Nuuskommentaar: Nuusoorsig 2016 Deel 4

fopnuusGewoonlik behels ’n nuusoorsig in ’n nuuskommentaar dat ’n inligtingswaardering vir ou laas van belangrike nuusgebeure gemaak word. Vandag wyk ons van hierdie beginsel af en kyk kortliks na ’n aantal nuusgebeure van die jaar.

Algemene nuushoogtepunte

Buiteland

Die NUnl (Nederlandse nuusdiens) noem die situasie in Sirië, die grondverlies van die Islamitiese Staat, die Amerikaanse presidentsverkiesing, die vlugtelingproblematiek, Brexit, en Rusland se ekonomiese knyp weens sy optrede in die Krim, Oos-Oekraïne en Sirië as belangrikste buitelandse  gebeure.

Die voorkoms van Islamitiese terreur in die hartjie van Europa speel ook ’n belangrike rol is wêreldgeledere.

Dit sal moontlik ook onthou word as die jaar waarin rubriekskrywers en kommentators erg klippe gekou het weens die opkoms van fopnuus, waaraan lesers hul ore uitleen en dan die rubriekskrywers uitlooi – ook diegene wat baie hard probeer om objektief te wees en bronne oor ’n wye front raadpleeg.

Presies hoe gevaarlik fopnuus kan wees, blyk daaruit dat Pakistan se minister van verdediging pas Israel met ’n kernoorlog gedreig het. Die minister het sy ore uitgeleen aan ’n wolhaarstorie op ’n fopnuuswebblad.

Intussen duur die debat voort of die Koue Oorlog weer stewig in volle swang is, en of dinge nog net neig na ’n hervatting van die Koue Oorlog.

Swede het ook onlangs bekend gemaak dat die moord op sy eertydse eerste minister, Olof Palme, hervat word. Suid-Afrika se vorige regering is een van die verdagtes.

’n Voormalige Portugese premier, Antonio Guterres, is as nuwe sekretaris-generaal van die VN aangewys. Guterres was ook vroeër die VN se Hoofkommissaris vir Vlugtelinge.

Oscar Pistorius. Argieffoto: Siphiwe Sibeko/Reuters/Pool

Oscar Pistorius. Argieffoto: Siphiwe Sibeko/Reuters/Pool

Binnelands

Suid-Afrika se binnelandse nuus is oorheers deur pres. Jacob Zuma (wat môre aan die beurt kom), die studenteonluste wat Maroela Media reeds gister aan die bod geplaas het, die uitmergelende droogte en plaasaanvalle. Oscar Pistorius is terug tronk toe na die appèlhof bevind het dat hy inderdaad aan moord skuldig is.

Hoewel dit oor dele van die land goed gereën het en daar selfs lewensverlies in die gepaardgaande vloede was, is die droogte oor groot dele van die land nog nie gebreek nie. AgriSA het onlangs weer ’n beroep op die regering en die publiek om hulp met die droogte na beskikbare hulp uitgeput geraak het. AfriForum is gereeld in die nuus met die vragte voer wat by noodgeteisterde boere afgelewer word.

Vroeg in Desember het AfriForum en die TLU SA saam verslag gedoen oor 2016 se plaasaanvalle. Dit het die sesde agtereenvolgende jaar ’n styging getoon. In daardie stadium is 64 mense vermoor, en was daar 334 plaasaanvalle. Volgens ’n onlangse mediaverklaring deur dr. Pieter Groenewald, leier van die Vryheidsfront Plus, is die moordkoers onder boere en hul gesinslede nou 130 per 100 000. Dit beteken dat boere en hul gesinslede nou die identifiseerbare groep met die hoogste moordkoers ter wêreld uitmaak. Voorheen was dit die bruin mans van die Wes-Kaap wat veral weens bendebedrywighede sowat 95 per 100 000 was.

’n Saga wat aanstaande jaar voortgesit gaan word, is die parlementêre ad hoc-komitee oor die SAUK. In dié stadium het ontsaglik baie goggas reeds uitgekruip.

Wayde van Niekerk (Foto: @WaydeDreamer, Twitter)

Wayde van Niekerk (Foto: @WaydeDreamer, Twitter)

Sport

Wade van Niekerk se Olimpiese goud in die 400 meter vanuit die moeilike buitebaan, asook sy nuwe wêreldrekord, staan uit as sportprestasie vir die land. Dit staan in skrille kontras met die Springbokke se treurmare, waar die verloorslag teen Italië seker die laagtepunt was, waaroor die rugby-ringkoppe nou al deeglik lykskouing gehou het.

Die kwota-aspek in sport het vanjaar sterk na die oppervlak gebloei na die minister verskeie sportsoorte se reg om internasionale byeenkomste aan te bied, opgeskort het. Sokker het nié die teenspoed op die lyf geloop nie, al is sekere bevolkingsgroepe sterk onderverteenwoordig.

Foto: Marcio Jose Sanchez/AP/File

Foto: Marcio Jose Sanchez/AP/File

Wetenskaplike navorsing

Volgens die Christian Science Monitor is die volgende sewe items die belangrikste wetenskaplike verwikkelinge van die jaar: Lees gerus die volledige berig by die skakel. Nie alle wetenskaplikes sal met die lys saamstem nie.

