Nuuskommentaar: Notre Dame: Het elke volk ’n siel?

Vlamme en rook borrel uit die brandende Notre Dame-katedraal in Parys, Frankryk (15 April 2019). (Foto: AP Photo/Diana Ayanna)

Die brandskade aan die Notre Dame-katedraal in Parys geniet wêreldwyd groot nuusdekking. Sekere foto’s tref die oog, soos mense wat langs die Seine staan en kyk hoe die brand sy verwoestingswerk doen, terwyl hulle trane stort.

Bouwerk aan die katedraal het in 1160 begin en is in 1260 voltooi. Dit word as die beste voorbeeld van Franse Gotiese argitektuur beskryf. Een nuusberig verwys na die historiese gebou as die siel van die Franse.

Het alle nasies en volke iets waarna hulle as hul siel kan verwys? En wat van Suid-Afrika?

Dit spreek vanself dat dit ’n gelaaide vraag is in die geval van ’n heterogene gemeenskap, veral in ’n geval soos Suid-Afrika waar verskillende volke heel verskillende persepsies oor dieselfde geskiedenis het. Seker die grootste kopseer in Suid-Afrika is dat swart mense oorweldigend glo wit mense het hul grond bekom deur die van swart mense te gesteel het. Oorweldigend die meeste wit mense glo dis bog – trouens, die ad hoc-komitee het die swart mense se opvatting as “die Groot Leuen” beskryf.

Kan mense met sulke uiteenlopende sienings hoegenaamd iets genoegsaam deel dat dit as die siel van ʼn nasie beskryf kan word? Oudpres. Nelson Mandela se nalatenskap was ’n hele ruk voorgehou as so ’n saambindende faktor, maar dit is reeds duidelik dat dit nie die toets van die tyd gaan oorleef nie. Vergelyk maar die groot aantal swart mense wat nou meen dat Mandela hul belange verraai het.

Wat van Tafelberg? Roer dié berg, internasionaal ’n belangrike gesig van Suid-Afrika, werklik die hartsnare van die landelike gemeenskap van Venda?

Pres. Cyril Ramaphosa se skokkende weergawe oor Bloedrivier was naas die planne vir grondonteiening sonder vergoeding seker een van die belangrikste stimulante om nasionale verdeeldheid te stimuleer. Kort voor die verkiesing maak hy nou ander praatjies.

Mense staan en kyk van ‘n afstand af hoe die vlamme en rook bo die Notre Dame-katedraal uitborrel. (Foto: Thibault Camus/AP)

Vir baie Afrikaners is die kommersiële boerdery so na as moontlik die siel van die volk. Plaasaanvalle en plaasmoorde is dan verstaanbaar baie emosioneel.

Tog deel baie Suid-Afrikaners statisties minstens een aspek – die Christelike geloof. Maar wat het geword van Jesus se woorde dat jy nie net jou naaste moet liefhê nie, maar ook jou vyande, en ook die vreemdeling in jou poorte? (Lukas 10: 27 en Matteus 5: 44).

In die aanloop tot die komende algemene verkiesing is daar weinig tekens van liefde vir die naaste óf die vyand, en sodoende is liefde vir God ook opsigtelik erg gekneus.

Maar ook nie oral nie. Die Hervormde Kerk Wes-Moot in Pretoria vra vergifnis vir die oproeriges wat hul kerkgebou so geplunder en gevandaliseer het dat die gemeente Sondag onder ’n afdak moes kerkgaan.

Die komende naweek word die Paasfees gevier. Donderdagaand vier baie gemeentes die donker Nagmaal.

Gaan ons met besoedelde hande ons kruisies trek?

Ons moet waak teen die versoeking om God as ons instrument vir die verkiesing in te span. Ons moet immers God se instrument wees, en nie andersom nie.  Om die regte voorbeeld in ons daaglikse lewe te stel is baie belangrik, maar dit is moeilik as persepsies oor die werklikheid so uiteenlopend is.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

16 Kommentare

FransK ·

Dié is net so by my straat af, gaan n hartseer loop werk toe wees soos ek al gewoont geraak het die afgelope 13jaar. Maar ons as Frankryk, sal opkom weer!

J van Rensburg ·

Almal wil altyd vertel van Jesus wat sê jy moet jou naaste lief hê, of dalk die Jesus wat sê jy moet die ander wang draai. Ek is ń baie siniese mens van natuur, maar moet jy nogsteeds jou naaste lief hê as hy jou uit moor? As jy klaar op een wang geslaan is, dan is die tweede hou nie meer ń ongeluk nie. Die selfde Jesus wat ons vertel van naaste liefde en draai die ander wang het self die handelaars uit die tempel verjaag met ń sweep. Daar gaan ń tyd kom vir doen, want daar gaan nie meer wange oor wees nie

Hans Richardt ·

Bloedrivier. Wit vs swart oorlog?
Daar was onbekende getal Maleiers wat na osse en perde omgesien het en 20 Zoeloe verkenners in die laer by Bloedrivier. Hierdie slag was teen die tirannie van ‘n diktator en volksmoordenaar.
Die dag is ‘n dankseggingsdag, nie bedoel as politieke speelbal vir wit of swart in SA nie. Tyd om emosionele plakkery te staak op hierdie dag en God te dank vir ‘n regverdige oorwinning vir menseregte in SA.

marco polo ·

Ons moet dalk maar weer die Ou Testament oopmaak. ‘n Oog vir ‘n oog en ‘n tand vir ‘n tand.

