Nuuskommentaar: Nuuskommentare en die jeug

Argieffoto (Foto: Engin_Akyurt, Pixabay)

By geleentheid “vra” ’n jong meisie op sosiale media of die ouer skrywer van ’n ander gepubliseerde stuk dan 90 jaar oud is? Dit is ligjare verwyder van die ou konsep van kinders wat gesien, maar nie gehoor moet word nie.

Deur sosiale media word intensief openbare diskoers gevoer, en jong en ouer idees word gereeld aan mekaar blootgestel. Soms lyk dit na ’n onoorbrugbare kloof.

In hoe ’n mate is jong mense aan radiostasies se nuuskommentare, en koerante se hoofartikels (“editorials”) blootgestel? En veral, tot watter mate word deelgeneem?

Maar eers enkele opmerkings oor die doel en karakter van nuuskommentare en hoofartikels.

Omstandighede verskil grootliks, en dit kan wees dat die aard van nuuskommentare en hoofartikels min raakvlakke vertoon. Gewoonlik sal ’n hoofartikel suiwer binne die beleid van ’n koerant wees, en ook daardie beleid bevorder. As ’n koerant byvoorbeeld verklaar dat dit ’n Christelike onderbou het, sal dit in die hoofartikel reflekteer. As dit kapitalisme voorstaan, sal kommentaar oor sosialistiese praktyke konsekwent krities wees.

Tog het dit ook ten doel om informatief te wees, en nuusfeite oor ’n wye spektrum word as agtergrond gebruik, en soms word dit as toeligting gebruik. Die gevolg was dat daar oor die wêreld heen reeds verskeie hofsake was oor kopieregskendings of plagiaat, en veral Amerikaanse howe het die liniaal behoorlik ingespan om te bepaal hoeveel persent die gebruik van oorgeneemde inligting wat in die openbare domein is, is in die haak. Gewoonlik word tien persent as aanvaarbaar beskou. Die gebruik daarvan moet ook regverdig (“fair”) wees.

Nuuskommentare daarenteen word beskryf as die werk van individue wat hul eie mening weergee. Benewens informatief, is dit ook oorredend van aard.

Die Society for Organisational and Industrial Psycology vat dit só saam, met die skrywer se invoegings tussen hakies:

Purpose:

The goal of the focal article-commentary format (news commentary) is to advance the field by providing a forum for varying perspectives on the topic under consideration. A commentary may be:

  1. a) a critical challenge to one or more aspects of the focal article (topic under discussion), arguing for a position other than that taken in the focal article; (general perspective);
  2. b) an elaboration or extension of the position taken in the focal article, (objective research) basically sympathetic to the position taken in the focal article (issue at hand), but pushing the argument further;
  3. c) an application of a theoretical perspective that sheds light on the issues addressed in the focal article (issue at hand);
  4. d) a reflection on the writer’s experiences in applying the issues addressed in the focal article (topic under discussion) in particular organizational settings;
  5. e) a comment on applicability of the issues raised in the focal article (topic under consideration), to other settings, or to other cultures;
  6. f) a comment with a focus other than those listed above.

In Suid-Afrika en die meeste wêrelddele, hoewel baie van die beginsels hierbo vermeld geldig bly, is ’n nuuskommentaar selde op ’n fokusartikel gemik. ’n Belangrike saak word onder die loep geneem, nagevors en neergepen. ’n Belangrike deel hiervan is om kennis te neem van die menings van ander kommentators oor dieselfde onderwerp – nie noodwendig om gebruik te maak van nie, maar om die eie opvattings met ander opvattings te toets. Die naaste wat gewoonlik gekom word aan die kommentaar lewer op ’n ander artikel is gewoonlik juis om na die menings (en soms feite) van ander kommentaarskrywers te verwys. Lesers sal hulle onder meer herinner dat in Maroela Media se nuuskommentare gereeld na die skrywes van ’n formidabele rubriekskrywer soos dr. Leopold Scholtz verwys word, asook Max du Preez, Christi van der Westhuizen en ander. Soms word saamgestem, soms word verskil.

’n Nuuskommentaar soos dié van Maroela Media sal noodwendig verskil van die tipiese nuuskommentaar van ’n radiostasie, soos dié van Pretoria FM. Radio-kommentare word gewoonlik beperk tot 200 tot 500 woorde (soos by Pretoria FM). (Maroela Media publiseer gereeld van Pretoria FM se nuuskommentare, wat deur ’n verskeidenheid mense opgestel word, op die platform, Nou Pra’ jy).

Die kuberruim bied die geleentheid dat ’n saak behoorlik deurtrap kan word, en die lengte sal dan ook van dag tot dag verskil. Die beginsel bly egter ook staan dat ’n nuuskommentaar in die kuberruim nie langdradig moet wees en uitrafel nie. Die grootste druk is egter tyd – ’n nuuskommentator probeer so aktueel as moontlik bly… hy sal dus voorkeur gee aan vars nuus, en probeer om sy stuk aan die lesers beskikbaar te stel wanneer die nuus nog deur die publiek verteer word. Koerante kan nie werklik hiermee “kompeteer” nie aangesien daar met ’n saktyd te make gekry word, en wanneer die koerant gelees word, nie meer noodwendig oor die vernaamste nuus van die dag handel nie. Die kuberruim bied voorts die voordeel dat dit meer as een nuuskommentaar op ’n dag kan hanteer wanneer iets belangrik deur die loop van die dag gebeur.

