Nuuskommentaar: Nou móét ewehandig opgetree word

Vicki Momberg. Foto: ANA.

Die twee jaar regstreekse tronkstraf wat Vicki Momberg opgelê is vir onder meer die ruim gebruik van die “k”-woord, moet as afskrikking teen rassistiese optrede dien. Oor die meriete om ’n eerste oortreder vir crimen injuria twee jaar toe te sluit (ná sy reeds swaar in die gelykheidshof beboet is vir dieselfde voorval) sal mettertyd, en veral tydens die appèlsaak, hard gedebatteer word.

Die probleem is en bly egter ewehandigheid. Empiriese syfers toon duidelik dat regsoptrede teen oortreders van verskillende rasse bitterlik skeef getrek word. Uiteraard skep dit weer ’n probleem op sy eie. AfriForum het byvoorbeeld 113 goed nagevorste sake by die polisie en elders ingedien, maar maak weinig hond haaraf daarmee. Inderdaad word voorvalle van onewehandige optrede nou opgediep, en daar sal stellig nuwe pogings wees om die kwessie te internasionaliseer.

Daar word ook nie van gister af oor die uiteinde van hierdie skeefgetrekte geregtigheid gewaarsku nie. Soms was oud-pres. Jacob Zuma tydens sy regeertyd die voorbok, soos om na wit mense as “white supremacists” te verwys en vol te hou met die storie dat wit mense hul grond bekom het deur dit van swart mense te steel.

En nou sit ons met die gebakte pere van ’n onteieningsdebakel wat nog troppe internasionale konsekwensies gaan hê, veral as ministers sê hulle gaan ook nie vir die grondwetwysiging wag nie, maar sommer nou ’n toetssaak dryf.

Die saak staan verder nie in isolasie nie. Die aantal hofsake waar bedenklike geregtigheid geskied weens skynbare rassevoordeel van die voorsittende beamptes neem toe. In die sogenaamde Reitz-4-saak het die verhoorlanddros (nogal die hooflanddros) die studente ook vir dinge gevonnis waarvoor hulle nie eens aangekla is nie. In die leeukamp-saak is die vonnis vir moord onder appèl verander omdat daar reeds in die strafsaak bewys is die oorledene was reeds dood toe die beskuldigde op die toneel gekom het. Die appèl van die doodskissaak moet nog afgehandel word, maar intussen sit twee mans in die tronk. Die oë is ook skerp gerig op die Coligny-saak.

In verskeie van die rassisme-sake lyk dit of ’n persoonlike eienskap of eksentriekheid ’n rol kon gespeel het. (Soms sluit die definisie van “eksentriek” sekere geestestoestande soos paranoia en skisoïede in.) Eksentrieke mense word in die reël in die privaat lewe, ook binne kerkverbande, charismatiese politieke partye ens, veel meer ruimte toegelaat om hul eksentriekheid uit te leef. Vloekwoorde (wat dikwels versag word) word byvoorbeeld nie aangespreek nie, “want kyk van wie dit kom”.

Omdat hierdie mense ’n verwagting het dat ’n ander stel reëls vir hulle geld, sal van hulle byvoorbeeld by politieke partye aansluit met presies die teenoorgestelde beleid as dit wat hulle self uitleef.

Die probleem is dat die regstelsel nie ook so buigsaam is nie, en eksentriekheid kan die oortreder lekker in die sop laat beland oor onder meer laster en ander vorme van vrye sê. Dit is eerder die mag van die gewoonte as ’n onbewustheid van reg en verkeerd wat die persoon verbaal laat lostrek. ’n Traumatiese insident soos die gryp van ’n handsak sal as sneller kon dien. In hierdie geval het die hof kennelik geoordeel Momberg se rassevooroordeel, wat na berig word ook elders geblyk het, was eerder die sneller.

Indien hierdie vonnis as presedent sou dien om rassevoorvalle deur oortreders van enige ras konsekwent te straf, kan daar nie veel mee fout gevind word nie. Dié mense is immers besig om die toekoms van die land en sy mense te saboteer. MAAR dan moet dit konsekwent wees.

En ten spyte van die verhoorlanddros se versugting in hierdie verband, het die verhoor in ’n landdroshof plaasgevind en dra dit geen formele gesag in die presedentereg nie. Dit moet dus eers op appèl op minstens die vlak van die hooggeregshof draai, en dan “bind” dit net die howe in daardie jurisdiksiegebied.

En daar is nie veel tyd om te sloer om konsekwent te word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Pieter Bouwer ·

Al hierdie sake waar wittes ongelyke behandeling in die howe kry en dikwels swaarder strawwe opgelê word en onteieningspraatjies, wek kollektiewe gevoelens van verontregting by witmense. Ek bid dat, as die drukkoker ontplof, dit nie tot grootskaalse bloedvergieting sal lei nie.

Stephanus ·

Afriforum is tandloos, soos hulle self sê, 113 sake aangemeld en niks daarvan gekom!!!!

WL ·

Vergeet maar van konsekwentheid Herman. “Justified racism” is ‘n realiteit en sal nog vir baie lank ongestraf bly.

Marnus Coetzee ·

Wat? “Dié mense is immers besig om die toekoms vd land en sy mense te saboteer” Nonsens! Hierdie land het haarself gesaboteur deur te kies vir multi-kulturalisme, regeer deur Marxisme en Liberalisme. Dis formule vir geweld en doodslag. Die afgelope 24 jaar het dit reeds waar bewys. Multi-kulturalisme is die Liberales se orgasmiese dagdromery.

Frankie ·

Meneer Toerien, van hierdie oomblik af vorentoe, skep Vicki Momberg se vonnis nie ‘n wettiglike presedent – waar mense vir rassehaat tronkstaf kan kry nie?

Gedagtig aan Malema, veral met soveel bewystukke – geskrewe en video – beskikbaar….?

As hy skuldig bevind word en tronkstraf kry sal dit seer sekerlik baie doen om die momentum te breek van die rassehaat golf wat besig is om oor die land ge spoel.

Sal graag jou opinie hoor.

Gawe groetnis.

Reguit ·

Glo maar julle eie feë verhaaltjies. Wag en sien maar of sekeres hul enigsins gaan steur aan wette, “ewehandigheid”, regverdigheid, reëls, etiek of redelikheid of debat. Leer maar op die harde manier, want duidelik is dit die enigste manier hoe die wittes in SA leer. Die res stem met hulle voete en hulle emigreer.

Oom Kalahari ·

@Vicky Momberg, ek glo vele sou soos jy opgetree het (wel ek sou) as ek so beroof was, want dit is die normale angs, vrese van persoonlike besittings wat jou ontneem is, Dit wat jy moet deurgaan om alles weer te vervang, skok dat jy ook misdaad slagoffer en teiken was. Die beampte/s was nie veel behulpsaam om die verdagte te volg nie en meer op jou toegespits waar tyd verspeel is. Dan word hy nog R100,000 beloon en sou dit andersom gewees het wonder ek of dieselfde optrede toegepas gewees het. Vicky sou jy jou Appel suksesvol afhandel, my dierbare boervrou eis van Regbank, NVG tot Minister. Laat hierdie regering wat so geld spandeer met celebtations opdok.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.