Nuuskommentaar: Nuusoorsig vir 2011

Elke nuuskommentator sal sy eie invalshoek gebruik vir die opstel van ‘n nuusoorsig. ‘n Belangrike kenmerk is egter dat dit wat die mees waarskynlike impak op die komende jaar sal uitoefen, voorkeur geniet. Dit durf egter geen poging tot voorspelling wees nie. Soos die gerekende Nederlandse kommentator, Sylvain Ephimenco pas in sy terugskouing vir die jaar gemeld het – hy wat vinniger as die skaduwee wil skiet, gaan met ‘n koeëlgat in die voet opgesaal sit. Hy noem verskeie voorbeelde van voorspellings deur die loop van die jaar waaroor kore kommentators by geleentheid saamgesing het, maar wat nie bewaarheid is nie. Hieronder tel voorspellings dat die Nederland voor die einde van 2011 nie meer die Euro sou gebruik nie, en dat die Nederlandse rafel-kabinet nie sy vreemde samestelling en afhanklikheid van Geert Wilders sou oorleef nie. Dit het. Om die voortgesette sagas van sekere nuusgebeure in die nuwe jaar te voorsien verg egter geen heldersiendheid of ‘n kristalbal nie. Hoe dit gaan afloop, is egter minder seker.

Plaasmoorde: In die 7 dae wat gevolg het op pres. Jacob Zuma se staatsrede, waarin hy nié na plaasmoorde verwys het nie, was daar gemiddeld een plaasmoord per dag. Die land is egter sekerlik die ergste geruk deur die plaasaanval waartydens die Potgietergesin Desember verlede jaar, maar waarvan die hofsaak en veral die grusame lot van klein Willemientjie vanjaar prominent in die nuus was. ‘n Boek oor plaasmoorde, Treurgrond, is deur dr. Dirk Hermann en genl. Chris van Zyl van die TLU SA bekend gestel. Afriforum het die kwessie van plaasmoorde in die VN se Menseregteraad geopper.

Malema, Malema …. Afriforum en die TLU SA het ‘n saak van haatspraak teen Julius Malema in die Gelykheidshof gedryf en gewen. Meer as 500 klagtes van haatspraak is teen Malema gelê oor die sing van ‘n lied met die strekking dat boere geskiet moet word. Die ANC het sy gewig by Malema ingewerp, en aangedui dat dié organisasie die “reg” om die lied te sing tot in die Grondwetlike Hof sal toets. Afriforum en die TLU-SA is ook uit sekere Afrikanergeledere verkwalik oor die dryf van die saak. Intussen is Malema, hangende appèl vir vyf jaar uit die ANC geskors. Meer insiggewend is dat die ANC se dissiplinêre komitee hom nie skuldig bevind het na aanleiding van uitsprake, in die teenwoordigheid van pres. Zuma nie, dat blankes misdadigers is. Versoeningsdag is gevolglik gevier te midde van ‘n onderliggende bewustheid dat polarisasie in 2011 skerp geëskaleer het.

Regstellende aksie: Die Malema-saak was ‘n simptoom van waar burgerlike instellings inhoud aan die grondwet begin gee. Solidariteit self het op die terrein van die arbeidsreg monumentale werk verrig, en ‘n belangrike saak was dié teen die Tshwane-munisipaliteit in die Marco de Sampaio-saak.

Grondwetlikheid: Teenoor die burgerlike samelewing se versterking van die grondwet, het daar toenemend kommerwekkende uitsprake vanuit die regering gekom dat die begrip van oppergesag van die grondwet of nie mooi verstaan word nie, of dat die grondwet ‘n hindernis vir die ANC begin word en daarom negatiewe uitsprake oplewer, soos dat die howe nie dwars kan staan in die beleidsbesluite van ‘n verkose regering nie. Dié houding sal na verwagting verskerp na pres. Jacob Zuma se aanstelling van Menzi Simelane as Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging deur die appèlhof as ongeldig bevind is. Dié uitspraak moet nog deur die Grondwetlike hof bekragtig word.
Pres. Zuma het klaarblyklik ook juridiese akrobasie aan die dag gelê met die aanstelling van regter Mogoeng Mogoeng as nuwe hoofregter. Die Kabinet se besluit om ‘n instansie te kontrakteer om die grondwetlike hof se uitsprake te evalueer, het ook groot ontsteltenis veroorsaak. Al hoe meer kommer word uitgespreek oor die gehalte regsadvies waarmee die regering hom laat bedien, of alternatiewelik, dat die regering ‘n dowe oor na goeie regsadvies draai.