Ons keur terug na die jeug en nuuskommentare.

Youth Radio stel sy doelwit hiermee soos volg: REAL VOICE. REAL PERSPECTIVE. “That’s what a radio commentary is all about! Commentaries are short, first-person stories that clearly express an individual’s opinion or world view and why it matters to the outside world. At Youth Radio, commentaries offer an opportunity for young people to share their perspectives on an issue they’re passionate about, and to become effective communicators.”

Die karakter van nuuskommentare word soos volg beskryf:

  • Come from a first person perspective
  • Assert clear point of view/opinion
  • Connect personal stories or experiences to bigger social themes
  • Communicate conversationally – how people really talk vs. formal essay-writing
  • Include opposing points of view, arguments and/or research
  • Keep it brief. Commentaries are best at 1-2 minutes long (that’s about one page single-spaced, or between 200 and 500 words).

Maroela Media se nuuskommentare verskil in dié opsig dat dit wel (self)-gebonde is aan die maatskappy se Christelike beginsels. Dit, vir soverre dit moontlik is om objektief/neutraal te wees en politiek-onverbonde. Dit is nie politiek-korrek nie. (Wanneer daar ’n staatskaping plaasvind is dit onmoontlik om te swyg in ’n poging om politiek onverbonde te wees).

Dit is openlik pro-Afrikaans.

Is dit wat die jong mense wil hê?

Maroela Media bied aan lesers die geleentheid om deur kommentare onderaan nuuskommentare en ander artikels en berigte hul menings te lig. Daar is ook ’n briewestelsel vir lesers. Ook jong mense kan meedoen (en doen dit wel), waar hulle hul eie opvattings kan meet teen dié van ouer lesers. (Dit moet net binne Maroela se riglyne, soos die verbod op haatspraak, geskied).

So kan oud (of ouerig) en jonk se opvattings aan mekaar skuur.

Dié nuuswêreld is leeuwêreld, en dit is die taak van die nuuskommentaarskrywer om verantwoordelik na te vors en te ontleed om ’n verantwoordelike wêreldbeeld te skep. Vir die slyp van klein byltjies is daar geen plek nie.

Komaan jeug, kon verryk julself deur ook jul stemme op Maroela Media te laat hoor. Tree in getalle aan!

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Leendert ·

Ek stem saam met jou Herman, veral dit wat die jeug betref, dis dan mos nou hulle dag vandag, maar die wit jeug, die bruin jeug, ander rasse, die Afrikaner jeug word deur die regering van hierdie dag uitgesluit, omdat hulle 16 Junie, Sowetodag, vir die swart jeug gekaap het.

Laat die Afrikaanse jeug, sommer elke dag hul stem laat hoor, en ons moet hulle saamneem met hul idees en meedelings die toekoms in.

1976 is meer as 40 jaar in die geskiedenis, daardie jeug is nou al oor die 50 jaar oud, ek glo die regering kan gerus ‘n werklike jeugdag op ‘n ander dag hou, wat ALLE jeug van alle rasse inklusief maak. Waarom vra hulle nie vir ‘n slag die jeug, van alle rasse, om met iets positiefs vorendag te kom, wat die jeug hul eie kan maak en vier nie.

Hierdie dag, 16 Junie, het die ANC gekaap vir hul eie verheerliking, dan dink ek aan 16 Desember jaarliks, ses maande na vandag se datum.

MCH ·

Die jongetjies is die toekoms. Hul mening tel. Dit sal wonderlik wees om hul vertolking van die nuusgoed te kan ervaar. Dink hul is maar skrikkerig om hul naam krater te maak weens gebrek aan lewenservaring. Die ouer geslag is op die stadium ook vuisvoos met al die gebeure buite ons gemaksone dat ons reaksie daarop dalk nie altyd die beste voorbeeld is nie.

Leendert ·

Wat van Jeugdag, sonder stertjies by, wat van, sommer net, Jeugdag?

Henry ·

Die afwesigheid van enige ‘jeugdige’ kommentaar moet sekerlik vir julle by Maroela Media een of ander ietsie vertel.
Of hoe?
:-)

Johannes Meintjes ·

Die gebrek aan wedersydse kulturele respek in SA is moontlik die eerste groot uitdaaging. Daarna gefokusde samewerking met inagneming van elke kultuurgroep se jeug se mening. Die jeug se opvattings oor geskeidenis, die hede en die toekoms is van uiterste belang vir ‘n voortgesette en volhoubare samelewing. My vraag tans binne die meer konserwatiewe geledere is of dit waaraan die “oumense” nog vashou en nou weer angstiglik in plek wil bring, werkbaar is vir die nuutste generasie? Hoe gaan ons ‘n stigtende aflosstokkie in multi-kulturele SA oorhandig kry, gebou op bewese norme en vaste fondasies vir die toekoms?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.