Nuuskommentaar: Nou moet gekyk word na stakings en reg om te werk

Foto: africanarguments.org

Foto: africanarguments.org

Die Numsa-staking waaraan sowat 200 000 werkers deelgeneem het, is uiteindelik na ongeveer ‘n maand verby nadat dié vakbond en Solidariteit die groter werkgewers se nuwe loonaanbod en verbandhoudende aangeleenthede aanvaar het.

Maar reeds voor hierdie verwoestende staking het die uitgerekte Amcu-staking getoon dat die aksente oor arbeidsverhoudinge in Suid-Afrika heeltemal verkeerd is.

Kan enige land bekostig om elke jaar ‘n stakingseisoen te beleef wat enigiets aftakel – van openbare dienste, die mynbedryf, vervaardiging, uitvoere en selfs die onderwys? Stakings wat maar te dikwels gepaard gaan met grootskaalse intimidasie, vandalisme en selfs periodiek moord?

Die Wet op Arbeidsverhoudinge, Wet 66 van 1995, was een van die eerste groot wette van die nuwe regering. Gegewe die agtergrond van die aanloop tot die nuwe bedeling, en beloftes aan kiesers, is dit seker nie vreemd dat van die fokusse agterstevoor geplaas sou word nie. Hoewel die wet in sy titel aandui dat dit oor arbeidsverhoudinge gaan, word die fokus op arbeidsverhoudinge eers as sesde doelwit in die doelstellinge van die wet genoem.

Die reg om te staak word jou werklikwaar as belangriker as die hoofdoelwit, en wel in die vierde plek gestel.

Die wet gee beslag aan arbeidsverhoudinge, soos gemeld in die Handves van Menseregte van die Grondwet. Arbeidsverhoudinge word dus as integrale deel van menseregte beskou, wat onder meer beteken dat hierdie regte deur die regte van ander beperk word, soos ‘n ander se reg om te werk.

Die ironie is dat terwyl die grondwet volop regte verskaf om nié te werk nie, dit geen regstreekse bepaling het oor die reg om te werk nie. Hierdie reg moet onregstreeks afgelei word, en Solidariteit is besig om stukke vir ‘n hofaansoek hieroor voor te berei.

Maar laat daar geen twyfel wees nie, Suid-Afrika kan ook nie bekostig om sonder vakbonde te wees nie. Die statistieke vertel die verhaal: werkgewers verloor sowat 80 000 sake, of te wel driekwart van die sake, voor die KVBA. Voeg hierby sake wat in die arbeidshof gaan draai het, en dit skep ‘n uiters treurige prentjie van hoe baie werkgewers in Suid-Afrika hul werkers behandel. Daar is heel duidelik ‘n taamlike wye gesindheidsprobleem, wat op sy beurt dui op ‘n grootskaalse onkunde oor gesonde bestuurspraktyke.

Verskeie hoëprofielsake waarby Solidariteit betrokke is, toon hoe belangrik ‘n vakbond is – spesifiek ‘n vakbond waarvan die fokus reg ingestel is, en wat sorg dat dit oor die nodige kundigheid beskik dat daar nie probeer word om bloed uit ‘n klip te tap nie.

Maar Solidariteit het tog bitter min met vakbonde soos Amcu en Numsa in gemeen. Dit kan ook nie anders nie, met die sogenaamde rooi vakbonde wat onder die hamer en sekel stry, en Solidariteit wat deel is van die internasionale Christen-vakbondwese.

Hierdie soort vakbonde kom onder meer op georganiseerde skaal in Nederland, België, Engeland en Frankryk voor. Oor die Christelijk Nationaal Vakverbond word geskryf dat dit samewerking met werkgewers bo stakings verkies. Dit beding nie net met werkgewers nie, maar lewer ook insette oor arbeidsake aan die regering.

Die ironie is dat ook die Christelike vakbondwese nie oral deur Christelike groeperings aanvaar word nie, veral vanuit erg fundamentalistiese geledere. Hierdie organisasies neem dikwels blindelings die standpunt in dat die Bybel vakbonde verbied omdat dit boos sou wees. In die ideale wêreld waar elkeen sy naaste liefhet soos homself, waar jy aan ander doen soos jy aan jouself gedoen wil hê, die arbeider sy loon, wat hy “in die sweet van sy aanskyn” voor werk verdien – in so ‘n wêreld sou vakbonde dalk oorbodig wees.

Die verantwoordelike vakbond sal kennis neem van omstandighede soos die land se ekonomie, die lewensvatbaarheid van sektore, die algemene werkloosheidskoers en die erns van werkgewers en werkgewersorganisasies om billik te onderhandel. Daar is min sin in om deur arbeidsoptredes soos stakings meer te verloor as wat gewin is.

Dit strek byvoorbeeld nie tot die Cosatu-geaffilieerde onderwysvakbond, Sadtu, se eer dat dit dikwels as die grootste vyand van onderwys in die land beskryf word nie. Dit het ‘n reputasie dat dit die vrot appels in die onderwys verbete verdedig, en min erg het aan ‘n strewe na uitnemendheid in onderwyssake.

In Suid-Afrika word die onus nog sterker op Christelike vakbonde geplaas om onregte aan te spreek, soos die ANC se amptelike beleid van kaderontplooiing, rasbegunstigde aanstellings en ander maatreëls wat nepotisme en die aanstelling van onbekwame mense, laat staan nog die beste, moontlik maak. Die prys is dikwels dodelik, soos babasterftes weens infrastruktuur, wat rou rioolwater uit drinkwaterbronne moet hou, maar kort-kort in duie stort.

Die behoefte aan vakbonde wat minderhede te midde van blatante rassediskriminasie verteenwoordig, word nog nie minder nie.

Voorts het die Amcu-staking en die Numsa-vulletjie ook getoon hoe belangrik ‘n vakbond soos Solidariteit is wat hand moes bysit vir die veiligheid van sy lede, en uiteindelik dat nie net sy lede nie, maar gemeenskappe nie van ellende vergaan nie. Deur sy Helpende Hand-vertakking het Solidariteit enorme werk in die platinumgordel gelewer.

Selfs die regering het, teen die einde van die Amcu-staking, besef en te kenne gegee dat arbeidswetgewing hersien moet word.

Dit sal die regering loon dat die titel van die wet op arbeidsverhoudinge as duidelike doelwit gebruik word, nie die opkoffie van verhoudinge nie. Wetgewing is selde ‘n goeie metode om verhoudinge te skep, maar in die Suid-Afrikaanse konteks gaan so iets steeds baie belangrik bly. Maar dit sal reeds baie help as die fokus wegval van staak en oproer eerste, en die bou van verhoudinge laaste.

Staking is ‘n grondwetlike reg, maar omdat daardie reg soos ander menseregte begrens word, kan dit nie ander se regte ondermyn nie, en kan dit nie as wapen vir ekonomiese sabotasie gebruik word nie. Dit is ook nie aanvaarbaar as stakings as rookskerm vir politieke afpersing gebruik word nie. Dit is immers Numsa se verklaarde doel om ‘n eie politieke party, ‘n radikale werkersparty, te begin, en hierdie staking het as magsvertoon vir die klimaatskepping daarvoor gedien.

Dit is nog te vroeg om te sê of die stakingseisoen nou verby is, maar dit sal die regering loon om nou nie voete te sleep met die hersiening van arbeidswetgewing nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae