Nuuskommentaar: Number 1 kry 1/10

Pres. Jacob Zuma op 8 Oktober 2014 tydens 'n presidensiële komiteevergadering op 8 Oktober 2014 by die Uniegebou in Pretoria Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Pres. Jacob Zuma op 8 Oktober 2014 tydens ‘n presidensiële komiteevergadering op 8 Oktober 2014 by die Uniegebou in Pretoria Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Daar is op die oog af betreklik min ontsteltenis of verbasing dat pres. Jacob Zuma en ’n paar van sy ministers vir hul “prestasies” die afgelope jaar een uit tien op hul DA-rapporte gekry het.

Trouens, in ’n hele paar reaksies is kop geskud aan waar Zuma, Faith Muthambi en Tina Joemat-Pettersson die 1 vandaan gehark gekry het. Die kabinet het ’n gemiddeld van minder as die druippunt van vyf gekry. Naledi Pandor, die minister van wetenskap en tegnologie, het die beste onder haar kabinetskollegas gevaar (8/10).

Vanselfsprekend meen die ANC dat die DA se menings nie juis iets werd is nie, en stem nie saam dat Number 1 gelukkig was om sy 1 los te slaan nie.

Soos die Matie-student wat nul vir ’n toets gekry het, en toe by die dosent wou verneem of dit nul uit tien, of nul uit twintig was?

Natuurlik is daar ’n goeie skoot politiek hierin, maar die president se lamlendige vertoning op hierdie, en ander politieke partye se telkaart, maak tog saak. Lyk die syfers vir die kiesers laf en na goedkoop politiekery, dan gaan die kiesers daardie opposisieparty by die stembus daarvoor straf. ’n Party moet dus baie seker daarvan wees dat die syfer met die persepsie van die meeste, of minstens ’n beduidende groot deel van die kiesers strook.

Hierdie uitslag kom te midde van ’n verbete terugvegpoging van die Zuma-lojaliste/-begunstigdes wat nie net probeer om Zuma se bas te red nie, maar as goeie en gerespekteerde president (al wil dr. Blade Milner, ekskuus, Nzimande (5/10) wetgewing hê om hierdie respek op te dwing), aan die kiesers probeer verkwansel.

Terwyl aan ’n uittog-strategie vir Zuma gewerk moet word en al lankal in die implementeringstadium moes wees, word hard probeer om donkievye as aarbeikonfyt aan die kiesers te verkoop. Hiervoor het Zuma ’n KwaZulu-Natalse en Zoeloe-magsbasis.

Die naweek skryf Tim du Plessis in sy rubriek in Rapport: “Suid-Afrika is nie ’n mislukte land nie, maar word deur ’n mislukte, bankrot politieke party onder ’n swak, verdorwe leier geregeer.” Volksblad neem dit vanoggend in ʼn hoofartikel ook onder die loep.

In ’n mediaverklaring verduidelik die DA hoekom Zuma en ’n paar ander so swak vaar. Die DA se bevindinge teen Zuma is so oorweldigend dat die “1” wat toegeken is eintlik baie rojaal klink. Net so lyk die bevindinge teen Muthambi dodelik, met die aanklag dat sy in haar hoedanigheid as minister van kommunikasie, ’n propaganda-arm vir die ANC skep deur onder meer verbete lojaal teenoor hoogs omstrede figure in die SAUK en SAUK-raad te wees.

Die volledige telkaart kan hier besigtig word.

Word na die verskillende internasionale indekse gekyk, is dit inderdaad so dat Suid-Afrika (nog nie) as mislukte staat geklassifiseer kan word nie. Die groot kommer is oor die vinnige kreeftegang waarop Suid-Afrika op die indekse gly, veral sedert Zuma die leisels in die land oorgeneem het. Op die korrupsie-persepsie-indeks is die tendens die skouspelagtigste, maar ook die persvryheidsindeks, en meer tegnokratiese indekse soos die innovasie-indeks skep rede tot kommer.

Maroela Media het onlangs in ’n nuuskommentaar breedvoerig verslag gedoen op Suid-Afrika se kreeftegang op die indeks wat voorheen as die indeks vir mislukte state (piesangrepubliek-indeks) bekend gestaan het, maar nou politiek-korrek die indeks vir brose state genoem word. Veral op sekere subindekse vaar Suid-Afrika kommerwekkend swak. Suid-Afrika tel nie onder die state wat werklik reeds misluk het, of baie naby daaraan is nie, maar eerder onder die brose kategorie.

Die groot probleem is dat Suid-Afrika op die oog af die enigste land is wat (hopelik onbedoeld) aktief werk maak daarvan om in die rigting van ’n mislukte staat te beweeg.

Die redes is opvallend:

–       Die land kan Zuma nie as president bekostig nie, en omdat hy die kabinet aanstel, is baie van die ministers se aanslag op die land ewe skadelik. Daarom moet kennis geneem word van die punte, en veral druippunte wat opposisiepartye toeken.

–       Die beleid van kaderontplooiing en alles wat daarmee saamhang plaas dienslewering onder druk. ’n Syfer van R83 miljard skade weens beurtkrag word nou in die media genoem, maar verslae oor munisipaliteite in die land sal genoeg mense met genoeg nagmerries laat om ’n paar leeftye te hou.

–       Van grondwetlike demokrasie het gevaarlik min oorgebly wat frustrasie skep en die parlement in ’n sirkus onder beleg omskep. ’n Groot vlieg in die salf is weer eens die prez self wat blatant die grondwet minag deur nie genoegsaam opposisievrae in die parlement te kom beantwoord nie, en dus die parlement van sy grondwetlike oorsigrol stroop, en die president van verantwoordbaarheid laat ontsnap.

–       Die howe en artikel 9-instellings word op verskeie maniere, maar veral deur die toehand-benadering tot submissie gesmoor.

Goedkoop politiekery of nie, die telkaarte wat opposisiepartye aan kabinetsministers en die president self uitdeel, is tog ʼn spieël van hoe gesond die demokrasie in die land is. As swak punte uitgedeel word, en die publiek wonder waarom die mense nie nog swakker gevaar het nie (en dikwels goeie redes aanvoer oor hoekom dit nog swakker moes wees), dan is daar gevaartekens. Op RSG was daar na die bekendmaking van die punte selfs ’n inbelgeleentheid aan luisteraars om hul menings uit te spreek oor hoekom Zuma een, en nie nul nie, gekry het, want die omroeper kon self aan niks dink wat die een punt geregverdig het nie. Die beste waarmee ’n inbeller aan kon dink was Zuma se glimlag – presies dieselfde glimlag wat dikwels weens die onvanpastheid daarvan bitter baie mense die mure uitdryf.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Piet Smith ·

Is dit nie teveel nie moet dit nie soos sy ik met ‘n minus begin nie

j.z.myburg ·

Allmal weet van no 1 een ,maar wat my wen is die wat hom verdedig,hul eie name deur die modder te sleep ,om die swakste pres nog te verdedig,of is hulle ook maar nie veel meer werd nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.