Nog ‘n belangrike appèlhofuitspraak onderweg na die Grondwetlike hof, is ‘n uitspraak dat die organiseerders van optogte en betogings aanspreeklik gehou word vir die skade wat die deelnemers tydens sulke optredes aanrig. Cosatu meen die implikasie van hierdie uitspraak is dat dit die grondwetlike reg tot optogte en betogings in wese tot niet maak. Te midde van die omstredenheid oor die parool van twee van die vier sogenaamde Waterklaaf-4, word ‘n belangriker saak uit die oog verloor, naamlik DKD-amptenare wat versuim het om hofbevele uit te voer. ‘n Onhoudbare situasie sal ontwikkel as minagting van die hof ‘n straffelose oortreding word.

Die Verbruikerswet het in werking getree en die belangstelling is skerp gevestig oor hoe dié wet deur inwoners gebruik kan word teen disfunksionele munisipaliteite. Municipal IQ se evaluasie van munisipaliteite het grootliks die Ouditeur-generaal se evaluasie van munisipaliteite en munisipale oproer bevestig. ‘n Laagtepunt was die dood van Andries Tatane by Ficksburg.

Die Openbare Beskermer het in verskeie verslae haar onafhanklikheid bewys, en onder meer harde uitsprake gemaak oor die huur van polisie-kantoorgeriewe. Uiteindelik is die omstrede polisiekommissaris, Bheki Cele, geskors. Ook die DA het met ‘n verslag oor Midrand eier in die gesig gekry met verskeie aspekte wat vir verdere ondersoek na ander, meer geskikte instansies verwys is.

Die aanslag teen mediavryheid het vanjaar voortgeduur, en die Nasionale Vergadering se aanvaarding van die omstrede wetsontwerp op die Beskerming van Staatsinligting het wye teenkanting ontlok. Twee internasionale waghondinstansies, Freedom House en Verslaggewers Sonder Grense, het skerp gereageer. Gelukkig vir Suid-Afrika, wat verlede jaar onder meer oor die vooruitsig van dié wet skerp op die presvryheidsindeks teruggesak het, het Verslaggewers Sonder Grense die uitreiking van sy nuwe indeks tot einde Januarie volgende jaar uitgestel. Kort voor die einde van die jaar het die ANC vir nog vir oulaas vir ‘n ontsteltenis gesorg toe dit bekend geword het dat ‘n moniteringsinstelling gekontrakteer gaan word om sekere joernaliste en mediagroepe te moniteer. Wêreldwyd het meer joernaliste as verlede jaar in die uitvoering van hul werk gesterf, en staan die syfer op ongeveer 66. In 2011 was daar wêreldwyd altesaam 1 959 aanvalle op of dreigemente teen joernaliste en 1 044 is in hegtenis geneem. Altesaam 71 is ontvoer en 73 moes uit hul land vlug. Daar was ’n toename van 43% in fisieke aanvalle en ’n 31%-toename in die inhegtenisneming van internet-joernaliste.

Wat korrupsie betref verwys al hoe meer waarnemers daarna as dat korrupsie in die land endemies geword het. Intussen het Suid-Afrika se posisie op Transparrency International se korrupsie-persepsie-indeks ook teruggesak, en het sy telling ook verder teruggesak. Suid-Afrika beklee nou die 64ste plek, veel swakker as Namibië op (57), Rwanda (49), Mauritius (46) en Botswana (32). ‘n Uiters belangrike uitspraak was dié van regter Ray Zondo wat die minister van Minerale beveel het om die toekenning van Sishen aan Imperial Crown Trading ongedaan te maak. Dié toekenning het Suid-Afrika nie net weens die opsigtelike korrupsie nie, maar ook die omvang daarvan, enorme skade berokken. Vroeër het die Hooggeregshof beslis die regering het inderdaad grondeienaars se mineraleregte sonder vergoeding onteien in wat beskryf is as die grootste diefstal in die land se geskiedenis.

