “waarborg” dat ander lande nie ’n voorspring-operasie sal uitvoer en die aanlegte waar die wapens geberg en ontwikkel word, sal vernietig nie, is onder meer daarin gevestig dat Suid-Korea se hoofstad, Seoel, met ’n saamgestelde bevolking van ongeveer 20 miljoen mense baie naby aan die grens geleë is. Noord-Korea kan op baie kort kennisgewing sy bestaande konvensionele wapens (kernwapens uitgesluit) gebruik om die stad te verwoes voor internasionale magte veel sal kan doen om dit te verhoed. Noord-Korea sit ook telkemale ’n keel op as dit sou blyk dat wapens ontplooi kan word om inkomende vuur af te slaan.

Noord-Korea se ander “troefkaart” is ’n toenemend ongelukkige China. China waarborg Noord-Korea se soewereiniteit, ongeveer soos Duitsland Israel se bestaan waarborg. Maar sedert China die onderneming gegee het, het die twee lande uiteen begin dryf, en steun China die sanksies teen Noord-Korea (maar verbreek dit skynbaar ook na hartelus in die geheim). Wanneer die buitewêreld te dreigend teenoor Noord-Korea word, maak China egter keel skoon. Trump het juis noudat hy meer op China staatgemaak het om Noord-Korea in bedwang te kry, gesê dat dit nie gebeur het nie.

Volgens Noord-Koreaanse propaganda is Noord-Korea die ongelukkige slagoffer van ’n bose buitewêreld, met die VSA as die vernaamste duiwel in die aanslag. Dit is dus nodig om oor so ’n reuseweermag met soveel wapentuig te beskik, en die kernvermoë is sy finale troefkaart om sy eie veiligheid te verseker. Die Kim-dinastie is egter nie besonder bekend vir diplomatiese uitsprake nie, en dit klink eerder of Noord-Korea doelbewus die aggressor probeer wees.

’n Tweede “probleem” waarmee die Noord-Koreaanse leierskap sit, is Suid-Korea se verstommende ekonomiese ontwikkeling. ’n Noodsaaklike doring in die vlees is byvoorbeeld ’n Suid-Koreaanse nywerheidspark in Noord-Korea om werk aan duisende Noord-Koreane te verskaf. Dit het ook al moeilikheid afgegee.

Tydens die Japanse besetting (kolonisasie) van Korea was die Noord-Koreaanse deel die mees ontwikkelde deel. Dit het die meeste minerale rykdomme bevat, en die meeste fabrieke was daar geleë. Toe is op die Suid-Koreane wat baie landelik was, en hoofsaaklik gewoonlik taamlik basiese boeredeymetodes gebruik het, neergesien. Ná die Koreaanse oorlog, en die verdeling van die land, het Suid-Korea as ekonomiese reus behoorlik ontplof, en ook sy landbou hoog ontwikkel. Noord-Korea, onder kommunistiese regerings, het ekonomies begin kwyn, en tydens droogtes en ander ekonomiese swaar tye moes die bevolking tot boombas eet. Die buitewêreld moes gereeld openinge in die sanksienet maak om dodelike hongersnood te probeer verlig. Vir Noord-Korea se leiers is dit erg vernederend, en die werklikheid word deur streng sensuur sover moontlik van die bevolking weerhou.

As teenwig het Noord-Korea ’n magtige weermag opgebou. Die VSA, op sy beurt, hou 30 000 manskappe in Suid-Korea, en verleen omvattende militêre steun. Japan moes noodwendig afsien van sy beleid om slegs op selfverdediging op eie bodem aangewese te wees, en het stil-stil die vermoë ontwikkel om harde voorspringoperasies in Noord-Korea uit te voer. Japan het ook sy eie vliegdekskip gebou.

Ontleders is nou egter baie onseker hoe die pad vorentoe loop nadat Noord-Korea sy jongste tegnologie hard en duidelik aan die wêreld tuisgebring het. Aan die een kant is daar die onvoorspelbare Kim, en aan die ander kant China se onseker rol. Baie ontleders meen die diplomatieke deur met Noord-Korea moet nou groter oopgedwing word. Hierdie ontleders onderskat waarskynlik hoe diepgewortel die Noord-Koreaanse wêrelduitkyk misvorm, en baie diep gevestig is.