  • Wetenskaplike het twee keer vanjaar gravitasiegolwe “gesien”, ’n eeu na Einstein voorspel het dat dit bestaan. Die navorsers is teen alle verwagtinge in nie met ’n Nobelprys vereer nie, maar die tydskrif Science het hulle vereer vir “die deurbraak van die jaar.”
  • Google se program vir kunsmatige intelligensie, Alpha Go, het die menslike kampioen van die ou strategie-spel, Go, in vier van vyf rondes uitgestof. Vroeër die jaar het Alpha Go die Europese kampioen met vyf – nul afgeransel.
  • In Junie het die joernaal, Science, bekend gemaak dat wetenskaplikes bevind het dat die gat in die osoonlaag aan die herstel is.
  • Wetenskaplikes het vasgestel dat daar ’n aardtipe planeet om die aarde se naaste buurman, die ster Proxima Centauri wentel. Die planeet wentel boonop in die ster se Goue Lokkiessone. Met die huige tegnologie sal dit ’n ruimteskip van die aarde nou 80 000 jaar neem om die planeet te bereik en om te kyk of daar intelligente lewe op is.
  • Eenvoudige lewensvorme soos bakterieë se selle is sonder interne membrane en staan as prokariotiese selle bekend. Meer gevorderde lewensvorme se selle is komplekser en staan as eukariotiese selle bekend. Wetenskaplikes het nou eukariotiese selle gevind wat nié oor mitochondria beskik nie. Mitochondria is as die kragbron van dié soort selle beskou.
  • Wetenskaplikes het vasgestel dat die sogenaamde hobbit (Homo floresiensis) nie eers sowat 11 000 jaar gelede nie, maar tussen 60 000 en 100 000 jaar gelede uitgesterf het. Die foutiewe berekening is deur erosie veroorsaak. Die nuwe data kon verkry word deur van vyf verskillende dateringsmetodes gebruik te maak.
  • Wetenskaplikes was lank reeds bewus daarvan dat sommige voëlspesies items as gereedskap gebruik om byvoorbeeld mee kos te soek. Daar is ook vasgestel dat die kokketiele gereedskap uit verskeie materiale kan maak. Met eksperimente is vasgestel dat klein eendjies oor abstrakte denke beskik.

Môre

Môre word na ’n geheelbeeld gekyk van die wydlopende impak van Zuma se presidentskap op die land, soos dit vanjaar gemanifesteer het.

Lees ook:
Jaaroorsig Deel 1
Jaaroorsig Deel 2
Jaaroorsig Deel 3

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Leendert ·

Betreffende Zuma, gaan lees gerus ook op Fin24 van 28/12 RW Johnson se insiggewende artikel: Why Zuma’s ANC is turning to racism.

Theuns ·

Dagse Herman,
Die mees intresante deel van jou Deel4 kommentaar is die Gedeelte oor die Wetenskap. Hoe meer ek insig in die wetenskap kry hoe meer bevestig dit vir my Einstein se woorde “Science without religion is lame,religion without science is blind!” Einstein se ook”The human mind, no matter how highly trained cannot grasp the universe.” Einstein gaan verder en verduidelik die mens se delema as volg:”We are in the position of a little child, entering a hugh library whose walls are covered to the ceiling with books in many different tongues. The child knows that someone must have written those books. It does not know who or how. It does not understand the languages in which they are written. The child notes a definite plan in the arrangement of the books, a mysterious order, which the child does not comprehend , but only dimly suspects that it was written and arranged by GOD”.

Theuns ·

Herman, die rede hoekom ek Einstein aanhaal is omdat dit baie beter sou wees as die mens hom met die ongelooflike wetenskap en God besig hou en kon wegstap van die aardse beuselagtighede soos rassisme, moord en gewonge oorlewing. Net ‘n laaste gedagte. Einstein kon, so slim soos hy was, nie verstaan dat die menslik vleeslike ligaam en die siel twee aparte entiteite is nie en wat met die dood geskei word nie. Die ligaam keer terug tot stof en die siel na God! Die skeiding is die enigste manier wat die siel, baie vinniger as die spoed van lig, in die Hiernamaals kan beland. Is dit dalk nie die Skepper se “Wormhole” wat hy geskep het om dit te kan doen nie? Jy se in jou kommentaar dat om ons naaste ster te bereik gaan 80 000 jaar neem teen die spoed van lig! Watter wonderlike geheime le nie opgesluit in die Bibiloteek van die heelal nie? Groetnis.

Herman Toerien ·

Dankie Theuns. ‘n Paar jaar gelede het emeritus ds. Fanie Coetsee in die GKSA se Kerkblad ‘n artikel geskryf oor God se twee openbaringswyses – sy Woord, die Bybel, en die natuur / skepping. Die onkoloog wat my prostaatkanker behandel, en die internis wat my Waldenstrom-kanker behandel het beide daarop gewys dat hulle net instrumente is, God maak gesond of nie. Dit maak my hartseer as mense die wetenskap blindelings aanval, want in die proses val hulle God se skepping aan.

Theuns ·

Baie dankie Herman vir jou insigte. Daar is baie van jou Artikels wat my geloof versterk het Ek stem 100% saam met jou dat daar on-nadenkende mense is wat nie die verband tussen GOD en die wetenskap sien nie.. Daar is honderde wetenskaplikes wat hulle nou na God wend en bekeer. Jy en ek weet dat die lewe die reis is na die ewigheid! Baie keer kyk ons na die waarheid maar is te dom om dit te ontsyfer. Ek vertrou dat jy van die kanker wat jou teister volkome sal genees! EK BID VIR JOU!
Groete My Vriend.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.