Die Groenskrif oor Grondhervorming het opnuut kommer tot gevolg gehad, veral toe die minister aangedui het dat die regering selfs bereid sou wees om die grondwet te verander. Dit staan veral kommerwekkend teenoor grondgryppraatjies van Julius Malema en die ANC se versuim om dié vrese konsekwent te besweer. Onder die mees beduidende kritiek is dié van die Instituut vir Rasseverhoudinge wat meen die implementering sal hongersnood en werkloosheid in die hand werk. Die inhoud strook ook nie met die bevindings van die Nasionale Beplanningskommissie nie.

Renosterstroop het opnuut rekordvlakke bereik, met meer as 400 wat vanjaar reeds afgemaai is. Meer as 200 hiervan is in die Krugerwildtuin gestroop ten spyte van vroeë aanduidings dat die weermag se oorneem van grensbeveiliging by die polisie sake sou verbeter. Drie van die wêreld se vyf oorblywende renosterspesies word erg bedreig, en die laaste Javaanse renoster in Viëtnam is vanjaar gestroop. Een van die witrenoster se subspesies het waarskynlik heeltemal uitgesterf.

Kaderontpolooiing kry die skuld daarvoor dat die regering kort voor die einde van die jaar nog departemente in drie provinsies onder administrasie moes plaas, na die Oos-Kaapse onderwysdepartement reeds tevore ingryping genoodsaak het. Op munisipale vlak, luidens verslae van die ouditeur-generaal, gaan dit nog meer beroerd en een metro, Mangaung, het sy selfs sy Bloudruppelstatus verloor.

Op die kerklike terrein het sake in verskeie kerke gewoel. Die vernaamste nuustrekkers was die NG Kerk se besluit om die Belharbelydenis te ontvang, terwyl die Hervormde Kerk na ‘n stormagtige jaar sy vroeëre besluit rondom apartheid in ‘n aangepaste vorm bevestig het. Verskeie kerke, waaronder die NG Kerk, die NH Kerk, die GKSA en die AGS het ‘n beroep op pres. Zuma gedoen om hom van bedenklike godsdiensuitsprake te weerhou. Die VGK het selfs in ‘n stadium ‘n beroep op sy lidmate gedoen om hieroor nie vir die ANC te stem nie, terwyl die NG kerk gewaarsku het dat dit dieselfde sou doen. Zuma het egter voortgegaan hiermee. In een van sy mees onlangse uitspraak het hy ‘n beroep op kerke gedoen om saam met die ANC die ANC se eeufees te vier.

Die ANC het weer goed in vanjaar se munisipale verkiesings gevaar ten spyte van verskeie voorvalle van munisipale onrus oor swak dienslewering. ‘n Neiging dat kleiner partye noustrop trek is voortgesit, en die aanduidings is dat die land in ‘n de facto-tweepartybedeling ontwikkel. Dit wil egter nie voorkom asof dit groter ideologiese konsolidasie beteken nie, maar eerder ‘n instinktiewe gevoel is om die ANC, as broad church, se greep op die land so spoedig moontlik te verbreek.

‘n Oorkoepelende burgerraad wat op a-politieke wyse sukkelende munisipaliteite wil bystaan om behoorlike dienste te lewer is in Pretoria gevorm. Van die deelnemers kom uit dieselfde geledere as diegene wat deur belastingweerhouding en trustrekenings munisipaliteite se geldmors-kraantjies toegedraai het. Die nuwe inisiatief dui op ‘n nuwe benadering.

Die wêreld-ekonomiese krisis het vanjaar voortgeduur, en ‘n belangrike aanduider was toe die goudprys hoër as die prys van platinum gestyg het. Kort voor die einde van die jaar was goud ‘n ruk lank selfs meer as $200 per fyn ons duurder as die prys van platinum. Die Wall Street-besetting het wêreldwyd uitgebrei, en dis duidelik dat die inhaligheidsfaktor, vir soverre dit ‘n bydraende faktor kan wees, voortaan skerp onder die vergrootglas sal bly. Die Griekse Tragedie dreig om nog Europese lande in te sluk, en het die koppe van die premiers van beide Griekeland en Italië geëis.

België het na 451 dae ‘n regering gekry, maar hoewel belangrike staatkundige aanpassings gemaak is, is die kanse steeds goed dat dié land as staatkundige entiteit besig is om die einde van sy pad te bereik.

