Nuuskommentaar: Nou vir internasionale beregtiging oor “affirmative action” vs. regstellende aksie

Renate Barnard Foto: Solidariteit

Renate Barnard Foto: Solidariteit

Internasionale beregtiging is nou een van die drie opsies wat vir Solidariteit oorbly nadat die grondwetlike hof teen Renate Barnard en Solidariteit beslis het.

Wat die Suid-Afrikaanse howe betref is een aspek van die SAPD se regstellendeaksie-beleid aangeval en is nou uitgeput – nadat dit in die arbeidshof teen die SAPD uitgewys is, in die arbeidsappèlhof teen Barnard, toe in die appèlhof teen die SAPD, en nou weer teen Barnard. Daar is nog aspekte van die beleid van regstellende aksie wat nog in ons howe getoets kan word, en Solidariteit gaan dit doen.

Hoewel Barnard die persoon was wat die spanning van die saak meer as nege jaar lank moes dra, is sy nie al persoon in die land wat hulle in dieselfde of soortgelyke posisies beklee nie. Die uitspraak raak dus nou elke persoon in die land wat met ʼn wit vel gebore is, al is rasseklassifikasie reeds lank voor 1994 afgeskaf.

Die kwessie kan en durf nie daar gelaat word nie, wat weer eens toon hoe belangrik burgerlike instellings soos AfriForum, en ʼn vakbond soos Solidariteit is. ʼn Individu kan so iets nooit aanpak en teen die staat se appèltaktiek uithou nie.

Maar wat sê die grondwet?

Dit wat in die grondwet staan, moet in wese met hofuitsprake oor die wêreld heen, konvensies oor minderheidsregte en ander uitlegte gemeet word. Hieruit kom ʼn duidelike prentjie na vore, ook waargeneem deur Davis, Maduna, Cachalia en ander in hul rigtinggewende werk, Fundamental Rights in the New Constitution. Hulle het ʼn probleem om die regstellende maatreëls waarvoor die grondwet, en meer spesifiek die handves van Menseregte, voor voorsiening maak, “affirmative action” te noem. Hulle verkies die uitdrukking, “corrective action.” Hulle is ook ten gunste van ʼn sonsondergangklousule.

Iets word dus reggemaak wat verkeerd is. Hiermee kan nie fout gevind word nie.

Affirmative action, daarenteen, is ʼn raspaternalistiese konsep waar voorkeur aan mense op grond van veral velkleur gegee word, ongeag of dit iets aanspreek wat (nog) verkeerd is. Dit word dikwels as ʼn blywende meganisme beskou, omdat by voorbaat aanvaar word dat sommige bevolkingsgroepe (minderhede) weens voortdurende diskriminasie altyd agterstande sal hê wat met ʼn voorkeurmaatreël geneutraliseer sal word.

Ongelukkig het dit dikwels in die bevordering daarvan niks (meer) te make met die teenwerking van (vermeende) diskriminasie nie, maar het dit omgesit in ʼn blatante voortrekkery van die eie ras. Juis hierom is van die VSA se voorste teenstanders van volgehoue affirmative action swart mense – swart mense met ʼn selfrespek, en afkeer aan ʼn paternalistiese beskutting.

Omdat die “corrective action” in Suid-Afrika ontwerp is om die swart meerderheid teen die wit minderheid te beskerm, sou die gevaar altyd bestaan dat affirmative action in baie gevalle niks met regstelling te make gehad het nie, maar met volgehoue swart bevoordeling – selfs lank na die gewenste “kwotas” behaal is. Gevalle is genoem waar munisipaliteite met redelike groot blanke en bruin bevolkings, met “affirmative action” voortgaan selfs al was die munisipaliteit se diensstaat al ver meer as negentig persent swart. Mangaung (Bloemfontein) en Dihlabeng (Bethlehem) is al in die verlede hiervoor uitgewys.

Niks word in so ʼn proses reggestel nie, en dit wat verkeerd was, word bloot met ʼn nuwe verkeerd vervang.

Boonop vereis die grondwet dat die staatsdiens en ander instellings doeltreffend moet wees. Kaderontplooiing, saam met “affirmative action” staan egter breed hierteenoor, en dit kos dikwels lewens soos wanneer rou riool in drinkwater beland. Jaar vir jaar rig die ouditeur-generaal ʼn slagting onder hierdie kwessies aan, en veral munisipaliteite dop soos vlieë.

By internasionale beregtiging – en na behore in ons regspraak hier – behoort die arbitrerende liggame behoorlik kennis te neem van die VSA se Supreme Court se uitspraak in April vanjaar, toe Minnesota se verbod op “affirmative action” gehandhaaf is. Maroela Media het volledig hieroor verslag gedoen en kommentaar gelewer.

Wat nou nodig is, is dat almal wat kwalifiseer en kan, by Solidariteit om lidmaatskap aansoek doen, en diegene wat nie kan nie, by AfriForum. AfriForum het byvoorbeeld vanoggend reeds aan Fedsas die versekering gegee dat AfriForum die regskostes sal dra van skole wat hulle in die hof gaan verweer teen ʼn eis dat hulle van hul Christelike etos moet afstand doen.

Maar sonder lede kan hierdie instansies nie hierdie enorme werk gedoen kry wat hulle doen nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jakoos

Dat Barnard onregverdig behandel is, ly geen twyfel nie, maar of dit sin maak om die kwessie nou by die internasionale arbeidsinstellings en dalk selfs die VN te probeer regstel, moet sterk betwyfel word. Ek het nog nie die Grondwetlike hof se uitspraak volledig onder oe gehad om te sien of hulle die beginsel van Regstellende Aksie (RA of AA in die engels) goedgekeur het en of die hof slegs in Barnard se geval teen haar beslis het nie. Maar wat ook al, sal die uitspraak gebruik word om aan te voer dat RA nie alleen wetlik is nie, maar… Lees meer »

Grey Dan

n Naam is baie belangrik en het baie krag. Dink bv. aan hoe die naam “apartheid” deur die wereldmedia gebruik is om druk op die NP regering te sit.

Ons moet begin verwys na restellende aksie as regstellende diskriminasie oftewel affirmative discrimination.