Nuuskommentaar: Nuus wat ‘n mens laat goed voel

ʼn Motorfietsryer wat met sy vroulike passasier teen 200km/u vir die geregsdienaars probeer wegjaag het, het ʼn paar glimlaggies ontlok met sy plan om weg te kom – hy het die nommerplaat met ʼn stukkie vroulike onderklere bedek. Gelukkig is nie alle nuus galbitter nie…

Gister het AfriForum aangekondig dat sy jeugvleuel ʼn wêreldrekord opgestel het vir die langste ononderbroke braai – ʼn yslike 38 uur en 17 minute. Met dié rekordpoging is fondse ingesamel vir AfriForum se Red Afrikaanse Skole-veldtog.

Nog ʼn belangrike aspek van die rekordpoging is opgesluit in die woorde van die nasionale voorsitter van AfriForum Jeug, Charl Oberholzer: “Die rekord is ʼn wyse waarop ons as Afrikanerjongmense ons eie kultuur op ʼn positiewe wyse kan vier. AfriForum Jeug het al voorheen braairekordpogings suksesvol aangepak en doen dit om jongmense opgewonde te maak oor hulle eie kultuur. Daar is soveel geleenthede vir jongmense in Suid-Afrika om ʼn verskil in hulle eie realiteit te maak, al is dit net om ʼn braairekord te verbeter of om te werk vir iets groter as jyself.”

Die jaarlikse Goliat van Gat, en rekordpogings om die grootste pampoen te kweek is ook iets wat jaarliks die oog vang.

Dié woorde sal nie oral ewe goed ontvang word nie. Sommiges sal dit as politiek inkorrek beskou, of as selfs ideologies subversief in die konteks van die nuwe Suid-Afrika, of isiolasionisties en ʼn horde ander taalgogganuutskeppings beskryf en slegsê.

Laat daar dadelik geen twyfel wees nie: Die Suid-Afrikaanse grondwet bied ruimte vir kulturele uitdrukking, soos ook gesien word in die president se veelwywery. Daar is pogings om elemente van die Koi-kulture te laat herleef. By hierdie geleenthede word dikwels, selfs op TV, politieke uitsprake gemaak wat die hare laat kriewel.

In die verlede was daar al vrae oor waar die Afrikaner hom bevind tydens groot nasionale geleenthede waar spesifieke dae aan sake soos Vryheidsdag, Jeugdag, Menseregtedag en ander afgestaan word. Dikwels is die antwoord verwytend: “Om die braaivleisvure en in hul kringetjies doelbewus geïsoleer van die Suid-Afrikaanse prentjie daarbuite.” Vakansiedae  word dus vir ʼn heel ander soort geleentheid benut.

Na bykans elke gradeplegtigheid is daar nou briewe van ontstoke ouers wat kla oor die gejillery tydens iets, wat volgens hulle, ʼn plegtige geleentheid moes wees. Die jillery volg ook ʼn sterk rasse-voorkeur, wat vir baie wat die nuwe Suid-Afrika omarm, ook aanstoot gee.

En weer eindig sake om die braaivleisvuur – of liewer, om die braaivleisvuur vir diegene wat dit nog kan bekostig. Rubriekskrywers het ook al ʼn rugbystadions verwys as tempels waar die Afrikaners (half geswaai) hulde aan ʼn kulture afgod bring.

Kritiek op die wrede praktyke tydens voorvaderaanbiddingsrituele wat ook op staatskoste plaasvind, en die land oorsee onder veral diereliefhebbers enorme skade berokken, word as politiek inkorrek afgemaak. Terselfdertyd word veral ʼn karikatuur van die Afrikanerkultuur geskets en soos ʼn strooipop bestook.

Daar is niks mee verkeerd vir die Afrikaner om sy kultuur te leef en te vier, en die grondwetlike regte en regte deur die internasionale reg bepaal op te eis nie. Die werklikheid daarbuite is dikwels nie so mooi nie – die afgelope twee weke is twee vroue so ver uitmekaar as Citrusdal en Randfontein op hul plase vermoor. Die een was 75 jaar oud, die ander jonk en is voor haar 5-jarige seuntjie en 3-jarige dogtertjie doodgeskiet.

Dit is natuurlik, en dit is goed dat koestering en eie wees binne die kultuurkonteks opgesoek word.

Met kultuurbeoefening kom egter ook verantwoordelikhede, en die vrae word al hoe meer. Kan die susterkerk-lidmaat nog kerk toe gaan en onaangeraak word deur die ongelooflike wreedheid van die eietydse inkwisisie se karaktermoorde? Kan ʼn vrolike samekoms nog plaasvind sonder dat die voggies in oordaad onder die boepensbrigade vloei? Kan die Afrikaanse humorstorie nog in die tradisie van ʼn Jan Spies vertel word of ontaard dit in vlak banaliteit waar die woordeskat nou nie juis deur selfs ʼn ruimerige ring getrek kan word nie?

Is die karikatuuruitbeelding van die Afrikanerkultuur nog ʼn bietjie deernisvolle spot, soos die soppiekoppie-uitbeelding wat dui hoe lief die Afrikanerpa vir sy kleintjie op die skouers is, of is dit gewone afkeer?

Daardie keuses oor ʼn beeld van fatsoenlikheid lê grootliks in die Afrikaner se eie hande. En in die staatkundige konteks is dit nie onderhandelbaar nie, anders is daardie pad met baie meer dorings besaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.