Die Arabiese Lente, of soos dit in Europa bekend staan, die Arabiese domino-revolusie het die regerings van verskeie Arabiese lande waaronder Egipte en Tunisië laat tuimel. Dié revolusie, met baie hulp van Navo, het ook die bewind van Ghaddafi in Libië laat val, waarop Ghaddafi self vermoor is. In Sirië skop die bewind van die Assad-dinastie nog vas, en Sirië is intussen uit die Arabiese Bond geskors. Sirië het hierop waarnemers van die Arabiese Bond toegelaat. Nog ‘n Arabiese land, Soedan, het staatkundig verdeel toe die nie-Arabiese suide ‘n onafhanklike staat geword het. Stamtwiste destabiliseer egter steeds die nuwe staat.

Noord-Korea het teen die einde van die jaar die nuus gehaal, toe die diktator Kim Jung-Il skielik dood is, en sy jongste seun, Kim Jung-Un die derde diktator uit dieselfde dinastie geword het.

Hongersnood in Wes-Afrika, veral Somalië, het die verbeelding van die wêreld aangegryp.

Suid-Afrika was die gasheer vir COP 17. Menings verskil erg oor of dié beraad meer positiewe as negatiewe gevolge gehad het. Die vooruitsigte dat die wêreld teen 2015 ‘n universele ooreenkoms kan hê wat teen 2020 bindend word, is positief, maar vir talle lande, veral kwesbare eilandstate, dalk te laat.

Osama bin Laden is doodgeskiet tien jaar na die Twin Tower-aanvalle gedenk is. Niemand verwag egter dat dit die einde van internasionale terreur vanuit radikale Moslem-geledere sal wees nie.

Die jaar van bloedbaddens deur enkelinge. Die wêreld is vanjaar drie keer geruk toe enkelinge op onskuldige omstanders losgetrek het. Eers het Jarred Lee Loughner op 8 Januarie vanjaar op ‘n Amerikaanse kongreslid geskiet, haar swaar verwond en vier omstanders doodgeskiet, waaronder ‘n 9-jarige dogtertjie. Toe het die Noorweër Anders Breivik ‘n slagting veroorsaak, skynbaar gemik teen Moslem-immigrante. In die laaste geval het ‘n Belg van Marokkaanse herkoms in bloedbad veroorsaak

Verskeie Aardbewings het vanjaar groot lewensverlies veroorsaak, soos wat Christchurch in Nieu-Seeland en die ooste van Turkye getref het. Die grote van M 9 wat Japan getref het, gevolg deur ‘n tsunami wat boonop ‘n kernkragsentrale beskadig het, het die wêreldnuus oorheers. Dié aardbewing se ekonomiese gevolge het Japan se vermoë om ekonomies te help leiding gee negatief beïnvloed. Die Crusaders van Christchurch se tuiswedstryde in die afgelope Super 14 moes ook elders gespeel word. Kort voor die einde van die jaar het ‘n aardbewing van 5 op die Richterskaal tussen Augrabies en Upington voorgekom. Vanjaar het reeds 19 aardbewings van M 7 of sterker voorgekom, net minder as verlede jaar se rekord vir die afsienbare verlede van 22 sulke aardbewings.

Ander sake wat sterk in die nuus was, was die insident waartydens ‘n Stellenbosse professor aangerand is oor ‘n omstrede artikel, ‘n seun wat blykbaar permanente breinskade van ‘n bloulig-voorval gaan oorhou, die uiteindelike aankondiging van ‘n kommissie van ondersoek na die wapenskandaal wat al so lank soos ‘n albatros om die land se nek hang, en ‘n ondersoek na bonusse en bestuur binne Krieket Suid-Afrika.

As die kristalbal wel nader getrek gaan word, is dit seker dat die ANC vroeg in die nuwe jaar met sy eeufeesvieringe gaan benut om beeldskade wat in 2011 gely is, te probeer herstel. Die geleentheid kan egter sy glans verloor as die buitelandse staatshoofde wat die geleentheid bywoon, weer ‘n muishondgalery oplewer.

Die City Press se nuwejaarswens verklap iets van die land se dilemma – ‘n president wie se beeldpoetsers nie elke keer wat die president van sy geskrewe toespraak afwyk, intensief met skadebeheer moet inspring nie. Dit is ‘n openlike mosie van wantroue in Zuma. Die president sal self moet begin besin as hy lank na die einde van 2012 se ANC-kongres nog ‘n presidensiële termyn in die oog het.