JAN ·

Dis die dogma van die satanisme – die selfmoord teologie. ” ‘n Goeie Christen moet ly”
Primitief soos die selfmoord van die Xhosas. 150 jaar gelede.
Modern soos die Afrikaner media se selfkasteiding en kinderoffers [ aborsies]
Nongwasi Media het dit uitgespel en die Afrikaners het gevolg:
Vermoor alle volkshelde
Kinderoffers
Verwoes alle oeste en vee DIY verskroeide aarde soos met die ABO
Sit passief en doen niks – rook net tabak en dagga
Aanbid en offer aan die voorvader geeste [Baal] en offer jou kinders met aborsies oa.
Dan sal die son opkom uit die Weste en jou vyande soos sprinkane in die see laat versuip.

Maak so sakke vol geld – dit WAS heluit betalend gewees hmm?
Rampgedrewe bestaan vir 50 jaar nadat ons Christen leier vermoor is deur sy eie mense!! hmm ?
Dankie vir de mooi skryfsel – laat mens dink en tjank

Andreas ·

Herman, jy vra baie geldige vrae. Ons kan raakpunte en gemene delers in die land soek tot ons blou is, maar daar is nie genoeg gom op die aarde om dit aanmekaar te hou nie.

So is nommer 1 se uitsprake wat jy uitlig, bewys daarvan en dis waar begin kan word, maar dit lyk my dit sal net so onmootlik wees as wat dit vir hom sal wees om elke jong wit mens in die land aan ‘n boom vas te maak om te keer dat hulle in die buiteland gaan werk.

Johannes ·

Bybelse vergifnis is ‘n twee-rigting handeling. Lees mooi wat God se Woord sê: as jou broer om vergifnis VRA, dan MOET jy hom vergewe. Selfs al sondig hy weer teen jou en VRA WEER om vergifnis, MOET jy hom steeds bly vergewe.

Daar moet dus eers berou kom voor jy iemand moet vergewe.

Ek stem glad nie saam daarmee dat Christene verplig is om goddelose boosdoeners en misdadigers sommer goedsmoeds te vergewe nie. Dit klink vir my te veel na humanisme…

Moet ek dus die kinderverkragter, pedofiel, massamoordenaar, terroris ens. ook sommer net bloot vergewe as daar nooit enige berou betoon is nie?

God se Woords stel dit net so duidelik dat ons as Sy kinders ons moet eenkant hou en afsonder van ontaarde en goddelose mense.

Deon ·

Suid Afrikaners het nie ‘n siel nie, ons bly net op die suidpunt van Afrika en deel ‘n land. Van die etniese groepe mag dalk iets hê wat hulle bind, inluitend taal, kultuur, godsdiens, grondgebied, of tradisionele leier. Maar dit is nie in alle gevalle sterk genoeg om as ‘n siel te dien nie. Ons kan maar net poog om goed te wees vir ons naaste.

Adam ·

Deon, jy is in die kol. Vir dekades het blankes gesorg dat SA nie ‘n siel ontwikkel nie en hulle is na 1994 deur ‘n ander groepering vervang wat sal sorg dat SA nooit ‘n siek ontwikkel nie.
Almal het daartoe bygedra en doen dit nog steeds. Dit sal egter goed wees as die godsdiens uit die debat gehou kan word. Ek glo SA het ons Skepper al baie lank in trane.

Andreas ·

Herman, om aan te sluit by my kommentaar hier bo, mens word nou met die skade aan die Notre Dame herinner aan hoe oud die katedraal is, dat dit tweehonderd jaar geneem het om dit te bou. Daardie gebou het al ‘n paar honderd jaar gestaan, toe het die swart mense nog nie van die noorde af die land binne gekom nie, ook het Jan van Riebeeck nog nie aan die suidpunt van Afrika geland nie, ewenwel wys dit mens net weer hoe ver vooruit die mense daar met tegnologie en kennis gevorder was.

Dit is daardie kennis wat stelselmatig van 1652 af sy weg deur middel van die Europeërs en die Engelse die land binne gekom het, dit is daar waar Suid Afrika se ontwikkeling begin het en terwyl sekere mense dit misken en verafsku, ook daardie mense wat vir die ontwikkeling en vooruitgang verantwoordelik was, betrek hulle darem die Parlement- en Uniegeboue.