En almal word geraak, nie net die VSA en Noord-Korea se buurlande nie. Met behoorlik ontwikkelde IKBM’s met kernplofkoppe kan inderdaad op enige plek ter wêreld toegeslaan word, soos die IKBM’s aan boord van Amerikaanse en Russiese kernduikbote. En met ’n leier wat nie heeltemal toerekeningsvatbaar is nie, kan ’n mens nooit weet nie …

En dan kan daar nog ongelukke voorkom ook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Marisa ·

Uitstekend uiteengesit. Hier is ‘n menigte Suid-Afrikaners wat, soos ek, in Suid-Korea onderwys gee. ‘n Mens raak gewoond aan die ewige geratel van swaarde, maar hierdie keer is ek redelik bekommerd.

anton ·

Dink hierdie is maar net n teken dat ons baie vinnig beweeg na die einde van die aarde!

johnny_walker ·

Amerika beter die apie uithaal , hy laat hulle sleg lyk

Cherokee ·

Nou is ek spyt dat ek met jou saamgestem het in ‘n ander berig op ‘n ander dag, al was dit oor ‘n heel ander tema. Dit is beslis nie Donald Trump wat die apie is nie.

gatiep ·

Ek is banger vir die US se inmeng in al die lande as vir Noord Korea,hulle val niemand aan nie.Ek verstaan heeltemal hoekom hulle ook nou op skaakbord. Is die US bang Noord Korea val hulle aan op hulle Suid Korea grens?
Die Russe val mos al klaar die US aan op hulle Ukrainia grens.

Therese van Schalkwyk ·

Aangesien die VSA uit alle oorde, maar veral vanuit linkse geledere, verantwoordelik gehou word vir die nimmereindigende oorloë in die Midde-Ooste, hoop ek President Trump staan vir eers terug en wag dat die Noord-Koreaanse diktatortjie se manewales deur sy naaste bure en andere hanteer word. Trump het maande gelede reeds sy eie soort diplomasie probeer deur Kim Jong-Un te komplimenteer , o.a. met sy leierseienskappe op ‘n jeugdige ouderdom. Komplimente i.p.v. beledigings!
China, Japan en selfs Rusland en Europa kan gerus inisiatief gebruik en nie alles aan Donald Trump oorlaat nie. Dis nou ‘n gulde geleentheid om te wys of daar iets méér in hulle steek as bloot die gesamentlike koor van kritiek teen alles wat Trump sê en doen.

Bokkie ·

Waarom mag net sekere lande kernwapens he^? Beide Indie” en Pakistan (lg ‘n Moslemland) het kernwapens en IKBMs, waarom vir Noord-Korea uitsonder? Die Missile Technology Control Regime is maar ‘n baie selfsugtige, selfaangestelde old boys club wat niemand anders iets gun nie. Die politieke retoriek rondom

Demokrasie is ieder geval net nog een wereldsbeskouing wat nie noodwendig beter is as ander wereldsbeskouings nie, alles is relatief. Dit gaan oor met watter propaganda jy geindoktrineer is. Die weste se^ die Oosbloklande is duiwels en endarsom.

Die VSA is verantwoordelik vir die destabilisering (en verswakking) van tientalle wettige regerings, ter wille van “beskerming van Amerikaanse belange”. So bv is oa die Iranese regering in die 1950’s deur ‘n VSA-geinisieerde staatsgreep gedestabiliseer, vandaar hul haat vir die Weste. Sien ander voorbeelde deur ” dirty wars” op te soek.

Gun Noord Korea ook maar hul eie kernwapens en neem VSA se skynheilige vloermoer met ‘n sak sout.

John ·

Wanneer het Rusland in die Oekraine aangeval… oo ja dit was daai kernaanval onlangs wat baby-tjoklits opgehaal het toe hy weer sonder sakgeld was… Die VSA se ambisieuse grootbroer-kernkragprogram destyds tydens die 2e WO het verreikende gevolge. Wie het die resep vir N-Korea gegee? Miskien is die land in ‘n doodloopstraat en ly aan selfdoodneigings as uitweg, want die volk is moontlik gedaan van die vreemde spel en groot moeilikheid dreig… Die leier wil dalk met ‘n ‘bang’ verdwyn. Indien een van sy eksperimente inplof is dit klaarpraat… met die hele omgewing… Mens kry die gevoel alles word net te volmaak uitgebeeld…

Hennie Slabbert ·

Dis bietjie dik vir ‘n daalder om te sê “almal word geraak”. Die wêreld bestaan uit baie meer as die Noord-Amerikaanse en Europese vastelande (wat in elk geval aan “delusions of grandeur” ly). Ek is redelik seker daarvan Noord-Korea het bv. glad nie ‘n probleem met Suid-Amerika, Afrika en groot dele van Asië nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.