Teen die agtergrond van die ANC se eeufees en die belangrike kongres aan die ander punt van die jaar, is dit bykans seker dat 2012 nie die jaar van die broodnoodsaaklike nasionale dialoog gaan wees nie. In teendeel, met die Malema-appèl en die ANC se steun in die haatspraaksaak, is die kanse veel beter dat dit ‘n jaar van eskalerende polarisasie kan wees.

Dit is lank nie meer ‘n vraag of die Afrikaner hom genoegsaam as belangegroep kan konsolideer om as gesinchroniseerde mag op te tree nie. Die voorval in Stellenbosch waartydens prof. Anton van Niekerk oor ‘n politieke argument geklop is, dui op ‘n unieke manier aan hoe ver links en regs in die Afrikanerpolitiek van mekaar gepolariseer is. Die vraag is of daar genoeg goeie gesindheid in die middelgrond oor is om ‘n beduidende invloed te kan uitoefen.

Die geheim hier gaan waarskynlik wees om mense naby die middel wat steeds ideologies ver van mekaar staan, genoegsaam in te bind oor sake soos die behoud van Afrikaans in skole en beduidend by uitgesoekte universiteite. Dit sal noodwendig behels dat mense ongewone grond sal moet betree – dat mense wat tradisioneel ver van Afriforum gestaan het, dié instansie se rol met nuwe oë moet leer waardeer. Dit beteken dat instansies wat tegelykertyd met die TLU SA en die FW de Klerkstigting kan saamwerk besondere strategiese waarde het, dat die Afrikanerbond onder nuwe bestuur opnuut beoordeel moet word, en dat die vind van raakvlakke en gedeelde belange belangriker is as die vind van verskille.

Op die internasionale front is dit duidelik dat die wêreld-ekonomiese krisis nie oornag opgelos gaan word nie, maar dat dit ook duidelik is dat regerings wat nie duidelik afkeurend teenoor die inhaligheid wat posgevat het, kort voor lank gewese regerings gaan wees. Dit is egter moeilik om te aanvaar dat die gekombineerde pogings van die beste ekonomiese breine in die wêreld, nie tot ekonomiese beterskap in sekere dele gaan lei nie. ‘n Aanduiding dat vertroue terugkruip in die wêreldekonomie is dat die gaping tussen die goudprys en die prys van platinum nou aansienlik minder as $200 per fyn ons is, anders as wat dit met die afsterwe van Kim Jung-Il die geval was. Die blote feit dat die goudprys nog hoër as die prys van platinum is, verklap egter dat die wêreldekonomie nog in die intensiewe sorgeenheid is. Ander dele van die wêreld gaan waarskynlik langer neem om hul neuse voor te kry.

Onder die mees insiggewende herdenkings in 2012 tel waarskynlik die volgende:

  • In ongeveer 1012 is die eerste Christenkind in die Noord-Amerikaanse kolonie van die Noormanne, bekend as Vinland, gebore.
  • In 1212 het die tragiese kinderkruistog plaasgevind. In dieselfde jaar het Alfonso VIII van Kastilië die Moslems verpletterend verslaan en het die agteruitgang van die Moslems se bewind in Spanje momentum gekry.
  • In 1412 is Jeanne D’Arc gebore
  • In 1512 behaal Maartin Luther ‘n doktorsgraad in teologie.
  • In 1612 het die vervolging van Christene in Japan begin.
  • In ongeveer 1712 vervang St Petersburg Moskou as hoofstad van Rusland.
  • In 1812 val Napoleon Rusland in en beset Moskou, maar word deur die winter oorval en slegs 20 000 van meer as ‘n halfmiljoen soldate keer lewend na Frankryk terug. Die term Gerrymandering word in die VSA gebore toe ‘n kiesafdeling so afgebaken word om goewerneur Elbrige Gerry te bevoordeel dat dit die vorm van ‘n salmander gehad het. In dieselfde jaar breek die Brits-Amerikaanse oorlog uit. In die laaste veldslag sterf 2 000 Britse en agt Amerikaanse soldate toe ‘n Britse oormag hul teenstanders stormgeloop het – ‘n paar weke na die twee lande ‘n vredesverdrag in Gent onderteken het.
  • In 1912 sink die Titanic. Die vuurpyl- en ruimtepionier, Werner von Braun is gebore.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Louis du Plessis ·

Wat ‘n omvattende beeld van bepaalde hoofnuusgebeure in 2011: deeglik deurdink, netjies geformuleer en vol stimulerende gedagtes!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.