Die gom wat die Europeërs en Engelse saamgebring het, is duidelik nie sterk genoeg om die siel van Suid-Afrika aanmekaar te hou nie, watter gom die swart mense van die noorde af saamgebring het, weet ek nie, ons moet egter eers die siel van die land soek.

Andreas ·

Die antwoord of ons land ‘n siel het is te vinde in die gebeure van afgelope paar dae en die persoon wat die oorsaak was dat Die Land van die Ghoema musiektoekennings onttrek is. Ook sal mens kan agterkom van watter kwaliteit die gom is.

Cornelia ·

Matt 5: 43 – 48 ( Die Bergpredikasie. Aangaande die vergifnis.) Uit my oogpunt is die Afrikanervolk se “siel” nie gesetel in ‘n uitsonderlike gebou, torings of koninklike weelde wonings nie. Dit lê in sy besondere karakter wat van Geloof in ‘n Gelofte uitgeloop het toe die Lig wat hy saamgebring het, deur elke mag en krag van duisternis gedreig het om God se sending hier aan die Suidpunt van Afrika te stuit. Ons siel is ‘n “GETUIENIS” van Hoop en volharding te midde van ons eie swakhede en sondige natuur. Toe Israel in die woestyn dors gehad het, het hulle met die man van God getwis. Maar Moses het hulle daarop gewys dat hulle die HERE versoek. (Exodus 17: 2) Toe sê Moses: Wat moet ek met hierdie volk doen? Die gedeelte eindig met die veelseggende woorde in vers 7 ….. vanweë die twis van Israel en omdat hulle die HERE versoek het deur te sê: “Is die HERE in ons midde of nie?” Hoor u dit ook gereeld: “ons is te min, te skuldig, te verdoemd. Salig is die Kalebs en Johuas. Want hulle geloof spreek van hulle onmag en God se Almag.

Chrisi ·

Ai ek lees en ek verstaan wat jy sê, dis ‘n groot ideaal waarna gestrewe moet word. Daar’s slegs enkele mense wat dit werklik reg kry, hulle lei afgesonderde lewens, verwyderd van die sekulêre wêreld. In die onse Vader bid ons “Vergewe ons .. soos ons ok vergewe, vir my is daar nie ‘n kwessie nie, as ek nie vergewe nie, kan ek ook nie verwag om vergewe te word nie. Maar onsook “verlos ons van die bose”- en ek verstaan dat die bose ook werk deur mense net soos die Heilige Gees deur mense werk. Verlos my van die bose se werk in my, maar verlos my ook uit die hand van die bose. Paulus het iets genoem dat in sekere omstandighede ons nie eers saam met “sulke mense” moet eet nie. Hy’t dit veral in lig van die gebruik van die heilige nagmaal genoem. Hoekom? Ek glo sodat ons nie ons eie siele “besoel” met onheilighede nie. Al doen jy dit nie, net om dit waar te neem en getuie te wees daarvan, bring skade aan jou siel. Maar op ‘n ander plek staan ook geskryf dat ons moet omsien eerste na die liggaam van Christus, ons mede broers en susters in die geloof, na die wees en die weduwee, dit beteken nie net om ‘n kospakkie af te lewer nie. Dit beteken ook om hulle lewe te beskerm ter wille en ter ere van Sy naam. Dit kan ‘n lang debat raak.

Chrisi ·

En as ek na die Notre Dame se brand storie kyk – sien ek dit met gemengde gevoelens. Maak nie ‘n fout nie, die vakmanskap is asemrowend. Die kuns slaan mens se asem weg. Maar ek’t ‘n gekriewel in my hart en ek wonder of dit wraggies moontlik is daar nog Hugenote DNA in my, na ongeveer 320+ jaar, iewers vassteek. Ek’t tot die slotsom gekom dat die gebou nie ‘n siel het nie. Dis ‘n “donker” gebou en nie eers die vakmanskap kan dit “red” nie. Dit kom uit ‘n feudalistiese era uit, toe mense mekaar vermink en vermoor het en mekaar se besittings gebuit het. Waar die koninklikes die gewone mense uitgebuit het, daarom die Franse Rewolusie. Waar die westerse Roomse Kerk mense uitgebuit het en die evangelie verdraai het. Dit is net a die skeurig van die oorspronklike Christen “kerk” gebou, en die kerk in Rome omgedraai het om hulle broers en susters van klein Asië en Griekeland te vervolg, dood te maak en die kerke te plunder. Het Nostre Dame ‘n siel aan ‘n volk gegee? Ek dink eerder dit het ‘n status simbool en ‘n afgod geraak. En daar besef ek nederig dat ek vergifnis moet vra, sodat die “donker” deel van my voorgeslagte uit my DNA verwyder mag word. Die siel van ‘n volk is nie in geboue nie – dis in die karakter van die mense.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.