Nuuskommentaar: Nuutskeppings met diepgang in die politiek kan skaars voorbly

Donald Trump en Hillary Clinton (Foto: Nigel Parry vir CNN)

Donald Trump en Hillary Clinton (Foto: Nigel Parry vir CNN)

Daar is verskeie raakvlakke tussen die sogenaamde “nuwe politiek” in Suid-Afrika en die nuutheid wat Donald Trump en Hillary Clinton se toetrede in die VSA tot gevolg het. Skielik is die politiek weerskante van die Atlantiese Oseaan ryk van nuutskeppings wat, ironies, dikwels op mekaar van toepassing gemaak kan word.

In gisteraand se Kommentaar op RSG het die politieke kommentator, Theo Venter, daarop gewys dat dit ná die afgelope landwye munisipale verkiesing vir kommentators nie so maklik soos voorheen is om patrone te kry nie. Op die gevaar af om woorde in sy mond te lê, kom dit daarop neer dat die ANC nou skarrel en anders reageer as ná vorige verkiesings.

Politieke nuutskeppings kenmerk egter nie die post-verkiesingsgeskiedenis nie. Dit het kort ná pres. Jacob Zuma se konkelaanwysing as president begin, en terme soos kleptokrasie is weer afgestof. Daarna volg ’n rits soos Zumakrasie, Zoeloefikasie; die akademiese begrip patronaatskap kom sterk in omloop; Nkandlagate, Guptagate, staatskaping, sirkus, narre en vele meer.

’n Aanduiding van hoe op sy kop omgekeer die Amerikaanse politiek nou is, is dat peilings enkele maande gelede nog getoon het dat die Republikeine se kandidate wat toe tweede en derde in die nominasiestryd gelê het, albei in ’n presidentsverkiesing maklik met Clinton sou kon afreken. Die voorloper en uiteindelike wenner, Trump, sou ’n opdraande en waarskynlik ’n verloorstryd teen haar voer.

Met die aanvang van die nominasiestryd, toe ’n groot aantal kandidate hulle as Republikeinse kandidaat verkiesbaar gestel het, was Donald Trump se naam onder dié uitgelese groep dikwels ietwat as grap beskou. Gou het ’n bekende koerant ook laat blyk dat as iemand nuus oor Trump se veldtog wil lees, moes dit in die vermaaklikheidsafdeling van die koerant gesoek word.

Clinton het self toegetree met ’n onderrok wat baie ver uithang. Bykomende negatiewe bagasie was die feit dat sy met die erg kwesbare Bill Clinton getroud is, en ontstellende berigte oor die Clinton-stigting (wat nie van gister af negatiewe nuusdekking geniet nie) die lig gesien het.

Heel waarskynlik sou sy uiteindelik weens negatiewe dinge, wat steeds deur Wikileaks onthul word, teen enige ander Republikeinse kandidaat verloor het, uitgesonderd Trump. Hoewel Clinton nou volgens die meeste peilings as die gunsteling beskou word, gaan min mense hul laaste spaargeldjies daarop verwed.

Van die interessante terme wat gebruik word om die Amerikaanse huidige politiek te beskryf (of dan dit wat een van die kandidate bedryf), is:

Word op hierdie Amerikaanse lysie afgewerk, is daar wel Suid-Afrikaanse raakvlakke, maar gelukkig ook groot verskille. Dat ons nie juis met debatsdepressieversteuring te make het nie, is omdat oop debat onder die Zuma-bewind eintlik ’n rariteit geword het. Daar is radiostasies en ander wat debatvoering aan die gang probeer hou, maar dit ly dikwels skipbreuk omdat regeringswoordvoerders nie vir die debatte opdaag nie, of hulle onttrek oor die kaliber van die teenstander. Netjies georkestreerde TV-onderhoude is geen debat nie.

Dit lyk of daar nou ’n paniekerigheid onder ’n deel van die ANC se establishment losgebars het, maar dit word in Afrikanergeledere grootliks getemper deur faktore soos die Solidariteitbeweging se Plan B en wat daarop volg – iets wat Max du Preez bitter ’n “staatskaping” deur Solidariteit noem.

Seker die grootste gevaar vir opposisiepartye in Suid-Afrika nou is postverkiesingdepressie. Dit is verwant aan post-euforiese depressie (of trauma) soos wat baie Suid-Afrikaners ná die sokker-wêreldbekertoernooi in die land getref het, toe die land se probleme soos misdaad en werkloosheid weer eerstehandse werklikhede geword het. Ná elke verkiesing is daar talle hoopvolles wat alles ingesit het om iewers verkies te word, maar dit nie gemaak het nie (en in die proses weer aan armoede uitgelewer is).

Seker die verkeerdste ding nou vir ’n opposisieparty is dat sy verkose raadslede ’n “breuk” van gemeenskapsbetrokkenheid vat, want in hierdie politieke harwar soek baie kiesers ’n soort politieke omarming wat op “omgee” dui.

En ongelukkig is daar te veel aanduidings uit die veld dat van die raadslede, ook nuutverkose raadslede, ’n elitistiese houding inneem. Hande vuilmaak is ver uit die gedagtes.

In Suid-Afrika en die VSA word nou daagliks nuwe politieke ruimtes en metodes in die politieke bos uitgekap. Die dweep met die nuutheid hiervan, en die vergeet van lesse van gister, kan egter hard byt as die nuutjie oorgewaai of selfs suur geword het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Grassie ·

Die Yanks bevind hulle in ‘n netelige posisie. Ek weet nie hoe twee vrot appels bo in die mandjie beland het tydens hulle nominasieverkiesings nie.
Sovér uitdrukkings betref, Herman se “bondeldapperheid” is weer baie sigbaar tydens die huidige onluste.

Garath ·

Interessant hoe die media hulle boodskappe oordra.
Hoekom nie gesigsuitdrukkings op die fotos omruil nie?

Ben Prinsloo ·

As Hillary hierdie 1 wen is die USA al nader aan die RSA. Agteruitgang!!!

Jakobus ·

Kan die beker ons nie maar verbygaan nie. Dis nou wat Clinton aan betref. Dit sal wees soos in SA, kan nie wag vir die dag dat die ANC nie meer die land regeer nie. Ek wens ek kon soos ‘n Rip van Winkel ‘n klomp jaar later wakker word, met nuwe bloed aan die stuur.

John ·

Diepsinnige opskrif, maar in die politiek is daar niks nuuts onder die son nie. Hillary sal enige iets doen om te wen… enige iets. Haar party doen mee om sy posisie te behou. Dit is ‘n gruwelike spulletjie om te aanskou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.